hekwag maak die hek vir haar oop. Stadig ry sy deur en hou langs ’n luukse, swart sportmotor stil. Die swart voertuig trek dadelik haar aandag weens die vreemde, goudkleurige wapen wat swierig teen die twee deure pryk. Die eienaar moet beslis ’n vername persoon wees.
Etlike sekondes verkyk Janet haar aan die indrukwekkende wapen, dan skuif haar blik op en kyk sy vas in die donkerste bruin oë wat sy nog ooit gesien het. ’n Vuurwarm blos sprei terstond oor haar wange. Haastig draai sy haar gesig weg en klim uit.
Sy voel lus om haarself te skop omdat sy die man se motor soos ’n nuuskierige agie aangestaar het. Hemel, wat moet hy van haar dink?
Janet stap die Suid-Afrikaanse grenspos binne, en is opvallend ingedagte toe sy die vorm aan die beampte voorlê. Hier word sy gelukkig nie lank opgehou nie en na ’n paar minute begeef sy haar na die ander kant van die gebou waar die Mosambiekse doeanekantore geleë is, onbewus daarvan dat die lang man wat in die netjiese, wit somerspak geklee is, nie meer in sy indrukwekkende swart motor sit nie.
Sy kyk doelbewus nie in die rigting van die swart motor nie, uit vrees dat dit straks die indruk wek dat sy opsetlik die man se aandag wil trek. As hy ’n onaantreklike man was, sou sy haar glad nie eens aan hom gesteur het nie. Maar nou is die kêrel gevaarlik aantreklik en vir sulke aantreklike mans loop sy gewoonlik lig. Hulle is gans te geneig om te dink dat jong meisies ewig daarop uit is om hul aandag te trek.
Met haar kop trots in die lug, stap Janet die Mosambiekse doeanekantoor binne. Tot haar groot verleentheid tref sy die eienaar van die swart motor daar aan, druk in gesprek met die beamptes. Sy stap na die toonbank, neem ’n paar treë van hom af stelling in en maak asof sy nie van sy teenwoordigheid bewus is nie.
Janet hou haar oënskynlik besig met die lees van die vorms in haar hand, maar toe hoor sy een van die beamptes op Engels sê: “Kan ek help?”
“Dankie,” sê sy bedaard, ook op Engels, onderwyl sy al die nodige vorms, haar paspoort en rybewys voor hom neerlê.
Die beampte lees alles vlugtig deur, stempel die vorms en paspoort en stuur haar na ’n aangrensende kantoor.
Ook hierdie man lees alles vlugtig en vra meteens: “Mag ek die pistooltjie sien, asseblief?”
Janet haal die vuurwapen uit haar handsak en hou dit na die beampte uit, wat die loop ’n oomblik noukeurig bekyk en dit aan haar teruggee.
“Wat is die doel van die vuurwapen, señorita?” vra hy met ’n breë glimlag, asof hy ’n geheime grappie geniet.
Janet vervies haar innerlik vir die man se simpel vraag. Die vorms toon tog duidelik dat sy alleen per motor na Espiño reis! Sy tel tot tien en kyk die kêrel reguit aan.
“Die doel van die vuurwapen, señor,” antwoord sy nadruklik, “is om mense mee dood te skiet wat my onderweg na Espiño probeer molesteer. Soos jy wel in die vorms sal opmerk, reis ek alleen per motor.”
“O, maar ek het pas berig ontvang dat jy slegs tot Maputo per motor reis, señorita,” kom dit vriendelik van die beampte. “Ek sal dus die wapen vir jou in bewaring hou totdat jy na Suid-Afrika terugkeer.”
“Ek vrees jy het ’n verkeerde berig ontvang, señor,” weerspreek sy hom baie ernstig. “Ek herhaal: ek reis alleen in my motor na Espiño. Terloops, ek gaan vanaand nog op een van die talle kusdorpies, êrens naby Beira, oornag.”
Janet het glad nie meer lus om hom te nader in verband met brandstof en maaltye nie. Sy sal die nodige inligting wel in Maputo bekom.
Maar dan hoor sy die onmoontlike man weer sê: “Señorita Hartman, laat my toe om die señor duque, sy geëerde excellencia Ramiro Velasco de Gouveia, aan jou voor te stel.”
Janet se onthutste oë volg die beampte se blik. Sy draai effens om en dan kyk sy weer eens vas in die lang, aantreklike man se swartbruin oë. Dis sowaar dieselfde man wat met haar aankoms in sy luukse, swart motor gesit het – daardie motor met die indrukwekkende wapen teen die deure.
“Aangename kennis, señorita,” hoor sy die duque op foutlose Engels sê met ’n sjarmante buiginkie so reg uit die sewentiende eeu – ’n gebaar wat Janet heimlik amuseer.
