sy opmars na die hoogste politieke pos begin het, sy “Stellenbosse konneksie” geag het, en dat dit die een of ander tyd ’n bemiddelingskaart kon word. Daarom was hy selfs teenoor die uitgesproke Terreblanche baie meer versigtig as teenoor ander kritici.
Dinge kom hierna vinnig tot ’n punt. In Oktober 1985, ná Botha se Rubicon-toespraak en kort voor Mandela in die Volkshospitaal opgeneem is, stig Terreblanche en ’n paar kollegas van die US, waaronder ek self, Besprekingsgroep ’85. Dit word ’n beitel wat die hart van die Botha-regime verwond. Dis in dié tyd, ná Mandela se hospitalisasie, dat Kobie Coetsee, minister van justisie, polisie en gevangenisse, met hom begin praat. Daar is by my min twyfel dat die moontlikheid dat Mandela in gevangenskap kon sterf, vir Kobie Coetsee en ander skielik ’n kommerwekkende probleem geword het. ’n Memorandum deur die gespreksgroep, voorberei deur die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk, oor die verslegtende toestande in die land, word op 28 Januarie 1986 aan Terreblanche se goeie vriend minister Chris Heunis oorhandig. Dit handel oor vier “konseptuele blokkades” vir ’n betekenisvolle hervormings- en onderhandelingsproses. “Magsdeling” was wel in daardie stadium nog die sleutelwoord. Die eerste blokkade was dat die buiteland ons in die steek gelaat het. Sónder die buiteland was dit nag vir Suid-Afrika. Tweedens, ’n onderhandelde skikking met swart mense in Suid-Afrika kon nie die ANC uitsluit nie. Nie alle swart mense was ten gunste van geweld nie. Derdens, die Suid-Afrikaanse regering se probleme was regstreeks herleibaar tot sy storie oor die “totale aanslag”, georkestreer deur Moskou. En vierdens, die Groepsgebiedewet en ander maatreëls moes waai. Die memorandum stel dit onomwonde: “Daar moet binne die volgende ses maande duidelikheid kom oor die regering se voorneme om van apartheid in al sy gestaltes ontslae te raak … of geweld, onluste en ekonomiese druk gaan afmetings begin aanneem wat ons bestaan veel meer sal bedreig as wat hoegenaamd voorsien kan word.” Die politieke teerling was gewerp.
Heunis broei baie maande oor die memorandum. Hy lig Terreblanche uiteindelik in dat hy die memorandum met Botha bespreek het. Botha, saam met Heunis, ontmoet 28 van die rebelle op 20 Februarie 1987 in Tuynhuys. Ses van die rebelle tree as segspersone op. Botha spreek die groep hierna langer as ’n uur toe. Daarna probeer hy die vergadering met sy “laaste woorde” beëindig. Chaos breek toe uit, met Terreblanche en Botha wat op mekaar begin skreeu. Ek gryp in en sê ek is nou die voorsitter. Botha, verbaas, sê: “Dis my kantoor hierdie. Ek is hier die baas.” Die groot breuk wat lank gedreig het om plaas te vind, gebeur op dié dag. Terreblanche bedank uit die NP. Ander volg hom. Op 8 Maart reik die besprekingsgroep ’n verklaring uit wat die inhoud van die memorandum openbaar maak. Dit maak internasionale opslae. NP-magshegemonie begin verbrokkel. In Lusaka is hiervan meer kennis geneem as van enige iets anders. Hoop op ’n onderhandelde skikking het opgevlam. Ook in Pollsmoor, waar Mandela toe reeds met Kobie Coetsee in gesprek was.
Daar was ten tyde van die haastige vertrek van die EPG reeds ’n skrif in bloed aan die muur: Angola en Suidwes-Afrika (Namibië). Daar was Swapo en die Kubane “die vyand”. Daar was ook ANC-kampe in Angola gevestig. Suid-Afrika het Unita, die opposisie van die mpla, die versetbeweging in Angola, en Swapo, die versetbeweging in Suidwes-Afrika (Namibië), gesteun. Jonas Savimbi was die leier en ’n persoonlike vriend van PW Botha. Trouens, by Botha se inhuldiging as president van Suid-Afrika in die Groote Kerk in Kaapstad (op 14 September 1984) was Savimbi ’n eregas. Die Totale Aanslag, en die SAW se Totale Strategie, was in Angola en Namibië sigbaar op die voordeur van ons land. En ook in kombuise, voorhuise en slaapkamers van diegene wie se jong seuns opgeroep is om die Totale Strategie uit te voer. Of, soos ’n NP-parlementariër en goeie vriend dit driftig aan my gestel het: “Om die kommuniste van ons grense weg te hou.” Die meeste Afrikaners het dit ook geglo. Min kwessies het op Suid-Afrika se interne politiek, veral vanaf 1988, so ’n impak as die Angola-Namibië-kwessie gehad.
