Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 3


Скачать книгу

wil hom help as sy kan, want miskien sal dit sy ongenaakbaarheid laat verdwyn. Miskien sal hulle mekaar dán soos twee verloofdes kan liefkry. Maar nou kan dit nie. Daar is hierdie groot, geheimsinnige skaduwee tussen hulle. Somtyds is sy seker daarvan dat Eugéne de Vigny haar nie eens raaksien of haar hoor praat nie.

      Haar kamermeisie kom in om haar te help aantrek vir aandete. Na ete sal sy seker met madame Colbert in die biblioteek gaan gesels. Sy wil juis weet waarom die markies vanmiddag hierheen gekom het. Sy glo nie dat dit net was om haar te kom besoek nie. Hy wou dalk iets met madame Colbert bespreek en sy wil weet wat dit is.

      Madame Colbert wil egter eers Angélique se hele storie hoor, alles omtrent haar nagmerrie-ondervinding. Sy is hoogs ontsteld toe die meisie haar vertel dat sy aan die kommandeur gesê het dat sy nie weet wie haar ontvoer het nie.

      “Hoekom het jy dit gedoen, Angélique! Nou sal hierdie onaangenaamheid nooit tot ’n einde kom nie!”

      “Maar, madame, hoe kon ek sê don Eduardo het my ontvoer as ek hom nooit te siene gekry het nie? Ek sou altyd gewonder het of ek nie ’n onskuldige man galg toe gestuur het nie.”

      Madame Colbert maak ’n ongeduldige gebaar met haar hand. “Kan jy dit dan nie verstaan nie, chérie? Don Eduardo staan tussen jou en Eugéne de Vigny se geluk! Solank as wat daardie Spanjaard hier aan die Kaap is, sal julle twee nooit geluk kan vind nie.”

      Angélique swyg ’n oomblik voor sy antwoord: “Geluk, madame? Ek wonder of die markies na iets so banaals soos geluk smag.”

      Madame staar haar geskok aan. “Angélique!”

      Daar is ’n treurige uitdrukking in die meisie se oë toe sy opkyk. “Liefde is nié die rede waarom Eugéne de Vigny met my wil trou nie, madame. Maar as ek gelukkig in ’n huwelik met hom wil wees, sal ek ten minste van mý kant liefde vir hom moet koester.”

      “Waarom . . . waarom het jy dan toegelaat dat die Spanjaard skotvry daarvan afkom? As jy gelukkig by Eugéne wil wees, moet die Spanjaard van die toneel verdwyn.”

      “Hoekom, Madame? De Vigny het ’n geheim . . . iets waarvan don Eduardo weet . . . iets wat my dus raak. Gaan ek dan nie met die markies van Touraine trou nie? As die don sou sterf, sal niemand ooit weet wat die geheim is nie en ek sal altyd wonder wat in De Vigny se verlede gebeur het.”

      Madame skud haar kop. “Wat maak dit tog saak, chérie? Wat verby is, is verby en jy mag nie probeer uitvind wat daar gebeur het nie. Elke mens het tog maar ’n verlede, ’n onverantwoordelike herinnering, iets wat jy nie graag wil onthou nie.”

      Angélique draai na die ou dame. “Dit is so, madame, maar hoeveel mense is bereid om selfs ’n ander met sy lewe te laat boet net ter wille van die bewaring van ’n geheim?”

      “Jy weet dat die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk die Veertiende baie onverantwoordelike dade tot gevolg gehad het. Daar is baie dinge gedoen waaroor mense later spyt was. Miskien het die markies, in ’n oomblik van onbesonnenheid, ook iets gedoen . . . iets waaroor hy nou spyt is . . . iets wat hy liewer wil vergeet.”

      Angélique skud haar kop heftig. “Wat die markies raak, raak my ook omdat ek met hom gaan trou. As hy ’n ander uitdaag tot ’n tweegeveg, het ek as die toekomstige markiesin van Touraine die reg om te weet waaroor dit gaan.”

      “Jy het nie die reg nie,” maan madame Colbert.

      Angélique glimlag. “Nie volgens die reëls nie, madame, maar ek is ’n vrou en ek wil weet waarvoor ek my inlaat.”

      Die ou dame se gesig versomber. “Moenie, kind, moenie té ver gaan delf nie. Miskien sal jy mense net seermaak. Laat die don boet vir jou ontvoering. Gaan vertel die kommandeur dat jy nie die waarheid gepraat het nie. Hy sal jou vergewe.”

      Angélique skud haar kop. “Nee, ek kan dit nie doen nie.”

      Die madame se oë vernou effens. “Is jy verlief op don Eduardo, Angélique?” wil sy geskok weet.

