E. Kotze

Hoogty


Скачать книгу

soveel die boeke, skoolrokke en hemde, onderklere, kerkskoene, kouse, toiletware.

      Tot hy eendag ontplof het en wou weet waffergoed toiletware is. “Het dit met ’n klôsit te doen? Moet ek nou vir kakpapier ook betaal?”

      “Pa teken net die vorms, en die tjeks,” het sy hom met kenmerkende astrantheid aangevat. En nogal die ronde gewen, hoewel Jas haar nooit laat vergeet het wat die twee jaar op hoërskool en ’n jaar op kollege in die Kaap hom gekos het nie.

      Amper te gou is dit nou weer Boetie se beurt, en sal sy vir hom in die bres moet tree. Want hy het dit nie in hom om te baklei nie. Al het hy standerd agt in die eerste klas geslaag, word dit ’n gedoente toe Jas agterkom dat daar weer eens agter sy rug gekonkel is en dat Boetie so te sê op pad is Paul Roos toe. Nie twee keer stamp Jas Burger sy voet teen dieselfde klip nie. Nie ’n oulap kry hulle uit hom nie. Kanselleer!

      Boetie skop nie eens vas nie, hy is soos ’n lam ter slagting, en dis Cora wat die spit moet afbyt. Uit pure radeloosheid skryf sy toe aan Helena op Grenspan. Sy weet nie wat in Boetie se kop aangaan nie; sy weet nie wat moet word nie.

      Uit die wanhopige brief was dit vir Helena duidelik dat haar ma se gees self geblus is, dat sy nie kans sien om van voor af die strydbyl teen Jas op te tel nie. Die drie jaar wat sy vir Helena baklei het, veral die laaste jaar op tegniese kollege, was miskien net te veel.

      ’n Berg het van haar skouers afgerol toe Helena klaargemaak het en die aanstelling as sekretaresse by ’n ouditeur in die Paarl gekry het: J.H. Zietsman. Veral vir Cora, maar selfs vir Jas, wat glo loop en spog het met sy slim dogter.

      Vir die onderhoud by J.H. Zietsman trek Helena die middag haar beste pakkie aan wat spesiaal vir haar voorstelling gekoop is: blouselblou, met netjiese swart hofskoene. Sy het die trein Paarl toe gehaal en ’n taxi na die kantoor in die hoofweg. Die meisie by ontvangs het ’n brief klaar getik, in ’n lêer gesit en toe kortliks die werksituasie uiteengesit. Dis elementêr; sy moet boekhou ken, en snelskrif en shorthand, ’n balansstaat kan tik, bankdeposito’s doen, liasseer, tee en koffie maak. Die meisie trou binnekort en het reeds bedank.

      Sy gee ’n droë laggie, wat kan beteken dat sy besef hoe pateties min Helena weet en hoe baie sy het om te leer. “Ek is darem nog ’n week hier om jou touwys te maak.”

      Meneer Zietsman had staalgrys hare en ’n silwerraambril. Ongeveer vyftig. Rysig en oorheersend. Hy het ’n brief in Engels gedikteer en Helena moes dit tik. Nie kommentaar gelewer oor die fout wat sy gemaak het nie, net die ooreengekome salaris bevestig.

      En haar toe aan die ou man in die aangrensende kantoor gaan bekend stel. “Mister Allen, my accountant. Helena Burger.”

      Daarmee was dit afgehandel. “Ek verwag dat jy op l Desember om agtuur die oggend aanmeld,” spreek hy af.

      Stap toe voor haar uit, maak ’n deur aan die einde van die gang oop na ’n gemeubileerde slaapkamer met ’n dubbelbed en selfs portrette van ’n vrou en kinders op ’n bedkassie. “My familie woon in Rondebosch, waarheen ek naweke gaan. Ek bly hier omdat dit gerieflik is.” Heel terloops voeg hy by: “Jou eerste plig is om soggens my bed op te maak.”

      Dit was so onverwags dat sy nie ’n woord kon uitkry nie. Met die herinnering aan meneer Zietsman se oë agter sy bril en die geweldige neus, en die vertoiingde elmboë van mister Allen se baadjiemoue, is sy daar weg.

      “Ek sal dit nie doen nie. Ek maak nie eens my pa se slaapkamer aan die kant nie, mevrou!” het sy teenoor die koshuismatrone uitgebars.

      Die vrou, ’n weduwee met volwasse kinders, het haar bekommerd aangehoor. “Nee, kind, natuurlik doen jy dit nie. Jy doen niks van dié aard nie, dis ongehoord, oneties. Soek vir jou ’n ander werk.”

      Die kollege sou binnekort sluit. Waar kry sy op kort kennisgewing werk? Of verblyf? Of moet sy druipstert teruggaan Vollemink toe, daar ’n joppie gaan soek, sy, Helena Burger met die handelsdiploma?

