Willie Esterhuyse

Eindstryd


Скачать книгу

plan. Ons twee het nie daartoe toegang nie. Ons het slegs ons prentjie wat kleiner is en hopelik inskakel by ’n sinvolle groter prentjie.”

      Die inligtingsessies oor hoe, vanuit owerheidsweë, die bedreiging van die Suid-Afrikaanse staat geïnterpreteer is, was in een opsig ’n leerervaring. Die model van die Totale Aanslag het in die meeste van dié sessies sterk gefigureer. Ek het ironies-krities daarvan as die “spinnerakteorie” gepraat, met die ANC as die groot swart en gevaarlike spinnekop wat saam met die kommuniste uit die sentrum van die web ongeveer alles wat Suid-Afrika bedreig, manipuleer. Ek was verstom oor hoe sterk die “geloof” aan dié teorie was. Wanneer ’n mens met die mite van die “vyand” werk om optredes en beleid te regverdig, is dit skynbaar nodig dat jy jou vyand magtiger voorstel as wat hy werklik is. President PW Botha en sy ministers het hulle eie propaganda geglo. Die idee van ’n Totale Aanslag was besonder effektief. Diegene wat skepties oor dié propaganda was, was sélf deel van die Totale Aanslag. ’n Totale Strategie het daarom voorsiening vir min of meer énige middel gemaak om die doel van staatsveiligheid te bevorder. Generaal Joep Joubert van die Spesiale Magte was myns insiens doodeerlik toe hy op 8 Oktober 1997 voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gesê het dat hy slegs sy “plig” gedoen het om die oorlewing van die regering van die dag te bevorder. Mense wat ’n ernstige bedreiging vir die staat was, is daarom geëlimineer. Hy het aanvaar dat die land in ’n “volskaalse oorlog” was. Hy was die produk van die propaganda van die Totale Aanslag.

      Met verloop van tyd het ek verskeie personeellede van die NI leer ken. Niel Barnard, die grootbaas van die NI, was een van hulle. Hy het op jeugdige ouderdom vanaf die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat die leiding by die NI oorgeneem. Hy is ’n uitstekende pokerspeler. Nie iemand wat deur liggaamstaal of woorde sy strategie en taktiek verraai nie. En brutaal reguit met sy menings wanneer iemand met hom swaarde kruis. Die twee van ons het verskillende persoonlikhede. Ek werk, so het hy op ’n keer ironies-bestraffend gesê, met ’n “Karoo-ordentlikheid”. Van meet af aan het ek egter vir hom ’n respek ontwikkel wat tot vandag toe bestaan. Hy het bygedra om Suid-Afrika van ’n bloedige en verwoestende burgeroorlog te red. Ek het later verneem dat daar in die NI reeds so vroeg as 1984 na onderhandeling as ’n strategiese opsie gekyk is. Ene Swanepoel, wat toe skynbaar die hoofdirekteur van strategiese en operasionele evaluasies van die NI was, het in ’n verslag gereken dat die regering met Nelson Mandela gesprek moet begin voer. Hy het ’n scenario ontwikkel waarin Nelson Mandela met sy vrylating miljoene mense in Johannesburg byeen sou bring. Die idee van ’n goed gekontroleerde en inkrementele proses wat tot Mandela se vrylating sou kon lei, is in die NI gebore. Daar moes beheer behou word oor ’n proses wat as onafwendbaar beskou is, maar waaroor niemand toe té hardop wou praat nie.

      Barnard se ander senior kollega, Mike Louw, moet ook genoem word. Louw, wat ek nie so goed leer ken het as vir Barnard nie, het ’n besondere persoonlikheid en vernuf gehad. Hy was, by wyse van spreke, nie ’n kaartspeler nie. Eerder ’n losskakel in ’n rugbyspan. Hy kon ’n spelpatroon lees én dirigeer. Dis hy en Maritz Spaarwater, nog iemand wat krediet moet kry, wat op 12 September 1989 in samesprekings met die ANC in Luzern, Switserland, en daarná die onderhandelingsbal saam met Barnard “losgemaak” het sodat daar met Kodesa (die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika) begin kon word. Spaarwater was geseënd met ’n besondere sin vir humor. Persoonlik dink ek nie ’n mens kan aan intense “oefensessies” en “voorwedstryde” deelneem met die oog daarop om ’n bloedbad te vermy en ’n sinvolle “finale wedstryd” te speel, as jy nie oor emmers vol humorsin beskik nie. Humor, so het ek in die hele proses geleer, is ’n ontlontingsmeganisme. Dis soos om ’n handgranaat skadeloos te maak. Spaarwater het dié gawe gehad.

