Derick B van der Walt

Daan Dreyer se blou geranium


Скачать книгу

fout?”

      “Moenie vir my vra nie. Hy werk net nie meer reg nie. Ek gaan jou klere brand.”

      “Oukei.”

      Hy gooi poeierkoffie in ’n beker, dan kookwater. Sophie staan steunend op en sit haar leë bord in die wasbak.

      “Die busgeld is op. Ek moet nou meer kry.”

      “Hoeveel?”

      “Twintig rand.”

      “Dis reg,” sê Daan.

      “Jy sien, Daan, dis nie dat ek nié van Karen hou nie.” Amanda vat ’n sluk van haar wyn en roer aan die sous op die stoof. “Hel, man, ons is pelle! Ons het dan saam kinders grootgemaak en saam vakansie gaan hou en . . .” Sy bly stil.

      “Hoe lank ís ons al pelle?” vra sy en draai na Daan wat by die kombuistafel sit met sy glas rooiwyn. Hy trek sy skouers op.

      “Whatever.” Sy roer weer die sous. “Ek en Karen beplan nog om een of ander tyd ’n fliek te doen. So, ek en Neels kies nie kant nie. Glad nie. Julle is albei ons pelle.”

      Kies nie kant nie. Dis wat Rodney, hulle prokureurpel, ook gesê het toe Daan by sy kantoor aangekom het. Maar Karen het hom voorgespring.

      Op die ou end het Rodney sommer alles behartig. Dis makliker en vinniger só as dit ’n onbetwiste egskeiding is, het hy gesê. Daan het nie kans gesien vir ’n bakleiery nie.

      Amanda beduie hy moet vir hulle nog wyn skink. “Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir jou gehad, Daan. Ek en Neels het baie gedink . . .”

      Sy soek na woorde. “Karen was altyd . . . hoe sal ek sê? Sy was altyd effens rof met jou, jy weet . . . ongenaakbaar.”

      Hy maak keel skoon en vat ’n groot sluk uit sy glas.

      “Jy moet nou aanvaar dis verby, man. Aanbeweeg.”

      Sy bekyk hom krities, hand in die sy. “Jy lyk nie te sleg vir iemand wat al goed veertig is nie. Wat is jy nou? Vier-en-veertig, vyf-en-veertig?”

      “Vyf-en-veertig.”

      “Maar jy moet jou maag dophou. As jy eers ’n boep soos Neels het, is dit nag. En jy kan dalk ’n bietjie . . .”

      Hy versit ongemaklik op die kombuisstoel, vermy haar opsommende blik.

      “Dalk moet jy ’n slag na jou klerekas kyk. So ’n bietjie optert met iets moderns. Die punt is, jy moet weer aan die gang kom. Sirkuleer. Mingle.”

      Hy hoor die kinders lag en rumoer in die televisiekamer.

      “O ja, ek het vir jou ’n plant vir jou woonstel gekoop. Jou plek is . . . eh . . . bietjie trietserig. Dis ’n geranium.”

      Hy kyk onbegrypend na haar.

      “ ’n Malva, man,” sê sy ongeduldig. “Ek is seker jou ma moet ’n paar op haar stoep in Bethulie hê.”

      Hy kan nie onthou wat in die potte op sy ma se stoep in Bethulie groei nie.

      “Dié een is ongewoon. Dis nie jou everyday geranium nie. Sy blaartjies lyk anders.”

      Amanda haal die pan van die stoofplaat, druk haar vinger in die sous en proe. “Mmm, lekker. In elk geval, ek het aspris nie vir jou ’n gewone een met pienk of rooi blommetjies gekoop nie. Die man by die kwekery sê hierdie een maak ’n blou blommetjie. So, pas hom mooi op en dan gaan jy ’n blou blommetjie kry.” Sy beduie na sy hemp. “Jy hou mos van blou?”

      Hy knik, kyk na die plant wat in ’n keramiekpot staan. Die pot is met Afrika-motiewe versier.

      Wat kan jy vir my doen, plant? Jy lyk nie soos my vrou nie.

      Neels kom by die buitedeur ingestap. “Toe, toe, toe. Skinder jy saam met die vrouens?”

      Hy sit die bak braaivleis op die stoof neer en skuur van agter teen Amanda.

