is dit?” fluister Celèste terug. Sy hou haar mond by die sleutelgat. Hulle durf nie te hard praat nie.
“Gooi die sak deur die venster. Ek sal kyk of ek dit onder kan vang en iewers kan versteek.”
Celèste se gesig helder op. “Dankie! Ek maak so!”
Celèste gee Jeanne eers kans om met die trap af te gaan en na die agterdeur te hardloop voordat sy die sak uit die bêreplek haal. Dan gaan sy agter die gordyn staan en wag dat Jeanne haar verskyning moet maak. Haar hart bons in haar keel. As iemand hulle net nie betrap nie.
Sy sien Jeanne om die hoek van die huis gehardloop kom. Sy het die soom van haar tabberd opgetel en sy kyk kort-kort oor haar skouer of iemand haar volg.
Toe Jeanne die venster bereik waar Celèste wag, gaan sy staan en kyk op na bo.
“Is jy daar, Celèste?” vra sy bekommerd.
Celèste antwoord nie. Haar blik bly vasgenael op ’n bos waar sy ’n beweging gesien het. Sy moet eers weet wie daar beweeg het voordat sy te voorskyn kom. Haar vermoede word bevestig toe daar skielik iemand agter die bos uittree en met twee tree by Jeanne is.
Jeanne gil verskrik. Celèste sluk hard. Sy het nie verwag dat Ernest hulle ook in die steek sal laat nie. Jeanne het hom nooit werklik vertrou nie, maar sy het nog bly hoop dat die ouer vrou onnodig agterdogtig is. Nou moet sy die onaangename werklikheid in die gesig staar.
Jeanne word gillend weggesleep in die rigting van waar sy gekom het.
Celèste besef dat die verwikkeling dalk die einde van hulle albei beteken. Om die een of ander rede is daardie dokumente in die leersak vir die twee De la Roques só belangrik dat hulle niks en niemand sal ontsien om dit in die hande te kry en te vernietig nie.
Haar hart hamer teen haar ribbes. Sy moet op die een of ander manier hier uitkom voordat daardie twee mans terugkom.
Eers maak sy seker dat die dokumente veilig aan die binnekant van haar tabberd vasgesteek is met ’n speld. Daarna bêre sy die leersak weer waar sy dit die hele tyd nog weggesteek het. In die voue van haar tabberd versteek sy ’n mes, net ingeval sy haarself moet verdedig wanneer sy probeer ontsnap.
Celèste bewoon ’n solderkamer en dis ’n hele ent van daar na die grond. As sy spring, sal sy haarself beseer. Dan sal daar van ontsnapping geen sprake wees nie.
Skielik hoor sy iemand met die trap opkom na haar kamer. Sy weet dat dit nie die stomme Jeanne kan wees nie en dus beteken dié besoek vir haar net moeilikheid. Hulle mag nie die sak by haar kry nie, dink sy skielik paniekerig. Sy wil liewer nie dink wat hulle dan met haar sal doen nie.
Terwyl die voetstappe in die gang afkom na haar kamertjie, haal sy die leersak met bewende hande uit sy bêreplek. Sy leun ver by die venster uit om te sien of daar iemand in die omgewing is, maar die tuin is verlate. Sekondes voordat die sleutel in die slot draai, gooi sy die sak so ver as sy kan tussen die struike in. Wanneer sy die geleentheid kry, sal sy dit daar gaan haal.
Dan gaan die deur oop en draai Celèste vinnig om om te sien wie dit is.
Emile de la Roque kyk ’n oomblik lank swyend na haar en sê dan: “Ek het die sak kom haal.”
“Dis nie hier nie,” antwoord Celèste ietwat parmantig. Dit begin nou al ’n vervelige refrein word, dink sy.
“Ons sal sien,” antwoord hy en haal ’n vlymskerp mes uit sy lyfband.
Celèste retireer verskrik. Dalk het sy hom oorhaastig geantwoord. Sy moet eerder ’n bietjie onderdanig probeer wees. Daardeur sal sy dalk haar eie lewe spaar.
Hy kom stadig nader terwyl hy die mes heen en weer voor haar gesig draai. Hy lag geamuseerd toe sy verbleek.
“Dit lyk vir my jou dapperheid het ook perke, mademoiselle. Armand de Bordeaux gaan baie teleurgesteld in jou wees as jy hom in die steek laat.” Hy grinnik. “En dis tog wat jy gaan doen, nè? Jy wil mos nie in stukkies opgekerf word nie, wil jy?”
