sprankel nie, is dit? Ek is nou eenmaal nie Frankie nie. Sý is ’n gesertifiseerde lid van die mile-high-klub ná haar onlangse oorsese kuier en het selfs al in ’n hysbak slaapkamerdinge gedoen. Skokkende dinge waarvan ek nog net gehoor het en wat gewone normale mense net diep onder die komberse sal waag – en ook net as dit nou regtig nie anders kán nie. Frankie het ’n bucket list, Frankie leef gevaarlik, Frankie sal eendag baie hê om in haar memoires te skryf, nie ek nie.
Om ’n kêrel te hê met ’n woonstel in Mouillepunt is vir my die ultimate. Gustav se afgewaterde joie de vivre is genoeg vir my.
“Is jy darem lief vir my?” wou ek gisteraand in ’n oomblik van swakheid weet en ek het moeite gedoen om my stem vars en vrolik te hou sodat ek hom nie die skrik op die lyf jaag nie.
“Lief? Hoe bedoel jy nou?” wou hy weet.
Maar toe stuur hy my om vir hom ’n bier uit die yskas te gaan haal, en toe ek verby hom kom, gee hy my ’n lekker harde hou op die boud. Toe weet ek hy wéét van my. As ons eers getroud is, sal ek seker meer kry. Soos byvoorbeeld iets in die lyn van ’n liefdesverklaring. Al is dit nie besonder woordryk nie.
“Trou is highly overrated,” sê Gustav gewoonlik as ek in daardie rigting skimp. Hy weet waarvan hy praat. Hy hét al die paadjie preekstoel toe gestap en klaaglik misluk. Alles sy eksvrou se skuld, natuurlik. Sy’t hom nie verstaan nie, ’n fout wat ék nie sal maak nie. Mans wat ná dertig nog beskikbaar is en dan nog hul eie tande ook het, is skaars, feitlik ’n uitgestorwe spesie.
Ek kan verstaan waarom Gustav tot dusver skrikkerig was om te trou. Nie ék nie! Ek wil vreeslik graag trou. Ek wou al trou vandat ek die eerste keer ontdek het daar is kinders wat ’n ma én ’n pa het.
“Hoekom in hemelsnaam?” wou Frankie by my weet. “Ons is van die lipstiek-en-stiletto-generasie, stadsmeisies, nie dorpdollas nie. Bevryde postmodernistiese vroue. Ons vat en los mans na hartelus. Trou is vir tannies. Nie vir chicks soos ons nie.”
Sy’s half en half reg. Geen vrou se inner chick kom ooit heeltemal tot rus nie en myne skop elke af en toe in. Ek wíl nie lid word van die voorskootbrigade nie en ek ís nog lank nie reg vir plat skoene en spatare nie.
Maar o! om ’n man te hê. What bliss! Om snags in jou man se arms te lê en te weet dis waar jy hoort. Ek wíl ’n getroude vrou wees, kuis en ordentlik, selfs my inner chick wil. Behalwe dat ek nie die voorskriftelike twee komma vier kinders met ’n gesteun en ’n gekreun en natgeswete, deurmekaar hare gaan baar nie.
“Ek sal my bedrae bring vir die armes en die lammes, ek sal ’n sopkombuis beman en ek sal koek bak vir die kerkbasaar as dit van my gevra word,” het ek Gustav vroegtydig gewaarsku. “Maar ek is nie van plan om die wêreldbevolking verder die hoogte te laat inskiet nie.”
Hy was vreeslik verlig om dit te hoor.
Ek val weer op die bed neer. Ek voel soos ’n bakvissie voor die matriekafskeid. Opgewonde tot in my haarwortels. En tog ... tog ook ’n bietjie vies. Hier sit ek in al my onsekerheid en Gustav is by die deur uit. Hy en sy kastige meeting. Meeting? Se voet! Skink en drink, as jy my vra. “Die eerste rondte is myne, manne. Bêre julle beursies.” Lag en gesels, die nuutste grappe, sommige taamlik onder die belt.
En hier sit ek soos Griet Verdriet en wag.
’n Mens kan seker op erger plekke sit en wag as hier in Gustav se Mouillepunt-woonstel met die spreekwoordelike panoramiese uitsig op die see. Ruim en luuks, glas en chroom net waar jy kyk, gaterige spiraaltrappe, pieperig soos spinnerakke, waarop jy duiselig raak, minimalisties gemeubileer. Geen wonder nie dat ek Gustav omtrent met die dood moet dreig om hom sover te kry om ’n draai by my woonstelletjie met die pers mure in Observatory te maak.
“Daar is kakkerlakke in jou woonstel, Maxie. Wat verwag jy van my?”
Om van die kakkerlakke ontslae te raak, Gustav, sou ek vir hom kon sê, maar hy is nie daardie tipe man nie.
