Gerrit Rautenbach

Kopreis


Скачать книгу

en met baie maniërismes. En as hy eers vir jou begin tjom sê, kan jy maar weet jy is deel van iets spesiaals.

      En nou is Tjomma Een, Twee en Drie op pad Kuomboka toe.

      Die reis soontoe het op 8 April in Swakopmund begin en laatmiddag op 9 April is ek en Johan besig om die Cruiser hard gas te gee op pad na die Katima-grenspos. Hulle maak sesuur toe en ons wil vanaand nog in Kabula wees. Daar is baie planne om te maak. Roetes om uit te lê. Besluite om te neem. En oor drie dae loop die Kuomboka.

      Vyf minute voor ses is ons deur. Met ’n losbandigheid van verligting vat ons die M10 wes teen die Zambezi op. Ja, die pad het sy eie roetenommer, maar daar is nie veel meer pad oor nie. Elke tree wat ons vorder, raak die lig minder. Later kap ons daai pad in stikdonkerte, maar die opgewondenheid en avontuurlus word net groter. Iewers hier voor lê Kabula en Johan was vyf jaar gelede ook hier in ’n poging om die Kuomboka te sien. Hy het toe net vir Kennister gekry, en moes onsuksesvol en druipstert terugdraai. Gaan ons dit dié keer regkry?

      Op met ’n knobbelstuk-pad en af in ’n donga toe Johan ’n ander CD opsit. “Maria Magdalena” van Jan Blohm word ons temalied: “… met jou asem op sy hande, tienduisend kerse aan die hemel hang …” Die tienduisend kerse word die sterre oor ons koppe. Die lewe word mooi, die lewe word groot. In die donkerte lê Afrika steeds wyd. Dis waar ’n mens wil wees. Jou siel is oop. Jou hart klop tevredenheid. Iewers wag ’n groot gebeurtenis.

      Dan verrys ’n afdraaibord na Kabula voor ons. Regs af, dik sandpad en kronkels totdat hy ons uitspoeg in Kabula. Johan sit afwagtend vorentoe. Ek skakel die Cruiser af en ’n oomblik lank is dit net die tikkende enjin wat saam met die paar brandende lanterns se vlammetjies dans. Ons kyk vir mekaar. En skielik sien ons in die lig van die lanterns ’n hobbelsilhoeët grotesk soos uit ’n Spielberg-fliek nader kom.

      “Hy is nog hier …” grinnik Boeta Bakkes in sy baard.

      “Hallo, Mister Johan,” onthou Kennister hom met wit tande toe ons uitklim. Die wêreld is te groot om twee keer na dieselfde plek te reis, reken party filosowe. Se gat, bevestig hierdie herontmoeting.

      “Welkom, tjommas,” kom die rustige Piet nader uit die donker en ons voel veilig deel van iets groots en onbekends. Die essensie van reis.

      Die volgende aand het Willie senior en junior by ons aangesluit. Kaart voor ons oop stoot die opgewondenheid soos ’n vloedvlakte op. Mongu, die dorp waarom die Kuomboka plaasvind, lê skaars 250 kilometer noord van Kabula. Ons is sommer gou daar, reken ons tot Piet ons die nuus meedeel.

      Mongu lê aan die oostekant van die Zambezi, wat beteken ons moet halfpad by Sioma met ’n pont oor die rivier. En die pont lê diep versuip onder die hoë watervlak.

      So naby, maar tog so ver, dink ons en wil-wil net mismoedig raak toe Piet roete nommer twee voorstel. Daar is ’n pad aan die oostekant verby wat net so onder die 500 kilometer lank is en ons betyds by Mongu sal uitbring. Roete twee loop verby Mulobezi en Luampa, waar dit weer by die M9 tussen Lusaka en Mongu aansluit.

      Ons entoesiasme vat weer vlam, totdat ons besef niemand weet hoe die pad lyk nie. Aan die een kant wil ons avontuurlus nie weet hoe hy lyk nie, maar aan die ander kant wil ons verantwoordelik wees en alles moontlik doen om betyds by die Kuomboka uit te kom.

