sê Vasti net voor sy uitstap.
Die eerste mens wat Frits raaksien toe hy in die voorportaal staan en die banketsaal binneloer, is Vasti van Vuren. Fier en viets staan sy by ’n tafel, gereed om haar stoel uit te trek. Die lig in die saal is atmosfeerskeppend gedemp, maar dit verdoesel nie die glans van haar donker hare nie. Hy het haar presies drie honderd een en dertig dae gelede gesien.
As sy net enigiets anders gedra het as dáárdie rok. Is dit ooit dieselfde rok? Natuurlik is dit. Daar is net een rok met sulke kantinsetsels op die skouers. Dis die rooi aandrok van tafsy wat Jacques vir haar gekoop het.
Kammakastig.
Dit was verdomp hy, Frits, wat dit uitgesoek en daarvoor betaal het. Want Jacques het nie ’n benul gehad wat haar sou pas nie, en hy wat Frits is, het in ’n grap beduie hoe wyd die kring van ’n man se hande om Vasti se middel sou wees en hoe groot die bakkies van sy hande as dit om haar borste vou.
Jacques wou gewone blink satyn vat, maar dis sý vingers wat die tafsyrok bevoel het. Sy ma het immers al die jare om den brode klere en gordyne gemaak en hy ken lap. Jacques het soos gewoonlik nie geld gehad om vir die rok te betaal nie en hy het die geld vir sy vriend geleen. En dit weggepraat elke keer as Jacques hom wou terugbetaal, want dit het hom plesier gegee dat Vasti iets besit en dra wat hy in die geheim gekoop het.
Dit plesier hom, ontdek hy tot sy misnoeë, nog steeds.
Hy raak aan die skeermesrapsplek teen sy kakebeen. Wil sy met die rok te kenne gee dat Jacques nog steeds tussen hulle is?
’n Klomp mense skree iewers opgewonde. Hy kyk rond. Daar is ’n reuse-TV in die ingangsportaal staangemaak vir die groot wedstryd waarin die Blou Bulle speel.
“Ag nee, ons sit aan dieselfde tafel as die VVV en AtotZ,” sê Engela Dekker hier langs hom en beduie na die lys met die tafelplasings wat teen die muur opgeplak is.
“Van wie praat jy?” vra hy.
“Vasti van Vuren se voorletters spel mos VVV. En glo my, as jy haar in die teater in aksie sien, sal jy sien sy is ’n vreemde vlieënde voorwerp,” sê Engela laggend.
Frits gee ’n laggie. “Waar kom jy daaraan?”
“Ons gebruik voorletters op die diensroosters en almal in die teater noem haar so.” Sy skud haar heuningblonde hare en leun nader tot haar gesig amper aan sy nek raak. “Tot die skoonmakers en die reps,” fluister sy vertroulik.
Engela is mooi, maar sy is te naby, dink hy en moet hom keer om nie terug te trek nie.
“Ek gaan vanaand almal so jaloers maak omdat ek saam met die aantreklike nuwe narkotiseur hier is. Dankie dat jy my gevra het, Frits.”
Haar parfuum walm vroulik in sy neusgate op, iets blommerigs en soet. Moet hy vat wat Engela so gretig aanbied? Dit sal die regte ding wees om te doen, veral vir klein Jacqueline.
Hy voel weer die baba se donssagte wangvelletjie teen sy lippe netnou toe hy Engela gaan haal het. Die feit bly staan: hy het ’n verpligting teenoor die kind. En laat hy nou maar eerlik wees, dis vir hom lekker dat Engela maak of hy iemand spesiaal is.
Sy stap die saal binne en Fritz loop agter haar aan, sy opsigtelik op haar gemak, hy selfbewus in die ellendige aandpak wat hy spesiaal vir die okkasie moes huur.
Hy kyk op. Vas in Vasti se cremesoda-oë, blink en bruisend en groen, groener, grasgroen.
En hy onthou hoe lyk daardie twee oë teen haar wit vel as ’n mens haar T-hemp opstoot. Spies!
Uit die skrik wat momenteel in daardie selfde groen oë wys, weet hy sy het gehoop hy gaan vanaand nie kom nie.
Hy kyk weg.
“En wie is AtotZ?” vra hy vir Engela. Hy kan Vasti se blik tot hier op hom voel brand.
“Aldo Zeegers, wie anders?” fluister Engela.
Frits kyk terug na Vasti. Sy sit langs Aldo.
