reis tog maar per boot tot by Beira, anders gaan ek nooit die einde van jou ongehoorde optrede hoor nie, en ek het nie tyd om telkens na die señor duque en sy ma se talle besware te luister nie. Terloops, ek is baie bly dat jy eindelik besluit het om uit jou werk te bedank. Dit sal beslis aangenaam wees om jou hier by my te hê, aangesien ek nog baie maande hier sal moet vertoef. Ek hoop egter van harte dat jy geen potjies sal loop met die señor duque en sy ma nie. Jy sal ook jou uitgesproke tong in toom moet hou, ou sussie, of anders in Pretoria bly. Die señor duque is nie ’n man wat met hom laat speel nie. Hy is pynlik nougeset en verdra geen onsin van enigiemand nie, nie eens van sy eie mense nie. Almal koester ’n heilige ontsag vir hom, maar terselfdertyd respek en agting.
In elk geval, jy sal wel self sien wat ek bedoel wanneer jy hier is. Dus, trap maar in jou spoor en loop lig vir die duque. Hy het darem nog nooit voorheen met my gelol nie. Ek sal eerder sê hy koester agting en respek vir my, want hy soek my geselskap nogal dikwels op wanneer ek saans tuis is. Hy probeer ook alles in sy vermoë doen om die lewe vir my hier in sy koninkryk so aangenaam moontlik te maak. Hy het selfs besluit dat ons nog ’n huishulp nodig sal hê sodra jy hier is en toe aangebied om vir ons ’n betroubare een van sy quinta, sy plaashuis, af te stuur.
Maar wag, ek het nie nou tyd om vir jou ’n ellelange brief te skryf nie, jong. Ons sal gesels wanneer jy hier op Espiño is. Onthou asseblief net dit: jy reis óf per boot tot by Beira, óf jy bly in Pretoria.
Liefde, jou ouboet.
“So ’n ou vet slobber van ’n rykaard!” roep Janet saggies maar diep verontwaardig uit, al is daar niemand by teenoor wie sy haar gevoelens kan lug nie.
Wat verbeel hy hom om vir Vic en vir my te wil voorskryf hoe en waarmee ek moet reis! Hy en sy ou ma kan met ’n enkelkaartjie maan toe vlieg vir al wat ek omgee. Ek sal maak wat ek wil, met of sonder sy adellike toestemming. Vic is gans te sag van geaardheid om die vent kort te vat. Maar ek sal hom op sy plek gaan sit en hom daar hou, daarvan kan hy seker wees!
In elk geval, ek sal Vic nou dadelik moet telegrafeer, besluit sy, nog steeds hoog die herrie in. Daar is nie nou tyd om navraag te doen in verband met ’n boot nie. Ek vertrek oormôre en basta met die señor duque en sy ma se lawwe besware. Ek is gewoond daaraan om alleen te ry waar ek wil wees en Vic weet dit.
Nog steeds bitter omgekrap, neem Janet haar pen en skryf haar boodskap neer. Sy laat weet Vic in geen onsekere taal nie dat sy sy brief te laat ontvang het en dat sy haar deur niemand laat voorsê nie. Sy vertrek oormôre per motor via Maputo en hy sal haar sien wanneer hy haar sien.
Haastig trek sy haar jas aan en begeef haar onverwyld na die poskantoor om die telegram aan Vic te gaan stuur.
So, dink sy ingenome toe sy die poskantoor verlaat en in haar motor klim, nou kan die hertog en sy ma na hul peetjie gaan. Dis ongeveer ses ure se ry na die grens, so as ek vieruur oormôreoggend hiervandaan vertrek, behoort ek teen tienuur daar te wees. As die Mosambiekse beamptes my net nie te lank by hul doeanekantoor besig hou nie, sal ek nog ’n lang skof kan aflê voordat die donkerte my inhaal.
So kring Janet se gedagtes om haar voorgenome reis totdat sy eindelik voor die woonstelgebou stilhou.
Die res van die dag en ook die volgende dag is sy druk besig met inkopies doen en daarna die groot inpak. Ja, hierdie keer pak sy nie net twee tasse vir ’n maand lange vakansie nie. Volgens Vic se brief gaan hulle baie maande daar in die vreemde vertoef. Al haar verfgereedskap moet dus saam; daarom het sy spesiaal ’n bagasierak op die dak van haar sportmotor laat aanbring.
Dis die oggend voor Janet se vertrek. Haar hangkas en laaie is eindelik leeg, maar haar bed lyk kompleet soos ’n berg. Sy stoot ’n goudkleurige krul van haar voorkop af weg en plaas die eerste tas op ’n stoel langs die bed.
So onder die inpakkery fluit sy al wat ’n deuntjie is – van “Cara mia” tot “Aandlied van die voëls”. Maar toe sy merk dat die bed byna leeg is, val sy lustig weg met “Kom dans ’n tango met my”. Toe die laaste noot wegsterf, knip sy ook die laaste tas toe. Die groot inpak is afgehandel, maar ook die dag is besig om sy laaste stuiptrekkings te gee.
