my ontvoer het nie.”
De Vigny roep ’n skok uit.
Santiago tree vorentoe, maar word hardhandig deur die twee wagte teruggepluk. Sy blik brand op Angélique wat eensklaps kalmer voel. Sy kyk nie na hom nie, maar besef dat haar antwoord na die oplossing van die geheimsinnigheid gaan lei.
“U sê mijnheer Santiago het u nie ontvoer nie,” gaan die kommandeur voort en Angélique kan duidelik die verligting in sy stem bemerk. “Het u dan u ontvoerder herken?”
Sy skud haar kop. “Hulle was drie, maar hulle het dit vir iemand anders gedoen. Ek het die persoon nooit gesien nie.”
Die kommer is terug in Simon van der Stel se oë. “Hoe kan u dan so seker wees dat dit nie mijnheer Santiago was wat u ontvoer het nie?”
Angélique huiwer. Hoeveel moet sy hulle vertel? Sal sy nie maar met die hele waarheid vorendag kom nie? Tog is sy bang vir die uiteinde hiervan. Sy weet nie waarheen alles lei nie, maar sy weet dat dit vir haar belangrik is om te weet wat Santiago se geheim is . . . wat die markies van Touraine se geheim is . . .
Dan vertel sy die kommandeur van haar gevangehouding op die skip, van die matrose wat haar vertel het dat sy op die Sylvanna is, van die vreemde kajuit daarna en dan van die besering teen haar slaap.
Dit lyk of die kommandeur baie diep nadink voordat hy eindelik sê: “Daar is dus geen bewyse van mijnheer Santiago se skuld nie, markies. U beskuldigings het nie werklik gronde gehad nie. U is ’n verskoning aan mijnheer die Don verskuldig.”
Die ingehoue woede lê vlak in die markies se oë toe hy ’n ligte buiging voor die kommandeur maak. Hy kyk nie na don Eduardo nie, hy ontwyk ook Angélique se blik.
“Ek vra u en don Santiago om verskoning, U Eksellensie.” Hy wurg die woorde letterlik uit.
Van der Stel glimlag skielik. “U verskoning word aanvaar, mijnheer.” Dan draai hy na die wagte wat nog steeds weerskante van don Eduardo bly staan. “Laat hom maar gaan. Julle kan die vertrek nou verlaat.”
Die twee wagte buig en gehoorsaam die kommandeur se bevel sonder versuim. Don Eduardo kom nader, in sy oë smeul die haat toe hy na die arrogante markies kyk.
“Ek aanvaar nie jou verskoning nie, De Vigny,” sê hy stadig. “Ek sal jou jag totdat daar geen plek meer is om heen te hardloop nie.” Hy is bleek om sy mondhoeke.
De Vigny tel sy wandelstok op en vee versigtig met sy hand oor die vergulde knop.
“Jou wraaksug is buite verhouding met die voorval, monsieur.”
Angélique sien die gespannenheid onder die markies se oënskynlik kalm uiterlike raak.
“Ek is ’n edelman, De Vigny, en ’n edelman se eer beteken vir hom baie.”
Die markies se hand klem stywer om die swart ebbehoutstuk. “Ons het hierdie saak al bespreek, monsieur,” sê hy ysig.
Die kommandeur hou sy hande omhoog. “Mijnhere, u kan later hierdie geskil besleg.” Hy glimlag breed. “Kom, klink ’n glasie sodat ons nie as kwaaivriende uitmekaar gaan nie.”
“Nooit!” roep Eduardo uit. “Mag die hemele op my inmekaartuimel as ek ooit saam met hierdie man ’n glasie klink.” Hy draai skielik om na Angélique. “My dankbaarheid ken geen perke nie, señorita.” Hy buig diep en toe hy weer na haar kyk, is sy blik ’n oomblik lank deurdringend op haar gerig asof hy ’n boodskap wil oordra. Dan groet hy die kommandeur en verlaat die vertrek sonder om weer om te kyk.
“Onbeskofte buffel,” mompel die markies.
Van der Stel haal sy skouers ongeërg op. “Ek ken don Eduardo maar so. Ons is goeie vriende en dit sou my groot leed aangedoen het as hy moes sterf oor dit waarvan u hom beskuldig het.” Hy frons toe hy hervat: “U moet sy posisie verstaan, mijnheer. Don Eduardo is ’n edelman soos u en dit was ’n groot skok vir hom om gevange geneem te word. Ek kan u ongelukkig geen waarborg gee dat mijnheer Santiago u sal vermy nie.” Daar is ’n onverklaarbare uitdrukking tussen die kommandeur se oë toe hy die man voor hom ’n oomblik aandagtig betrag. Dan glimlag hy. “Die uitnodiging om ’n glasie te klink, staan nog, mijnheer.”