Aldo Zeegers is die administrateur van die hospitaal. En AtotZ is ’n uitstekende bynaam vir hom, want met sy aanstellingsonderhoud het Frits dadelik gesien dat Aldo eens op ’n tyd dalk ’n dokter was, maar nou ’n ambisieuse administrateur is wat die hospitaal soos ’n kernaanleg bestuur.
En dis hierdie … hierdie MBA-gestempelde haan wie se geselskap Vasti bo syne verkies.
Engela haal haar sjaal af en hang dit oor een van die leë stoele so ver as moontlik weg van Vasti en Aldo. Presies nes hy voel, dankie, dink Frits.
Onder die gedempte lig in die saal lyk Engela se skouers soos goud. Hy weet Vasti s’n lyk in maanlig so wit soos karringmelk. Dis genoeg, Spies. Engela verdien ’n goeie man, want in baie opsigte is sy die engel wat haar naam impliseer. Is hy daardie man? Hy weet nie.
Sy besluit om terug te kom uit Australië het niks met Vasti te doen nie. Amper ’n jaar het sedert Jacques se dood verbygegaan en sy het hom nooit probeer kontak nie. Sy wil hom nie in haar lewe hê nie en dis tyd dat hy dit aanvaar.
Vasti is verby, verlede, verbode. Maar hoekom was haar mond dan ’n roosknop wat so onverwags onder sy lippe geblom het toe hy haar daardie een keer … Stop net daar, Spies.
Hy vat-vat weer aan die raps op sy kakebeen. Hy herinner homself daaraan dat hy die pos by Berg-en-Dal Hospitaal aanvaar het om uit te vind of hy Engela en Jacqueline permanent deel wil maak van sy lewe. Deur sy verantwoordelikheid teenoor hulle na te kom, sal dit voel of hy die kollektiewe vergrype van mans, oor die algemeen, en sy pa in die besonder, help regstel.
Sonder om na Vasti te kyk kan hy haar gesig voor hom sien soos sy daardie aand in Mosambiek in die maanlig gelyk het: die helder vel met die blos op haar wange meer prominent en haar lippe nog rooier en gekneus soos hy hulle gesoen het. Nadat sy bewend in sy arms was, het sy nietemin gekeer dat hy haar in die intiemste van omhelsings intrek.
Nes sy ma. Aantrek, wegstoot.
Partykeer het hy hierdie fantasie dat hulle liefde maak, dié keer tot by die volle voltrekking – sy verbeelding sukkel nooit om die presiese besonderhede daarvan op te tower nie – en dat hy daarna van haar wegstap, bevry van die paljas wat sy al amper vyf jaar oor hom het. Want hy is oortuig daarvan dat die een en enigste rede waarom Vasti vir hom so onweerstaanbaar is, is omdat sy nog altyd verbode was.
Nie dat hy van plan is om ooit saam met haar te slaap nie. Hy dink met siddering aan sy middelste suster se laaste dae. Toe al het hy homself belowe: nooit, ooit hop hy sommer van bed na bed nie. En die hele katastrofe met Engela het hom nog meer daarvan oortuig.
“Goeienaand, Frits, bly jy is hier vanaand. Hallo, Engela!” roep Aldo uit.
Het Zeegers ’n bietjie koeler geraak toe hy Engela gegroet het? wonder Frits. Dalk weet hy van sy bynaam.
Frits gaan gee Aldo hand. Goeie maniere vereis dat hy Vasti ook met die hand groet. Haar hand verdwyn soos ’n klein, warm diertjie in syne en vyftig lang weke waarin hy haar nie gesien het nie, val weg.
“Hallo, Vasti,” groet hy.
“Frits,” erken sy bloot sy teenwoordigheid en trek haar hand onmiddellik terug.
Hy voel teleurstelling bitter soos gal in hom opstoot. Hy is steeds nie vir haar van belang nie.
“Ken julle mekaar?” vra Aldo verbaas.
Frits laat dit aspris aan haar oor om te verduidelik.
“Ons was albei onervare kliniese assistente: Frits in narkose, ek in ortopedie,” is haar niksseggende antwoord.
Hoekom bly hy hoop dat sy vir hom omgee? Omdat hy passie in haar kan wakker maak? Dis skynbaar nie genoeg vir haar nie.
“Kan ek jou sommer voorstel aan Zelda en Etienne Coetsier ook?” vra Aldo hoflik. “Albei is bekende gesigte hier by Berg-en-Dal.”
Frits draai na die paartjie wat oorkant Vasti-hulle sit en hy moet keer dat sy mond oopval oor die kontras tussen die twee. Selfs as man kan hy sien dat Etienne mooi is. Met sy dik, steil blonde hare en teddiebeerbruin