van die trekkerleier Gerrit Maritz was en dat die misdade wat die Kakies tydens die Boereoorlog en veral teen die vroue en die kinders gepleeg het, ongestraf gegaan het en gevolglik nie vergeet mag word nie.
Saam hiermee was ek en my tydgenote, as jong kinders gedurende die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu, grootliks onbewus van die spesifieke geskiedkundige aanloop wat die morele en etiese onderbou vir die politieke en kulturele grense van die samelewing na buite sowel as na binne bepaal het.[51]
Ons was egter op grond van herkoms in so ’n mate ingebed in ’n teokrasie tussen die NG Kerk en die Nasionale Party dat daar, heelwat later, spottenderwys na eersgenoemde verwys is as die Nasionale Party in gebed.
Daar is bloot van ons verwag om na die wens van ons ouers, onderwysers en die predikant op te tree en nie die status quo te bevraagteken nie. Ek het in standerd agt (graad tien) tydens godsdiensonderrig die onderwyser gevra waar God vandaan kom en die antwoord was dat ’n mens nie sulke vrae vra nie. Tipies van die tyd was die saak daarmee afgehandel. Dit het op ’n manier bygedra tot die illusie van ’n permanente samelewing en ’n seker toekoms. Gevolglik onthou ek my kinderdae as ’n oorwegend sorgvrye en gelukkige tydperk waartydens die voorgeskrewe godsdienstige rituele sonder enige nadenke of werklike toewyding beoefen is.
Ons eiesoortigheid en missie as Afrikanervolk is op verskillende maniere, veral op skool, versterk en uitgebrei met behulp van die voorgeskrewe leerplan vir Christelik-nasionale onderwys (wat onder meer evolusie uit die leerplan geweer het), die Voortrekkerbeweging en Sondagskool. Tuis het ons wel van die Boereoorlog, Jopie Fourie, Manie Maritz en Racheltjie de Beer gehoor, maar die werklike kondisionering het op skool plaasgevind. Gevolglik kan ek vandag nog “Die Lied van Jong Suid Afrika” en die “Vlaglied” met oorgawe, alhoewel nie baie nootvas nie, sing.
Die gedrukte Afrikaanse media het ook saamgewerk aan hierdie ideaal. Die Afrikaanse rolprentbedryf het egter ’n gulde geleentheid laat verbygaan deur nie die veelbewoë geskiedenis van die Afrikaner te populariseer soos Hollywood met die Wilde Weste gedoen het nie. Op skool is daar wel van tyd tot tyd swart-en-wit dokumentêre films oor die Groot Trek en die ontstaan van Afrikaans vertoon. Dit was egter ’n soort kulturele verheerliking en ’n mens het die indruk gekry dat die Taal en die Trekkers onaantasbaar en veels te edel was om as onderwerp vir ’n populêre rolprent te dien.
Ons populêre helde en heldinne is deur Hollywood verskaf en ek en my maats het as goeie Afrikaners Cowboys en Crooks en nie Voortrekkers en Zoeloes gespeel nie. Diesulkes soos John Wayne (Stagecoach), Allan Ladd (Shane), Gary Cooper (High Noon), Glenn Ford (The Fastest Gun Alive) en Yul Brynner en Kie (The Magnificent Seven) het Saterdagmiddae in die vlooifliek ons moreel toegerus in ’n godsdiensvrye omgewing.
Dié relatief eenvoudige verhale het ons onbewustelik op ’n aanskoulike manier geleer dat die goeie altyd die kwade oorwin, dat ’n mens – dikwels teen ’n oormag – moet veg vir jou regte, dat ’n enkeling tog ’n verskil kan maak en dat liefde, edele optrede teenoor die vroulike geslag en ’n morele plig teenoor die gemeenskap navolgenswaardig is.
Dit het egter nooit tot ons deurgedring nie dat die sogenaamde Rooihuide, as oorspronklike inwoners van Noord-Amerika, dikwels links en regs van hul regte, lewe en grond ontneem is en dat dit op ’n manier geresoneer het met die posisie, in ons eie samelewing, van die sogenaamde “Kleurlinge” wat dieselfde rolprente van die balkon bokant ons gesit en kyk het, afsonderlike ingang en al. Die politieke en kulturele Zeitgeist het doodgewoon nie dié opsie ingesluit nie.
Aan die Universiteit van Stellenbosch het die politieke status quo grootliks voortgeduur, maar my verstaan van die rol van godsdiens het stelselmatig verander. Via vakrigtings soos embriologie, vergelykende anatomie, paleontologie en geologie het dit mettertyd duidelik geword dat evolusie ’n feit is, dat rasionele en toetsbare verklarings vir natuurverskynsels lank reeds bestaan het en dat die meeste van die biologiese, geologiese en sterrekundige beriggewing in die Bybel gevolglik onwaar was.
