Susanna M. Lingua

Die goue vlinder


Скачать книгу

“Maar wat verbou jy nog behalwe rys?”

      “Koffie en grondboontjies,” antwoord hy. “Ek hou ook heelwat bees en skaap aan, maar daarmee word nie op groot skaal geboer nie. Ek hou dit uitsluitlik aan om die dorp van vleis te voorsien …”

      Rustig, geselsend geniet hulle die koffie en beskuitjies. Daarna kom die edelman orent. Hy bied aan om Janet ’n slaapkamer aan te wys waar sy kan rus terwyl hy vir die vervoer van haar motor reël.

      Hy neem haar na ’n kamer, stoot die deur vir haar oop, maar bly op die drumpel staan, kompleet asof dit vir hom heiligskennis is om ’n slaapkamer saam met ’n jong vrou te betree.

      “Jy moet my asseblief verskoon, señorita,” hoor sy hom van die deur af sê. “Ek sal nou dadelik moet gaan. Indien jy enigiets verlang, kan jy maar net vir Rosita vra. Dit sal my in elk geval nie langer as ’n uur neem om alles af te handel nie. Ek sal jou dus aanraai om daardie uur nuttig te gebruik deur te rus. Terloops, die badkamer is langsaan geleë – die deur aan die linkerkant.”

      Janet kyk hom met ’n meerderwaardige blik aan. Sy is nie gewoond aan bevele van ander nie. Sy sien die streng lyne om sy aantreklike mond, die onpeilbare uitdrukking in sy swartbruin oë. Dit laat haar meteens wonder of hierdie hertog al ooit in sy lewe geglimlag het. Hy lyk so streng en ongenaakbaar, so asof ’n glimlag benede sy waardigheid is.

      Maar hierdie gedagte hou sy vir haarself en sê slegs: “Moet jou asseblief nie oor my bekommer nie, señor. Ek is gewoond daaraan om na myself te kyk, en ek het nog altyd die mas redelik goed opgekom.”

      Die man vereer haar met ’n ligte buiging van sy hoof, draai om en stap weg – lank, trots en waardig.

      Janet wag net totdat hy uit haar gesigsveld verdwyn, toe gaan sy badkamer toe om haar hande en gesig te was. Sy kam haar hare, knap haar grimering op en dan stap sy na die voorstoep waar sy in ’n gemaklike leunstoel ontspan totdat die hertog pas voor middagete terugkeer.

      Hy merk haar dadelik op daar waar sy heerlik ontspanne op die rottangstoel sit en kom reg voor haar staan. Hy kyk haar met ’n onpeilbare blik aan, ’n blik wat Janet met die beste wil ter wêreld nie kan plaas nie en wat haar ietwat verward laat voel.

      “Ek sien jy het nie my raad gevolg nie, señorita,” hoor sy hom bedaard sê. “Dis jammer, want die lang reis na Espiño gaan jou ontsettend vermoei.” Hy hou albei sy hande na haar uit en vervolg: “Laat my toe om jou op te help. Ons sal nou dadelik moet gaan aansit vir ete sodat ons teen twee-uur kan vertrek.”

      Janet lê haar fyn handjies in sy lang slankes en laat hom toe om haar uit die stoel te help. Die aanraking van sy hande is verbasend sag, maar sy weet ook dat daar groot krag in daardie lang vingers skuil. Sy hele liggaam van bykans twee meter lyk sterk en gespierd.

      “Jou motor sal oor ses dae in Beira aankom,” lig hy haar in onderwyl hulle na binne stap.

      “Dankie, señor Ramiro,” antwoord sy beleef. “Dit is baie vriendelik van jou om soveel moeite om my ontwil te doen. Jy is inderdaad ’n merkwaardige man om so baie van jou tyd aan ’n vreemdeling af te staan. Ek hoop jy sal my toelaat om jou aan die einde van die reis vir al jou moeite en koste te vergoed.”

      “Jy kan my vergoed deur in die vervolg gehoorsaamheid aan die dag te lê, señorita Janetta,” hoor sy hom sag sê, en nou eers kom sy agter dat hy nog steeds haar een hand in syne vashou, presies asof dit iets is wat hy verloor het en nou weer gevind het.

      Met ’n verleë blos op haar wange kyk sy anderpad en trek haar hand saggies uit syne. Sy merk nie op hoe sy swart wenkbroue effens oplig nie, nog minder hoe ’n sweem van ’n glimlaggie ’n oomblik lank aan die een hoek van sy mond raak.

      Hy verwys bepaald na my ongehoorsaamheid deur op die stoep te sit in plaas van te gaan rus soos hy beveel het, meen Janet. Maar hy sal hom wat verbeel. Ek is nie ’n kind wat hy bed toe kan stuur wanneer dit hom pas nie. As ek wil gaan rus, sal ek dit doen sonder dat hy dit aanbeveel.