Op uitnodiging van die SAW kon ek self, saam met ’n klompie vriende uit die Stellenbosch-omgewing, die “operasionele gebied” besoek. Ons was hoofsaaklik in die noorde van Namibië. Daar het ons onder meer die dinamiese generaal Jannie Geldenhuys ontmoet. Ons was ook by die basis Omega – om te sien “wat die Weermag vir die Boesmans doen” – en ’n paar ander plekke. Ons het almal na Stellenbosch teruggekeer met dié oortuiging: “Die SAW veg vir ’n goeie saak.” Self dink ek nou dat die stryd om die behoud van die apartheidstaat onder meer weens die oorlog in Angola verloor is. Tesame, natuurlik, weens Suid-Afrika se steun aan die Demokratiese Turnhalle Alliansie (dta) tydens die verkiesing in 1989, aan Renamo in Mosambiek en aan biskop Abel Muzorewa in Zimbabwe. Dié en ander aksies om “die vyand” (die ANC) buite die grense van ons land te hou en “die vyande” wat reeds binne die landsgrense was aan bande te lê en selfs te vermoor, het die “ou” Suid-Afrika finansieel en moreel geknou. Oor dié kwessie sal daar wel in Afrikanergeledere nog lank ernstige meningsverskille wees. Daar is baie Afrikaners wat nog vas glo dat die oorlog in Angola tyd gekoop het vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika, myns insiens ’n regverdiging agterna en ’n vorm van retrospektiewe mitologisering.
* * *
Ek het Chester Crocker, later die VSA se assistentminister van Afrikasake, die eerste keer ontmoet by die Georgetown-universiteit in Washington, waar hy navorsing gedoen en lesings gegee het. Hy was ’n vriend van Tertius Myburgh, destyds redakteur van die Sunday Times. Ek en Myburgh het oor talle sake saamgewerk, onder meer vanweë ons betrokkenheid by die United States South Africa Leadership Programme (Ussalep), wat ’n kantoor in Washington gehad het. Voor sy aanstelling as assistentminister van Afrikasake in die Reagan-administrasie het Crocker Suid-Afrika besoek. Saam met Myburgh het ons ’n lang, indringende vertroulike gesprek gevoer oor sy (Crocker) se beleidsposisie ten opsigte van Suid-Afrika en ook die res van Afrika: Constructive Engagement. Ek en Myburgh was baie opgewonde daaroor. Crocker het mettertyd intensief by die konflik tussen Suid-Afrika en Namibië-Angola betrokke geraak, namate veral die Kubane op die voorgrond getree het. Hier en daar is daar selfs in veral burgermagkringe gefluister dat Angola Suid-Afrika se Viëtnam kon word, sou daar te ver en te diep binnegedring word. Daar was ook nie altyd harmonie en eensgesindheid tussen lede van die Burgermag en die Staande Mag, soos wat graag beweer word nie.
Crocker was ten gunste van ’n onderhandelde skikking in Namibië-Angola. Hy was ook oortuig dat so ’n skikking die weg sou voorberei vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika. Botha se Rubicon-toespraak en die suksesvolle sanksieveldtog in die VSA teen Suid-Afrika het in elk geval ’n groot politieke kopseer vir die Reagan-administrasie veroorsaak. In die VSA, met sy swart bevolkingskomponent en Demokratiese Party, was ANC-leiers welkome gassprekers by talle byeenkomste. Die ANC, met Tambo en Mbeki op die voorpunt, het ná Botha se Rubicon-toespraak die diplomatieke oorlog teen Suid-Afrika in die VSA loshande gewen. Vroeg in 1987 was Tambo byvoorbeeld in die VSA, waar hy talle gesprekke gevoer het, onder andere met Henry Kissinger, voorheen die VSA se minister van buitelandse sake. Regses in die VSA was oor Crocker se standpunt in opstand en het Suid-Afrika se “vriende” geword. Op Vrydag, 7 Desember 1984 trek die National Coalition of Americans Committed to Rescuing Africa from the Grip of Soviet Tyranny teen Crocker los deur ’n soort ope brief: “Why is Chester Crocker trying to sell 20 million black Africans into communist slavery?” Dit het die mite van die Totale Aanslag soos ’n handskoen gepas. En ook die verwyt aan Ronald Reagan dat hy, toe hy sy nominasie vir ’n tweede termyn as president aanvaar het (in Augustus 1984), gesê het: “Since January 20, 1981, not one inch of soil has fallen to the communists.”
PW Botha, wat van my kontak met Crocker geweet het, vra my in 1988 om hom oor ’n paar sake te kom spreek. Hy was tydens my besoek vriendelik en teen die einde van ons gesprek op die punt af: “Jy en Crocker ken mekaar. Ek hou niks van die man nie en vertrou hom nie. Sê vir hom ons sal oor die konflik in Namibië en Angola verder moet praat; daar is ’n paar voorwaardes waaroor ons eers moet ooreenkom. Suid-Afrika en die SAW moet met waardigheid kan onttrek. Daar is ook kostes waarna gekyk moet word.” En toe, as ’n nagedagte: “Ek hou nie van die idee van lewensverlies en verminking van my jong manne nie. Die oorlog word te duur.” Die voorbereidingsprosesse vir ’n skikking was toe al goed op dreef en Botha was bewus van wat aan die kom was. Die gesprek met hom was een van die geleenthede waar Botha sy menslike gesig gewys het. Crocker het ook nie van Botha gehou nie. Hy was van mening dat “xenofobiese woede” meermale by Botha voorgekom het. Veral in kritieke situasies. Dan het Botha redelikheid en doodgewone praktiese werklikhede van die tafel af