Gerrit Rautenbach

Kopreis


Скачать книгу

brood met tuna en gebakte boontjies op en heel bo-op ’n gebakte eier.

      “Yai bichi,” sê ek en hulle lag. Ek voel geaffronteerd.

      “Yai la kugaanga,” sê Kivuli. “Die eier is gebak en nie meer vars nie.”

      Halfpad deur aandete het Mvuli nader na my toe geskuif. Hy het die helfte van sy brood op sy bord vir my aangebied. Ek was lankal vol en het dit van die hand gewys.

      “Dis sy manier om dankie te sê,” verduidelik Kivuli. Ek vat die brood en Mvuli knik met groot oë. Skielik begin ek wonder hoe ek hier in die donkerte gaan uitkom. Ek het g’n idee hoe ek hier gekom het nie. Asof hulle my gedagtes lees, begin die drie grootmense onophoudelik te praat. Mvuli kekkel saam, baie opgewonde.

      “Pendeza sê jy is ons gas. Jy moet hier slaap,” verduidelik Kivuli dan. Ek kyk na my daktent op die Hilux en dink aan die reeds oorvol matrasse in die kamer. Maar ek dink ook aan apartheid en hulle gebrek aan kennis daarvan. En ek besluit ek is mos mzungo, nie kaburu nie.

      “Dit sal ’n voorreg wees om hier te slaap, dankie.”

      Almal staan op en ons beweeg in. Slapende meisielywe word geskuif om plek te maak vir die mzungo-gas. Ek kry die luukse van ’n matras op my eie, maar sê niks. Pendeza gooi ’n karos oor my en ek verlang na my ma wat lankal dood is. Baie vinnig lê almal stil. Ek hoor almal se asemhaling en verlang na my meisiekinders ver in die suide. Ek wonder hoe ek hier gekom het, maar ek kla nie. Skielik is Steward Pringle se African Dream Safaris ’n nagmerrie wat ver van my af is. Hierdie is my Afrika.

      Daar is ’n geskuifel agter my. Kivuli brom as iemand oor hom klouter. Die volgende oomblik klouter iemand oor my ook. Dis Mvuli. Hy klim voor my in en kom lê in die holte van my lyf. Ek sit my arm om hom. Hy skuif sy dun ruggie tot teen my, sit sy pikswart hand op my wit mzungo-arm, sug en gee homself oor aan die saligheid.

      Mvuli, my Afrika-seunskind.

      Die Kastele van Brussel

      So ’n bietjie meer as twee jaar gelede het ek in Brussel aangekom.

      Voor ek haar ontmoet het, was Brussel nêrens op my radar as reisiger nie. Sonder om hierdie Vlakke Land vlak te vat, dink nou mooi daaroor: daar is ’n hele sakvol bestemmings wat harder roep as Brussel. Selfs vir die konvensionele bustoeris hou iewers soos Italië, Frankryk, Spanje of selfs Engeland meer belofte in. Vir die ware avontuurreisiger is daar baie beter plekke soos Tibet, Argentinië, die Russiese Steppe, die Amasone, Meksiko, die Nyl, Antarktika … Maar toe ontmoet ek haar en gaan kuier vir haar in Brussel.

      Dit het alles in die skadu van Tafelberg begin. Sy het vir haar niggie kom kuier en ek het in die niggie se kothuis in Kampsbaai gebly. Niggie was ’n bietjie van ’n Moeder Kupido en net voor Niggie se niggie ingevlieg is, het sy (dis nou Niggie) my meegedeel dat sy dink haar niggie is net reg vir dié nefie. Moeder Kupido? Gmf, later sou matchmaker dalk beter vertaal kon word met “vegknoper” of “stoei-agent”. Ja, maar wag, ek loop die storie vooruit.

      Dit was vroeg Desember en met my aankoms by die kothuis lê hierdie lekker lyf langs die swembad in ’n klein lappie bruin bietjie-bikini. Suid-Afrika se son was ’n saligheid op haar bleek Brusselvel. Alles van haar was ’n saligheid op my oog. Skielik neem ek Moeder Kupido baie ernstig op. Dis tyd vir ’n vakansieromanse. Twee dae later trek ek by haar in die hoofhuis in. Kothuis vergete. Nee rêrig, ’n vakansieromanse is nou nie juis ’n vakansieromanse net met ’n enkelbedjie nie. Genoeg verduideliking.

      Drie weke later, net voor Krismis, is haar passasie terug Brussel toe. Die dag kom gans te vinnig nader, maar net voor die vertrekdag koop sy vir my ’n Krismispersent. ’n Vliegkaartjie saam met haar Brussel toe. Nou ja toe, die vakansieromanse word met nog drie weke verleng.