      Maar sy sê dit nie, antwoord net ongeërg: “As kind was ek baie gehoorsaam aan my ouers, señor. Maar sedert ek mondig geword het, twee jaar gelede, is ek aanspreeklik vir my eie dade en besluit ek self wat goed is vir my.”

      Die volgende oomblik tree hulle die sitkamer binne, gevolglik verswyg die hertog die bestraffende woorde wat hy haar wou toevoeg. Hy ontbied Rosita en stel haar in kennis dat hulle gereed is om aan te sit vir ete.

      Tydens die ete gesels die hertog, soos dit vir Janet lyk, ietwat gedwonge. Met rukke lyk hy duidelik afgetrokke. Dit laat haar heimlik wonder of hy haar gewone, alledaagse geselskap benede sy waardigheid ag, of sou hy dalk verveeld voel in haar eenvoudige teenwoordigheid?

      O wel, besluit sy effens afgehaal, ek het hom nie gevra om my te kom haal nie. As hy my geselskap dus benede sy edele waardigheid ag, is dit net sy eie skuld en kan hy, vir al wat ek omgee, met my komplimente na sy peetjie gaan. Ek gaan my ook glad nie meer moeg maak om met hom te gesels nie. En hierdie vreemde gespannenheid wanneer hy my aankyk met daardie onpeilbare swartbruin oë wat ’n mens laat voel asof hy dwarsdeur jou kyk, gaan ek ook totaal ignoreer. Dis sommer bog dat ’n enkele blik van hom my so vreemd ontsenu. Al is hy uit die adelstand, is hy net ’n mens soos ek. Ek gaan my beslis nie meer aan die ellendige mansmens steur nie …

      Onbewus van hierdie onstuimige gedagtes in Janet, nuttig die onversteurbare hertog sy maaltyd asof niks op aarde hom ooit kan ontwrig nie, asof hy geen kommer en sorge in die ganse wêreld ken nie en ook nie sal toelaat dat so iets hom ooit kwel nie.

      Dis waar. Soos die onversteurbare, onberispelike man daar aan die hoof van die tafel sit, sal geen vreemdeling ooit kan raai watter groot verantwoordelikhede daar op sy breë skouers rus nie. Net iemand wat met die eeue oue tradisie van die Portugese edelliede vertroud is, sal weet dat hierdie waardige, bedaarde dog streng man die hoof is van sy hele familie tot aan die kleinste vertakking daarvan. Vir elkeen se probleme moet hy ’n oplossing vind. Elke lid se toekomstige lewensmaat moet hy eers goedkeur voordat die verlowing amptelik aangekondig mag word. Hul toekomstige loopbane moet met hom bespreek en deur hom goedgekeur word. Hy moet ook vir almal as voorbeeld dien, want almal sien na hom op vir raad en leiding. Geen lid van sy adellike familie sal dit ooit waag om hom teen te gaan of selfs te weerspreek nie. As hoof van die familie koester elke lid vir hom die grootste respek, agting en eerbied. Sy woord is wet en word onvoorwaardelik deur almal eerbiedig.

      Benewens die verantwoordelikheid vir sy groot familie rus ook die verantwoordelikheid vir sy talle werknemers en hul gesinne op sy breë skouers … en hulle is nie min nie, want benewens sy drie yslike quintas en fabelagtige kasteel in Lissabon, is hy ook die eienaar van etlike villas en sakeondernemings – dis nou afgesien van sy plaas naby Nelspruit.

      Maar van al hierdie dinge is Janet nog salig onbewus. Vir haar is die hertog bloot ’n aantreklike, koel komkommer wat stellig nie eens deur ’n hewige aardskudding van balans geruk kan word nie. Dat die man op hierdie oomblik diep bekommerd voel oor die lang reis wat sy vandag nog moet aflê nadat sy die hele ent pad van Pretoria af bestuur het, sal Janet natuurlik nooit kan raai nie.

      Na die ete is die hertog opvallend haastig om te vertrek. Janet weet nie hoe alles so vinnig gebeur het nie, maar vyf minute nadat hulle van die tafel af opgestaan het, kondig die edelman aan dat alles gereed is vir hul vertrek na die lughawe.

      Dis waar, Janet sal nog moet leer dat wanneer die drie en dertigjarige hertog Ramiro Velasco de Gouveia bevele uitdeel, sy wense sonder versuim uitgevoer word. Hy is ’n billike man en verwag nooit die onmoontlike nie. Maar die paadjie wat hy bewandel en ook verwag ander moet bewandel, is eng, bitter nougeset en konsensieus.

      Gelukkig is Janet nog onbewus hiervan en stel sy momenteel net belang in die dinge wat haar omring – dinge wat die hertog glad nie insluit nie.

      Met ’n beleefde “Adeus, Rosita – tot siens!” neem hy Janet se arm en lei haar na die voordeur. Sy kry darem ook ’n vriendelike “Adeus” in voordat hulle uit die sitkamer en uit Rosita se gesigsveld verdwyn.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст