verkeerd, señor,” kap sy verleë terug. “Ek het dit nie so bedoel nie. Maar …”
“Maar wat, señorita?” Die intonasie in sy stem wek die indruk dat die gesprek hom uiters verveel.
“Wel … ek … ek glo nie ek sal graag met ’n man uit enige ander volk as my eie wil trou nie, señor. Dus loop die jong mans van Lissabon geen gevaar om dalk op my lys te beland nie – ek het nie ’n lewensmaat kom soek nie. In my eie land is genoeg jong mans om uit te kies.”
Hierdie verklaring van haar het skynbaar ’n demper op die marquês se geselslus geplaas, want hy raak sonder rede stroef en geslote. Sonder ’n enkele verdere woord hou hy later voor die hotel stil.
Marina besef dat dit van haar verwag word om te bly sit totdat die motordeur vir haar oopgemaak word. En toe Renaldo voor om die voertuig stap en die deur vir haar oopmaak, moet sy weer eens aan haarself erken dat hy uiters indrukwekkend en gevaarlik aantreklik is.
Dit sal nogal nie moeilik wees om op die man verlief te raak nie – dis natuurlik te sê as ek nie dalk al klaar verlief is op hom nie! dink sy effens skuldig en blik hom tersluiks aan.
’n Vae glimlaggie huiwer om sy mond, en in sy skerp, donker oë is ’n peinsende, opsommende uitdrukking toe hulle voor haar kamerdeur tot siens sê.
“Dit was vir my besonder aangenaam om met jou kennis te maak, señorita Marina,” sê hy. “Onthou net om nie weer op eie houtjie die stad te gaan verken nie. Volgende keer tref jy dit dalk nie weer so gelukkig soos vandag nie.” ’n Knik van sy kop, en die volgende oomblik is hy reeds op pad na die hysbak.
Daardie aand aan tafel dwaal Marina se blik weer stelselmatig oor die besette tafeltjies op soek na Fanus, maar weer sonder sukses, en nou het sy tot die slotsom gekom dat hy ’n uithuisige kêrel is en glad nie die moeite werd is om te ken nie.
Na die ete gaan sy dadelik na haar kamer toe om ’n lang brief aan haar ouers te skryf. In haar gedagtes sien sy al hoe heerlik hulle lag as hulle van haar ontmoeting met die marquês verneem.
Frikkie sal natuurlik woedend wees en my van roekeloosheid en onverantwoordelikheid beskuldig, dink sy en byt diep peinsend op haar onderlip.
Terwyl sy so aan haar aanstaande verloofde dink, wonder sy meteens of hulle regtig vir mekaar bedoel is en of ’n huwelik tussen hulle werklik geluk gaan bring. Hy is so pynlik nougeset en alles moet net altyd volgens plan verloop. Sy, daarenteen, het in ’n huis opgegroei saam met ouers wat ruim opvattings oor die lewe het en waar niks vooraf beplan word nie, afgesien van onthale en sosiale aangeleenthede.
Sy huiwer soms as sy aan ’n huwelik met Frikkie Basson dink. Hulle het sulke uiteenlopende persoonlikhede. Hoe sal hulle ooit by mekaar kan aanpas? Sal haar liefde vir hom sterk genoeg wees om alles prys te gee vir sy eng lewenspatroon?
Sy sug hardop en gaan voor die venster staan. Met ’n veraf blik en ’n onseker hart tuur sy oor die maanverligte golwe wat hulle dreunend teen die rotse te pletter loop. Is dit nie dalk ’n vooruitskouing van hoe haar huwelikslewe saam met Frikkie gaan wees nie?
Maar dan skuif sy die gedagte van haar af. Die lewe is gans te kort om sulke somber gedagtes te vertroetel, besluit sy. En wat meer is, dis ook nie nou die tyd vir selfondersoek nie. Tyd genoeg daarvoor wanneer ek terug is in Johannesburg. Al wat nou werklik van belang is, is dat ek elke oomblik van hierdie duur vakansie moet geniet. Laat môre gerus vir homself sorg!
Werktuiglik draai sy van die venster af weg en begin ’n opgewekte deuntjie neurie, en sonder enige verdere kwelgedagtes gaan kruip sy later in die bed.
By Marina is dit al byna tweede natuur om soggens vroeg te ontwaak. Toe sy dus die volgende môre wakker skrik, merk sy dat die son nog nie eens op is nie. Maar hieraan steur sy haar min. As ’n mens wil gaan swem, let jy nie na die son op nie – altans nie in so ’n warm geweste soos Lissabon nie.
Haastig vlieg sy uit die bed en verklee haar in ’n helder rooi baaipak en bypassende swempet. Sy trek ’n vrolike strandjassie aan, gryp haar handdoek en draf haastig na die hysbak. Die hotelpersoneel wat sy wel teëkom, groet haar vriendelik. Hulle is al gewoond dat sy soggens hierdie tyd gaan swem.
