spyte van haar stelselmatige ontnugtering selfs voor sy hulle betrap het, maak sy brutale verraad bitter seer. Almal praat mos, en die laaste een om uit te vind is die arme, stiksienige vrou. Vernederde, ontoereikende vrou.
Waarom het hy tog met haar getrou? Was hy eers lief vir haar en toe vind hy uit dat sy tog nie al sy behoeftes bevredig nie? Sy het hard probeer. Waar het sy dan tekortgeskiet? Hy het nooit enige aanduiding gegee dat hy haar ontoereikend vind nie, maar terwyl hy die goeie eggenoot gespeel het, het hy ’n ander vrou nagejaag. Dié oënskynlik verstandige man kan toe ook deur wellus oorrompel word.
Hulle het nog in haar huis gewoon, die huis waarvoor haar pa die deposito geskenk het. Ferdie het by haar ingetrek, maar hulle het beplan om in die nabye toekoms ’n nuwe huis te laat ontwerp deur ’n argitek. Hulle het glad gaan erwe kyk in goeie voorstede en moes nog net besluit waar om te koop. Daardie huis sal nou nie meer gebou word nie. In elk geval, nie vir háár nie. Met die woorde “Gaan soek vir jou ’n ander blyplek” het sy hom uit die huis verban. Nou is hy tydelik tuis in ’n residensiële hotel in Arcadia.
Juis nou wil sy hom nié ’n guns vra nie. Haar wrewel is bitter in haar keel. Maar sy sal moet. Bob-hulle weet van niks.
Sy kan dit oor die boeg gooi dat Ferdie op dié manier kan boete doen vir wat hy haar aangedoen het. Steeds aandoen. Die trane, die vernedering, die woede. Die gevoel dat sy nie goed genoeg is nie. Minderwaardig en nie meer jonk genoeg nie. Sy is nou wel nie ’n skoonheid nie, maar sy’s intelligent, ’n professionele vrou in haar dertigs wat hard probeer om goed te lyk. Sy trek mooi aan en versorg haar. Ferdie het hoë standaarde en verwagtinge gehad. Hy het kwansuis daarvan gehou dat sy vrou ’n brein het en vir haarself kan dink. Maar sy moes oppas dat sy nie gewig aansit nie. Hy wou hê sy moes op ’n sekere manier aantrek en haar altyd grimeer. Hy wou ’n trofee-vrou gehad het. Sy kon haarself nou nie as sodanig beskryf nie, maar sy het gedink dat sy merendeels aan sy standaarde voldoen. En daar’t hy nou geval vir ’n maer, sexy blondine met nie te veel verstand of geleerdheid nie.
Hy, aan die ander kant, is vreeslik slim en gevat en baie puntenerig oor sy voorkoms en beeld. Niemand kry hom onder nie. Hy wen sy hofsake, al sy argumente. Dit het nooit gehelp om met hom te stry nie. Erin het maar altyd tweede gekom in enige onderonsie. Hy is ’n verbete argumenteerder en ’n lelike verloorder. Hy weet net waar om iemand se swak plek uit te ruik en die mes daar in te steek. In die hof, met sy swart toga, is hy Dracula, spot sy altyd. Mense is bang vir hom.
Hy wou nooit troeteldiere in die huis hê nie – dit sou glo die huis laat stink. Sy wou so graag ’n hond of kat gehad het, want sy het met diere grootgeword. Nou gaan sy vir haar ’n Great Dane kry, wat sy nog altyd begeer het, en sommer ’n Siamese kat ook. Die kat kan by haar op die bed slaap. Waarom het sy nie gedínk dat iemand wat nie van troeteldiere hou nie, ’n skroef los het nie? Sy ís so lief vir diere.
Sy het waaragtig toegelaat dat Ferdie haar twee jaar lank manipuleer. Sy is kwaad vir haarself oor haar swakheid. Hoe het dit gebeur dat sy vir dié man val? Waar was haar sesde sintuig?
Nou gaan sy hom trompop konfronteer, eise stel en eenvoudig aandring dat hy help. Behoed sy siel as hy nie wil nie. As sy ooit op die oorlogspad was, is dit nou. Die ou Erin is dood. Hier kom die nuwe een.
Erin loop by die ontvangs van Ferdie en twee ander advokate se kamers in en kan spoeg van woede toe sy sien dat Janet, die verleidster, die tert, nog stééds daar sit, al het Ferdie in wat seker ’n oomblik van swakheid en berou was, gesê hy gaan haar vra om te bedank. Janet kyk half verskrik, half uitdagend op. Staan stadig uit haar stoel op. Hare perfek gesny in ’n blonde vag, grimering taamlik swaar, maar perfek, ’n blou breistofrok vleiend aan haar mooi lyf. Erin voel somber in haar swart broekpak, haar voshare vandag te styf agter haar kop vasgemaak. Sy kan nooit so sexy soos dié Janet wees nie, al probeer sy hoe hard. Elegant kan sy haal, maar niemand gaan in die straat hul nek verrek om twee keer na haar te kyk nie. Sy het nooit gedink skoonheid is só belangrik nie. Mense moet ander eienskappe ook hê om hulle werklik aantreklik te maak, het sy geglo. Nou moet sy aanvaar dat voorkoms tog maar vir ’n man soos Ferdie van opperste belang is.