O gits, dink sy, nog ’n hertog, en nogal ’n uiters aantreklike en imponerende een daarby. Ja, glad nie so ’n ou vet slobber soos die een vir wie Vic die dam moet bou nie!
Maar hardop, en ook op Engels, sê sy: “Aangename kennis, señor duque!”
Daar is ’n ondersoekende, deurdringende blik in die man se swartbruin oë toe hy met ’n mooi diep en bedaarde stem vra: “Gaan jy nie die vuurwapentjie aan die beampte oorhandig nie, señorita?”
“Nee, ek gaan nie, señor duque,” antwoord sy met besliste finaliteit in haar stem. “Ek kan die pistooltjie tydens my reis nodig kry. Espiño lê nog ver …”
“Jy het gelyk, señorita, Espiño lê nog baie ver,” val hy haar sag in die rede. “Maar jy gaan nie verder alleen reis nie; jy gaan per vliegtuig saam met my reis.”
Janet kyk die man met ’n frons aan asof hy een van sy bont varkies verloor het en nog totaal onbewus daarvan is. Sou hy wraggies dink sy is so onnosel en eenvoudig om saam met hom, ’n wildvreemde man, per vliegtuig te gaan reis? Nee, sowaar, die man is nie by sy volle verstand nie.
Janet wil hom net vertel dat sy ordentlik opgevoed is, dat haar ouers haar geleer het om nooit saam met ’n vreemde man in ’n voertuig te klim nie, al is hy ook die koning van watter land. Maar die man gee haar nie die geleentheid om hom al hierdie dinge te vertel nie. Die frons op haar mooi gesiggie het hom reeds alles vertel wat sy nog nie in woorde gesê het nie. Miskien is dit ook maar beter, want Janet kon nog nooit haar tong in toom hou nie.
Sy hoor die edelman bedaard sê, onderwyl hy ’n brief uit sy sak haal en dit na haar uithou: “Moontlik sal jy beter begryp wat ek bedoel nadat jy die brief van die goeie señor Hartman gelees het, señorita.”
Sy kyk die kêrel skepties aan, maar neem nietemin die brief. Nog steeds fronsend, kyk sy na die koevert en herken dadelik Vic se handskrif. Die frons wyk en nou is daar ’n trek van verwarring in haar mooi, helder blou oë wat die edelman skerp aankyk.
“Van waar af ken jy my broer, señor duque?” vra sy, steeds ietwat skepties. Haar oorlede ma het haar geleer om geen vreemde man te vertrou nie. Daar was juis so ’n snaakse, ingenome lig in sy oë toe hulle mekaar vroeër vanuit hul onderskeie motors aangekyk het. Ja, sy onthou daardie ingenome blik van hom baie goed. Die man is sowaar ’n wolf.
“Jou broer, señorita,” hoor sy die edelman bedaard sê, “is die ingenieur wat besig is met voorbereidings om vir my ’n besproeiingsdam te bou. Ek vrees dit was ietwat ongeleë vir die goeie señor Hartman om jou hier te ontmoet, daarom het ek gekom om jou na Espiño te vergesel. Maar sal dit nie beter wees as jy eers die brief lees nie, señorita? Moontlik sal jy dan beter verstaan wat jou broer van jou verwag.”
Janet val byna op haar rug van skok en verbasing toe sy hoor dat hierdie aantreklike man die hertog is vir wie haar broer die dam moet bou. Die beeld van die man wat sy nog altyd in haar gedagtes omgedra het, verskil hemelsbreed van die een wat hier voor haar staan. Sy weet nie of sy moet lag of flou word nie. Hierdie lang man met sy smal heupe en breë skouers, swart, reguit hare wat netjies agteroor gekam is en lang, goed versorgde hande met net ’n enkele ring aan een vinger – ’n ring met ’n sierlike wapen daarop gemonteer – het haar momenteel totaal van stryk. Sy is nie eens daarvan bewus dat sy hom met openlike verbasing van kop tot tone beskou nie.
“Maar ek het dan gedink dáárdie señor duque is …” begin sy verward. Sy besef gelukkig betyds dat sy byna haar mond verbygepraat het en vervolg sag: “As jy my sal verskoon, sal ek eers my broer se brief lees.”
“Wat van dáárdie señor duque, señorita?” hoor sy die edelman met ’n gemoedelike stem vra. Sy kan sweer dat sy ’n vlietende oomblik ’n glimlag in sy deurdringende swartbruin oë gesien het, al kyk hulle haar nou weer ernstig en bedaard aan.
Janet is nou opvallend verleë.
“Nee,