      “Nee! Ek sou hom kon haat! Soms maak hy my bang, soos daar in die Kasteel toe hy met spottende onverskilligheid die Donker Gat en die dood wou uitdaag om hom te vernietig. Madame, ek móét eenvoudig uitvind wat hom so ’n bedreiging vir Eugéne de Vigny maak. Miskien as ek die don se geheim in die ope kan bring, sal die markies minder ongenaakbaar wees. Miskien het hierdie duiwel uit Spanje ’n houvas op Eugéne de Vigny.”

      Madame Colbert knik. “Dis ’n edel rede waarom jy die don aan die kaak wil stel, kindjie, maar hoe gaan jy dit doen? Gaan jy nie in die proses dalk die markies vernietig nie? Dink daaraan, Angélique – as jy hom vernietig het, wat bly daar dan vir jou oor?”

      Angélique antwoord nie. Sy staan net op en loop na die venster. Lank staar sy na die donker, koue, nat nag daarbuite.

      Wat wil sy werklik hê? Wat is dit wat haar voortdryf om agter Eugéne de Vigny se geheim te kom? Die koue, skokkende besef van die waarheid laat haar sidder. Haar vingers strengel krampagtig inmekaar. Sy is bly dat sy met haar rug na die ou dame staan sodat dié nie die uitdrukking op haar gesig kan sien nie.

      Sedert sy van die stryd tussen don Eduardo en die markies van Touraine bewus geword het, het sy diep in haar binneste die hoop bly koester dat die Spanjaard haar ’n geleentheid sal gee om haar belofte van trou aan die markies te verbreek. Sy het selfs onverskillig gestaan teenoor die moontlikheid dat Eugéne de Vigny sy lewe in die proses mag verloor.

      Angélique voel hoe sy bleek word en haar hand gaan na haar wang.

      Nog al die tyd het sy weggeskram van dié moontlikheid . . . maar nou het madame Colbert heeltemal onwetend die kern van die saak aangeraak: Sy staan onverskillig teenoor die markies en as sy hom moet vernietig, sal dit haar nie veel hartseer bring nie.

      Daar is ’n pyntrek op haar gesig. Dan ruk ’n ander, dieper besef deur haar gemoed en laat haar na haar asem snak. Sy het don Eduardo nie van die doodsvonnis gered omdat sy werklik geglo het dat hy haar nie ontvoer het nie . . . sy het dit uit suiwer, onselfsugtige liefde gedoen. Sy het hom uit die Donker Gat laat haal omdat sy nie haar hart toe verstaan het nie. Dit was nie blote bewondering vir sy trots en onverskrokkenheid nie. Nou het sy haarself in die proses vernietig.

      “Angélique?” Die madame se stem kom vaagweg, sag en onseker na haar, maar sy antwoord nie.

      Dis nie meer in haar hande om die verloop van die twis te bepaal nie. Sy weet net met doodse sekerheid dat sy nie meer met die markies van Touraine kan trou nie.

      Sy draai eindelik om na die ander vrou. Die madame kom half uit haar stoel orent toe sy die doodsbleek meisie sien.

      “Chérie! Wat is verkeerd! Voel jy sleg?”

      Angélique knik. “Sal u my asseblief verskoon, madame. Ek voel nie lekker nie.”

      Die vrou begryp dat iets verkeerd is, maar sy kan nie dink wat dit kan wees nie. Sy wens sy kon weet wat in Angélique se gedagtes omgaan wat haar so bleek laat word het. Het sy dalk die onbesonnenheid van haar optrede voor die kommandeur besef?

      “Voor jy gaan, Angélique, daar is nog iets wat ek vir jou moet sê.”

      Die meisie steek by die deur vas en kyk terug. “Wat is dit, madame?”

      Die ou dame glimlag. “Miskien sal dit jou opbeur, ek weet nie. Monsieur le marquis was vanmiddag hier. Hy wil hê dat julle oor ’n maand moet trou.”

      Angélique ruk van die skrik en dit ontgaan die ouer vrou nie.

      “Ek . . . ek kan nie, madame.”

      “Ek weet dis baie ongerieflik, maar die markies wil dit so hê.”

      “Hoekom so gou?” wil Angélique weet.

      Madame haal haar skouers op. “Hy wil hê dat julle dadelik na Oos-Indië vertrek. Hy is haastig om daar uit te kom.”

      Angélique skud haar kop verdwaas. “Oos-Indië? Maar ek wil nie gaan nie, madame! Ek wil nie meer met Eugéne de Vigny trou nie! Ek wil . . .” Sy steek vas en maak dan ’n hulpelose gebaar toe sy nie verder kom nie.