vrolik, ferm uit sy sel tree, soos ’n landheer uit sy kasteel. Hy is vry in sy omgang met sy bewaarders, vriendelik en oop, syne skynbaar die reg om bevele te gee. Mense vertel ook dat hy sonder vrees die mistroostige dae tegemoet gaan, gelykmatig, glimlaggend, trots: iemand wat gewoond is om te oorwin.
En dan volg daar tien versreëls van vrees vir die toekoms, angs, rusteloosheid; ’n voël in ’n kou vol verlange na kleur, na blomme, na voëlgesang; ’n dors na woorde van vriendskap en buurmanskap, magteloos, vermoeid, leeg van bid, van dink, van skep, afgemat en bereid om alles finaal te groet.
Wer bin ich? Der oder jener? Hierdie mens of daardie een? Is ek vandag dalk só en môre weer anders? Is ek dalk albei tegelyk – voor mense ’n huigelaar maar voor myself ’n veragtelike, weeïge swakkeling? Of is daar iets binne my wat soos ’n oorwonne leër in wanorde vlug van ’n oorwinning reeds behaal?
Eensame vrae hou my vir die gek: Wer ich auch bin, Du kennst mich, Dein bin ich, o Gott! Wie ek ook al is, U weet, o God, ek behoort aan U!
Hierdie gedig spreek tot my. Ek is op 24 Mei gebore, onder Gemini; dus Tweeling in die Diereriem, tweeledig van aard. Ek weet dis onsin, die astrologie, en is nogtans geamuseerd verstom hoedat die persoonlikheidstrekke soos deur die sterre bepaal met my eie ooreenstem. Tweeledig en gesplete – vol verbeelding en tog logies, serebraal maar emosioneel, lief vir mense en hul stories, terselfdertyd krities en privaat van aard, vol nood aan mense óm my en daarenteen immer smagtend na stilte; flambojant, laatsienerig, eiegeregtig; dikwels bang en huiwerig maar meestal liefdevol, vredesoekend. Stellig so gekompliseerd soos enige ander mens.
Maar, wie en wat ek ook al is (en o, hoe hou ek van die intieme Duitse duzen van die Skepper), Jy weet, o God, ek is Joune!
Wie is God vir jou?
Ek het op Montagu in die Boland grootgeword waar my pa, Bram Pretorius, landdros was. En my verhouding met God is vroeg reeds bepaal deur my verhouding met my pa. Ek noem God Vader, doen dit met vrymoedigheid, die begryplike angs van baie vroue wat gely het aan die hand van vaders en mans ten spyt. Want my pa het ek leer ken as ’n regverdige, liefdevolle, diep gelowige man met ’n innemende humorsin en ’n ironiese blik op die ganse mensdom. Van hom het ek die gawe van ’n geloof soos syne ontvang.
Pappa het soos Henog (Gen 5:22) “naby God geleef”. Nie dat hy ooit die Skepper by sy naam genoem het nie. Hy, het hy gesê, of my Skepper. Maar hy was in daaglikse gesprek met Hom. En die innigheid van daardie verhouding, die absolute geloofsoortuiging wat ook al die omstandighede, die ontsag, die eerbied, dié het ek by my pa geërf. En daarby die wete dat as jy nederig voor God leef, jy jou vol selfvertroue kan laat geld onder ander.
Maar dis nie vanselfsprekende erfgoed nie. Op die keper beskou, is geloof ’n gawe van die Gees. Jou omstandighede kan miskien (of sal waarskynlik) die aard van jou geloof bepaal, maar die daad van glo – dit kom van God self af. So glo ek, wéét ek.
Dus: God is die objek van my geloof (ek glo in God die Vader, die Skepper, die Almagtige . . .), maar Hy is ook deurlopende, innige Gespreksgenoot.
Ek begryp dat sodanige gesprekke met God verdag mag klink. In gesprek met ’n geestelike begeleier het hy my op ’n kol daarop gewys dat dit waarskynlik blote binnegesprekke is, dialoog met die self. Dit het my weke geneem om weer my vertroulike gesprekke met God aan die gang te sit: onnodiglik het ek ter wille van die twyfel van ánder die troos en nabyheid van God ontbeer.
Nie dat daar nie soms twyfel is nie. Ek ken Benediktus se “donker nag van die siel”, wanneer ’n kerker van angs jou omsluit, die nag binne donkerder as die swart daarbuite, en jý verteer deur onhoudbare skuldgevoelens en ’n volslae gebrek aan geloof. Maar die dag breek altyd deur, en ek glo my geloof word daardeur versterk.
Jy vra, Frits, wie is God vir my? Vir my is Hy ’n konstante Teenwoordigheid. Ek gaan saam met Hom slaap, staan elke oggend dankbaar in sy Teenwoordigheid op. Vir Hom hoef ek nie ’n beste voetjie voor te sit nie – Hy ken my elke fout, my elke strewe, elke woord van elke gebed. Hy ken my – sy maaksel, sy skepsel – tot in my nerf en het my nogtans (wat ’n genade!) deurlopend, allesvergewend en onvoorwaardelik liéf.
Ek kan my lewe kwalik met groter troos, groter selfvertroue, meer vreesloosheid leef as juis só, met die wete dat God se vangnet altyd daar is. Altyd. “All will be well and all will be well and all will be well,” skryf Juliana van Norwich. Verwar ek ’n bepaalde, positiewe geestesingesteldheid met geloof in ’n onsigbare, onbegryplike Godheid? Dis moontlik, en ek kan verstaan dat buitestanders my geloof met argwaan kan beskou. Maar vir my is God ’n Realiteit – ek kan nie anders nie. Ek gló, en is dankbaar dat ek glo, en dat ek binne sy genade kan leef.
Waarom is die Bybel vir jou méér as ’n ander groep baie ou boeke?
As kind was ek leesgierig, is dit nog; ek kan die geskrewe woord – enige geskrewe woord – nie weerstaan nie. En daarby word ek maklik deur ’n storie verlei. My ouers het die leesgierigheid aangemoedig, daar was altyd boeke in ons huis. En my oupa, skoolhoof op Franschhoek, het ’n hele boekery besit; ek het vroeg kennis gemaak met die klassieke kinderliteratuur, ook in Engels. (Uncle Remus se stories het ek skelm gelees – my ma het gevoel die “Amerikaanse” taal sal my Engels bederf.)
Die Afrikaanse Bybel het in die jaar van my geboorte (1933) verskyn, en ek het daarmee grootgeword. Met ’n Bybel in die huis was daar altyd iets om te lees, en ek het veral die stories in die Ou Testament uitgesoek en uit nuuskierigheid enigiets wat na seks gelyk het: Hooglied en die hoereerdery met Baäl . . . Toe die gelykenisse en die poësie van die Psalms.
Leer die Psalms van buite, het juffrou Mostert ons in graad ses gemaan, eendag as julle oud en blind is, moet julle hulle tot troos kan opsê. (As ou Mossie maar kon weet dat die geheue nog gouer as die sig verdwyn!) Ook het juffou Mostert gemaan dat die Bybel ’n heilige boek is, dat dit altyd langs jou bed moet lê, en dat geen ander boek daarop moet rus nie . . .
In die Sondagskool, van die kansel af, is ons geleer dat die Bybel die Woord van God is, en dat elke woord daarin daarom waar is – want dis deur God ingegee. Maar hoe meer ek die Bybel gelees het, en veral toe ek in die letterkunde begin studeer het (dit was al ’n vak op hoërskool), hoe meer het ek tot die besef gekom dat “elke woord” onmoontlik waar kon wees.
Die boek Ester – hoe het beide Jood en Christen getwyfel oor die insluiting daarvan in die kanon! – is weinig meer as ’n opwindende Persiese sprokie met ’n mooi Jodin as heldin: die naam van God kom nêrens daarin voor nie. En vroeg al was Jona vir my ’n storie binne ’n storie, ’n storie wat eers tot volle blom kom by die lees en begryp van Jesus as Jona vir drie dae in die donker maag van die vis. Maar waar of nie, was dit die deernisvolle geregtigheid van God, veral soos dit te voorskyn kom in die aangrypende slotreëls van die Jona-boek, wat my aangespreek het.
Dieselfde sin vir regverdigheid, vir geregtigheid, het Pappa in Jesaja gelees. As hy sy sin kon kry, sou hy daardie boek op hoërskool laat voorskryf het, oor die magtige profesieë, oor die beelde, oor die taal, maar veral oor die geregtigheid van God, vernaamste vermaning van die groot profeet.
Later jare het ek die werk van die Amerikaans-Lutherse teoloog Marcus J Borg leer ken, onder meer sy Reading the Bible Again for the First Time. Interessant daarin was sy indeling en bespreking van die Ou Testament – inligting wat studente in die teologie waarskynlik in hul eerste jaar reeds leer ken, maar wat ek daar vir die eerste keer gelees het. Boeiend ook sy aandrang op geregtigheid vir die armes, die weduwees en wese, die onderdruktes, wat soos ’n goue draad deur al die Profete loop. Baie dinge wat ek onbewustelik waargeneem het, het Borg vir my in woorde omskep: die Bybel is inderdaad ’n heilige boek – nie omdat dit woord vir woord die Woord van God is nie, maar omdat dit deur gelowiges se eeue lange gebruik daarvan heiligheid bekom het.
Dít is dan wat die Bybel vir my beteken: ’n boek waarvan die inhoud ’n bepaalde heiligheid besit omdat dit my, saam met miljoene ander Christen-gelowiges, na God lei, my geloof en my lewensbenadering bevestig, my gewete opskerp en my tot groter en wyser onderskeiding lei.
Daar is ander ou geskrifte wat verhale oor die mens vertel en wat ook baie wysheid besit, en dikwels dieselfde soort episodes beskryf. Die eposse en sagas, die legendes en mites wat fokus