gewaar sy ’n uithangbordjie en ook ’n bankie waarop daar reeds ’n paar mans sit. Dus besluit sy dat dit die bushalte moet wees.
Sonder kwelling sluit sy haar by die wagtende groepie aan en kort daarna daag die bus op. Sjarmant staan die mans terug vir haar om in te klim, en met ’n vriendelike kopknikkie erken sy hul hoflikheid.
Met groot belangstelling bekyk Marina die voetgangers en die eeue oue geboue deur die venster van die bewegende bus, en merk dus nie op hoeveel aandag sy trek nie – sommige oë is vol bewondering, ander weer vol verbasing omdat sy dit vrou-alleen op straat waag.
Maar al was sy ook bewus van elke verbaasde blik, sou dit haar nie in die minste gehinder het nie, want sy is nie ’n Portugese vrou nie en derhalwe nie aan hul konvensies gebind nie.
Toe die bus later in die hartjie van die stad stilhou, klim Marina saam met die ander passasiers uit. Tydsaam kuier sy van die een winkel na die ander, vertoef hier by ’n kunswerk en daar by ’n ou historiese gebou. Later bevind sy haar op die plein voor die standbeeld van Pedro die Vierde wat op ’n geweldig hoë pilaar pryk, en in die verte hoor sy ’n horlosie slaan. Sy kyk af na haar polshorlosie en merk dat dit al halfelf en tyd vir ’n koppie tee is.
Met kort, haastige treetjies stap sy oor die straat en om die eerste hoek vind sy ’n restaurant. Moeg van die lang wandeling, sak sy sommer op die naaste stoel neer, en met ’n groot gesukkel slaag sy eindelik daarin om die kelner te laat verstaan dat sy ’n koppie tee verlang.
Dis byna elfuur toe sy die restaurant verlaat met die doel om terug te gaan na die bushalte. Maar hoe verder sy loop, hoe stiller word die strate en die omgewing, en met ’n skok besef sy later dat sy haar glad nie meer in die sakekern van die stad bevind nie.
Met ’n bekommerde blik bekyk sy die omgewing. ’n Paar treë verder loop die straat dood waar twee sierlike hekke van gegote yster oop staan, asof hulle haar nooi om binne te kom.
Sy bly meteens staan, meet die son berekenend met haar viooltjieblou oë, byt fyntjies met pêrelwit tande op ’n aanloklike rooi onderlip, en beken dan met ’n moedelose sug aan haarself dat sy hopeloos verdwaal het.
Heimlik verwens sy haarself omdat sy op so ’n impulsiewe wyse sonder die hulp van ’n gids hierdie vreemde stad aangedurf het.
Wel, dis nou vir jou ’n moles, sug sy moedeloos, maar terselfdertyd tree sy nader aan die oop hek. Hoe op aarde gaan ek ooit vandag by die hotel kom? Ja, en boonop het die hotel ook nog so ’n snaakse, ingewikkelde naam.
Ofskoon Marina nie die naam van die hotel kan onthou nie, troos sy haar met die wete dat sy dit neergeskryf het. As ek nou net ’n taxi kan ontbied, sal alles in orde wees en is ek in ’n japtrap terug in die hotel, sug sy weer.
Maar soos ’n weerligstraal tref dit haar dat sy nie die Portugese taal magtig is nie, en dat die paar woorde wat sy wel kan praat, haar hoegenaamd nie uit hierdie penarie sal kan red nie. Onwillekeurig spoel ’n vlaag van moedeloosheid soos ’n verpletterende golf oor haar en sy voel hoe haar bene lam word van vrees en kommer.
’n Oomblik lank bly sy in die middel van die oop hek staan. Sy weet nie herwaarts of derwaarts nie. Dit voel vir haar momenteel of sy aan die einde van alles gekom het.
Die gruis kraak saggies onder haar dun, hoë hakkies, toe haar blik plotseling op ’n asemrowende spuitfontein val wat water hoog die lug in laat sluit.
Met verwondering staar sy na die blink strale water wat met sierlike boë terugval in die wit marmerdammetjie, en dadelik is alle kwellinge en onrus vergete. Die fyn mistigheid van die silwer druppels vorm miniatuurreënbogies, en die skouspelagtige gesig trek haar soos ’n magneet.
Voordat sy reg besef wat sy doen, staan sy digby die fontein, skoon in vervoering by die aanskoue van die verruklikheid van die natuur om haar heen. Dit lyk vir haar soos ’n park wat sy nou betree het – ’n paradyspark. ’n Breë gruispad swenk aan albei kante van die fontein verby en maak honderd tree verder ’n wye draai na regs. Aan albei kante van die pad is daar ruim grasperke, hoë sierbome, digte struike, oleanders, magnolias, jasmyn en kleurryke blombeddings. Die gekoer van bosduiwe en die gekwetter van voëls is byna oorverdowend.