In die voorportaal loop sy die bestuurder raak. Met ’n gebaar wat sy al by die Portugese aangeleer het, groet sy hom en stap met die paadjie af strand toe.
Na ’n halfuur van genoeglike swem klouter sy teen ’n hoë rots uit om die sonsopkoms te geniet. Dis vir haar een van die wonderlikste tonele om te aanskou, as die daeraad breek en die son sy kop stadig agter die horison uitsteek, kompleet asof hy na ’n lang nagrus ontwaak.
Toe die son later soos ’n rooi bal oor die blou deining hang, klouter sy weer van die rots af en draf ligvoets met die paadjie terug hotel toe.
Onderwyl sy haar later verklee vir ontbyt, probeer sy ’n program uitwerk vir die dag. Maar dit wil maar nie vlot nie, juis omdat sy nie daaraan gewoond is om dinge vooruit te beplan nie. Eindelik besluit sy om maar ’n gids te nader om haar deur die stad te neem … Ja, sy sal die hotelbestuurder sommer net na ontbyt vra hoe sy ’n ervare gids kan opspoor.
Tevrede met hierdie beplanning, stap sy na die eetkamer. Byna al die tafels is nog onbeset, en Marina merk dat hulle maar ses stuks in die vertrek is. Sy steur haar egter nie verder aan haar mede-hotelgaste nie en begin smaaklik eet, want die vroeë swem het haar behoorlik honger gemaak.
Na die ete keer die bestuurder haar by die hysbak voor met ’n boodskap dat señor Ricardo haar om halftien sal besoek. Sy bedank die bestuurder en stap die hysbak binne.
Vir Marina is dit goeie nuus. Sy hou van die jong Portugees wat so pynlik hoflik en tog soms so voortvarend kan wees. Hy is nou wel soms ’n bietjie oorweldigend met sy aandag en komplimente, maar sy voel nietemin gevlei dat die neef van so ’n vername edelman soveel aandag aan haar bestee.
Toe die kamermeisie ’n uur en ’n half later aan haar kamerdeur klop en aankondig dat daar ’n besoeker vir haar in die sitkamer wag, is Marina gereed om hom te ontvang. Eers werp sy weer ’n vlugtige blik in die spieël, dan stap sy na die sitkamer waar Ricardo, netjies geklee soos gewoonlik, op haar staan en wag.
“A, bon dis, Marina, pequena!” groet hy met ’n galante buiging. “Veroorloof my om te sê, jy lyk so vars en jeugdig soos ’n jong lelie waarop die dou nog koel nestel.”
’n Sfinksagtige glimlaggie plooi om die sagte hoeke van haar mond.
“Bon dia, Ricardo,” groet sy terug, “en dankie vir die kompliment. Dit streel nogal ’n dame se ego om te weet sy lyk vars en jeugdig, weet jy?”
Sy neem plaas op die bank, en sonder verdere seremonie maak hy hom langs haar tuis. “Dis baie vriendelik van jou om my te verras met ’n besoekie,” vervolg sy. “Gaan dit nog goed met Elena, Celesta en … die marquês?”
“Baie goed, dankie.” Sy oë glimlag vriendelik in hare. “Jy het nogal ’n buitengewone indruk op die twee dames gemaak, pequena. Hulle kon gisteraand nie uitgepraat raak oor jou spontane vriendelikheid en beeldskone voorkoms nie …”
“Die marquês,” stuur sy die gesprek, wat gans te persoonlik na haar sin raak, op ’n diplomatiese wyse in ’n ander rigting, “kom my voor as ’n besonder streng aristokraat. Is hy altyd so streng, so … koel vriendelik?”
“Nee, nie altyd nie. Renaldo kan soms baie vriendelik en aangenaam wees. Maar hy was gister om die een of ander rede woedend …”
“Seker omdat ek sy eiendom so eiegeregtig betree het en hy my teenwoordigheid toe teen wil en dank moes verduur!” vul sy laggend aan.
“O nee, hy dink nogal jy is sjarmant en op ’n eienaardige wyse onweerstaanbaar. Hy het dit natuurlik nie in soveel woorde gesê nie, maar ons wat Renaldo ken, weet wanneer sy woorde ’n dubbele betekenis inhou.” ’n Glimlaggie plooi om sy mond. “Renaldo verkeer onder die indruk dat jy ’n vreeslik voortvarende en onverantwoordelike skepseltjie is, pequena. Jy kan jou dus maar klaarmaak dat hy hom dit ten doel gaan stel om jou te hervorm. Blykbaar weet jy dit nie, maar as hoof van die De Conna-familie met al sy vele