Derick B van der Walt

Daan Dreyer se blou geranium


Скачать книгу

die museum en hulle stap die trappies op na die ingang. Die sekuriteitswag beduie hulle kan maar deurstap.

      Hulle loop tydsaam deur die uitstalling. Annerie vergaap haar. Sy gaan staan kort-kort met haar kop skeef gedraai, maar sy sê niks.

      Hy kyk meer na sy kind as na die skilderye. Sy kind wat nie meer ’n pa by die huis het nie. Kon hy en Karen nie maar iets aan die groeiery gedoen het nie? Dalk bietjie gesnoei het of kunsmis gegee het of goggas doodgespuit het of wat ’n mens ook al doen om te groei.

      Sy selfoon lui. Tollie.

      “Hi, Pa. Die braai by Japie is af. Ek sal julle join. Waar gaan ons eet?”

      “Seker maar by Romero’s. Dis naby en hulle het iets van als.”

      “Kan ek iemand saambring?”

      “Eh . . . natuurlik. Wie?”

      Tollie aarsel. “Sommer iemand wat saam met my swot. Hoe laat?”

      “So halfeen.”

      “Sien julle!”

      Annerie kom aangestap. “Hier’s weird goed, maar dis cool!” Haar oë blink vir die eerste keer die dag.

      Hy vat haar om die skouers en stuur haar deur toe. “Kom ons gaan eet. Ek is nou lekker honger.”

      Sy selfoon lui. Weer Tollie. Drie oproepe in twee dae ná drie weke se stilte.

      “Pa moet assebliéf nie vir my Tollie sê as ons eet nie.”

      “Reg so.”

      Daan glimlag. Wanneer het hulle so vinnig grootgeword? Tollie was nou die dag nog doodtevrede om Tollie te wees.

      “Waar gaan ons eet?” vra Annerie terwyl sy haar sitplekgordel vasmaak.

      “Sommer by Romero’s. Ons eet mos altyd lekker daar. Hulle het ietsie van alles.”

      Sy sê niks nie.

      “Wil jy by ’n ander plek gaan eet?” vra hy onseker.

      “Nee wat. Romero’s is oukei.”

      Hulle ry in stilte na die restaurant.

      Tollie en ’n dingetjie staan vir hulle voor die ingang en wag. Daan sien eers die kaal magie met die naeltjiering en toe die ferm borsies en toe die neusring en toe die donker, broeiende oë.

      “Dis Casey!” Tollie se bruin oë blink meer as die meisie se neusring.

      “Hallo, Casey,” sê Daan onseker.

      “Hi.” Die stem is laag, donker, alterig.

      My kind, sy klou aan my kind, is al waaraan Daan kan dink. En dan paniekerig: Die bytjies en die blommetjies. Hy en Tollie hét al gepraat, maar hy sal dalk weer moet.

      Toe hulle gaan sit, fluister Casey met die diep stem: “Dis amazing.”

      Daan kyk om hom rond. Amazing? Dis mos maar net Romero’s. Dalk is hy al te gewoond aan die plek.

      Hy bestel ’n glas rooiwyn, Annerie Coke, Tollie ’n Windhoek Lager en Casey iets waarvan Daan nog nie gehoor het nie.

      Dis ’n rukkie stil terwyl hulle deur die spyskaarte blaai.

      “Die kos lyk amazing,” fluister Casey.

      Daan wil nie hoor nie. Hy kan sien sy vroetel onder die tafel aan sy kind.

      Die kelner bring hulle drankies. Casey teug toe-oë aan haar pienk ding.

      “Amazing . . .” sug sy.

      “Hoe gaan dit met die statistiek?” vra Daan vir Tollie.

      “So-so. Wat dink Pa van gister se rugby?” verander Tollie die onderwerp.

      “Kan ek die bestelling neem?” vra die kelner.

      “Is julle slaai vars?” vra Casey-met-die-stem.

      “Casey is eintlik vegetaries,” fluister Tollie opgewonde vir Daan.

      “Ek sien,” sê Daan.

      Casey verskoon haar toilet toe.

      “Nou terug,” fluister sy in Tollie se oor voor sy oor sy hare streel en hom ’n soentjie op die wang gee.

      “En?” fluister Tollie opgewonde toe sy buite hoorafstand is.

      “Sy is . . . eh . . . nogal mooi,” sê Daan versigtig.

      “Sy is . . .” Tollie soek na woorde.

      Daan weet.

      “Nogal amazing . . . en nogal diep.” Tollie se oë blink soos toe hy die karate-toekenning gekry het, destyds toe hy nog ’n kannetjie was.

      “Ek kan dit dink,” sê Daan.

      Hy vat ’n groot sluk van sy wyn. My kind, my seun . . .

      Met die terugkom gee Casey weer vir Tollie ’n soen.

      “Wat dóén jy?” fluister sy vir Daan terwyl sy vooroor leun en haar ken in haar hande stut.

      Hy kug ongemaklik. “Ek doen die geldsake vir ’n firma in Brooklyn.”

      “Amazing,” sê Casey.

      Die kelner bring hulle kos.

      Daan se steak is medium en nie medium-rou soos hy bestel het nie. Hy oorweeg dit om die vleis terug te stuur, besluit dan om dit te los.

      Wanneer het jy so ’n pushover geword, Daan Dreyer? wonder hy geirriteerd.

      “Wat swot jy?” vra hy vir Casey wat met haar vurk in haar slaai speel.

      “Sielkunde.”

      Sy vroetel weer aan Tollie onder die tafel. “Ek dink mense is nogal . . . hoe sal ek sê . . .”

      “Amazing,” sê Daan.

      “Jy verstaan!” sê Casey.

      Daan maak verskoning en stap uit. Hy staan ’n ruk op die restaurant se stoep. Hy sal nou een van sy organe skenk vir ’n sigaret.

      Toe hy terugkom, is Casey en Tollie in ’n greep gewikkel. Hy kan nie uitmaak watter ledemaat behoort aan wie nie. Die poppie lyk behoorlik aan Tollie vasgesuig. Annerie gaap hulle oopmond aan.

      Tollie het duidelik meer as die kuierplekke in Hatfield ontdek.

      Daan maak verleë keel skoon. Die greep word weer twee mense.

      “Jou seun is so . . . so powerful,” sê Casey.

      Daan vra die rekening.

      Hy kyk hulle agterna toe hulle hand om die lyf na Tollie se silwer Getz loop. Sy seun die man.

      “Sy’s weird,” sê Annerie.

      “Kom ons gaan doen daai resensie,” sê Daan.

      Hy maak koffie terwyl Annerie haar skryfgoed uithaal. Hulle besluit op ’n resensie oor Romero’s.

      “Kom ons maak dit Restaurant X,” sê Annerie.

      “Reg so.”

      Daan dink. Hy dikteer en Annerie skryf. Hy dink aan Vanessa en die spul by die werk terwyl hy sy sê sê. Hy laat waai.

      “Is dit nie bietjie erg nie?” vra Annerie onseker. “Hulle is darem nie só bad nie. En Pa hou mos actually van Romero’s.”

      “Man, dis net ’n opstel. Skryf,” sê Daan ongeduldig.

      Hy weet nie waar die inspirasie vandaan kom nie, maar hy kan nie ophou nie. Hy geniet hom gate uit. Hy groei dalk ook, wie weet.

      Annerie slurp aan haar koffie terwyl sy lees wat sy geskryf het. “Cool,” sê sy kort-kort.

      Sy sit die skryfblok neer en kyk op. “Kan ek bietjie op Pa se skoot sit?”

      Hy wil eers terg dat sy darem nou al te groot is,