To die for.
Sy lyk soos Sneeuwitjie se stiefma gone wrong, die een wat ’n verbete stryd gevoer het om die mooiste in die land te wees. Behoorlik opgedoen, maar alles tevergeefs. Miskien probeer sy ’n statement maak, miskien probeer sy só wys dat sy haar voorskoot finaal opgehang het. Die lady wat hier voor my staan, vryf nie meer Ma se silwer blink nie.
“Lankal afgetree,” verseker sy my dan ook. “Vandat jou ma so high profile is in die politics het sy mos kamma ’n hele bondel staff wat vir haar werk. Almal jongetjies. Hare glad gestryk en geleerd ook nog. Maar as jou ma iemand nodig het om in charge te wees, druk sy op Dora se nommer. Ek hang maar nog hier rond, net om te kyk dat die staff nie droogmaak nie.”
Dora nooi my nie in nie. Dis hoe ek haar ken. As jy iemand soek wat oorloop van hartlikheid, moet jy nie aan Dora se deur kom klop nie.
“Waar’s my ma?” vra ek.
“Nee, jong, hoe sal ek nou weet? Iewers heen, die duiwel weet waar. Weer een of ander fees of ’n ding wat sy moes loop grace met haar beauty. Gaan seker weer toi-toi dat die wêreld vergaan. Lig mos die rok hoog op dat almal haar bene kan sien. Vanaand is sy weer op tiewie.”
Dora is lief vir skinder, veral wanneer dit by my ma kom. Ek hou daarvan, want dan weet ek ook wat in my ma se lewe aangaan. Net jammer ek voel altyd skuldig daaroor om agter my ma se rug van haar te praat. “Wanneer verwag jy haar?” wil ek weet.
“Kom eers môre terug. Het mos weer ’n ding aan hier by die huis môreaand. Oorsese mense ook. En van die ministers, een of twee, ek weet nie. Van die wat sy so hand op die blaas mee is. Sal moet uithaal en wys hier in Tamboerskloof. Mense is mos net die beste gewoond. Die government eet uit goue skinkborde hier in die Kaap. Koningskos.”
’n Mens sou dink teen hierdie tyd behoort ek gewoond te wees aan Dora se geteem wat die background noise vir die grootste deel van my lewe was, maar vandag irriteer sy die dinges uit my uit.
“Ek is lekker dors,” onderbreek ek haar voordat sy behoorlik kan stoom optel oor die government en ons hier op die stoep bly staan tot die son heeltemal onder is. “ ’n Koppie tee sal lekker wees.”
Dora staan effens opsy. “As jy wil tee hê, kan jy vir jou tee maak. Ek werk mos nie meer hier nie. Ek is net hier om te supervise.”
“Dis goed so, Dora. Ek sal die tee maak.” Ek skuur by haar verby. “Vir jou ook.”
Dis grafstil in die huis. “Waar ís die personeel?”
“Off duty, die hele ou lot van hulle. Werk nie ’n minuut later as vyfuur nie. Union rules. In mý tyd was daar nie iets soos union rules nie. Ek moes maar werk solank as wat nodig was.”
Dora is weer in een van haar bitterbek-buie. Ek kan raai wat dit veroorsaak het, maar ek sal eerder nie vra nie. Soos ek haar ken, sal sy in elk geval een of ander tyd die res van haar klaagliedere aanhef.
Die kombuis is silwerskoon, koud en doods. Alles hier is anders as in Gustav se hipermoderne kombuis, die kombuiskaste is nog die oorspronklikes, nou wel opgejazz en geverf iewers langs die pad, maar nogtans oud en outentiek. Classy, dis hoe Ma daaroor voel.
In Ma se kombuis geld daar baie streng reëls. Krummeltjies op die tafel of die vloer word nie verdra nie en vuil skottelgoed is min of meer strafbaar met die dood. Vra my, ek weet. Ek het in hierdie einste Victoriaanse Tamboerskloof-huis grootgeword.
Ek haal die koppies uit die kombuiskas. “Hoe lank bly my ma nou al in hierdie huis, Dora?” Ek vra sommer om te probeer geselsies maak. Ek weet mos eintlik. Maar Dora vertel graag oor die ou dae.
“Vandat jy so drie, vier jaar oud is, mos. Ons het mos eers by jou ouma-hulle gebly toe jy gebore is die slag. Amper hulle tande ingesluk toe hulle hoor jou ma verwag. Maar haar darem nie op straat uitgeskop nie.
“Maar die twee vroumense in een huis het nie uitgewerk nie. Hulle het mekaar oor en weer gecheek, later lelik geraak met tye. Jou oupa skoon bleek, weer begin rook ook. Agter in die tuin waar niemand hom sien nie. Te veel vroue in een huis werk nie uit nie.