      * * *

      Dis blote toeval, maar tog betekenisvol: Die oproep uit Londen en die oproep uit Pretoria en dit wat daaruit voortvloei, vind plaas teen die agtergrond van ’n dramatiese gebeurtenis. Op 3 en 4 Julie 1987, ongeveer ’n jaar ná die PW Botha-regering ’n noodtoestand in Suid-Afrika afgekondig het, basuin die voorblaaie van koerante dit uit: Idasa, met Frederik van Zyl Slabbert en Alex Boraine die leiers, sal met ongeveer 60 mense uit Suid-Afrika, meestal Afrikaners, in Dakar, Senegal, met die verbode ANC konferensie hou. Dié konferensie vind tussen 9 en 12 Julie 1987 plaas. Ongeveer 20 lede van die ANC, met Thabo Mbeki die leidende lig, neem deel. Die begaafde skrywer en digter Breyten Breytenbach is ook ’n vername dryfkrag. Temas soos watter strategieë gevolg moet word om verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig, hoe nasionale eenheid gebou kan word, hoe die strukture van ’n vrye Suid-Afrika daar moet uitsien en hoe die ekonomie moet lyk, word onder meer bespreek. Dit word ’n mediagebeurtenis; ’n “event”. Die Botha-regering is briesend. Baie Afrikaner-joernaliste en hulle lesers ook. Koos Kruger vertel my later: “Die president wou die Dakar-gangers by hulle terugkoms laat arresteer. Dr. Barnard het gedink dis nie wenslik nie. Wat dink jy as jy daarna terugkyk?”

      Ek weet nie eintlik wat om te sê nie, maar antwoord tog: “Wel, ek was nie genooi nie. Weet ook nie wat ek sou gedoen het as ek genooi was nie. En ek weet ook nie eintlik wat daar gebeur het nie. Daar was baie mense uit Suid-Afrika. Maar nie juis baie uitgeweke ANC’s nie. Van die mense uit Suid-Afrika sou seker graag wou gehad het dat hulle gearresteer moes word. Dit sou groot nuuswaarde gehad het. Baie van hulle het openbare aandag gesoek. Ek dink Barnard was reg.” Persoonlik dink ek die Dakar-konferensie was belangrik. Dit het tot openbare bewusmaking vir ’n onderhandelde skikking gelei, en Thabo Mbeki as dié dryfkrag onder die uitgewekenes vir ’n onderhandelde skikking na vore gebring.

      Ná Dakar was Idasa wêreldwyd bekend, maar Dakar het ook Idasa as ’n moontlike bemiddelaar en onderhandelingsvennoot gekelder. Dit was té in die openbare oog en té op publisiteit ingestel. Beide die NP-regering en die ANC, by monde van hulle verteenwoordigers, het aan my gesê: Idasa is ’n buitestander tot die proses self. Dis ’n ope vraag of die dinkskrum van die Afrikaner Broederbond op 7 Februarie 1987, die stigting van die Onafhanklike Beweging in Mei 1987, en veral die konfrontasie tussen PW Botha en Besprekingsgroep ’85 op 20 Februarie 1987 en die openbare verklaring daarna, nie ’n gróter invloed as Dakar op skikkingprosesse gehad het nie.

      Ek het uit iets wat Thabo Mbeki op ’n keer oor Idasa gesê het, afgelei dat dié inisiatief en Slabbert en Boraine se bedanking uit die parlement, verband gehou het met Slabbert se besoek aan die ANC in Lusaka in 1985, toe hy nog die leier van die Progressiewe Federale Party was. Idasa is as ’n alternatiewe en béter roete as die destydse Suid-Afrikaanse parlement en die PFP gesien na invloed op die ANC en veral betrokkenheid by ’n regstreekse onderhandelingsproses. Indien my interpretasie korrek is, was dit ’n strategiese misrekening. Regstreekse bilaterale onderhandeling met die NP-regering en die ANC was immers onvermydelik. Dié moontlike misrekening het na alle waarskynlikheid ook later ’n rol gespeel in die verbrokkeling van die verhouding tussen Mbeki en Slabbert, en die verwyt dat Mbeki nie aan Slabbert die nodige erkenning gegee het nie.

      Die NI self was nooit afwysend teenoor Slabbert nie. Hy is nie as ’n “uitverkoper” beskou nie, altans nie in my teenwoordigheid nie. Hy is, na wat my meegedeel is, selfs ’n paar keer vir sy menings genader. Daar was eerder ’n gereserveerdheid omdat hy, volgens my NI-segspersoon, té ingestel op politieke mag en invloed was. Dis waarom hy die openbare forum gekies het, is gesê. Dis ongelukkig ook so dat sleutelfigure in die ANC dié mening gedeel het. Hulle wou hom nie as lid van die nie-amptelike Afrikaner-kontakgroep hê nie. Dat Slabbert toe nie deel van die Afrikaner-binnekring was nie, en ’n toegewyde liberaal-demokraat en nie ’n sosiale demokraat was nie, het in daardie stadium by sommige ANC’ers ’n rol gespeel. Die ANC-leierskap wat ten gunste van ’n onderhandelde skikking was, het nie net na Afrikaners as die heersende magselite gekyk nie. Hulle het gemeen dat Afrikaners binne die heersende stelsel nader aan die sosiale demokrasie as byvoorbeeld Engelssprekende liberales gestaan het. Daarom was hulle bereid om eerder met “rassistiese nasionaliste” as met die “liberaliste” te onderhandel. Hulle het eintlik ook nie ’n keuse gehad nie, want die onderhandelinge het tussen maghebbende partye en nie tussen individue met persoonlike aansien en invloed plaasgevind nie.

      Teen die NI se aanbevelings in het ek op ’n keer in Johannesburg, met die Dakar-konferensie nog vars in die geheue, vir Van Zyl Slabbert kortliks ingelig oor waarby ek betrokke was. Dit was tydens ’n seminaar-byeenkoms toe ons vir middagete verdaag het. Ek was waarskynlik