praat met hom onder vier oë. Dis ’n baie vriendelike en openhartige gesprek. Botha wil weet waarom ek vir Lategan, Worrall en Malan gesteun het. Hy dink daar is ’n persoonlike rede omdat minister Pik Botha, so word vir hom gesê, op aandrang van hom en Heunis my aanstelling as ’n spesiale regeringsgesant in Washington op kort kennisgewing teruggetrek het. Hy, so verseker hy my, het niks daarmee te make gehad nie. Ek verseker hom dat dit nie die rede is nie en dat die kansellasie van die aanstelling ’n bedekte seën was. Ek verduidelik my beweegredes om die Onafhanklikes te steun aan hom en sê dat die tyd vir ’n van-binne-af-strategie verby is. Ons praat baie openhartig. Toe ek opstaan om te loop, sê Botha: “Agter dié lessenaar waar ek sit, kan dit soms baie eensaam wees. Mense kom vir my sê wat hulle dink ek wil hoor.”
* * *
Die oproep uit Pretoria het my, teen dié agtergrond, bekommerd gehad. Pretoria was die simbool van regeringsmag. Ek het byna outomaties gewonder of ek in die oë van Pretoria iets verkeerd gedoen het. Koos Kruger en sy kollega Möller Dippenaar het voor my by die huis opgedaag. Annemarie het hulle ontvang en hulle het in die sitkamer vir my gewag. By die voordeur het Annemarie vir my gesê: “Hulle lyk soos veiligheidspolisie. Wees versigtig wat jy sê,” gedagtig daaraan dat ek nie altyd ’n wag voor my mond plaas nie. Koos Kruger en sy “kollega Möller” het my ingelig dat hulle van Nasionale Intelligensie – die NI – is. Die land staan voor allerlei ernstige veiligheidsrisiko’s wat die grondwet kan ondermyn en die voortbestaan van die staat in die gedrang kan bring. Die NI het ’n spesiale afdeling wat hieraan aandag moet gee. Hulle het van dit wat ek skryf en sê kennis geneem en reken dat ek hulle met die projek sal kan help. Die kontakte en netwerke waaroor ek beskik, en die dokumentasie wat ek vermoedelik versamel en bestudeer, sou dalk ook van hulp kon wees.
Ons het by dié geleentheid nie oor die moontlikheid van gesprek en onderhandelinge met die ANC of die ontbanning van organisasies gepraat nie. Ek het ook nie gevra of hulle bewus was van die telefoonoproep van Fleur de Villiers uit Londen nie. Ek het hulle niks daarvan vertel nie. Ek het vroeg in my lewe geleer om nie onnodige vrae te stel nie, te luister en die gespreksgenoot ruimte en vryheid te gee. Tussen my en “oom Koos”, soos ek hom later met respek genoem het, en Möller Dippenaar het gou ’n uitstekende verstandhouding ontwikkel. Ons het mekaar verstaan en vertrou.
Dit was nie vir my en Annemarie moeilik om ’n besluit te neem oor saamwerk met NI nie. Ek het toe al geweet van Consgold se projek en het gedink dis ’n geleentheid soos min. Ons het wel die voor- en nadele, die moontlike impak op ons gesinslewe en die gevolge van ’n assosiasie met die NI deeglik bespreek. Daar is by dié tipe besluit altyd ’n spanning tussen morele en strategiese oorwegings. NI was immers een van die mees ondeursigtige en selfs lotsbepalende arms van die staat. Die kern van die vraag was: “Kan samewerking met dié invloedryke arm van die apartheidstaat bydra om ’n proses van vrede en demokratisering te help bevorder?” Ons het ook vir onsself gesê dat dit onbekende terrein is en dat daar baie onbedoelde gevolge mag wag. ’n Mens weet nie vooraf wat die grense van die kompromieë is wat jy noodwendig in so ’n proses sal moet aangaan nie. Die gesin is hieroor in baie breë trekke ingelig.
My aanvaarding van die versoek het tot ’n intensiewe sessie met Koos Kruger en Möller Dippenaar gelei. Ander lede van die NI-span het later bygekom. Die sessies het gewoonlik in veilige huise plaasgevind. Van dié huise – sommige was woonstelle – het aan privaat eienaars behoort. Een so ’n veilige huis waar ek dikwels gekom het, was in ’n woonstelkompleks in die Strand. Dit het, soos ek verneem het, aan ’n vername kerkman behoort. Koos Kruger, wat uit generaal Hendrik van den Bergh en sy vriend eerste minister John Vorster se Buro vir Staatsveiligheid gekom het, was baie veiligheidsbewus. Hy het oor en oor beklemtoon dat ek met niemand oor die projek moes praat nie. Nie eens met my beste vriende nie. “Dis ’n eensame pad. Kan selfs gevaarlik wees. Ons sal jou in veiligheidsmaatreëls oplei en goed na jou kyk.” Ek het ook ’n kodenaam gekry: Gert. En dinge soos ’n anonieme posbus, ’n aktetas wat soos Kruger s’n gelyk het, ’n bandopnamemasjien en ’n kamera wat ek nooit aan die werk kon kry nie. Dit was nie vir my nodig om enige van dié bykomstighede te gebruik nie.
