oë nog vuur gespat van woede, nou klink sy stem weer so kalm en gewoonweg asof hy hom nog nooit vir haar vererg het nie.
Hy is voorwaar ’n merkwaardige man, erken sy onwillekeurig aan haarself. Maar hierdie jongste gril van hom, om my te wil domineer asof ek deel van sy familie is en hy alle reg daartoe het, staan my glad nie aan nie. Hy sal moet begryp dat ek my plesier nie aan bande sal laat lê nie en dat sy inmenging uiters onwelkom en irriterend is!
Hulle bereik die hotel en onderwyl Marina haar haastig dog innerlik gebelg in haar helder rooi swempak verklee, stap die marquês op en neer voor haar geslote kamerdeur.
Die marquês Renaldo de Conna staan onder sy volk bekend as ’n uiters deeglike man wat elke taak gewoonlik met die grootste nougesetheid afhandel. Ook nou maak hy dubbel seker dat Marina wel sy opdrag uitvoer deur hier voor haar kamer op haar te wag. Sy leuse is: waardigheid, hoflikheid, voortreflikheid en … absolute gehoorsaamheid. Swakheid van enige aard is iets waarmee hy geen genoeë neem nie en hy beskou dit as ’n euwel.
Die kamerdeur gaan meteens oop en Marina, geklee in dieselfde strandjassie en sandale, maak haar verskyning in die gang. Met sy gewone waardigheid stap Renaldo haar tegemoet. Hy kyk haar vraend aan, en Marina besef dat hy versekering en bevestiging verlang oor die opdrag wat sy moes uitvoer. Op ’n impulsiewe ingewing pluk sy haar strandjassie wyd oop vir hom om te sien dat sy wel voldoen aan sy wens.
Hierdie ongekunstelde gebaar lok ’n glimlaggie uit wat die marquês se streng gesig ’n wonderlike metamorfose laat ondergaan.
’n Kort oomblik staar sy die man voor haar met openlike verwondering aan, toe tref dit haar soos ’n weerligstraal dat sy hopeloos verlief is op hierdie man wat deurentyd so koel en onverstoord is en tog ook so warm en innemend kan glimlag.
Hy behoort meer te glimlag, dink sy, maar sê hardop en nadruklik: “Is jy nou tevrede, señor marquês, en het ek nou jou toestemming om te gaan swem?” In haar oë verskyn ’n ondeunde vonkeling wat die edelman se noulettende blik nie ontgaan nie.
“Met hierdie swempakkie aan, volkome, señorita,” glimlag hy nog steeds met daardie warm, onweerstaanbare glimlag wat Marina se hart so diep raak en haar verruklike drome laat droom. “Maar met hierdie gemengde baaiery van julle sal ek nooit genoeë neem nie,” vervolg hy, en dadelik verdwyn die glimlaggie van sy gesig en is hy weer die koel, onversteurbare marquês wat sy ’n paar dae gelede by die spuitfontein van die Castelo Conna ontmoet het.
“Ek vrees ek sal nou moet gaan,” hoor sy hom sê onderwyl hulle in die rigting van die hysbak beweeg. “Jy is seker ook al haastig om te gaan swem.”
Hulle stap die reeds oorvol hysbak binne. Die ruimte is uiters beperk, en met ’n beskermende arm trek Renaldo haar dig teen hom aan sodat sy uit die pad van gevaarlike elmboë en geniepsige hoë hakkies is.
Sy staan in die kring van sy arm met haar blonde kop dig teen sy breë skouers aangedruk. Hierdie intieme nabyheid, met sy asem warm en vertroulik op haar kroontjie, laat Marina se hart opgewonde bons van geluk en diepe tevredenheid. Heimlik wonder sy of hy darem ook bewus is van haar nabyheid. Sy waag dit egter nie om op te kyk nie. Sy vrees dat haar hele wese dalk haar gevoel vir hom kan verraai, en dit mag nooit gebeur nie. Hy dink reeds sy is ’n wispelturige vlinder wat graag met elke man flankeer. En wat hy van haar sal dink as hy moet weet dat sy hom liefhet – daaraan wil sy nie eens dink nie.
Eindelik kom die hysbak op die grondverdieping tot stilstand en geruisloos skuif die deure oop. Met sy arm nog steeds om haar, hou die marquês haar terug deur haar effens stywer teen hom aan te druk totdat almal die hysbak verlaat het. Toe hy haar eindelik laat gaan, kyk hy haar met ’n tergende blik aan en verklaar gewoonweg: “Dit spyt my dat omstandighede my genoodsaak het om jou so in my arms te hou, señorita. Maar ek is oortuig daarvan dat jy my aanraking sal oorleef.”
