by te woon. Hy het by dié geleentheid ook met die Duitse kanselier, Helmut Kohl, samesprekings gevoer. Margaret Thatcher en Kohl het gereeld met mekaar oor Suid-Afrika gesprek gevoer, veral oor die Namibië-kwessie, waar daar ook Duitse belange was. Albei het algaande frustrasies opgebou oor die stadige hervormingspas in Suid-Afrika en die “militarisering van Suid-Afrika onder PW Botha”. In gesprekke met mense uit die Thatcher- en Kohl-omgewing het ek die woord “militarisering” al hoe meer gedurende die tagtigerjare gehoor. In Wes-Duitsland was dié woord, gegee die geskiedenis, ’n bloedrooi vlag, gesien saam met die heersende noodtoestand in Suid-Afrika. PW Botha het natuurlik ’n groot behoefte aan geloofwaardige buitelandse ontmoetings gehad. Daar was min. Sy hervormingsinisiatiewe was te karig en te laat. Dit het nie diplomatieke deure oopgesluit nie. Die internasionale konsensus oor wat moes gebeur, was die hervormingsinisiatiewe vooruit.
* * *
Die Coetsee-Mandela-Barnard-gesprekke het gedurende 1989 uitstekende vordering getoon en op die ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela op 5 Julie daardie jaar uitgeloop, drie weke ná die viering van die (jeug)opstand in Soweto en op ander plekke. Hierna was dit net ’n kwessie van tyd voor die onderhandelingsproses meer amptelik in alle erns kon begin. Wat die meeste van diegene wat in daardie stadium die foto gesien het wat van Botha en Mandela tydens die ontmoeting geneem is, egter nie geweet het nie, was dat daar ook ’n ander proses aan die gang was: gesprek deur Afrikaners met die buitelandse vleuel van die ANC, met die medewete van Niel Barnard. Van dié gesprekskanaal het selfs Mandela lank nie geweet nie. Tambo en Mbeki was oor albei kanale ingelig. Dit het aan hulle ’n mededingende voordeel bo die “geweerdraers” in hulle eie geledere gegee. Dieselfde het natuurlik vir die onderhandelingsgesindes binne die regime gegeld. Terwyl die sekurokrate ’n noodtoestand gesteun het, het die onderhandelingsgesindes agter die skerms gewerk aan die ontginning van politieke geleenthede wat in ’n moontlike onderhandelingsproses opgesluit gelê het. Intense dialoog was hiervoor die voertuig.
Die ANC het in die vroeë tagtigs dialoog en kontak met (wit) Suid-Afrikaners as ’n onderdeel beskou van ’n strategie om die heersende politieke stelsel te ondergrawe en druk uit te oefen. Die regerende elite, wat die ANC baie suksesvol geïnfiltreer het, wou weer verdeeldheid, verwarring en selfs konflik binne die bevrydingsbeweging aanstig. Die model was: revolusionêr versus kontra-revolusionêr. Dié strategiese denkraamwerk, aanvanklik vasgelê in ideologiese beton, moes deurbreek word. Die nou beroemde tronkgesprekke was ’n belangrike beitel. Die Afrikaner-ANC-gesprekke was ’n ander beitel. En die NI-ANC-gesprekke in Switserland en later in Pretoria was nóg ’n beitel wat ’n nuwe pad help oopkap het. Idasa en ander organisasies, lande en leiersfigure ook.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.