is uit haar. Sy wil eers hierdie ontstellende ontdekking gaan ontleed, haarself aan dié nuwe gevoel probeer gewoond maak.
“Gaan rus nou, kind, jy het dit nodig.”
“Ja, madame.”
Die volgende dag reën dit nie meer nie. Plek-plek steek die blou lug tussen die wolke uit en die son gooi helder kolle oor die berge. Dit beloof om ’n mooi, sonnige dag te wees, maar daar is geen blydskap daaroor in Angélique nie.
Sy sit in die sonkamer met ’n stukkie borduurwerk op haar skoot. Sy sit al so sedert sy ontbyt gehad het en het nog geen stekie gewerk nie. Die vorige nag het sy sleg geslaap. ’n Onstuimige gemoed en herinneringe het daarvoor gesorg.
Haar posisie het al hoe meer onmoontlik begin lyk. Al word sy gedwing om met die markies te trou om haar naam nie te skaad nie, sal sy wegkwyn. En hiermee saam is daar die verskriklike selfverwyt dat sy die gebeure kon gestop het. As don Eduardo nou sou gesterf het, sou haar liefde en verlange na hom in die kiem gesmoor gewees het. Nou gaan dit bly voortleef, niemand sal weet vir hoe lank nie.
’n Bediende kondig die aankoms van monsieur Eugéne de Vigny, die markies van Touraine, aan.
Angélique verstyf. Sy was hom nie so gou al te wagte nie. Sy weet nog nie wat sy vir hom moet sê nie. Wat gaan sy antwoord as hy wil weet waarom sy toegelaat het dat don Eduardo losgelaat is?
Daar is egter nie veel geleentheid vir haar om oor dié dinge na te dink nie, want die volgende oomblik kom die markies die vertrek binnegestap. Hy loop tot voor haar, soen haar hand en glimlag stroef.
“Bonjour, Angélique. Goeiedag.”
Sy kyk vlugtig op en laat haar blik weer sak. “Bonjour . . .”
Wat anders moet sy sê? Die feit dat hy haar op haar voornaam noem, laat haar vermoed waarom hy hierheen gekom het. Hy moet aanneem dat Madame Colbert reeds met haar oor die vervroegde datum gepraat het.
Sy kyk na hom waar hy voor die oop venster gaan staan. Twee weke gelede nog sou die intieme manier waarop hy haar so pas aangespreek het miskien die wêreld se verskil gemaak het. Maar nou maak dit haar agterdogtig, laat dit haar met ’n beklemmende gemoed wag op wat hy wil sê.
Hy draai om en kyk na haar. “Ek is bly dat jy so vinnig van die skok van die ontvoering herstel het.” Hy aarsel en vee ’n denkbeeldige stoffie van sy fluweelbaadjie se mou af. “Ek vertrou dat madame Colbert reeds met jou oor die vervroegde datum vir die huwelik gepraat het?”
“Sy het,” sê Angélique dof.
Hy kyk haar ondersoekend aan en daar is ’n koue, berekenende uitdrukking in sy blou oë.
“Ek het my redes waarom ek die datum so onverwags vervroeg het,” sê hy na ’n lang stilte. Net dit. Geen woord om haar gerus te stel nie.
“Ek vertrou dat u weet wat u doen, monsieur.”
Haar antwoord laat hom skerp na haar kyk. Die feit dat sy hom onpersoonlik aanspreek, staan hom oënskynlik nie aan nie, want hy frons half ontevrede.
“Ek doen dit wat vir ons albei die beste sal wees.”
Die opstand roer in haar. Hoe kan hy weet wat vir haar die beste sal wees? Hy het haar nog nooit probeer verstaan nie. Hy het nog altyd aangeneem dat sy bloot die titel as die markiesin van Touraine as genoeg vergoeding aanvaar om met hom te trou.
“Volgens u oordeel, ja, monsieur,” waag sy dit dan.
Hy verstyf. “Ek hoop werklik dat jy nie hierdie soort menings na buite lug nie,” sê hy ysig.
Sy staan op, stap half rusteloos in die vertrek rond. “U het my nog nooit in die saak geken nie, monsieur. U het nog nooit daaraan gedink dat ek dalk . . . glad nie met u wil . . . trou nie.”
“Jy het reeds jou belofte gemaak, Angélique,” sê hy skerp. “Jy mag dit nie verbreek nie.”