      “Hoe lyk dit, lammer van my hart? Are happy days here again?” Hy knipoog vir Daan.

      “Moenie vir jou stuitig hou nie, Neels. Hoeveel bier het jy al in?”

      By die woonstel sit Daan die geranium op die boekrak in die sitkamer neer. Hy kyk ’n ruk daarna.

      “Welkom. Maar ek twyfel of jy lank hier gaan wees.”

      Hoofstuk 2

      Hoofstuk 2

      Die tuin lyk netjies, sien Daan teleurgesteld. Die gras is gesny en die blombeddings is versorg en die plaveisel voor die huis is silwerskoon afgespuit. Hy het half gehoop dinge val uitmekaar sonder hom.

      Hy hoop altyd dis Karen wat die deur gaan oopmaak. Hy het die toneel al verskeie kere in sy verbeelding gesien.

      Hulle sal ’n rukkie na mekaar kyk en dan sal hy sy arm om haar slaan en vir haar sê: “Lief, kom ons los nou al die nonsens. Ek gaan pak net gou my goed en bring dit huis toe en dan gaan eet ons iewers iets.”

      En sy sal sê: “Ons het jou gemis, Daan. Die ek-het-jou-ontgroei-ding was sommer my verbeelding.”

      Maar dis gewoonlik Annerie wat oopmaak, hom met ’n soen op die wang groet en met haar rugsak oor die skouer kar toe loop. Dan kyk hy hoopvol in die gang af, met Annerie wat vra wanneer hulle gaan ry.

      Daan ry by die hoofhek uit en wag vir ’n kar om verby te kom voor hy in die straat indraai.

      “Hoe het dit toe gister gegaan?” Hy grawe desperaat in sy geheue om te probeer onthou wat sy moes doen.

      “Oukei.”

      Is niks in sy kinders se lewe ooit meer as oukei nie?

      “Hoe bedoel jy?”

      Sy kyk by haar venster uit. “Ek het nie eintlik baie inspiration gehad nie.”

      “Hoe so?”

      “ ’n Mens moet creative voel as jy ’n goeie poster wil maak.”

      Blienk! Die liggie gaan aan. Die poster-kompetisie.

      “Wat was fout?”

      “Ek weet nie eintlik nie. Dit was net nie my dag nie.” Sy sug.

      Die skeistorie het sy kind se lewe onderstebo gekeer. Hy weet, en hy voel skuldig. Hy kon nog nie oor Tollie agterkom nie.

      Sien jy nou? sê hy gereeld vir Karen in sy kop. Beskuldigend. Hy het al ’n slag vir haar gesê dalk moet hulle Annerie na iemand neem. Beslis net nie na Hendrina toe nie.

      “Dis nie nodig nie, Daan. Ek en sy praat baie. Sy weet nou daar is goed in die lewe wat nie vir altyd hou nie. Sy verstaan. Sy sal oor die ding kom. Haar lewe is vol.”

      Karen se Nuwe Stem. Hy dink dis Hendrina se werk. Moenie ongeskik wees nie, maar hou dit kort en saaklik, onpersoonlik.

      “Wat is jy lus om te doen?” vra hy vir Annerie. “Het jy al geëet?”

      Hy mis sy kinders erg, maar hy raak paniekerig as sy naweek aanbreek. Wat dóén jy met ’n twaalfjarige dogter in ’n klein woonstelletjie?

      By die huis was dit anders. Almal het hulle dinge gehad en het gekom en gegaan. Niemand het tog ooit vir twee dae na mekaar sit en kyk en gekoeitjies-en-kalfies nie.

      “Ja. Ek het jogurt en muesli gehad. Ek weet nie eintlik wat ek wil doen nie. Ek moet ’n resensie oor ’n restaurant of ’n fliek of ’n boek of so iets skryf. Pa kan my help.”

      Sy keel trek toe. Dit was nog altyd Karen se afdeling, die opstelle en die toesprake.

      “Ek sal probeer . . .” sê hy huiwerig.

      ’n Plakkaat teen ’n lamppaal gee hom ’n idee. “Was jy al by ’n kunsmuseum?”

      “Nie wat ek kan onthou nie.”

      “Wil jy gaan? Daar’s ’n uitstalling by die kunsmuseum in Arcadia.”

      Sy