“Jis, dankie, ou Ferdie. Dit neem ’n moerse las van my skouers af.”
“Ek gaan nog bietjie navorsing doen en ’n artikel vir Landbouweekblad skryf oor dié katnes van grondeise,” sê Erin. “Ek sal sommer die agtergrond van hierdie omgewing se plase en die rol van die Swazi-konings ook navors en dit vir Ferdie gee. Ons moet soveel skietgoed bymekaarmaak as wat ons kan.”
“Ja, elke bietjie help,” glimlag Ferdie, en maak sy konjak klaar. “As julle my sal verskoon, ek gaan inkruip. Ek het ’n harde week agter die rug.”
Almal sê vir hom nag, maar Erin teug nog aan haar konjak en gesels met haar familie oor die plaas en wat in die omgewing aangaan. Sy stel die bedtoeganery uit. Hoe gaan dit wees om weer ’n dubbelbed met Ferdie te deel? Sy is stokstyf van spanning. Naderhand moet sy haar tog verskoon, want haar ouers lyk moeg en Bob-hulle kondig aan dat hulle huis toe moet gaan.
Toe sy in die kamer kom, is Ferdie in die bed en die bedliggie brand aan haar kant van die bed. Sy kry haar toiletware en slaapklere en gaan bad. Daar is nog stoom in die badkamer nadat hy gestort het en sy nat handdoek is mooi haaks oor die reling gehang. Sy tandeborsel, skeergoed, naskeermiddel en deodorant is netjies op die wasbak uitgepak. Hoekom sien sy dit tog nou so duidelik raak? Seker oor dit die laaste keer sal wees.
Sy verwyder haar grimering, borsel haar hare, bad vinnig, borsel tande, en gaan uiteindelik bed toe, waar sy aan haar kant inklim en probeer om nie te bibber nie. Ferdie lê met toe oë, sy arms oor sy bors gekruis. Soos ’n houtstomp. Sy wonder of hy slaap, maar twyfel of dit wel die geval is. Nadat sy die bedliggie afgeskakel het, maak sy haar so gemaklik soos sy kan, maar sy kan hom hoor asemhaal. Soms het hy gesnork, veral as hy die aand goed gekuier het, maar nou is hy byna tjoepstil.
Gespanne lê sy daar. Hy moet net nie aan haar raak nie en sy gaan vir seker nie aan hom raak as sy dit kan verhelp nie. Die bed is nie so breed nie. Sy sal byna op die rand moet lê. Sy probeer om nie te dink aan hoe hulle altyd styf teen mekaar gelê het in die koue wintermaande nie. Vaak is sy beslis nie. Daarvoor is sy gans te gespanne.
Teen haar wil begin sy allerhande dinge in die geheue terugroep. Hoe goed onthou sy nie die eerste keer toe sy Ferdie huis toe gebring het nie. Hy het hier geslaap en sy in haar ou kamer. Daardie naweek het hy al sy sjarme ten toon gestel. Hy het skape gekyk saam met haar pa, haar ma se kos geprys, ook Marianne s’n toe hulle daar gekuier het, en na oupa Rob se stories geluister asof dit die lekkerste ding in die wêreld is. Oupa Rob het vertel hoe die oorspronklike Skotte hulle in Nieu-Skotland kom vestig het. Hy het begin by koning Mbandzeni en die Swazi-konings wat gevolg het. Daarna het hy vertel van Alexander McCorkindale wat die Skotse immigrante in Transvaal gevestig het en die Glasgow and South African Commercial Agricultural and Mining Company gestig het. Die hele aand lank het oupa Rob vertel en Ferdie het geduldig geluister na alles.
“Hulle het name gehad soos Dunn, Arthur, Straker, Bell, Duncan, MacFarlane en Buchanan,” het oupa Rob vertel. “Die Skotte het hulle een dorpie Roburnia genoem, na die digter Robert Burns. Nog een is genoem Industria en wat vandag Piet Retief is, was Londina. Die plekke en plase se name was Rinkink, The Glen, The Brook, Bonne Braes, Lake Banagher, Lothair en Lochiel. Ons plase is mos nou Misty en Dunedin. Die Duncans het vir Annendale en die MacFarlanes het nog altyd vir Lothian gehad. Roburnia is later deur die Boere na Amsterdam verander. Die klomp Skotte het baie verafrikaans, omdat hulle meesal met Afrikaners ondertrou het.”
Dit is alles stories wat sy male sonder tal gehoor het, maar sy het met haar skouer teen Ferdie s’n gesit en alles weer aangehoor. Alles van voor af geniet, want sy het haar verbeel sy is in ’n waas van liefde en haar familie dink die man wat met haar wil trou, is wonderlik en ’n goeie vangs.
Daarna het Ferdie gesê: “Ek skat oupa Rob is die bobaas-storieverteller van die kontrei en vanaand is sy reputasie gestand gedoen.”