Ja, dit moet ’n park wees, besluit sy, wat anders kan dit wees? Sy gewaar geen huis in die nabyheid nie, maar helaas ook geen bankies wat so eie is aan ’n park nie.
Die son bak ongenadig op haar goue krulle neer, en sy besluit dat sy iets daaromtrent sal moet doen as sy nie vandag sonstraal wil opdoen nie.
Sy knip haar handsak oop, haal ’n fyn kantserpie uit en sprei dit netjies oor haar warm hare – onbewus van die lang, donker man wat half verskuil agter ’n digte struik staan en haar met objektiewe belangstelling bestudeer.
Marina, wat half met haar rug na die lang, vorstelike en indrukwekkende man staan, merk nie op dat hy met lang, veerkragtige treë na haar toe aangestap kom nie.
Sy voetval is sag en op sy effens skraal, aristokratiese gesig is daar nou ’n onmiskenbare uitdrukking van onvergenoegdheid. Hy het geen benul wat hierdie vreemde meisie hier soek nie, en dit nogal sonder ’n metgesel.
’n Ergerlike frons ontsier sy mooi, hoë voorkop. Dis vir hom nou baie duidelik dat sy nie ’n Portugese dame is nie, maar daaraan steur hy hom min. Sy is op die oomblik in Portugal, en hier word sulke gedrag as uiters onbehoorlik beskou … Ek sal haar dit beslis aan die verstand moet bring, besluit hy.
Toe hy haar nader, tref dit hom meteens hoe aantreklik sy is. Sy is klein en fyn en as sy nie geklee was in daardie liggrys tweestuk en hoëhakskoene nie, sou hy haar beslis aangesien het vir ’n skoolmeisie.
’n Stywe glimlaggie skuif oor sy gelaat wat net sowel uit klip gekap kon wees, so min emosie toon dit. Hy wonder of sy daarvan bewus is dat sy haar op privaat eiendom bevind, op die ruim terrein van die Castela Conna. Sy lyk so tuis en kommerloos daar langs die fontein dat dit byna jammer is om haar te ontnugter. Maar miskien is sy reeds daarvan bewus en was dit slegs die fontein wat haar hierheen gelok het!
Skuins agter haar bly hy staan en laat sy blik waarnemend oor haar fyn postuurtjie gly. Dan groet hy haar met ’n diep, musikale stem: “Bon dia, señorita!”
Marina swaai so vinnig om dat die serpie skoon van haar kop af waai en eenkant op die gras te lande kom. Toe kyk sy vlugtig op na die vreemdeling met sy donker, aantreklike gesig. Maar voordat sy iets kan sê, is hy reeds op pad om haar serpie te red.
“Dankie,” sê sy op Engels toe hy ’n oomblik later die stukkie wit kant met ’n sjarmante buiging na haar uithou.
“Dis ’n plesier, señorita,” erken hy haar dankbetuiging op goeie Engels maar met ’n duidelike aksent.
Die feit dat hy Engels so vloeiend praat, laat Marina met meer belangstelling na hom kyk.
Voor haar sien sy ’n lang, skraal man met breë skouers wat die baadjie van sy ligte grys pak eer aandoen. Sy raafswart hare is steil en netjies agteroor gekam. Sy gesig is effens skraal en donker met ’n aristokratiese neus en hoë voorkop. Sy ken is effens aan die aggressiewe kant en dit getuig van ’n sterk karakter en ’n onwrikbare wilskrag. Sy mond is sterk met streng lyne aan die kant, en sy oë is byna swart, skerpsinnig en deurdringend.
Vanaf sy indrukwekkende lengte kyk die vyf en dertigjare marguês Renaldo de Conna af op ’n kroontjie wat soos ougoud blink in die fel strale van die son. Binne oomblikke neem hy elke trek op haar fynbesnede gesig waar, en merk dat daar ’n suggestie van agterdog in haar lewendige viooltjieblou oë skuil.
Die gedagte dat sy hom wantrou, laat meteens weer ’n gevoel van ergerlikheid in hom opstoot. Hy is ’n magtige, vermoënde en invloedryke man, en gewoond aan agting en respek, baie beslis nie wantroue nie.
“Jy lyk nie juis ingenome met my teenwoordigheid nie, señorita,” laat hy koel hoor, en sy wenkbroue vorm ’n duidelike vraagteken.
Sy trek haar skouers liggies op. “Wel, dis ’n openbare park; ek kan jou seker nie belet om ook hier te wees nie, señor …”
“Wat, openbare park?” Hy meet haar met ’n kil,