      Twee dae voor Krismis verruil ons sonnige Suid-Afrika vir die nat halfdagwêreld van België in die winter. Triest, seg ek jou, maar daar is sonneskyn in my hart. Met ons aankoms by die Zavetem-lughawe is die eerste ding wat ek sien die grote reklamebord wat jou welkom heet: Welcome in Belgium, where it rains 270 days of the year. Toe moes ek al geweet het.

      Vandat ek daar aangekom het, verkondig ek via e-posse aan my vrinne langs die see by Buffelsbaai, Jeffreys, Plett en ’n paar ander strande dat België die wêreld se bes bewaarde geheim is. En dis nie heeltemal ’n leuen gebore uit libido nie. Dié Vlakke Land het ’n baie diep kant.

      Adolphe Sax was ’n Belg en sonder hom was daar nie sielvolle saxofoonsolo’s nie. Dis die land van Victor Orta, die vader van Art Nouveau, die land waar Napoleon sy Waterloo teëgekom het, die land van 720 verskillende biere, mossels en frittetjes, witloof, tomaat crevette, Stef Bos, Tintin en Manneken Pis. So ook Jacques Brel …

      Wanneer de regen daalt op straten, pleinen, perken,

      Op dak en torenspits van hemelhoge kerken,

      Die in dit vlakke land de enige bergen zijn,

      Wanneer onder de wolken mensen dwergen zijn,

      Wanneer de dagen gaan in domme regelmaat

      En bolle oostenwind het land nog vlakker slaat,

      Dan wacht mijn land … Mijn vlakke land …

      Ek onthou die eerste aand wat ons daar aangekom het. Net voor sy weg is Suid-Afrika toe, het sy ’n nuwe blyplek gekoop in Magdalenasteenweg, net so ’n blok of wat weg van die Grote Markt, die middelpunt van dié eeue oue stad.

      Nee, dis nie ’n woonstel nie, op hierdie vlak in hierdie Europese stad verwys ’n mens na ’n apartement. Met ’n Franse aksent.

      Daar was nog niks meubels in die plek nie. Net ’n koffiemasjien, ’n matras op die vloer en ’n musiekmasjien. Sy het die einste Jacques Brel vir my gespeel en sin vir sin uit Frans uit vertaal. Daar was wyn, daar was brood en daar was genade. Ek het vir haar vertel my pa het “Ne me quitte pas” in Afrikaans vertaal. Dit aangehaal:

      Kom luister na my:

      in elkedag-taal

      vertel ek vir jou

      ’n liefdesverhaal:

      twee mense leer

      twee harte versmelt

      een liefde ontvlam ’n tweede keer

      ek vertel ’n verhaal

      van ’n koning se nood

      hy sterf van sy liefde

      want weggaan is dood …

      moenie weggaan nie

      Sy het elke woord verstaan en ek het elke woord bedoel.

      Nou is dit twee jaar later. Ek het drie dae gelede uitgetrek. Gelukkig is vriendin Liz die res van die jaar in Londen en haar blyplek word my alleenlêplek. Ek het laat gelê, maar min geslaap. Ek het ure lank by die venster uitgekyk vir elke kar wat daar verby kom en die nimmereindigende reën vuil vertrap. Hulle ry aan die verkeerde kant van die pad, val dit my skielik op. Ek het my reënjas aangetrek en begin stap.

      My eerste rusplek was die Sint Goedele-katedraal. Dis nog ’n ding wat anders is van die stad. Al die kerke is altyd oop. Jy kan enige tyd daar gaan asemskep en ’n kers opsteek. In Suid-Afrika maak die kerk net Sondag oop vir ’n uur of wat, want as hy oopbly, gaan iemand die doopvont steel en bangles daarvan maak. En op Groentemarkplein verkoop. My liewe land …

      Iewers sing ’n koor. Jy hoor dit, maar jy hoor dit nie. Dis mooi. Ek luister na my eie voetstappe in die gangetjie af. Die skildery van Jesus met sy kruis se oë volg my. Jesus se kruis. My kruispad. Ek gaan sit op een van die houtbanke en laat my gedagtes gaan.

      Aan die begin was alles goed. Die een dag het die ander geword; het drie weke geword. My vakansie was verby, maar die romanse het gebly. Ek het net teruggegaan Suid-Afrika toe om my sake in orde te kry om weer Brussel toe te gaan. Die wêreld is te groot om twee keer na dieselfde plek te gaan, is ’n reisigerspreuk wat ek nog altyd aangehang het. Tog is ek nie eintlik terug Brussel toe nie, ek is na haar toe. Die vakansie was verby en die lewe het aangegaan. Sy het gewerk. Ek het werk gekry.