Susanna M Lingua
Haar naam was Marina Neser
Melodie
1
Met nougetrekte oë staan Marina Neser op die dek, starend oor die deining van die naderende kaai. Die groot passasierskip ploeg sierlik oor die ongelyke Noord-Atlantiese waters, en deur ’n mistige waas sien sy die hoë geboue van die groot hawestad Lissabon, wat tussen twee heuweltjies geleë is en soos ’n reusetapyt tot aan die kus uitstrek.
Opgewonde stemme klink oral om haar op, en elke passasier is meteens haastig om aan wal te gaan. Die seereis was ’n heerlike ondervinding, maar nou verlang Marina om weer vaste aarde onder haar voete te voel, en om haar kieskeurige blik ander weiveld as die ewig deinende blou panorama te bied.
Van pure opgewondenheid voel sy byna so uitgelate soos ’n skoolmeisie. En toe sy ’n rukkie later in ’n taxi sit, op pad na die hotel, is dit vir haar kompleet of die lewe nou eers begin – al lyk en voel alles nog so vreemd en onseker.
Die hotel waar sy tuisgaan, is digby die strand geleë, en Marina is maar te dankbaar daarvoor. Sy is lief vir die strand, vir die wispelturigheid van die deinende see, vir die rustelose meeue en om sorgeloos op die golwe te ry en te baljaar.
Die taxi hou voor een van die tophotelle stil. Nadat Marina die besoekersregister geteken het, volg sy die portier na haar kamer wat op die eerste verdieping geleë is, haar gedagtes druk besig met die Afrikaanse naam wat sy terloops in die besoekersboek opgemerk het.
Fanus Erlank, herhaal sy in haar gedagtes, en dit laat haar heimlik wonder hoe die eienaar van die naam lyk. H’m, bespiegel sy, dit klink nogal nie onaardig nie. Dit klink so asof … asof hy ’n amper volgroeide reus kan wees. Fanus … nogal ’n mondvol!
Hulle bereik haar kamer en terstond vergeet sy van die vreemde Fanus, reus ofte nie. Sy verwonder haar aan die swaar houtmeubels met hul donker glans, dan merk sy op dat die venster ’n uitsig bied op die rustelose golwe wat voortdurend na die kus toe aangerol kom.
Met ’n vriendelike gebaar stop sy die portier ’n fooitjie in die hand, toe stoot sy die deur op knip en neem haar tydelike tuiste behoorlik in oënskou. ’n Vae glimlaggie speel om haar sagte, verleidelike lippe, en dis baie duidelik dat Marina diep tevrede voel.
Onderwyl sy later haar tasse uitpak, dink sy aan haar ouers wat nou so oneindig ver is. Sy was maar sewentien jaar oud – met ’n matrieksertifikaat waarvan die ink nog nie behoorlik droog was nie – toe sy as persoonlike assistent in haar pa se kantoor begin werk het. Al die jare het sy gespaar om hierdie reis te onderneem. Toe sy twee weke gelede haar een en twintigste verjaardag gevier het, het haar ouers haar verras met ’n lywige tjek as geskenk en kon sy eindelik hierdie jare lange droom van haar verwesenlik.
Snaaks, dink sy, dat ek nou juis vir die land van die Portugese ’n voorliefde moet koester! Sy klap die een leë tas se deksel toe en stoot dit met haar voet opsy. Dis seker omdat Manuela, my eerste vriendin, Portugees is. Manuela … A, as sy nou hier was, kon ons Lissabon behoorlik op horings geneem het. Maar nee, sy sou miskien nie wou meedoen nie. Sy is mos self Portugees, en volgens wat sy my al van hierdie ou nasie vertel het, moet ’n vrou omtrent die lewe van ’n non voer om binne die perke van hul norme en sosiale kodes te bly!
Sy glimlag breed. Ook maar goed dat Manuela nie aan hierdie reis wou meedoen nie. Sy sou tog net al my pret bederf het, want wie wil nou die lewe van ’n non voer wanneer vrolikheid en vermaak om elke hoek lok en wink? Nee, kyk, om vroom en nougeset te wees in my eie vaderland, is een ding. Maar om hier in die vreemde, en dit nogal tydens my swaarverdiende vakansie, met sulke nougesetheid te kampe te hê, is totaal iets anders.
’n Sagte kloppie aan die deur maak ’n einde aan Marina se gedagtes. Sy kom orent en gaan maak die deur oop.
Voor haar staan ’n middeljarige kamermeisie, en op byna onverstaanbare Engels verneem sy of die señorita iets te drinke sal neem.
Marina bestel ’n koppie koffie en verneem hoe laat middagete voorgesit word. Op haar antwoord dat dit binne twee uur gereed sal wees, bedank Marina die kamermeisie en hervat in aller yl die uitpakkery.
