Susanna M. Lingua

Haar naam was Marina Neser


Скачать книгу

Ricardo!” groet sy hom verras, en oombliklik verskyn daar ’n harde trek om die marquês se mond.

      “Julle het mekaar reeds ontmoet?” Sy wenkbroue lig vraend.

      “Ja, señor, twee uur nadat ek hier in Lissabon aan wal gestap het. Ek het señor Ricardo in die hotel ontmoet waar ek tuisgaan.”

      “En waarom weet ek niks hiervan nie, Ricardo?”

      Die jonger man lyk effens ongemaklik onder die marquês se kruisverhoor, maar sê nietemin moedig: “Ek wou jou nog vertel het, Renaldo. Want ek het die señorita genooi om ons te vergesel na jou quinta …”

      “Ons sal weer later hieroor gesels, Ricardo.” Sy hele gelaat is hard en uitdrukkingloos. Toe draai hy na Marina en glimlag styf. “Jy is baie welkom om ons te vereer met jou teenwoordigheid tydens die uitstappie na my quinta, señorita. Dit was baie bedagsaam van Ricardo om jou te nooi. Wees daarvan verseker dat dit vir ons ’n eer sal wees om jou in ons midde te hê.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg saaklik: “Ons sal nou na die eetkamer verdaag vir ete. Die huisbestuurder sal jou handsak wegsit, señorita.”

      Met die waardigheid so eie aan hom, stap die marquês weg en ontbied die huisbestuurder deur ’n wit knoppie langs die deur te druk. Oomblikke later maak ’n middeljarige Portugees in uniform sy verskyning in die sitkamer, buig hoflik en verneem eerbiedig: “U het my ontbied, señor marquês?”

      “Neem die señorita se handsak,” versoek Renaldo. “Jy kan dit na die ete weer hierheen bring.”

      Marina oorhandig haar handsak aan die man, dan voel sy ’n sagte aanraking aan haar arm en hoor die sagte stem van Elena wat sê: “Ons kan maar solank gaan, señorita Marina.”

      Die gedagte dat sy vandag ’n maaltyd in ’n kasteel gaan geniet, stem Marina effens senuweeagtig. Maar hiervan laat sy niks blyk nie. Sy hoop net dat hierdie senuweeagtigheid nie dalk gaan maak dat sy haar tafelmaniere vergeet nie.

      Die maaltyd verloop egter gesellig en Marina besef dat sy verniet senuweeagtig was. Elena en Celesta, sowel as die twee mans, doen hul uiterste bes om haar tuis te laat voel en die maaltyd vir haar so gesellig moontlik te maak.

      Na die ete verdaag hulle weer na die sitkamer, en op heel diplomatiese wyse lok Renaldo haar uit om oor haar ouers, haar vriende en hul leefwyse te gesels. En toe dit haas tyd is vir haar om terug te gaan na die hotel, is almal vertroud met haar agtergrond, haar familie en al die baie vertakkinge van die Nesers. Hulle gesels reeds soos jare lange vriende.

      Die middag het verbasend gou verbygesnel en toe die horlosie vieruur aankondig, kan nie een glo dat dit reeds so laat is nie.

      “Dit was werklik aangenaam om met jou kennis te maak, Marina,” laat Elena vriendelik en opreg hoor toe hul gas orent kom en verklaar dat dit tyd is vir haar om vertrek.

      “Ek hoop jy gaan ons in die vervolg dikwels met sulke gesellige besoekies vereer,” kom dit weer van die marquês se suster.

      “Net so dikwels as wat julle my in die vervolg gaan besoek,” antwoord sy laggend. “Glo my, dit was vir my net so aangenaam om met julle kennis te maak … En dit alles het ek te danke aan die feit dat ek vandag verdwaal het.”

      Almal begin heerlik lag, afgesien van die marquês wat geen grap sien in die verdwaalepisode nie. Maar daaraan steur Marina haar min. Sy ken hom nou al vir die stil, streng persoon wat hy is. Want om ’n glimlag van hom te kry, is voorwaar ’n eer en ’n prestasie.

      Almal kom orent en saam stap hulle na buite waar die marquês se motor reeds voor die deur staan. Hoflik bedank Marina die ouer meisie vir haar gasvryheid. Daarna groet sy die drie agterblywendes en klim in Renaldo se deftige roomkleurige motor waarvan hy die deur vir haar oophou.

      3

      Onderwyl die motor met ’n sagte geruis oor die gryspad snel in die rigting van die sierlike dubbele ysterhek, praat nie een ’n woord nie. Renaldo sit styf, koel en afgetrokke agter die stuur van sy motor, terwyl Marina gevul is met aangename gedagtes en soet herinneringe. Haar uitstappie van vandag het veel tot gevolg gehad, en sy sal hierdie dag seker haar hele lewe lank onthou.