Met ’n rug wat voel asof dit op drie plekke geknak is, stap sy na die badkamer waar sy lank in ’n warm bad ontspan, hopend dat sy darem weer in een stuk gaan voel na so ’n ontspanninkie.
Sy het dit ook nie mis nie. Na die warm bad voel sy weer piekfyn en heeltemal gereed vir die lang pad wat sy môre moet aandurf. Sy skakel die kombuislig aan en besluit dat aandete vanaand net uit toebroodjies en ’n glas melk sal bestaan. Sy het werklik nie na al die gewerskaf nog lus om ’n maaltyd voor te berei nie. En buitendien wil sy vanaand vroeg gaan slaap sodat sy vieruur môre in die pad kan val. Ja, sy gaan nie ’n minuut later as vieruur vertrek nie en die geel Alfa Romeo sal môre sy draf moet ken oor daardie bulte en berge.
Na haar ligte aandete begeef Janet haar onverwyld na haar bed – haar laaste nag in Pretoria vir ’n onbepaalde tyd.
Toe die wekker drie-uur die volgende môre aankondig dat dit tyd is vir haar om op te staan, was sy net oorgehaal om die raserige ding teen die oorkantste muur te slinger omdat dit haar so ontydig gewek het. Maar toe dring dit skielik tot haar slaapbenewelde verstand deur dat sy vanoggend mos na Espiño moet vertrek en dat sy die wekker gisteraand self gestel het.
Ewe gedwee plaas sy haar jare lange ou vriend terug op die bedkassie en stoot haar bene rats van die bed af. Alle tekens van slaap het uit haar gewyk. Sy draf in haar slaapklere na die kombuis en skakel die elektriese ketel aan. Daarna neem sy ’n haastige stort en is ook net klaar toe die ketel se deksel begin ronddans.
Met haar kamerjas aan, wat sy so inderhaas skeef vasgeknoop het en waaroor sy telkens struikel, het sy oplaas ’n koppie koffie gedrink en die groot warmfles vir die pad gevul. Dit plaas sy in die mandjie wat sy gister al ingepak het.
Hierna ruim sy gou weer die kombuis op, daarna haar slaapkamer, en toe is sy self ook geklee vir die reis.
Sy gaan klop haar buurman op, met wie sy die vorige dag al gereël het om haar tasse vir haar na die motor te neem, en vieruur trek die geel vuurwa ewe besadig en ordentlik voor die woonstelgebou weg.
Maar dit hou nie vir lank so aan nie. Toe sy die stadsgrens oorsteek, trap sy die lepel diep weg en die geel gevaarte vlieg oor die verlate pad in die rigting van Bronkhorstspruit.
Die buitebande sing gesellig oor die teerpad, die helder ligte werp ’n lang, wigvormige baan oor die pad en Janet voel in haar element. Sy hou van snelheid en dit lyk ook of sy die enigste motorryer op die pad is.
Teen agtuur trek sy al ver in die Laeveld en besluit dat sy teen nege-uur êrens sal stilhou om ontbyt te nuttig. Die pad kronkel met gevaarlike skerp draaie oor die berge, gevolglik voel sy ook nie lus om in hierdie bergwêreld stil te hou nie.
Die sonnetjie begin nou lekker warm skyn. Janet het dit erger verwag, daarom dat sy vanoggend ’n lang wolbroek onder haar rok aangetrek het. ’n Kilometer of wat duskant Hectorspruit hou sy stil. Na al die pragtige berge en mooi natuurskoon waarlangs sy gery het, lyk hierdie stukkie vlakte maar droog en verlate. Nadat sy ontbyt geëet het, trek sy haar jas en langbroek uit, knap haar grimering op en lyk weer soos die moderne stadsmeisie wat sy is. Niemand sal ooit kan droom dat sy al so ’n lang reis agter die rug het nie. Daar is nie ’n beduidenis van vermoeienis op haar gelaat nie.
Dis reeds na tienuur toe sy die hekke by die grens nader. Sy is bly dat sy al die nodige vorms tuis ingevul het. As die doeane-beamptes net nie die vorige aand ’n wilde partytjie bygewoon het nie en nugter wakker is, behoort sy gou met hulle klaar te wees. Sy hoop net die beamptes neem nie dalk haar pistooltjie in bewaring nie, want daarsonder sal dit inderdaad gewaag wees om alleen te reis. Espiño lê nog ver, en dit is ’n vreemde wêreld waardeur sy moet reis.
Nou eers dink Janet daaraan dat die Portugese taal vir haar absoluut onbekend is. Wat gaan sy tydens haar reis in verband met maaltye aanvang? Die mense sal haar nie verstaan nie en sy vir hulle ewe min. In Maputo en Beira is die Engelse taal darem nie vreemd nie, maar wat van die dorpies? Sy moet tog eet en ook brandstof vir haar motor hê! Waarom kan die mensdom nie maar een taal praat soos voor die sondvloed nie?
Janet