Sylvia MacFarlane haal haar pos af by die poskantoor op Ermelo en sien die geregistreerde kennisgewing van die Grondeisekommissaris soos ’n slang in haar hand. Sy word yskoud, vries eintlik van kop tot tone van skrik. Sy gaan staan in ’n hoek van die poskantoor, maak dit oop en kyk. Wie op aarde eis wat? Sy sien dis die Malaza Family Trust and Land Claims Committee. Wat? Kon die Malazas sowaar saamgesweer het, en nou eis hulle Annendale, háár erfplaas? Binne net dertig dae moet sy iets doen om dit te keer. Die brief is ’n bliksemslag uit ’n blou hemel.
Verslae en bewend staan sy met die kennisgewing in haar hande, haar knieë so lam dat sy van die poskantoor na die naaste kafee moet strompel en soet tee bestel. Daar lees sy die kennisgewing oor en oor, probeer om dit klein te kry. Sy weet nie wanneer sy laas so geskok was nie. Dis vermetel verby, en verregaande, en soos iets uit ’n nagmerrie, maar dáár is dit – swart op wit en heeltemal amptelik. Iewers in staatskantore sit gesiglose, genadelose beamptes en werk gevoelloos met mense se hele bestaan, asof hulle net syfers is en nie wesens van vlees en bloed wat hartaanvalle en beroerte kan kry van skok nie. Asof hulle nie onlosmaaklik verbind is aan hul bodem nie.
Nadat Sylvia haar tee gedrink het, gaan sy na die dameskleedkamer om haar gesig met koue water af te spoel. ’n Doodsbleek vrou kyk na haar terug uit die spieël. Met bewende hande haal sy haar pakkie sigarette uit en steek een aan. Sy trek die rook diep in haar longe in. Emfiseem is haar voorland, dit weet sy, maar ’n sigaret kalmeer haar. Sy druk die sigaret in die wasbak dood, spoel dit skoon en gooi die stompie in die drommetjie.
Net daarna bel sy haar seun, Mac, en vertel hom die ontstellende nuus.
“Kom so gou jy kan plaas toe dat ons dit kan bespreek.”
“Ma, dit klink nou baie erg,” kom sy besorgde en ontstelde stem oor die selfoon. “Maar ek sal Saterdag afvlieg, en Ma moenie worry nie, ons sal dit hanteer.”
Dit is een van die swartste dae in haar lewe.
“Annendale is my erfgrond. My familie, my ouers, het al die jare op Annendale geboer en gewoon. En die Buchanans ná hulle. Andrew woon nou daar. Ek kan dit mos nooit verkoop nie. Is dit nie verregaande dat die klomp Malazas dit nou eis nie?”
Mac kyk met begrip en deernis na haar. “Ek kan verstaan dat Ma dit nie wil verkoop nie, al is daar nou skielik die grondeis. Maar is dit nie vir Ma ’n swaar las om na Annendale én Lothian om te sien nie? Ek is net ’n deeltydse boer. Ma moet na alles kyk en ons weet tog dat Ewan nie gaan boer as hy dan nou medies wil swot nie.”
“Met Andrew se hulp kan ek maklik al twee plase aan die gang hou,” stry Sylvia. “Hy is ’n baie goeie plaasbestuurder. En buitendien, ek het vir hom daardie huis op Annendale gebou. Dit het baie goeie sekuriteit en die radiobeheer sodat hy ons contact tussen die boere en die polisie kan wees. Hy help om ons veilig te hou. As daar enige misdaad hier rond gebeur, is dit meesal hy wat die boere en polisie oor die radio waarsku. Dit het alles geld gekos, maar die plantasies is nou net só dat dit ’n goeie inkomste behoort in te bring.”
“Ja, goed, Andrew is nuttig as plaasbestuurder, maar wat ek nie kan kleinkry nie, is hoekom die vee-, voertuig- en koperdiefstal wat nou so erg is, nie minder word as hy dan so help met veiligheid nie.”
“Die veiligheid van die distrik hang nie net van hom af nie, Mac. Hy kan net so goed wees soos samewerking met die polisie hom toelaat, en dit sukkel maar deesdae.”
“Ma is tog so partydig vir hom. Altyd aan sy kant.”
“Ek is nie net partydig nie, Mac. Ek sal moeilik sonder hom klaarkom.”
Sylvia weet Mac dink sy hou Andrew aan en beskerm hom oor die tragedie van sy gesin. Sy wonder of Mac nie jaloers is omdat Andrew hom byna soos haar eie seun gedra nie. Ten minste is Andrew altyd naby, terwyl Mac in Pretoria praktiseer. Geliefd maar meesal afwesig. Andrew en Mac verskil hemelsbreed en hulle kom eintlik net ter wille van haar oor die weg.
“Weet Andrew al dat daar ’n grondeis op Annendale is?” vra Mac.
