kies tussen vertroulik praat of in die openbaar protesteer en allerlei protesaksies en publieke konferensies endosseer. Hy kies eersgenoemde. En hy lig nie eens sy eie politieke vriende in Pollsmoor in nie. Dit was ’n keuse met geweldige risiko’s. Hy lig net een persoon volledig in: George Bizos, sy senior regsverteenwoordiger wat toegang tot hom gehad het. Bizos, oor wie ek gelees het, met ander gepraat het en ook ’n toevallige persoonlike gesprek of twee kon voer, was ’n merkwaardige mens. Saam met sy pa het hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Griekeland gevlug en via Egipte in Suid-Afrika beland. Sy pa het ’n kafee regoor die kantore van die destydse Vaderland begin. Toe ek dit lees, kon ek nie anders as om hardop oor Suid-Afrika se ironieë te lag nie.
Mandela lig Bizos vanuit sy hospitaalbed op die derde verdieping van die Volkshospitaal oor sy ontmoeting met Coetsee in. Hy wil hê dat Bizos ’n persoonlike boodskap op ’n vertrouensbasis aan Oliver Tambo in Lusaka oordra. Bizos, nie iemand wat links en regs met ander mense praat oor sy kontakte om hulle te beïndruk nie, stem in. Hy besluit om wel eers met Kobie Coetsee daaroor te praat om so enige onaangenaamheid te vermy. Dié gesprek vind uiteindelik, van alle plekke, op ’n vliegtuig plaas. Hy ontmoet vir Tambo, wat in 1961 in ballingskap gegaan het, in ’n hotel in Lusaka. Dit word ’n lang gesprek. Tambo word volledig ingelig. Ook hy aanvaar dat verkennende gesprekke, later deur die ANC-Afrikaner-gesprekgroep gesprek oor gesprek (“talks-about-talks”) genoem, vertroulik en klein gehou moet word. Daar was toe ’n kommunikasiekanaal tussen Mandela-Coetsee en Tambo. In Lusaka was Thabo Mbeki een van dié klein ingeligte groepie.
Bizos besoek Lusaka ’n tweede keer gedurende Februarie 1986. Hierdie keer word president Kenneth Kaunda ook in breë trekke ingelig. Bizos het in Kaunda se gastehuis, waar ek ook by geleentheid oorgebly het, tuisgegaan. Oliver Tambo het tydens die Bizos-besoek skynbaar ook daar gebly. President Kaunda het natuurlik geweet hoe die wind begin waai het, al was dit toe ’n ligte windjie. Terug in Suid-Afrika, besluit Bizos om Coetsee in te lig oor die positiewe reaksie op sy kontak met Mandela. Bizos, vergesel van regter Johan Kriegler, wat die afspraak gereël het, ontmoet Coetsee aan huis in Pretoria. As daar nog enige verwagting by Coetsee was dat ’n wig tussen Mandela en Tambo, die binnelanders (“inziles”) en bannelinge (“exiles”), ingedryf kon word en “verdeel en heers” sou geld, het Bizos dié verwagting verpletter. Coetsee het ook dié boodskap gekry: Daar is ’n ernstige en eerlike begeerte om gesprek met die regering te voer. Die idee van ’n onderhandelde skikking was toe op die politieke agenda al sou dit nog lank duur om vlees en bloed daarvan te maak. ’n Proses het egter begin.
Toe Mandela op 23 Desember 1985, twee dae voor Kersdag, uit die Volkshospitaal ontslaan word, kry hy ’n sel in die hospitaalgedeelte van Pollsmoor op die grondvlak. Sommige meen dit was ’n poging om hom van sy mede politieke gevangenes te isoleer en hom sag te maak vir kompromieë. PW Botha, wat deur Coetsee oor sy besoek aan Mandela ingelig was, kon dit moontlik in gedagte gehad het. Hy het goed geweet as daar die dag ernstig oor die politieke toekoms van die land gepraat sou word, Nelson Mandela by die gesprekstafel aanwesig sou moes wees. Botha moes daarom ’n manier kry om Mandela en ander politieke gevangenes vry te laat sonder om beheer prys te gee. Hy was selfs onder druk van sy goeie vriend die konserwatiewe Duitse politikus Franz Josef Strauss. Dis ook aan my vertel dat Botha meer bewus van die vrylatingskwessie geword het as gevolg van die tronkstraf wat aan Breyten Breytenbach, toe ’n ANC-koerier, opgelê is. Breytenbach se broer was een van Botha se gewaardeerde militêre leiers. In Coetsee se geval was daar myns insiens ’n meer primêre rede: Hy wou dit makliker vir homself en Mandela maak om privaat en vertroulik te praat, en hy wou erkenning aan Mandela se menswaardigheid as leier gee. Mandela het baie moeite gedoen om met sy mede politieke gevangenes kontak te behou, al het hy sy eie private badkamer en selfs ’n oefenlokaal gehad.