Daardie kakkerlak wat so ongenooid sy kop en die res van sy grillerige lyf uitgesteek het, juis die aand toe Gustav sy lewe in Obs gewaag het, was te embarrassing vir woorde. Dit was actually die enigste keer dat ek self begin wonder het of ek langer in my pers woonstelletjie wil bly. Ek gril ook vir kakkerlakke en het, met al die wreedheid en moorddadigheid waartoe ek in staat was, gifgoed gekoop om van die aaklige gedoentes ontslae te raak. En sedertdien is ek kakkerlak-vry. Hoewel ek natuurlik nie my lewe daarop gaan verwed nie.
Daar is iets cosy aan my plek in Obs. Knus genestel tussen ander woonstelle waarin ’n hele paar weirdos skuilhou, weird genoeg om die lewe vir my interessant te hou.
Ek haal ’n slag diep asem, gaan staan voor die venster, kyk na die laatmiddagdrawwers daar doer onder, na die mammas wat met stootwaentjies langs die see stap, die kinders op die swaaie in die parkie en die paar bergies wat op die hoek van die straat staan en arms swaai. Seker weer aan die stry oor iets.
Gustav kry die horries as hy hulle hier sien. Hy sal weer op die bandwagon klim en vir al wat leef vertel hoe die Kaap agteruit gaan, dat die regering én die opposisie ewe treurig is en nie in staat om iets aan die saak te doen nie. Vir die res van my lewe sal ek hom en Ma van mekaar se kele af moet hou.
Ek raak aan die venster, voel die gladde koudheid daarvan onder my vingerpunte, hoop my vingers maak nie merke nie. Ek wens ... ek wens dit was moontlik om die venster oop te maak, om die vars seelug teen my gesig te voel.
’n Mens maak nie ’n venster op die vier en dertigste verdieping van ’n woonstel langs die see oop nie. Jy stel bloot die lugversorger hoër as dit vir jou voel of jy nie kan asem kry nie. Maar vandag is dit nie genoeg nie, vandag wil ek net hier uit. Weg, iewers heen waar die mure nie neig om al hoe nader aan my te beweeg nie. Gelukkig het Gustav vir my sy sleutel gelos.
Ek gryp my handsak en trek die deur met ’n sug agter my toe. Toe ek onder uit die hysbak klim, trek ek die soutlug diep in my longe. Ek is vry, my voete is op die grond. Ek kan, as dit nodig is, weghardloop. Ver, ver weg.
Maar ek sien ook nie kans vir my pers woonstel nie. Daar is niemand met wie ek kan praat nie. Dan maar ’n draai by die huis gaan maak. Dis amper sesuur, dalk is Ma al by die huis. Johanna van der Merwe mag hoog op in die politieke kringe wees, maar sy ís darem nog my ma. Dis nie iets waarvan ’n mens ooit kan ontsnap nie, al wil jy ook. Familiebande is vir ewig.
Op die sypaadjie op pad na my motor toe probeer ’n paar seevoëls my voorlê. Daar is niks mooi of melodieus aan die gekrys van seemeeue nie. Hulle is nare, vraatsugtige goed, kyk jou stip in die oë as jy dit sou waag om ’n happie te eet waar hulle in die omgewing is. Asof dit jou plig is om hulle te voer. Die wraaksugtigste onder hulle kom los ’n blerts hier naby jou. Of op jou. Net om te wys wat hy van jou dink.
Ek jaag hulle weg. “Voertsek!” swets ek en hou my lyf voëlverskrikker.
For better or for worse, koggel hulle my skreeuend. For better or for worse!
Ek skakel die motor aan en trek weg sonder om my seat belt aan te sit – amper voor ’n aankomende motor in! Die ou, wat rakelings verby my skuur, toet in my ore en gooi vir my ’n dik middelvinger. Een wat ek ten volle verdien.
“Sorrie!” prewel ek. “Ek wil net hier wegkom, asseblief! Om ... om my geluk iewers te gaan vier, verstaan jy? Want Gustav gaan my vra om met hom te trou. Whoop-de-doo! En al daai jazz.”
Gelukkig het die verkeer al heelwat afgeneem en sommer gou draai ek in by die herehuis in Tamboerskloof. Ou geld, dis wat oor hierdie buurt geskryf staan. Maar dis nie al wat oud is nie, die meeste van die inwoners is ook. Die huise is oud, die bome in die strate is oud, die telefoonpale, die tuine, die hekke van gegote yster wat na die huise lei, die tuinkabouters met hul getjipte neuse, alles hier om my getuig van ’n tyd toe die Kaap en die Berg nog anders was.
Ek moet deur die hele rigmarole gaan voordat die deur van Leeuwenvoetstraat 45 vir my oopgemaak word. Ek pons die geheime nommer in, antwoord op die interkom-vrae, die volle toetie.
Dis nie Ma wat die deur oopmaak nie, dis Dora. Ek kon dit verwag het, maar tog is ek teleurgesteld. Veral omdat Dora soos gewoonlik maar taamlik bebliksemd lyk omdat ek haar