Derick B van der Walt

Daan Dreyer se blou geranium


Скачать книгу

is stewig op moederaarde. Of so iets.

      Vanessa is seker reg, dink hy. Dis die plek waar hulle gesien wil word.

      By die deur draai hy om en kyk na haar. Maar sy is klaar weer verdiep in haar werk en hy loop uit sonder ’n groet.

      Has-beens, dink hy terwyl hy terugstap kantoor toe. Dit pla hom nie meer nie. Hulle is al gewoond daaraan. Hy en ou Neels en ou Riaan by die publikasie-afdeling en ou Martin by IT en die handjievol ander wat oorgebly het ná die rasionalisasie, die herstrukturering, die regstellende aksie, die pakkette en al die ander sasies en asies wat gesorg het dat Windmill Communication dié kommunikasie-agentskap in Pretoria is wat voorgehou word as ’n voorbeeld vir ander. Kyk, liewe nasie, só word dit gedoen. Só moet ’n moderne Suid-Afrikaanse firma daar uitsien.

      Maar hy weet Windmill het die handjievol has-beens nodig. Dis waarom hulle nog is waar hulle is.

      Hy vou die Bennett-lêer toe en skakel sy rekenaar af. Hy sluit sy kantoordeur en stap hysbak toe.

      Neels staar saam met ’n paar uitdrukkinglose mense na die hysbak se knoppies. Hulle ry in stilte na die grondvloer, kry koers oor die parkeerterrein.

      “Sien ons jou môre?” vra Neels terwyl hy die blou Audi oopsluit.

      “Sal bel,” skree Daan oor sy skouer.

      Die woonstel is stil en soos altyd donker. Dis die klein venstertjies. Daan trek die gordyne toe en sit die ligte aan.

      Hy skink vir hom whisky in die kombuis en druk die Woolies-ding in die mikrogolf. Die verpakking gee verskillende aanwysings vir verskillende groottes mikrogolfoonde. Hy weet nie watter grootte dié een is nie. Hy bereken maar ’n gemiddeld.

      Die kos is droog, maar hy is honger. Van die ryk sous waarmee die verpakking spog, het net ’n blerts op die droë stukkie hoender oorgebly, en ’n paar verlepte broccoli-takkies.

      Hy kan die stilte hoor. Daar is darem die hysbak se deure wat kort-kort oop- en toegaan. Voetstappe in die gang. Die verkeer onder in die straat. Hy skakel die televisie aan.

      Die nuus is kwalik nuus. Moord en ellendes en politieke toesprake vol mooi voornemens. Hy kliek lusteloos tussen die kanale rond. Kyk ’n rukkie na ’n fliek waar mense mekaar vermink en liggaamsdele en liters bloed die wêreld vol spat.

      Hy skakel die televisie af en sit ’n CD in die speler op die boekrak. Leonard Cohen. Die selfmoordmusiek dryf hom na nog whisky. Hy soek na die CCR-CD. Kry dit heel onder in die stapeltjie langs die speler.

      I wanna know, have you ever seen the rain?

      Liewer nie.

      Hy oorweeg dit om vir Annerie te bel. Hy kan sê hy het vergeet hoe laat hy haar Sondag moet oplaai. Wat moet sy môre doen wat so ’n issue is? ’n Toets of ’n taak of iets. Hy besef skuldig hy kan nie onthou nie.

      Maar dis al negeuur. Die kind slaap dalk al.

      Hy bel vir Tollie. Die foon lui lank.

      “Hallo, Pa.”

      Daar is ’n helse lawaai op die agtergrond. Mense lag en gesels en Daan hoor musiek luid blêr.

      “Ek wou net –”

      “Pa, ek kan nie nou praat nie!” skree Tollie bo die geraas.

      “Waar’s julle?”

      “Hoor nie?”

      “Waar kuier julle, Tollie?”

      “In Hatfield. En ek is lankal nie meer Tollie nie, ek haat dit as Pa my so noem. Noem my Marius.”

      “Ek wou maar net . . . Wanneer kom jy bietjie kuier?”

      “Ek kan nie nou praat nie. Bel Pa môre.”

      Daan weet Tollie sal nie bel nie. Te bedrywig. Eerstejaar op universiteit. Sy seun het ontdek daar is ’n wye wêreld daar buite, hoewel Daan vermoed Hatfield se kuierplekke is in dié stadium grensverskuiwend genoeg vir Tollie.