Sy bloos vuurwarm. Maar voordat sy iets hierop kan sê, bereik hulle die hoofingang van die hotel, en met ’n saaklike: “Adeus, señorita Marina,” stap hy na sy motor wat voor in die straat staan, en kan sy hom net met gemengde gevoelens agterna staar.
’n Eienaardige, loodswaar gevoel neem van haar hart besit. Meteens besef sy dat sy Renaldo onherroeplik bemin en dat haar gevoel vir hom van geen verbygaande aard is nie; dat die gevoel wat sy vir Frikkie het, niks is in vergelyking met dit wat sy vir hierdie streng edelman voel nie.
Haar hart voel leeg en eensaam, en met ’n bedrukte gemoed draai sy om en stap met loodsware treë af strand toe. Dit is kompleet of die son eensklaps uit haar lewe verdwyn het; of alles om haar saam met sy vertrek koud en onaantreklik geword het.
Hoe sy ook al probeer, sy kan Renaldo nie vergeet nie. Sy beeld bly voortdurend voor haar en die warm aanraking van sy liggaam daar in die hysbak bly soos ’n wonderlike droom by haar.
Sy bereik die strand en werktuiglik raak sy van haar strandjassie en sandale ontslae. Met haar oë droomverlore op die swellende golwe gerig, trek sy die rooi swempet oor haar sagte krulle en enkele oomblikke later is sy een met die klomp baaiers en die koel golwe wat haar sag omvou.
Met lang hale swem sy uit na die diep water waar ’n paar baaiers uitgelate te kere gaan. Toe kom sy orent en trap water met die doel om haar omgewing te verken, maar die volgende oomblik slaan ’n groot brander onverwags haar voete onder haar uit. Outomaties gryp sy in die lug na vashouplek, en wonder bo wonder raak haar vingers verstrik in iets soos sysagte seewier.
Sy herwin haar balans en is byna dadelik orent. Maar tot haar groot ontsteltenis merk sy dat dit nie seewier is wat so sag tussen haar vingers deur vleg nie, maar die blonde krulle van ’n yslike, uitgegroeide mansmens, en sy laat sy hare onmiddellik los.
’n Kort oomblik meet hul oë mekaar woordeloos, toe bars Marina heerlik uit van die lag, en ook die onthutste jong man begin later suur glimlag.
“Ek is regtig vreeslik jammer oor die ongerief wat ek jou aangedoen het, meneer,” maak sy op Engels verskoning vir haar gedrag. “Hemel, ek kon jou verdrink het!” voeg sy berouvol by.
“H’m,” snork hy half vies en vervolg sag op suiwer Afrikaans: “Jy lyk ’n –”
“Verskoon my, meneer,” onderbreek sy hom ook op Afrikaans, “misgis ek my, of het jy regtig Afrikaans gepraat?”
Meteens is dit of daar veel meer lewe in die kêrel kom. Hy kyk haar verbaas aan en vra belangstellend: “So, dan is jy nie Engels of Portugees soos wat ek aanvanklik gedink het nie, juffrou?”
“Nee, ek is nie; ek is Afrikaans, meneer … e …”
“Fanus Erlank,” vul hy aan en reik haar sy hand oor ’n swellende golf.
“Aangename kennis, Fanus,” glimlag sy vriendelik. “Ek is Marina … Marina Neser, en ek wil nogeens sê ek is jammer oor die ongerief wat ek veroorsaak het. Jy het seker ook nie geweet watter ongedierte so skielik besluit het om nes te maak in jou hare nie, nè?”
“O nee, moet jou glad nie misgis nie, juffroutjie,” lag hy nou ewe opgewek. “Ek het daardie grypende handjies van jou gesien kom en toe maar gewag om te sien watter planne jy in die mou voer. Maar nou gaan ek jou behoorlik terugbetaal.”
Met hierdie woorde duik hy haar netjies onder die water in. Toe Marina eindelik weer die oppervlak bereik, wag hy haar met ’n geamuseerde blik in.
“So,” sê hy laggend en skud die water uit sy hare, “nou is ons kiets en kan ons maar teruggaan strand toe.”
In volkome harmonie swem hulle terug, maar toe hulle eindelik op die strand uitstap, val Marina se blik dadelik op Ricardo wat haar met oë vol verering inwag.
“Kom, ek wil jou graag aan ’n vriend bekendstel, Fanus,” sê sy en stuur hom sonder meer in Ricardo se rigting terwyl sy haastig verduidelik wie en wat die vriend nou eintlik is.
“Jy moet hier baie versigtig wees met jou keuse van vriende, Marina,” vermaan Fanus haar ernstig. “ ’n Portugese man is beslis nie iets om mee te speel nie, hulle is ’n warmbloedige nasie.” Hy kyk haar opsommend aan. “En jy lyk maar tingerig, glad nie opgewasse teen een van hulle nie!”
“A,