“En dan met my ook nog daar om al die werk te doen. Was nie ’n lekker tyd nie en dis ek wat die meeste suffer. Almal loop kruip in hul kamers weg en ek moet kind oppas. Toe sterf jou antie aan moederskant, oujongnooi, geen man naby haar gehad nie. Te befoeterd as jy my vra. Nie kind of kraai gehad nie. Bly vingeralleen. Baie van jou ma gehou. Gedink sy’s oulik toe sy nog klein was. Later seker maar van haar gehou omdat sy ook nie tot trou kon kom nie. Niemand anders gehad om die huis voor te gee nie. Grote ou huis hier op die hoek van die straat. Ander mense het nie huise nie, maar sy bly alleen hier. Toe erf jou ma dié huis en ons drie trek hier in. Ook net betyds voordat daar moord gepleeg is in jou ouma se huis.”
“En hier het ek grootgeword en gebly tot ek weg is universiteit toe.”
“En hier het ek oud gestaan en word.” Dora sug toe sy by die kombuistafel gaan sit. “Kos gekook en jou grootgemaak terwyl my jare verbygaan.”
“Onthou jy hoe ek en jy soms buite op die kombuis se trappies gesit het?” vra ek en skakel die ketel aan. “Many moons ago.”
“Tot watter tyd van die nag, ja. Terwyl jou ma in die strate rondflenter en ons vir haar wag om huis toe te kom.”
“Sy’t darem nie in die strate rondgeflenter nie, Dora.”
“Sy hét. Aan die begin toe sy nog stemme vir die party probeer kry het. Allerhande mooi broodjies gebak, papiere uitgedeel, mooi prentjies van pappies en mammies en kindertjies, ewe happy-go-lucky asof ons almal in die hemel gaan lewe as hulle die verkiesing wen en in die sagte stoele gaan sit. Promises, promises, promises. Vandag nog. Almal maak promises, maar niemand wil deliver nie.”
“Dora, ek wil jou iets vertel,” probeer ek keer dat die damwal breek en ek met Dora se politieke oortuigings oorspoel word. Dora is altyd aan die kant van die underdog, wat die issue ook al is. Sy weet nie aldag wat in die land aangaan nie, maar sy sien haarself as ’n politieke intellectual omdat sy vir Ma werk. As sy enigsins kan moan, dan moan sy asof sy daarvoor betaal word. Ek het al gedink sy moet haar laat uithuur vir ’n professionele roubeklaer. Miskien sal sy nie so suksesvol wees met die huilery nie, maar oor ’n geweeklaag kan niemand haar iets leer nie.
“Wat wil jy my vertel?” Sy kyk my agterdogtig aan.
“Groot nuus.”
“Ag nee, not again. Is jy pregnant?” Dora gooi haar hande dramaties in die lug. “Dis wat gebeur,” roep sy in ’n operasangeresstem uit, “as ’n mens ’n hap ...”
“Van die appel vat voordat die vrug ryp is, ja, Dora, ek weet. Jy’t dit my lewe lank vir my vertel, my banger gemaak daarvoor as vir die dood.”
“Maar dit lyk nie asof dit gehelp het nie, lyk nie asof die vroue in hierdie huis wil hoor nie, lyk nie of hulle weet waar babas vandaan kom nie.”
“Nee, man!” Ek slaan haar met die vadoek oor die boarm. “Ek is nie pregnant nie.”
Dora lyk nie oortuig nie. “Is jy seker?”
“Ek is seker. Ek wil net so min met ’n kind opgesaal word as jy. Dis ’n les wat jy my goed geleer het.”
“Dankie tog.” Sy skuif haar reg in die stoel. “Ek maak sowaar nie nóg ’n bybie groot nie.” Haar mond is ferm saamgetrek. “Nou vir wat laat jy my so skrik?”
“Want ek het groot nuus. Dis iets wat ek nog vir niemand vertel het nie.”
En wat ek nie graag vir Dora wou vertel nie, maar daar ís niemand anders beskikbaar om my hieroor te help dink nie. Dalk is dit presies wat ek nodig het – Dora se sinisme – om my te laat kophou.
“Nou vir wat wil jy dit nou vir mý vertel? Ek wil nie weet nie. Ek het genoeg troubles van my eie.”
Dis wat Dora altyd vir Ma gesê het, ek onthou. Die tye wanneer Ma op haar skouer wou huil oor die kind wat haar in haar opgang gestuit het. Dora se skouer was nie vir Ma beskikbaar nie, ook nie vir my nie.
“Jinne,