“Ek kom sien my man,” kry Erin darem kalm uit sonder dat haar stem skril word. “Hy ís nog my man. Jy hoef my nie aan te kondig nie.”
Sy loop na Ferdie se kantoor, maak die deur oop en loop beslis in. Hy kyk op van sy lessenaar waar hy agter ’n groot oop wetboek sit en aantekeninge maak. Die ongemaklikheid kom lê dik, voelbaar tussen hulle.
Hy staan op. “Hallo, Erin.”
“Hallo, Ferdie. Ek is net hier omdat ons jou hulp nodig het en ek skat jy skuld my nogal groot vir wat jy my aangedoen het. Dis payback time.”
“Wie is ‘ons’?” vra hy, sit sy pen neer en stap agter die lessenaar uit. Sy ruik die bekende naskeermiddel. Sy het dit nog vir hom gekoop. Haar emosies woed stormagtig, maar sy dwing haar tot kalmte.
“Bob het my gebel. Die Malazas eis deel van Misty en die MacFarlanes se Annendale. Bob-hulle is baie omgekrap.”
“Maar jou mense boer al vir meer as ’n honderd jaar daar, van vóór 1913! Dan sal ’n grondeis mos nie slaag nie.”
“Ja, so het ek vir Bob gesê, maar die Malaza-clan was ook nog altyd daar. Soos ons het hulle daar grootgeword. Jy sal met Bob moet praat. Mense raak maklik paniekerig as hulle nie vertroud is met die grondregtewette nie.”
“Ja, maar óns weet mos hoe werk die Wet op die Herstel van Grondregte en Grondhervorming en die Kommissie op die Herstel van Grondregte. Als sal oukei wees, Bob-hulle het ’n sterk saak teen die eisers.”
Hy beduie dat sy by die koffietafel moet gaan sit en hy gaan sit oorkant haar. Hulle praat soos hoflike vreemdelinge, maar Erin is intens bewus van die frons tussen sy wenkbroue, sy duur pak, vleklose wit hemp, soel vel en ondersoekende donker oë. Sy nabyheid. Janet sit natuurlik daar buite en wonder wat praat hulle. Hoop sy hulle bespreek hul egskeiding?
“Bob het mos nie huurarbeiders op Misty nie?” vra Ferdie. “Dit wil sê mense wat op die grond woon en hulle vee daar laat wei of gewasse plant en in ruil daarvoor arbeid aan die eienaar of huurder verskaf.”
“Die Malazas woon daar, maar hulle het nie vee nie. Die werkers is al geslagte lank daar, hulle ouers en grootouers was ook, maar hulle is almal betaal vir hulle arbeid, met geld en kos.”
“Nou ja, dit maak van hulle plaaswerkers en nie huurarbeiders nie,” sê Ferdie. “Daar is soveel oneerlike eise en kansvatters dat ’n mens versigtig moet wees. Bob moet net kan bewys dat die Malazas ’n kontantloon ontvang het, eerder as weidings- en plantregte.”
“Bob sê hy kán bewys hulle het vergoeding ontvang oor die hele tydperk wat hulle op die grond gewoon het.”
“Dan is daar, soos ek gesê het, nie regtig ’n probleem nie.”
“Ongelukkig wil Bob nou hê ons moet die naweek plaas toe gaan sodat ons die hele besigheid kan bespreek.” Sy sien die onwilligheid op sy gesig. “Ek skat ons het nie juis ’n keuse nie. Dis ’n krisistyd vir hulle. Ons gaan bly by … my ouers op Dunedin.” Hy weet sy is nie gek oor Bob se vrou Marianne nie en daarom bly hulle nooit op Misty nie. Sy gee met haar huiwering te kenne dat hy die reg om haar ouers ook syne te noem verbeur het.
Hy sug en kyk weg, asof hy dit swaar oorweeg. “Ag, nou ja, dan moet ons seker gaan.”
Erin bekyk hom met skrefiesoë. “Ons sal maar moet toneelspeel, my amper gewese man. Ek kan hulle nie nou nog skok met jou rondlopery nie. Ek sal hulle later vertel.”
Hy knik, vermy haar oë. “Ek sal jou Saterdagoggend agtuur kom haal.”
“Goed.”
Sy groet koel en loop uit. Janet sit meerkatregop op haar stoel, nuuskierig en gespanne. Erin knik net vir haar en stap na die hyser, vies vir haarself omdat sy van kop tot tone bewe. Hopelik het sy ten minste vir Ferdie gelyk asof sy in beheer is van haar emosies. Nou het sy die verspotte begeerte om in trane uit te bars. Sy is meteens verlore, voel ’n vreeslike verlies. Sy moet haar regruk en byt op haar lip.
Daar