Angélique kry die markies byna jammer toe sy die tweestryd op sy gesig lees. Sy weet dat hy die uitnodiging nie mag weier nie en sy kan aanvoel dat hy veel eerder so gou moontlik uit die Kasteel wil padgee. Sy self sal baie liewer huis toe wil gaan. Sy wil by madame Colbert uitkom, sy wil seker maak dat die ou dame niks ernstigs oorgekom het nie.
Die markies sit sy wandelstok weer stadig op die geleentheidstafeltjie neer. “Dankie, U Eksellensie, ek neem u uitnodiging met graagte aan.”
Angélique sug byna van verligting. Eugéne de Vigny het reg gehandel. Sy sou nie graag ’n konfrontasie tussen hom en die kommandeur aanskou nie. Dis beter dat hulle almal oënskynlik hulle gang gaan totdat die saak opgelos is.
In al die spanning van die ondervraging het sy nie daaraan gedink om vir Simon van der Stel óf Eugéne de Vigny na die welstand van madame Colbert te vra nie, maar die kommandeur stel haar gerus dat sy maar net ’n bietjie kneusplekke opgedoen het. Emile, die koetsier, het ’n skietwond opgedoen en sal binne ’n week of twee weer op die been wees.
Later op Le Ruisseau vergewis sy haar van hierdie feite. Madame Colbert het inderdaad niks ernstigs oorgekom nie en haar vreugde om Angélique te sien, laat haar van al haar ontberings vergeet.
“Chérie!” roep sy uit en slaan haar arms om die meisie. “Genade, my kind, wat het tog gebeur! Ek was rasend van bekommernis oor jou!” Dan hou sy die meisie armlengte van haar af en beskou haar weer. “Kyk net hoe lyk jy! Jou pragtige tabberd is geruïneer! Kom, jy moet dadelik na jou boudoir!” Sy stoot die moeë Angélique voor haar uit. “Ons kan later gesels. Eers moet jy gaan opfris en rus, en dan kan ons die hele besigheid ’n bietjie uitpraat.”
Angélique glimlag floutjies, dankbaar dat madame Colbert haar nie dadelik met vrae gaan bestook nie.
“Dankie, madame. Ek is baie moeg.”
“Natuurlik! Toe, jou kamermeisie sal na jou omsien. Ek gaan intussen gereedmaak. Monsieur le marquis het laat weet dat hy hierheen kom.” Sy keer toe Angélique wil protesteer. “Toe maar, ek sal vir hom sê dat hy jou nie vandag kan sien nie. Ek is seker hy sal verstaan.”
Angélique glimlag dankbaar en dan stap sy weg na haar kamer, waar die bediende reeds ’n bad vol warm water laat bring het.
Dis byna aand toe Angélique eindelik wakker skrik. ’n Lang ruk lê sy nog na die venster en staar waar die grou lug die aand gouer laat kom. Dit reën nog sag, half mistig en triestig. Sy kan die takkies van die ou akkerbome in die koel wind hoor ritsel, iemand plas buite deur die water, die reuk van nat grond kom deur die skreef in die venster.
Sy sit regop en onthou dan die gebeure sedert die maskerbal. Sy onthou hoe die twee mans soos verwoede roofdiere teenoor mekaar gestaan het, en ook toe die kommandeur beveel het dat don Eduardo losgelaat moet word. Haar gedagtes talm om die Spanjaard. Sy wonder of hy op hierdie oomblik dalk met Pablo gesels, of hulle dalk saam wonder waarom sy die don van ’n gewisse doodsvonnis gered het.
Diep in haar hart is Angélique self nie seker waarom sy dit gedoen het nie. Was dit dalk nuuskierigheid aan haar kant om agter die geheim te kom wat hy met hom saamdra, of was dit dalk ’n oordrewe drang om reg en geregtigheid te laat seëvier, of was dit dalk dat sy ’n onderdrukte bewondering vir die trotse, geheimsinnige Spanjaard het? Selfs waar hy in die vernederende posisie van gevangene tussen die gewapende wagte gestaan het, was hy nog ’n edelman, en het hy dit vir geen oomblik vergeet nie. Sy uitdagende trots, sy onverskillige aanvaarding van die onvermydelike het haar getref.
Sy wonder hoe ’n herontmoeting met hom sal wees en instinktief weet sy dat hy nie die soort man is om haar met dankbetuigings te oorval nie.
En die markies? Sy skud haar kop stadig. Sedert don Eduardo na die Kaap gekom het, broei die onrus gedurig en is sy bewus van die spanning waaronder die markies verkeer. Wanneer hy haar by die huis kom besoek, is dit al asof hy nie werklik van haar