      Hy sit ’n rukkie in die leunstoel langs die leeslamp met die selfoon op sy skoot. Hy is lus vir ’n sigaret. Dis Karen se knaende geneul wat hom ses maande gelede laat ophou het. Maar nou, wat is die punt nou eintlik? Gesonde longe maar ’n seer hart.

      Hy stort en klim met die Wilbur Smith wat op sy bedkassie lê in die bed. Voel later lomerig. Hy sit dankbaar die bedliggie af.

      Maar hy weet dit was net ’n vals alarm. Hy sal weer nie kan slaap nie. Hy lê en rondrol.

      Dis nou al drie maande dat hy hier bly. Dis drie maande sedert hy laas . . . Nee, dis langer. Die laaste tyd wat hy nog in die huis was, het hulle tog ook nie aan mekaar gevat nie. Die dinge van die lyf. Dit kon hom nog altyd troos. Maar dis anders as jy die troos by jouself moet soek.

      Hy lê alleen in die donker en luister na die verkeer onder in die straat.

      Daan sit en staar na sy onderbroeke en kouse in die tuimeldroër by die wassery. Sy selfoon lui. Tollie, sien hy verbaas.

      “Hi, Pa. What’s up?”

      “Hallo! Ag, ek wou net weet wat gebeur in jou lewe. Hoe gaan dit met die swottings?”

      “Oukei, wat. Pa weet mos . . .”

      Pa weet glad nie.

      “Annerie kom môre na my toe. Ons sal seker middagete iets gaan eet. Jy wil nie dalk saamkom nie?” Hoopvol.

      “Ons gaan miskien by Japie braai, maar ons sal nog sien. Sal Pa bel. Cheers vir eers.”

      Daan sit nog ’n ruk na sy goed in die tuimeldroër en kyk. Die tannie langs hom ruik na knoffel en ou wyn. Dit lyk asof sy dut, toegewikkel in ’n dik jas, al gaap die kraaie.

      Maar dit gaan een van die dae koud word. Hy kyk na die boom in die middel van die parkeerterrein. Die blare begin vergeel.

      Hy wonder wat hy die res van die dag gaan doen. Hy moet ’n paar goed by Woolies gaan koop om te eet. Dalk moet hy tog maar ’n kosmaakkursus volg. Woolies het ook net sóveel goed.

      Maar dis dit vir die dag. Hy het al oorweeg om saam met Martin en Riaan die gholfding te doen, maar hy weet dis nie vir hom nie. Te vervelig.

      Sy selfoon lui. Hy gaan antwoord buite. Amanda.

      “Kom jy oor? Ons is bekommerd oor jy so dagin en daguit op jou eie is. Dis nie gesond nie.”

      “Wat kan ek saambring?”

      “Nee wat, niks nie. ’n Wyntjie as jy wil.”

      “Maak so.”

      Die tannie in die jas begin liggies snork.

      In sy wildste drome sou hy hom nooit op ’n Saterdagoggend in só ’n plek kon indink nie. Alles het so vinnig gebeur. Maar dit moes seker al lank aangekom het. Hy het dit net nie sién kom nie.

      Ek het jou ontgroei. Hy is nou nog nie seker wat dit beteken nie.

      Eers was daar die meditasieklasse en die joga en toe die skilderklasse en die kralewerk en toe die studie oor kruie en die vreemde blare en takke wat hulle in hulle kos begin kry het. En toe Hendrina. Die terapeut. Hendrina sê só en Hendrina sê sus.

      Daan, Hendrina dink dit werk eintlik só. Hendrina dink dit kan gevaarlik wees. Ek sal dit graag op Hendrina wil bounce. Hendrina sien dinge meer . . . eh . . . driedimensioneel.

      Hendrina was nou orals. As hulle Sondae saam met die kinders braai, tussen die kerslig en die wyn by Romero’s, in die tou waar hulle wag om fliekkaartjies te koop, in die kar Saterdae op pad Pick n Pay toe.

      Net nie tussen hulle in die kooi nie. Of was sy? Hy het dit dalk net nie agtergekom nie.

      Hy pak sy klere in sy sak en stap kar toe.

      Sophie sit op die vuilgoedblik in die kombuis en eet pap en hoenderlewertjies.

      “Hoekom sit jy nie op ’n stoel nie?” vra Daan.

      Sy ignoreer hom.