“Nee, ek het nog uitgestel om hom te vertel. Hy sal net so geskok wees om te hoor dat dit juis die Malazas is.”
“Ja, ek kan my net indink hoe kwaad dit hom gaan maak.”
Sy sit met die kennisgewing van die grondeis in haar hand, stokstyf van wrewel. Hoe durf die Malazas aanspraak maak op ’n plaas wat al van lank voor die Anglo-Boereoorlog in haar familie se besit is?
“Moenie worry nie, Ma,” troos Mac weer. “Ons gaan dit beveg, prokureurs, advokate en wie ook al nodig is, kry om ons te help.”
“Ja, met alles wat ons het. Ek gaan waaragtig nie sommer boedel oorgee nie. Bob het my gesê dat hy dadelik vir Erin laat weet het. Haar Ferdie is mos ’n advokaat en hy kan ons help. Bob sê hulle twee kom dié naweek kuier en dan kan ons almal koppe bymekaarsit.”
Sy smag na ’n sigaret, maar waag dit nie om voor haar geneesheer-seun te rook nie.
Mac, Sylvia en Andrew sit later die naweek op die stoep van Lothian en praat oor die grondeise.
“Mac dink ons kan ons suksesvol teen die eis verdedig,” sê Sylvia vir Andrew, en buk af om te speel met die ore van haar Skotse terriër Wallace, wat by haar voete lê. Die ander honde lê ’n entjie weg en hou haar oor hul pote dop.
“Ek sou so dink!” sê Andrew hoogs verontwaardig. “Hierdie regering moenie dink hulle kan hier doen wat die fokken Zimbabwiese regering met sý mense doen nie, die beste plase eenvoudig van die wit boere afvat. Dis ’n donnerse skande hoe dit daar gaan. Ons ou plaas behoort lankal aan ’n Zanu-politikus. Moet ons nou hier dieselfde paadjie loop?”
Sy uitdrukking is kwaai en bitter, en Sylvia verstaan dit. Hy het sy geboorteland verloor en nou is hy bang die geskiedenis herhaal hom. Hy wil nie van Annendale afgegooi word nie. Ongelukkig dat dit op Annendale is waar hy moet bly, en ewig aan die tragedie van die moord op sy gesin herinner word. Hy het egter nie geprotesteer toe hy die pos as plaasbestuurder daar kry nie, en hy was dankbaar dat sy vir hom ’n nuwe huis op die plaas laat oprig het.
“Ek wil ook nie hê jy moet jou nuwe tuiste verloor nie, Andrew,” sê sy. “Dit was ingesluit in ons dienskontrak.”
“Nee jissis, dit sal ’n gatslag wees. Ek is ook nie meer vandag se kind nie, Sylvia. Ek is al in die veertig. Ek betaal nog onderhoud vir my kind en vandag is ek ’n arm man. Nes my pa moes ek als verloor en weer oorbegin. Ek sien nie kans om gou weer te trek nie.”
Sylvia voel geweldige deernis vir hom. Sy lewe is in haar hande. Mac sit en tuur net in die verte en neem nie aan die gesprek deel nie.
Andrew kyk na Sylvia met sy ysblou oë, sy pa se oë. “Die denneplantasie op Annendale is reg vir kap. Dit behoort vir jou ’n pot geld in te bring.”
“Ons kan nie kap as daar ’n grondeis teen ons ingestel word nie, Andrew. Dan gaan staan alles mos stil.”
“Die fokken Malazas is ook oral – op Misty, Annendale, ander plase. Hulle verbeel hulle nou hulle kan die grond afvat net oor hulle jare lank daar geplak het. Miskien moes jy en Bob Bell nie vir hulle sulke mooi huise gebou het nie. Hulle bly gans te lekker. Nou wil hulle sommer alles vat.”
Mac staan op. “Verskoon my, ek wil net ’n paar oproepe gaan maak.”
Nadat hy weg is, sug Sylvia. Andrew kan Mac tog so irriteer wanneer hy stry oor die regte van werkers en of ’n mens hul lewens moet probeer verbeter. Andrew dink ná Zimbabwe se debakel net in terme van grondonteiening en onwettige plakkery. Hy sien gevaar om elke hoek en draai. Maar vandag kan sy nie help om te dink hy het ’n punt beet nie. Sy voel net so bedreig, verontreg en bekommerd.
“Jy weet, ek het altyd gedink julle moet my veras as ek doodgaan en my as strooi oor Annendale,” sê sy. “Ek kan netsowel doodgaan as ek die grond moet verloor.”
Hy frons. “Moenie praat van doodgaan nie, Sylvia. Jy gaan nog lank lewe. Al moet ek daarvoor sorg.”
Sy glimlag. “Hoe gaan jy daarvoor sorg, Andrew?”