Celèste se keel is te droog om te antwoord. Sy kan net angsbevange na die glinsterende lem van die mes staar. Dit sal selfmoord wees as sy haarself nou probeer verdedig of teësit.
“Ek … het nie die sak nie, monsieur …” sê sy hees.
Hierdie keer kan sy dit met eerlikheid sê. Die sak is nie meer in die klein kamertjie nie.
Sy oë is kil toe hy na haar kyk. “Ons sal sien, mademoiselle. Ek gaan hierdie kamer duim vir duim deursoek en ek verseker jou: as ek die sak hier kry, gaan ons jou stukkies in die tuin begrawe. Niemand sal jou kan herken nadat ek met jou klaar is nie.”
Celèste sluk swaar aan die knop in haar keel. Gaan hy haar nie dalk in elk geval in stukkies opkerf nie? Skielik dink sy aan Jeanne en sy sluit haar oë. Wat het hulle met die arme Jeanne gedoen?
Emile lag skielik en sy kyk verskrik op na hom. “Jy moes eerder al begin bid het, duifie. Dis nou te laat.” Hy laat die punt van die mes teen haar wang afgly sonder om ’n merkie te maak. “Net só sal ek begin … maar dan sal daar bloed wees.”
Celèste ril en hy stoot haar terug tot teen die muur.
“Staan daar totdat ek klaar is!” sê hy bars.
Sy knip net haar oë verskrik en wonder waarop alles afstuur. Garcon is dood en die comte De Bordeaux het soos ’n groot speld verdwyn. Sy het geen benul waar Jeanne haar op hierdie oomblik bevind nie. Een van die grootste skokke vir haar was toe sy besef het dat Madeleine die graaf in die rug gesteek het.
Sy sien hoe Emile die kamer fynkam. Haar matras en beddegoed lê aan flarde in ’n hoop op die vloer. Die laaikassie waaragter sy die leersak eers versteek het, breek hy in stukke totdat dit net ’n hoop hout is. Niks waarin die leersak dalk mag pas, laat hy met rus nie. Tot die los vensterbank ontdek hy. Dit laat hom ’n oomblik lank triomfantlik na Celèste kyk asof hy angs by haar wil bemerk, maar sy hou haar uitdrukking neutraal. Die holte onder die plank is leeg, maar hy trek sy oë op skrefies en draai na haar.
“Dit was hier!” sis hy.
“Non, monsieur. Dis waar ek my spaargeld gebêre het. Ek en Garcon sou trou, maar nou is hy dood en ek het die spaargeld op ander dinge spandeer.”
“Jy lieg dit!”
Sy staan effens opsy. “Dis die waarheid, monsieur.”
Hy kyk om hom rond, maar daar is nie nog ’n wegsteekplek nie. Hy kan en wil dit net nie aanvaar nie. Madeleine Tredoux kon haar tog nie misgis het nie. Sy was baie hier op La Montagne toe die graaf nog hier was en sy behoort die bediendes goed te ken.
Hy kners hoorbaar op sy tande. Hy sal nie toelaat dat ’n onnosel bediendetjie La Montagne deur sy vingers laat glip nie. Hierdie meisietjie gaan beslis nie daarvoor verantwoordelik wees dat hy die plaas en die titel verloor nie. Hy weier net om dit te aanvaar.
Tog besef hy dat hy geen bewyse het nie. Hy kan niks aan haar doen voordat hy sonder twyfel vasgestel het dat sy die sak wel hier versteek het nie. Hy kyk na haar met woede en haat in sy oë.
“Jy sal in hierdie kamer bly totdat ons die sak gekry het.”
Toe hy uitstap, sluit hy weer die deur agter hom.
Celèste bewe nog van skrik. Sy weet dat Emile de la Roque gaan terugkom en dan sal hy geen genade meer hê nie. Dalk maak hy haar dan dood; sy kan enigiets verwag.
’n Lang ruk bly sy doodstil staan en probeer hoor wat in die res van die huis aangaan, maar dis doodstil. Dan besluit sy dat dit veilig genoeg is om solank voor te berei vir die oomblik wanneer sy sal moet ontsnap.
Celèste knoop ’n lang tou van die repe wat van haar lakens en matras oorgebly het. Sodra dit donker word, wil sy hier probeer wegkom. Sy kan later met hulp terugkom om Jeanne ook uit te kry.
Dis al sterk skemer toe sy die stemme buite in die tuin hoor. Sy stoot die gordyne versigtig opsy en loer na buite.
Daar is twee mans met lanterns besig om elke struik en bos te fynkam op soek na die leersak.