Daar vind verskeie ontmoetings tussen Coetsee en Mandela plaas. Coetsee het Mandela nie soos ’n gevangene behandel nie, maar werklik uit sy pad gegaan om aan hom respek te betoon. Die ontmoetings was altyd in stylvolle omgewings, en Mandela is soos ’n leier behandel. In ’n stadium ontvang hy selfs vir Winnie Mandela in sy Kaapse ampswoning, Savernake. Hy deel haar mee dat hy besluit het sy kan na haar woning in Soweto terugkeer. Vir Winnie Mandela was dit soos manna uit die hemel. Haar openbare aktivisme het wel ná haar terugkeer na Soweto nuwe laagtepunte bereik. Sy het Coetsee se vriendelike, maar paternalistiese versoek dat sy hom nie in die steek moes laat nie en dissipline moes handhaaf, in die wind geslaan.
Mandela het uiteindelik ongeduldig begin raak. Hy wou die president, PW Botha, die Groot Krokodil, van aangesig tot aangesig ontmoet. Die EPG was toe al lankal uit Suid-Afrika. Van die lede het Mandela ontmoet. Dit was trouens in dieselfde tyd dat Bizos op sy missie na Lusaka vertrek het. Botha was in daardie stadium nog adamant dat ANC-georkestreerde geweld die moontlikheid van amptelike gesprek uitgesluit het. ANC-leiers en Mandela moet eers geweld in die openbaar afsweer. Dis onwaarskynlik dat Coetsee besondere moeite gedoen het om Botha tot ’n matiging van sy houding te oortuig. Botha het nie net die land met ’n ystervuis geregeer nie, maar ook sy kabinet. Die kabinet het in elk geval nie van Coetsee se inisiatiewe geweet nie. Botha het hulle daaroor in die duister gehou. Hy het Coetsee aangemoedig om met sy persoonlike kontakte voort te gaan. Dit was onteenseglik daarop gemik om meer van Mandela en sy standpunte te wete te kom. PW Botha was iemand wat baie moeite gedoen het om agter te kom wie die leiersfigure nou eintlik was.
Dis nodig om hier iets oor my kontak en interaksie met Botha te sê. Ek was nooit een van sy raadgewers, soos soms beweer is nie. My interaksie en verhouding met hom was persoonlik eerder as polities. Sy dogter Rozanne was in my filosofieklas (drie jaar lank), soos ook Jimmy Kruger se seun Eitel, wat later ’n prominente rol in Pretoria sou speel. Ek het vir beide van hulle groot waardering as studente én as mense gehad. Chris Heunis, ’n politieke kollega en vriend van Botha, het die Stellenbosse verligtes, onder wie Sampie Terreblanche, Julius Jeppe, Christoph Hanekom en myself, ook gereeld na NP-konferensies, veral vir jongmense, genooi.
Toe professor HB Thom, eertydse rektor en in daardie stadium US-kanselier, op Vrydag, 4 November 1983 sterf, was Heunis die eerste een wat sy kandidatuur die dag ná Thom se dood (Saterdag) op die tafel gesit het. Hy is sterk gesteun deur ’n leidende akademikus, professor Christo Viljoen, en ’n paar ander. Heunis het ietwat van ’n obsessie gehad om die US se kanselier te word. Met John Vorster se uittrede het hy hom ook vir die pos beskikbaar gestel. Professor HB Thom het egter sy kandidatuur vroegtydig laat sneuwel. Sy tweede probeerslag het ook misluk. Die voorsitter van die US-raad, die waardige Jan van der Horst en die US-rektor, professor Mike de Vries, kontak my. Hulle meen dat Heunis, wat nie anders kan as “om hom by alles in te meng” nie, “uitgehou moet word”. Die enigste manier om dit te doen, is om PW Botha te oortuig om hóm vir die kanselierspos beskikbaar te stel. En ek moet met Botha gaan praat. Ek raadpleeg Piet Cillié, voormalige redakteur van Die Burger en uiteindelik professor in joernalistiek aan die US. Piet Cillié sê: “Hou Heunis uit. Dit sal nie vir die US óf vir hom goed wees as hy kanselier word nie.”
Ek en Dawie de Villiers, ’n minister, praat met Botha in sy kantoor in die Uniegebou oor die moontlikheid van sy kandidatuur. Hy sê dat hy dit slegs sal oorweeg as ek aan hom bevredigende antwoorde op die volgende vrae kan gee:
Hy het nie ’n graad nie. Hoe kan hy kanselier word?
Hy weet sy “kollega Heunis” aspireer na die amp. Hoe gaan ek dit hanteer?
Hy sal die pos hoogstens vir een termyn kan vul. Kan hy ’n bydrae lewer? Hy het genoeg ander werk.
Die tweede vraag was die moeilikste. Ek sê hom dat ek Heunis persoonlik sal inlig as hy wat Botha is hom as kandidaat beskikbaar stel. Botha hoef Heunis nie in te lig nie. Botha aanvaar ná ’n paar dae die kandidatuur. Ek besoek Heunis in sy kantoor in die parlementsgebou en lig hom eerlik in. Dit word een van die mees onaangename ervarings van my lewe. Heunis, en te verstane, ontplof. Die breuk tussen ons is nooit heeltemal geheel nie. Botha kontak my en sê: “Dankie. As jy sterk oor iets voel, moet jy nie soos ’n lafaard optree nie.” Sedert dié dag was daar tussen my en Botha ’n verhouding van wedersydse respek.
Teen die einde van 1988 ontmoet ek en Botha mekaar toevallig en wissel ’n klompie woorde. Hy sê teen die einde van ons kort gesprek: “Ek weet van jou kontak met die ANC. As dit uitlek, moet ek jou in die parlement oor die kole haal.” Hy