Sy was verbaas oor die spot wat sy in sy stem bespeur het, maar sy het dit nie te ernstig opgeneem nie. Oupa Rob het gehou van ’n gehoor wat aan sy lippe hang en mense van elders kon dit seker nie soveel waardeer soos sy nie. Nou dink sy weer daaraan en dit pla haar.
Marianne het daardie naweek bykans jaloers gelyk oor dié nuwe liefde en iets katterigs kwytgeraak oor hoe slim Ferdie was en hoe Erin sou moes byhou.
“Slaap jy?” kom Ferdie se stem meteens uit die donker en onderbreek haar gedagtegang.
“Nee.”
“Jy gaan my nie vergewe oor Janet nie, gaan jy?”
Erin se hande hou styf aan die duvet onder haar ken vas. “Nee, Ferdie, ek gaan nie. As dit net ’n one-night stand was, soos ek in elk geval vermoed jy met ander vroue gehad het, kon ek dit nog hanteer, maar jy en Janet het erken dat dit al maande lank aangaan. Om te dink dat ek daardie dag by jou kantoor ingegaan het met die ginekoloog se aanbeveling dat ek vir in vitro-bevrugting moet gaan, en daar kry ek julle twee omtrent bo-op die lessenaar aan die vry en hyg! In flagrante delicto, soos julle regsgeleerdes dit sou beskryf. Skaam jy jou nie dat jy sommer daar in jou kantoor nie jou hande van die tert kon afhou nie?”
Daar is ’n stilte, en toe kom sy stem hees uit die donker: “Jy is vulgêr, Erin.”
Eers is sy stomgeslaan, en toe sit sy regop, kokend van woede en verontwaardiging.
“Jý … jý …” Sy stik amper. “Jy sê ék is vulgêr? Ag asseblief, ek het nog nooit met ’n man op my lessenaar gevry nie. As ek nie op daardie oomblik ingebars het nie, het jy en sy seker van julle klere ontslae geraak en dan het jy haar net daar gesteek. En die deur was nie eens gesluit nie! Jou lae luis! Om te dink dat ons nou voorgee dat alles nog reg is tussen ons terwyl ek jou skaars voor my oë kan verdra. Jy het gemaak dat ek my werk by die koerant bedank toe ek ’n bestuurspos aangebied is. Ek dans al te lank na jou pype, jou selfsugtige … jou …” Sy kan nie ’n woord vind wat nie ’n skel- of vloekwoord is nie.
“Goed, goed, alles is my skuld. Mea culpa …”
“Ag, los jou donnerse regs-Latyn.”
“Jy het eerste begin met in flagrante delicto.”
Sy stem is kil terwyl sy blaas en proes soos ’n woedende bul. Hy doen dit altyd, want hy weet dit ontsenu die teenstander. Sy dwing haarself kalm.
“Die punt is, ek gril vir jou,” sis sy. “Los my uit. Ek wil probeer slaap.”
Maar sy slaap nie, en sy vermoed hy ook nie. Eintlik kry sy koud ten spyte van die dik duvet en ekstra komberse, en nou is daar geen gedeelde liggaamshitte nie. Later hoor sy hom liggies snork. Sy neem haar voor om nooit weer in dié slaapkamer te slaap nie. Dit hou te veel herinneringe in. Herinneringe van knus in mekaar se arms lê, en van begeerte wat bevredig word. Geluksaligheid.
Dis alles nou weg. Haar wrok is eenvoudig te groot. Nooit sal die liefde wat daar was, herwin word nie. Die man aan wie sy haar lewe toevertrou het, het verraderlik en selfsugtig uitgedraai.
Sy raak kort voor dagbreek eers aan die slaap, nadat sy vir wat soos ’n ewigheid gevoel het met haar gedagtes en emosies geworstel het.
Die volgende oggend word sy met dik oë wakker en sy skrik vir haar gesig in die spieël. Sy kan nie met ’n donkerbril voor die mense aan die ontbyttafel verskyn nie! Sy sal hulle maar net met haar geswelde oë moet trotseer. Die swelsel behoort na ’n uur of wat te sak. Nadat sy die badkamer gebruik het, neem Ferdie sy beurt. Hulle praat nie met mekaar nie. Die stilte hang swaar tussen hulle. Hy kyk haar onderlangs aan en sien natuurlik die dik oë raak, maar sy draai haar gesig weg.
Sou hy regtig versoen wou geraak het, wonder sy terwyl sy haar denim, stewels en ’n dik blou trui aantrek. Het hy gisteraand ’n voeler uitgesteek toe hy die woord vergewe gebruik het? Tot nou toe het hy nog nie regtig om vergiffenis gevra nie. Seker te trots om hom so nederig te hou.
Of anders is hy so gek oor die sexy Janet dat hy vir haar deur vuur sal loop. Erin het nog nooit iemand so verfoei soos daardie vrou nie. Sy haat James Buchanan se moordenaars, maar hulle is gesigloos. Janet se gesig is alte duidelik voor haar.
Sou Ferdie nie dalk siek en sat geraak het vir haar, Erin, se gesukkel om swanger te raak nie? Maar dis nie regverdig