      Haastig begin fynkam sy die advertensiekolomme, tot iets haar oog tref: Dokter Felix Venter van Grenspan in die Vrystaat soek ’n ontvangsdame vir sy spreekkamer. Dringend.

      Sonder om ’n idee te hê waar die plek geleë is, gaan pos sy dieselfde aand haar aansoek.

      Dit word byna onmiddellik met ’n telefoonoproep bevestig, en daarna skriftelik. ’n Tjek vir haar reiskaartjie is ingesluit. Op die Vrystaatse platteland wantrou mense mekaar nog nie, hulle sluit moontlik nie eens hul deure nie.

      Hul eie kombuisdeur het net ’n werwel. Dis in elk geval so oud dat dit oopgetrap kan word, as daar ooit ’n sleutel was.

      So goed moontlik het Helena die nuwe verwikkelinge aan haar ma verduidelik, alles ten aanhore van ant Tiek, van wie se telefoon hulle altyd gebruik maak. Sy het haar geskaam om weer eens geld te moet vra om die eerste maand in die vreemde te oorleef.

      Tien pond het na ’n fortuin geklink, en sy was spyt dat haar ma nogeens die spit moes afbyt. Sê vir Pa ek sal elke oortjie terugbetaal, Ma, het sy in haar dankiesê-briefie belowe.

      Hoofstuk 1

      DESEMBER 1951

      Die treinreis deur die Karoo na die Vrystaat was ongoddelik warm. Tot Helena se ontsteltenis begin haar neus bloei, iets wat nogal van tyd tot tyd in die Bolandse somers gebeur het. Sodat matrone ’n yslike bos sleutels agter haar nek moes insteek, en eenmaal ’n beker yskoue water in haar gesig uitgeskiet het. Op Bloemfontein, waar sy moes oorstap, het ’n vriendelike kruier haar op die nippertjie in die wagkamer kom roep en op die trein gehelp.

      Haar gesig is so vaal soos ’n uitgebleikte seespons toe sy haar bestemming bereik, en toe sy op die ordinêre stasietjie ’n flou glimlaggie uitforseer, voel sy ’n koorsblaar in die hoek van haar mond brand.

      Sy word ontmoet deur ’n hoogswanger vrou.

      “Jy weet nie hoe betyds jy is nie, juffrou Burger,” groet Anneke Venter toe sy die groen stasiewa in rat sit en wegtrek. “Anders sou jy Felix dalk in die spreekkamer moes help met die bevalling.”

      “Bevalling?” Helena klink vir haarself soos die papegaai op die hotelstoep wat die vloekende drinkers na-aap. “Maar hoe kan ek? Ek . . . ek weet niks van sulke dinge af nie. Dis ’n misverstand, ek’s nie opgelei as . . . verpleegster nie.”

      Paniek laat haar stotter, en haar angs vererger toe sy agterkom hoe ernstig die situasie werklik is. Die Venters sit op hete kole, dis hul tweede baba dié. Die eerste het hulle amper verloor toe die plasenta losgekom en die kind byna weens ’n suurstoftekort versmoor het.

      “Ons is nou voorbereid, en as die eerste waarskuwing daar is . . .” Anneke byt op haar onderlip toe sy in ’n grondstraat in ’n woonbuurt bokant die stasie opdraai en in die oprit stilhou, “. . . moet ons so gou as moontlik by die hospitaal kom.”

      Dokter Venter, ’n valerige man met ’n snor en hare wat al min word, wag hulle in. Sy ligblou oë is moeg. Amper soos ’n seeman s’n wat ’n week lank sonder slaap moes klaarkom, dink Helena. Op sy arm hou hy ’n dogtertjie van ongeveer agtien maande.

      Asof hy ’n robuuste jong meisie met fris arms en bloesende wange verwag het in plaas van die effe senuweeagtige, witgebloeide rooikop, kyk hy ondersoekend na Helena. Steek dan sy hand uit. “Juffou Burger!” Maar dis na Anneke dat hy besorgd kyk. “Alles wel, ounooi?”

      ’n Opgeskote oppasstertjie, Siena, kom neem die dogtertjie by hom, en dokter Felix dra self Helena se tasse na haar kamer aan die end van ’n kort gangetjie. Die kamer het ’n eie badkamer.

      “Dis waar jy slaap, as jy nie beswaar het om in te woon nie. Losies is maar ’n kwessie, die hotel is propvol: personeel van die landboukoöperasie en bank en poskantoor en handelshuis,” noem hy op. “Ons het sommer aangeneem . . .”

      Vir Helena lyk dit piekfyn, en sy glimlag verlig teenoor die vriendelike swart vrou, Mieta, wat ’n skinkbord met tee sitkamer toe bring. Net om daarna baie jonk en onbevoeg te voel toe Felix onder die teedrinkery opmerk: “Ons is baie bly om op sulke kort kennisgewing iemand te kon kry. Jy help ons uit ’n