      “Señorita Marina …” Sy wip soos sy skrik toe Renaldo ewe skielik hier langs haar praat. Sy, Elena, Celesta en Ricardo verkeer reeds op so ’n vriendskaplike voet dat hulle mekaar met gemak informeel aanspreek. Maar met hierdie koue, heerssugtige man wil sy nooit daardie stadium bereik nie. Sy verkies dat hy vir haar slegs die marquês Renaldo de Conna bly, want net dan sal sy hom op ’n afstand kan hou – ’n afstand wat veel veiliger sal wees vir haar wispelturige hart en vir dokter Frikkie Basson wat maande lank al die hoop koester dat sy hom die jawoord gaan gee.

      “Ek wil jou graag om verskoning vra vir die jong Ricardo se onbehoorlike gedrag van eergister, deur jou kamer op so ’n onwaardige wyse te betree. Dit was inderdaad onvergeeflik van hom.”

      “Maar dit was ’n blote ongeluk –” begin sy.

      Hy lê haar egter dadelik die swye op. “Dit kon verhoed gewees het as hy oplettender was. Hier in Portugal tree ’n mens nie so impulsief op nie, señorita. Ek vrees daar is geen verskoning vir my neef se gedrag nie. Hy sal inderdaad moet leer om meer verantwoordelikheid aan die dag te lê.” Hy swyg ’n oomblik en hervat dan sy betoog. “Sy onverwagte verskyning moes jou seker in ’n groot verleentheid gestel het?” Daar is ’n vraende uitdrukking in sy blik wat vlugtig oor haar gly.

      “Nee, hoegenaamd nie, señor marquês,” glimlag sy ingenome oor die feit dat haar volgende woorde hom terdeë in sy vername waardigheid gaan skok. Die man leef gans te hoog in die wolke. Dis hoog tyd dat iemand hom afbring aarde toe. “Inteendeel, ek was nogal aangenaam verras toe ek die aantreklike vreemdeling so skielik daar in my kamerdeur sien staan!”

      “Jy sê aangenaam verras as ’n vreemde man jou kamer betree, señorita!” uiter hy geskok en staar haar aan asof sy iets is wat die kat ingedra het.

      “Jy vergis jou, señor,” tik sy hom met ’n vroom gesiggie op die vingers. “Ricardo het nie my kamer binnegetree nie, net in die oop deur gestaan. En glo my, sy vreemde verskyning het die kroon gespan op al die vreemde dinge en indrukke wat my met my aankoms hier ingewag het.”

      “Dit was nogtans ’n onvergeeflike oortreding om ’n dame se kamerdeur oop te stoot sonder haar toestemming.” Hy werp haar ’n skerp blik toe. “Ek dit sal jou absoluut niks baat om vir hom in die bresse te tree nie. Hier doen ons dinge anders as in die land waar jy vandaan kom, señorita, en ek sal hoegenaamd nie sulke gedrag van die jong Ricardo duld nie.”

      ’n Lang ruk snel hulle in stilte voort, toe verneem hy meteens: “Jou aanstaande verloofde van wie jy ons vanmiddag vertel het – het jy hom baie lief?”

      Verbaas gaap sy die onverstoorbare aristokraat agter die stuur aan, en wonder heimlik oor hierdie onverwagse vraag van hom. Maar sy antwoord nietemin met haar ou selfversekerdheid.

      “Dis eintlik waarom ek hom nog nie die jawoord kon gee nie, señor, omdat ek nog nie heeltemal oortuig is daarvan of ek wel die regte liefde vir hom besit nie. Daar was ander voor hom vir wie ek dieselfde gevoel gekoester het.”

      “Hoeveel ander?” stel hy kortaf die vraag.

      “O, daar was Wynand, Ryk, Gustav en nou hy, Frikkie.”

      “Voorwaar baie mansvriende, en jy was maar pas eers een en twintig,” sê hy besadig met ’n uitdrukkinglose gelaat, maar om sy mond is daar ’n effens harde trek wat sy afkeuring duidelik beklemtoon. “Dis beslis nie betaamlik vir ’n meisie om soos ’n wispelturige vlinder van die een blom na die ander te vlieg nie. Ek kan werklik nie begryp hoe jou ouers sulke … e … wispelturigheid kan duld nie!”

      “My ouers besef dat ek nie sommer met die eerste man wat ek ontmoet, kan trou nie, señor,” troef sy hom met innerlike tevredenheid. “Ons glo dat ’n meisie ’n wye keuse moet hê en …”

      “En nou kom jy die lys in Lissabon aanvul vir die finale keuse?”

      “O nee, hoegenaamd nie!”