Rykie Roux

Skitternag vir dokter Vasti


Скачать книгу

’n Baie wesentlike versoeking. Maar nie genoeg rede om aan Jacques verloof te wees nie.

      ’n Brander skuim tot byna teen haar en sy spring op. Dis tyd om haar laaste goed in die rietskerm te gaan inpak. Dorothy wonder seker al waar sy is.

      “Vasti,” sê Frits.

      Hy kry ’n gevoel van déjà vu toe sy opkyk vanwaar sy kruisbeen op die slaapmat sit, kitaar in die hande. Dieselfde groen oë, dieselfde wit T-hemp, dieselfde riethut, dieselfde Indiese Oseaan op die agtergrond.

      En tog is alles anders as wat dit ’n week gelede was. Oor die nuus wat hy bring.

      “Wat maak jy hier?” vra sy, nes sy laas week knaend gevra het.

      Hy het haar nooit geantwoord nie, want hy het nie die moed gehad nie. Maar dié keer sal hy haar moet sê hoekom hy hier is, al is die rede nou oneindig meer kompleks.

      “Hoe gaan dit?” speel hy weer eens vir tyd. Laat haar oë net nog ’n rukkie lank so groen bly soos nou. Hy weet die skok van die nuus wat hy bring, gaan dit troebel maak.

      “Ek en Dorothy gaan môre terug. Die cholera is onder beheer en al die gebreekte arms is in gips. Die Rooi Kruis-dokters kan alleen aangaan.”

      “Weet jy al wat jy gaan doen noudat jy ’n ortopediese chirurg is?”

      “Dokter Peens werk by Berg-en-Dal Hospitaal en hy het gesê hulle is op soek na ’n ortopediese chirurg. Hy was ’n vriend van my ma.”

      Berg-en-Dal. Dieselfde hospitaal waar Engela Dekker werk. Engela wat hy laas week ontmoet het, met haar mond so wyd soos ’n sesbaansnelweg. Hy moet onthou om haar die dood voor die oë te sweer as sy Vasti enigiets laat agterkom. Dis beter dat Vasti die nuus van Jacques stuk-stuk hoor. Hy het klaar al hulle ander kennisse aangesê om hulle bekke te hou.

      “H-m, Berg-en-Dal. Baie lanie.”

      Sy lag onnutsig en haar neus kreukel en hy is lus en vreet haar op. Sy lag te min. Jacques kon haar altyd laat lag.

      “Dalk pas ek glad nie daar aan nie, dalk gaan werk ek ook vir die Rooi Kruis. Ek sal makliker by hulle inpas met my sendelingklere.”

      Hy spot haar altyd oor sy aantrek soos Sannie-gaan-weeshuis-toe: dienlike plat skoene, wasverbleikte geblomde rompies en gaar T-hemde. Die een keer wat sy soos ’n godin gelyk het, was in die rooi tafsyrok wat sy die aand gedra het toe sy aan Jacques verloof geraak het. Maar selfs met die onooglike klere is sy vir hom mooi, sy weet dit net nie.

      “Wat gaan jy doen?” vra sy.

      “Ek gaan Australië toe.”

      Haar oë word troebel soos wat hy nie wou gehad het dit moet word nie.

      “Dis so ver,” sê sy.

      Vasti van Vuren, onverstaanbare vroumens. Net verlede week was sy aan die brand in sy arms, maar toe stuur sy hom in sy maai, en nou lyk sy so verlate om te hoor hy gaan weg. Sy is nes sy ma, trek hom aan en stoot hom die volgende oomblik weer weg. Hy het homself belowe hy gaan nooit so ’n wipplankverhouding met enige vrou hê as wat hy met sy ma gehad het nie. En hy gaan daarby hou, verdomp!

      “Dis net vir ’n jaar,” sê hy bruusk.

      Doen hy die regte ding om nou weg te gaan? Sy weet dit nog nie, maar die hindernis wat sy verlede week tussen hulle twee ingegooi het, is nie meer daar nie. Moet hy munt slaan uit dié feit en haar vir hom opeis? Nou dadelik?

      Nee, hel, sy gewete sal dit nooit toelaat nie. Hy moet van haar wegkom voordat hy iets doen wat hom nog meer soos ’n streptokokkuskiem gaan laat voel.

      “Daar is iets wat ek vir jou moet sê.”

      Sy kom haastig orent.