Tien minute later daag die kamermeisie met die koffie op en Marina voel dankbaar oor die verposing wat dit meebring. Nou kan sy ten minste ’n rukkie ontspan onderwyl sy die koffie geniet. Die vertrek lyk rustig genoeg noudat alles weggepak is. Nog net ’n enkele tassie wat uitgepak moet word, dan kan sy heerlik ontspan en haar vakansie begin geniet.
Met geslote oë leun sy rustig agteroor in ’n gestoffeerde gemakstoel en teug lui-lui aan die stomende koffie. Toe, meteens, vlieg haar kamerdeur oop en ’n donker, stewige kêrel mik om die vertrek binne te tree. Maar dan val sy blik op haar wat so tuis lyk daar voor die venster, en sy gang sowel as sy blik verstar.
Met opgetrekte wenkbroue bekyk Marina die vreemdeling daar in die halfoop deur en wag dat hy sy teenwoordigheid moet verduidelik.
’n Kort oomblik blik die man haar met die grootste verbasing en half deur die wind aan, en vir Marina is dit baie opvallend dat hy die kluts skoon kwyt is. Maar dan kom hy skielik tot verhaal en met nougetrekte oë verneem hy op Portugees: “Het ek verdwaal of het jy verdwaal, juffrou?”
“Jammer, ek verstaan nie jou taal nie, señor,” antwoord sy op goeie Engels en trek haar skouers fyntjies op.
Toe kom sy orent, en meteens is dit asof daar meer lewe in die kêrel vaar. Hy stoot die deur wyer oop en herhaal sy vraag op Engels – redelike Engels, maar met ’n swaar uitlandse aksent.
“O!” ’n Ondeunde glimlaggie skuif oor haar fraai gelaat. “Wel, ek is oortuig dat jy by die verkeerde deur is, señor. Want ek het beslis nie verdwaal nie.” Amper het sy nog bygevoeg: Staan liewer nader dat ek jou asem kan ruik, vriend, want geen normale mens verdwaal so helder oordag in ’n hotel nie!
’n Oomblik bekyk hy haar met openlike argwaan, dan dwaal sy blik na die nommer op die deur en dis of hy meteens skrik.
“Jy is reg, señorita,” uiter hy berouvol, “ek is beslis by die verkeerde kamerdeur. Dit was inderdaad onoplettend van my. Ek vra jou innig en opreg om verskoning omdat ek jou kamer so … e … ongenooid wou binnetree en jou in so ’n ongemaklike posisie geplaas het. Ek is vreeslik jammer, señorita, ek –”
“Jy het my geen leed aangedoen nie, señor, en ek aanvaar jou verskoning,” knip sy die kêrel se vreeslike woordevloed met ’n vriendelike glimlaggie kort.
“Señorita, laat my asseblief toe om jou te vergoed …”
“Daar is absoluut niks om voor te vergoed nie, señor. Dit was ’n blote ongeluk, en dit kan enigeen oorkom,” paai sy goedig en gaan skuins voor hom staan.
Haar blik gly opsommend oor sy stewige gestalte, sy onberispelike klere en die foutlose snit daarvan. Aan sy verfynde maniere is dit vir haar duidelik dat hy in hoë kringe beweeg.
“Wel, aangesien ons paaie op so ’n eienaardige wyse gekruis het,” glimlag sy ondeund, “het ek seker die reg om te weet wie jy is, of hoe?”
’n Breë glimlag helder meteens sy gelaat op. Hy buig galant en sy vriendelikheid is oorweldigend.
“Señor Ricardo Mendoca, drie en twintig jaar oud en tot jou diens, pequena!” rammel hy alles in een sin af.
Sy strek haar fyn handjie na hom uit, en dit word gretig en warm in syne toegevou.
“Aangename kennis, señor Ricardo,” sê sy vriendelik. “Ek is Marina Neser, van Johannesburg, Suid-Afrika, afkomstig. Ek het maar pas twee uur gelede hier aangekom.”
Sy donker oë neem elke gebaartjie, elke deeltjie van die bekoorlike meisie voor hom in, en op ’n ingewing nooi hy haar om ’n glasie wyn saam met hom in die sitkamer van die hotel te geniet.
Marina laat haar nie twee keer nooi nie. Sy het Ricardo reeds opgesom en tot die slotsom gekom dat hy heeltemal betroubaar en onskadelik is.
Dis een ding van Marina, sy is besonder intelligent en beskik oor ’n goeie oordeel en ’n lewenswysheid wat haar nog altyd tot groot voordeel gestrek het. Ook nou is haar opsomming