Ek het nie skielik van geloof na ongeloof versit na aanleiding van ’n Damaskuservaring nie. Deur die waarheidsaansprake van die kerk ten opsigte van God ook ’n bietjie van nader te beskou, het die onmag van die Opperwese stelselmatig in so ’n mate na vore gekom dat die tradisionele godsdienstige oortuigings uiteindelik nie meer deel van my lewens- en wêreldbeskouing gevorm het nie.
Godsdiens is nie ’n vereiste vir ’n morele leefstyl nie en om sonder godsdienstige oortuigings te leef, beteken nie om sonder geloof te wees nie. Ek glo steeds dat liefde en respek die hoekstene van ’n regverdige samelewing en gesonde menseverhoudings is. Saam daarmee is morele optrede teenoor en die etiese behandeling van alle lewe van kardinale belang. Net dat ek dink dat die god waarmee ek grootgeword het nie bestaan nie, maak nie van my ’n ongelowige nie. Bo en behalwe dít besit Christene in elk geval ook nie die patentreg op spiritualiteit nie.[52]
Om iemand as ’n ateïs te beskryf, is om ’n generiese term met min betekenis te gebruik. Gelowiges etiketteer gewoonlik iemand wat nie húl spesifieke god onderskryf nie as ’n ateïs. Ons is egter almal ateïste, want as jy enigeen van die duisende verskillende gode bo die ander verkies, is jy ten opsigte van al die ander ’n ateïs. Die vroeë Christene was byvoorbeeld ateïste, want hulle het nie die soewereiniteit van die amptelike gode van die Romeinse Staat erken nie.
’n Wesenlike probleem met godsdiens en veral die Protestantisme is, myns insiens, die beheptheid met die dood en die verbeelde voortbestaan daarna. Daar bestaan tans genoeg getuienis dat die menslike siel, as kandidaat vir die hiernamaals, nie bestaan nie. Volgens wyle Ferdinand Deist, teoloog en Bybelnavorser, is die siel in Bybelse terme bloot ’n beskrywing van iemand se persoonlikheid. Ek en Ferdinand het jare gelede ooreengekom dat die een van ons wat eerste sterf die ander sou laat weet indien daar werklik iets ná die dood bestaan. Ná al die jare wag en treur ek nog steeds.
Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus, word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe “beloon” word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word.
As jy leef, het die dood geen betekenis nie en wanneer jy sterf, maak dit in elk geval nie meer saak nie. Om te beweer dat ’n mens “die tydelike met die ewige verwissel”, is uit pas met die werklikheid. Die “tydelike” is al wat ons beskore is en ons enigste “beloning” is om vlietend deel van die kosmos te wees en die kans gegun te word om ’n morele en etiese lewe te lei. Dit is selfs moontlik om langs hierdie weg ’n spirituele bestaan te voer.[53]
Daarom is die Franse filosoof Maurice Merleau-Ponty[54] vir my belangrik. Hy betoog, onder meer, dat ons die liggaamlike verwaarloos het en dit moet herontdek. Godsdienste, met hul ietwat irriterende klem op die hiernamaals, negeer die feit dat ons primêr anatomies en fisiologies van die natuur afhanklik is. Merleau-Ponty herinner ons gevolglik daaraan dat elkeen van ons as ’n komplekse fisiese entiteit eenmalig in die kosmos debuteer.
Waarom skryf soveel mense wat met hulle gebeur toe aan een of ander god se wil sonder inagneming van die natuurwette?
’n Universele aspek van menswees is, myns insiens, die versugting na ’n sinvolle bestaan in ’n komplekse wêreld. Hiervoor is die Bybel in sy geheel nie ’n goeie handleiding nie, want dit is vol teenstrydighede[55] en verskaf nie duidelike antwoorde oor hoekom daar soveel lyding in die wêreld is nie. Ons oortuiging dat daar iets groters as ons in die kosmos bestaan, het evolusionêr ontwikkel (hieroor brei ek later meer uit), en gebeure wat ons onverstaanbaar of wonderbaar vind, word outomaties deel van die Almagtige se plan met ons. Om te glo dat iemand anders in beheer van alles is, bring op ’n manier berusting. Daar is dus ’n hele boel goed waaroor ons ons nie hoef te bekommer nie, want God sal na ons omsien en die skuldiges sal gestraf word. Hierdie stelsel is so ongeloofwaardig dat dit waarskynlik die rede is waarom daar van ons verwag word om soos kinders te glo.
Dit bly egter gerusstellend om te beweer dat God in beheer is, dat hy/sy ’n plan met ons het. Die haakplek is egter dat ons eers ná die dood sal agterkom wat die plan is. Predikante maak hiervan gebruik en verwag van ons om die verskriklikste lyding sonder verduideliking te aanvaar as deel van die ewige plan van ’n liefdevolle en ondersteunende God.
Om vir reën