Sy kyk nie na hom nie. “Mag ek nie? Ek is nie van die adel nie, monsieur.”
Sy stilswye laat haar opkyk en sy skrik vir die koue woede in sy oë. “Jy is uit die adel gebore en jy mag dit nie vergeet nie,” sis hy. “Ek het besluit om die troudatum te vervroeg en jy sal daarmee akkoord gaan.”
’n Ligte siddering gaan deur haar. Sal dit moontlik wees om ’n leeftyd saam met hierdie ysige monster te lewe?
“Voorlopig, ja, monsieur,” sê sy en skrik vir haar eie waaghalsigheid.
Sy sien hoe hy op sy tande kners, sy woede met moeite beteuel.
“Het jy met don Eduardo gepraat?” wil hy dreigend weet.
Sy kyk verras op. “Nee . . . sou dit enige verskil gemaak het?”
“Dis al waaraan ek hierdie houding van jou kan toeskryf.” Hy kom ’n tree nader en Angélique retireer instinktief. “Maar al is dit die laaste ding wat ek doen, sal ek hom doodmaak. Hy het nie die reg om te lewe nie!”
5
Sy deins terug van hom asof hy daardie verskriklike dreigement op haar bedoel het. Maar net so skielik as wat die woede in hom opgevlam het, so gou verdwyn dit.
Eugéne de Vigny draai vinnig om na die venster, waar hy ’n paar sekondes lank swyend staan. Dan kyk hy weer na Angélique.
“Je suis fâché, Angélique. Ek is jammer. Dit was onvergeeflik.”
Die skrik klop nog in haar keel. “Waarom . . . waarom wil u hom doodmaak, monsieur?” vra sy dan eindelik hees.
“Vergeet daarvan,” sê hy onverskillig. “Die twis tussen don Eduardo en my hoef jou nie te ontstel nie. Jy sal tog nie verstaan waaroor dit gaan nie. Dit dateer terug uit ’n tyd toe ek nog in Frankryk was.”
“En Arles? Is dit waar . . . waar die wraak begin het?”
Sy oë vernou. “Wat weet jy van Arles?”
“Die aand met die bal in die Kasteel het don Eduardo die opmerking gemaak dat Arles nie . . . nie so ver van die Kaap af is nie.” Sy haal haar skouers op. “Buiten Parys is dit tog die verste plek van die Kaap af. Dit was net ’n eienaardige opmerking om te maak.”
Hy ontspan effens. “Moenie daaroor bekommerd wees nie, Angélique. So ver as wat dit van die Kaap verwyder is, so ver terug is dit in die verlede. Dis ’n plek waaraan ek nie graag herinner wil word nie.”
Sy kyk pleitend na hom. “Maar hoekom? Wat het dan in Arles gebeur wat u wil vergeet?”
Hy draai weer terug na die venster. “Dit mag jy my nooit vra nie.”
Angélique staan ingedagte na hom en kyk. Sy weet dat sy nie met hierdie onsekerheid sal kan saamleef nie, maar sy onthou ook wat madame Colbert gesê het: As sy don Eduardo se geheim ontknoop, sal sy dalk die markies vernietig en wat bly daar dán vir haar oor?
Angélique hoor niks weer van don Eduardo nie, maar sy het dit ook nie verwag nie. Tog het sy heimlik bly hoop dat hy sal opdaag, al is dit net om haar te wys dat hy haar optrede die dag in die Kasteel waardeer.
Maar hy kom nie.
Net een keer het monsieur Marais na Le Ruisseau gekom om te sê dat die raaisel van Angélique se ontvoering oënskynlik nie opgelos kon word nie. Niemand aan boord die Sylvanna weet iets van die ontvoering nie, selfs nie eens nadat verskeie van hulle deur die foltering van die Donker Gat moes gaan nie. Hierdie mededeling het Angélique laat ril en sy wonder wat Eduardo daaromtrent doen. Monsieur Marais het egter ook die kommandeur se vertroue aan hulle oorgedra dat die skuldiges wel mettertyd opgespoor sal word.
Op ’n fris Vrydagoggend, met die skraal windjie wat die koue deur alles laat sypel, kan Angélique die stilsit net nie meer uithou nie en sy besluit om die koets te neem en by Adéle Marais te gaan besoek aflê.
Madame Colbert was ingenome met die idee. “Dit sal jou goed doen om ’n bietjie weg te kom, kindjie. Die laaste paar dae was jy maar net nie jouself nie.”
“Ek