      “Frits, nee.” Sy hou haar hande afwerend op. “Moenie dinge tussen ons ingewikkeld maak nie. Laat ons die tye onthou wat ons so lekker saamgewerk het.”

      Hy wil amper lag. Sy verwag ’n liefdesverklaring. Nou? Dan ruk sy hart. As sy maar net kon weet.

      “Dis oor Jacques,” sê hy.

      Sy vryf oor haar oë. “Ek en Jacques –”

      Hy val haar in die rede voor sy hom dit weer voor die kop gooi dat hulle verloof is. “Hy is dood, Vasti.”

      “Wát?” fluister sy.

      “Motorongeluk.”

      Sy gaan sit weer, stamp in die proses aan die kitaar se snare en ’n lelike klank bewe op.

      “Wanneer?”

      “Op die sewende Desember, verlede Vrydagmiddag.”

      Hy sien hoe daag begrip in haar oë. Dit was laas Donderdagnag dat hulle twee … Hy is vroeg Vrydagoggend hier weg. Jacques is dus daarna dood.

      “Wat het gebeur?”

      Haar oë is net so vuilgroen soos wat hy verwag het hulle gaan wees. Hy moet sy vuiste saamklem om te keer dat hy haar nie teen hom vasdruk nie.

      “Hy het hospitaal toe gejaag vir ’n noodgeval, oor ’n vierrigtingstopstraat geglip en kop teen kop met ’n ander motor gebots.”

      Vir presies watter noodgeval Jacques gejaag het, is een van die besonderhede wat hy eers van haar wil weghou. En hy wat Frits is se aandeel in die nagevolge van die ongeluk is nog een.

      “Hoekom hoor ek nou eers daarvan?”

      “Jy sit hier in die boendoes, onopspoorbaar op ’n selfoon. Ek kon seker gewag het tot jy terug is, maar ek het nie geweet of jy dalk nog weke hier gaan bly werk nie.”

      “Die begrafnis. Ek moet dadelik terug om dit te gaan reël. Hoe het jy hier gekom?”

      “Huurvlug.”

      Nes laas week se peperduur een. Dié keer was hy gelukkiger, want hier is mense wat wil huis toe en die vlieënier moes buitendien hierheen vlieg.

      “Wanneer gaan jy terug?” vra sy.

      “Die vlieënier sit en wag vir my op die vliegveld.”

      Sy staan dadelik op. “Kan ek saamkom?”

      Hy moet vir ’n lang oomblik teen die versoeking veg om ’n plan te maak dat sy kan, maar dan skud hy sy kop. “Daar is plek vir net drie passasiers. Twee van die Rooi Kruis-mense moet haastig terug Amerika toe. En jy kom mos buitendien môre.”

      “Maar wat van die begrafnis?”

      Dis eintlik die heel moeilikste stukkie nuus dié. Sy gaan woedend wees, want sy sal nie verstaan dat hy dit om haar ontwil gedoen het nie.

      “Jacques is klaar begrawe, Vasti. Gister al.”

      “Ek is sy verloofde! Hoe kon jy hom begrawe het sonder dat ek by was?”

      Groen vuur spoeg na hom, nes hy verwag het.

      “Jy weet hoe voel die kinderhuis oor Jacques. Hulle het alles gereël.”

      Dit lyk of die kinderhuis Jacques alles gaan vergewe. Hy was immers hulle ster. Onverstaanbaar, Jacques Hugo se charisma. Maar ook onweerstaanbaar. Vir hom wat Jacques se vriend was. En vir Vasti wat sy verloofde geword het. Dis dalk omdat Jacques altyd so hard probeer het om goed te wees, al kon hy dit nooit heeltemal regkry nie.

      Hy voel bitter sleg dat hy sy dooie vriend in die rug gesteek het deur sy verloofde te probeer afvry. Miskien is sy ma reg oor hom, hy is net so ’n misoes soos sy pa.

      “Hulle kon twee dae vir my gewag het,” sê sy verwytend.

      Hulle wou. Maar hy het hulle aangepor om die begrafnis agter die rug te kry. As Vasti daar was, sou sy van alles uitgevind het, en hy wou nie hê die lig in haar groen oë moet eensklaps uitdoof nie. Laat sy haar geloof in mense net nog ’n bietjie langer behou.

      “Soos ek gesê het, Vasti, jy sit op ’n onbereikbare plek,” probeer hy paai.

      Sy vou haar arms voor haar bors, haar gesig waswit.