Daar was ’n paar mense wat ek ingelig het om, sou enige iets verkeerd loop, ’n soort “rekord” met “getuies” te hê. Afgesien van Fleur de Villiers, wat ek eers later ingelig het, was daar Dawie de Villiers, ’n minister in Botha se kabinet. Hy was iemand van hoogstaande integriteit en het jare later die Consgold-gespreksgroep by twee geleenthede bygewoon. Dawie de Villiers het ’n belangrike rol in die uiteindelike onderhandelingsproses gespeel. Botha het De Villiers gerespekteer omdat hy (De Villiers) nie ’n vrees vir Botha gehad het nie, maar sy menings oor netelige politieke kwessies eerlik gegee het. Ek het ook vir professor Mike de Vries, destyds die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, ingelig. Ons was goeie vriende en ek het hom vertrou. Ek moes dikwels oor veral naweke reis, ook na die buiteland, en moes verlof vir afwesigheid daarvoor kry. Dit was om vertroulikheids- en veiligheidsredes nie moontlik om die normale kanale daarvoor te gebruik nie. De Vries het die toestemming gegee en ook die vertroulike aard van die projek gerespekteer. Hy was baie ondersteunend en het graag daarop gewys dat die Universiteit van Stellenbosch hopelik eendag krediet sou kry vir wat ter wille van ’n onderhandelde skikking gedoen is. Ek het ook ’n paar goeie vriende in breë trekke ingelig, soos Anton van Niekerk van die US se departement filosofie. ’n Mens kan nie so ’n projek sonder ondersteunende familie en vriende met onkreukbare integriteit aanpak nie.
Die opleidingsessies in veiligheid was insiggewend. Dit het my gehelp verstaan hoe daar toe op ’n hoë vlak oor veiligheids- en politieke kwessies gedink is. Die Staatsveiligheidsraad (SVR) en die kabinet is destyds gereeld deur die NI en ander veiligheidsdienste van die staat ingelig. Later het ek verneem van president PW Botha se situasiekamer. Daar kon hy op ’n skerm sien wat alles gebeur het en wie wat gesê het. Die “alles” is natuurlik deur iemand anders geselekteer en gesif. Ek het mettertyd die omvang en die plofbaarheid van Suid-Afrika se krisis beter verstaan. So ook die aard van die gekkeparadys waarin veral Afrikaners gelewe het. Een so ’n sessie in veiligheid het my met spreekwoordelike bomskok gelaat. Dit het gefokus op hoe ’n mens na jou veiligheid in die buiteland, byvoorbeeld in hotelle, moet omsien. Ek het half wanhopig, omdat ek nie alles kon onthou nie, uitgeroep: “Maar die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing.” Iemand het droogweg opgemerk: “Ons probeer jou nie teen die ANC beskerm nie. Dis teen die ‘bruin hemde’ dat jy beskerm moet word,” met ander woorde, die militêre.
Möller Dippenaar, wat in ’n stadium vir predikant geleer het, was ’n besondere mens. Ons het baie en soms moeilike in-diepte-gesprekke gehad. Die NI het mense in sy geledere gehad wat goed opgelei en hoogs intelligent was. Die vroulike lid van die span, Hanna Langenhoven, met wie ek later saam gewerk het en vir wie se intellektuele vermoëns en humorsin ek groot waardering ontwikkel het, het onlangs aan my gesê dat hulle byna die projek opgeskort het. Ek het geen begrip vir veiligheidsmaatreëls gehad nie. Koos Kruger weer, was in sy hart en niere ’n polisieman, toegewy en lojaal aan die staat wat hy gedien het. By verskeie geleenthede het hy vir my gesê: “Ek volg Paulus in Romeine 13 na. Ek is ’n onderdeel van die swaardmag van die staat.” Jare later sou Eugene de Kock, toe ek hom in die tronk gaan besoek het, min of meer dieselfde sê. Kruger het by meer as een geleentheid gesê: “Hoe weet ons dat ons die swaardmag reg gebruik?” En, het hy ook gesê: “Goeie intelligensie help ons om die swaardmag reg te gebruik.” Ek het vir myself gesê: “Intelligensie gaan oor inligting wat strategiese doelwitte en beplanning kan bevorder. Waaroor dit primêr gaan, is die aard van die doelwitte.” Hoe en deur wie die inligting geverifieer kan word, en veral die kwessie van aanspreeklikheid en toesig, is natuurlik binne ’n demokratiese staat baie wesenlike vrae.
Ek het destyds ook aanvaar dat as ek nie met mense soos Kruger en Dippenaar ’n bepaalde verhouding van vertroue kon ontwikkel nie, die projek waarvoor ek my ingelaat het, plat sou val. Dis Kruger en Dippenaar wat my gehelp het om te verstaan dat morele oorwegings “blind” is sonder strategiese oorwegings, en dat strategiese oorwegings “leeg” is sonder morele oorwegings, as ek die beroemde Duitse filosoof Immanuel Kant kan aanpas. Dat ’n mens egter oor ’n werkbare balans hiertussen nie te idealisties en romanties-naïef moet wees nie, is ’n feit soos die spreekwoordelike koei. Wat my baie gehelp het om nie my moontlike bydrae te hoog aan te slaan nie, was iets wat Eddie Orsmond, ’n