wat het jy met die dokumente gemaak?” wil hy weet.
Sy gluur hom woedend aan. Sy wil nie sommer net so oorgee nie. Sy het geen illusie wat hy uiteindelik met haar beplan nie. Niemand sal haar lyk hier tussen die bosse vind nie. Sy wil ook nie verniet sterf nie. Tog is daar geen manier waarop sy kan verseker dat hy nie tog uiteindelik die dokumente kry nie.
Sy kyk op na hom nadat sy ’n ruk lank nagedink het.
“Ek het dit na die kommandeur gestuur met ’n brief. Jy kan dit nie waag om iets aan my te doen nie. Die kommandeur weet van jou.”
Net ’n oomblik lank is daar huiwering te lees in Emile de la Roque se oë, maar dan sis hy skielik: “Dis weer leuens, mademoiselle. Daar was nie geleentheid om so iets te doen nie. Buitendien sou jy nie gevlug het as dit wel die geval was nie.”
Sy kom versigtig orent en hy probeer haar nie keer nie. “U kon my onmoontlik dag en nag dopgehou het, monsieur De la Roque. Ek het die brief en die sak na die kommandeur gestuur die dag nadat die dragonders Armand de Bordeaux op La Montagne kom soek het.”
Hy gluur haar ’n paar sekondes lank aan, nie meer heeltemal so seker van sy saak nie. Hy wil sy prooi agter nie só maklik laat ontsnap nie … nie terwyl sy so baie gesien en gehoor het nie. Wie weet wat die meisiekind nie al alles uitgevind het nie? Sy kan net gevaar vir hom inhou, al het sy nie die leersak se inhoud na die kommandeur gestuur nie. Dis beter dat sy van kant gemaak word. Dan eers sal hy weet dat hy en sy pa veilig op La Montagne is.
“Wat wil jy dan nog met die dokumente bereik, mademoiselle?” vra hy skielik. “Môre sal jou geliefde monsieur De Bordeaux gehang word omdat hy sy pa in Frankryk vermoor het. Dit het baie lank gelede gebeur, maar ’n mens se dade haal jou die een of ander tyd in.”
Sy skud haar hare uit haar oë. “Ek glo dit nie … die kommandeur sal hom nie sommer net hang voordat hy hom behoorlik verhoor het nie.”
“De Bordeaux is verhoor en skuldig bevind sonder dat hy ooit nodig gehad het om in die hof te verskyn.”
Haar oë blits vuur toe sy vinnig na hom kyk. “En jy was natuurlik die hoofgetuie, of hoe? Jy kon mos baie wen deur Armand de Bordeaux aan die pen te laat ry vir die moord op sy pa! Dalk weet jy wie dit regtig gedoen het, maar dis vir jou veel geriefliker om De Bordeaux te laat boet vir iets wat hy nie gedoen het nie!”
Die woede in Emile se oë verseker Celèste dat sy reg geraai het. Maar dit was dom om haar vermoedens hier uit te blaker waar niemand haar te hulp kan snel nie.
Met ’n woedende gegrom storm hy op haar af. Sy oë gloei van haat.
Sy is onmiddellik spyt oor haar voortvarendheid, maar dit is te laat. Sy gee vinnig voor hom pad en spring agter die naaste boom in. Sy blinde woede laat hom nie toe om helder te dink nie. Al wat deur sy kop maal, is dat hy die meisiekind moet doodmaak voordat sy te veel stories gaan versprei en hom in ernstige moeilikheid laat beland.
Celèste moet rats padgee toe hy om die boom kom. Sy weet nie hoe sy uit hierdie benarde situasie gaan kom nie. Hier is nie ’n sterfling om haar te hulp te snel nie. Dan onthou sy skielik van die mes wat in die voue van haar wye tabberd versteek is en sy haal dit te voorskyn. Sy gaan ten minste nie sonder ’n geveg oorgee nie.
Emile steek vas toe hy die wapen in haar hand sien en sy oë vernou. Dan ruk hy ’n swaard uit sy skede en grynslag lelik.
“Nou goed, ma chérie, kom ons kyk hoe vaar jy teen ’n swaardvegter.”
Celèste sluk hard. Sy besef maar alte goed dat sy nie opgewasse is teen hom nie, maar dis al manier waarop sy haarself kan verdedig. Sy klem die hef stewiger in haar natgeswete hand vas. Dalk kan sy nog vlug, dink sy wild. Hy sal haar ’n ent volg, maar sal hy haar jag tot die son môre uitkom? Sal hy haar volg tot by die opstal van die plaas?
Sy spring om en begin hardloop. Sy het nie voorheen gedink aan die opstal van die plaas waarop sy haar bevind nie, maar dit sal haar enigste redding wees. As sy net voor hom kan bly totdat sy dit bereik het.
Nou gee sy nie meer om dat hy haar kan sien toe sy oor die geploegde land nael nie. Sy kan nie meer vir hom wegkruip nie.
Haar bene pyn en krampe steek deur haar liggaam, maar sy gooi nie tou op nie. Sy moet die opstal haal, al gebeur wát ook al!
Skielik gee die grond onder haar pad en sy stort teen ’n steil wal af. Die wal het Emile de la Roque ook onkant betrap en hy kom hulpeloos agterna gerol. Sy swaard spat uit sy hand en bly hoog bo teen die wal lê.
Hulle kom byna gelyk orent en vol stof en gras gluur hulle mekaar aan. Celèste merk dat sy swaard makeer en voel veiliger. Nou is die stryd nie meer heeltemal so ongelyk nie. Sy draai die mes stadig in haar hand sodat sy die lem aan die punt vashou.
“Al is ek nie ’n watwonderse mesgooier nie, Monsieur, kan ek jou onmoontlik op hierdie kort afstand misgooi.”
Dit lyk asof Emile ontspan. Celèste huiwer net ’n oomblik. Daar is net nie tyd om nou uit te vind watter verraderlike streek hy in die mou voer nie. Sy het die mes, sy is gereed en hy is ’n oop teiken.
Sy lig haar arm bokant haar kop om behoorlik korrel te vat. Die volgende oomblik word haar gewrig in ’n staalgreep vasgevat. Vingers boor in haar pols in en sy moet noodgedwonge die mes laat val. Sy kan die persoon wat haar gekeer het, agter haar hoor asemhaal, hom voel beweeg. Dan is dit asof sy geen veglus meer oor het nie. Die spanning in haar verslap … Dan moet hulle maar met haar doen wat hulle wil. Sy het alles gedoen wat sý kon …
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.