      “Moenie worrie nie, tjommas,” sê Piet die volgende oggend toe hy een van die plaaslike inwoners opspoor wat blykbaar kennis van die pad dra. Die man reken hy is skitterend en goed geskraap vir maklik ry. Piet vra of hy die pad al gery het en hy verseker ons hy het. Dis Afrika dié en vir sekerheid vra Piet hom wanneer laas hy die pad gery het.

      “Uhm … laat ek nou mooi dink,” krap die man kop. “So … iewers in 1975.”

      Ons besluit op opsie nommer drie. Via Livingstone, oor Lusaka en deur die Kafue-wildtuin tot in Mongu. ’n Ompad van oor die 1 000 kilometer wat langer as 27 uur duur. Ja, Afrika is nie vir sissies nie, maar kom sal ons daar kom. As die koning net nie weer besluit het op ’n ander datum nie. Iewers tussen Lusaka en Kafue het Tjomma Een vir Tjomma Twee laat weet hy slaap nou al vir 10 kilometer lank …

      Die Groot Watertrek het begin. Vroegoggend op 12 April vat ons die water in ’n boot wat ook soos ’n makolo lyk, maar met ’n buiteboord. Nogtans duur die doolhof-prosessie op sy kronkelende waterpad van 70 kilometer langer as ’n uur en ’n half om te voltooi. By Lealui het “ons” hoofman, Mubilikautema, gou protokol toegepas en toestemming by die litunga se tweede in bevel gekry dat ons mag foto’s neem. Kort voor lank kom die koninklike prosessie te voorskyn.

      Alles gebeur te vinnig. Jy stoei om ’n plek te kry om te sien wat aangaan. Jy’s dors. Jy’s verward. Die litunga is op die nali-kwanda. Oral om jou druk en rumoer die Lozi. Jy is benoud dat jy nie alles gaan sien nie. Nie jou kiekies gaan kry nie.

      Dan skielik is prinses Monde hier voor ons. Sy gryp vir my en Johan en beveel ons om saam te kom. Verdwaas stap ons saam. In die teenoorgestelde rigting. Weg van die nalikwanda af. Weg van alles af.

      Op die rand van die meer langs Lealui laat sy ons op ’n makolo klim. Ons roei weg. Weg van alles af. Soos ongelowige Thomasse verwyt ons haar. Sy vat ons weg van die hele gebeurtenis af. Sy verseker ons sy het al meer as 25 Kuombokas bygewoon. Die prosessie gaan kort voor lank reg voor ons ’n show gooi.

      Ons sien die boot wegroei in die verkeerde rigting. Monde bly rustig. Dan draai die boot. Hy pyl reg op ons af. Monde lag. Ons huil. Dit gebeur. Die nalikwanda is op ons. Die tromme slaan. Die roeiers roei. Ons is deel van die Kuomboka. Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie. Ek kyk vir Johan. Hy gloei.

      Die nalikwanda verdwyn in die riete. Nou raak Monde haastig. Ons moet aan wal kom by Mongu om pad te vat na Limulunga waar die winterpaleis is. Daar aangekom, reël sy vir ons BBP-kaartjies.

      Ons sit heel voor teen die kanaal waar die nalikwanda gaan aankom. Die son brand hoog uit die weste. Die rigting waaruit hulle kom. Ons wag. Die Lozi sing. Die Lozi dans. Hul koning is op pad.

      Stadig styg die stof soos hulle voete stamp. In die newel kom daar skielik twee makolos aan. Elk met vier man in. Dis die natamekwa, of verkenningsmanne, wat kom kyk of alles veilig is vir hul koning.

      ’n Sug gaan op uit die mense. Afwagting. Die groot oomblik is net ’n oomblik weg. Dan ’n huilkreun. ’n Oerroep uit die maag van Afrika. Die nalikwanda is in sig. Die koning is naby. Die massa beur vorentoe. Ek sit reg voor op die wal van die kanaal. Ek wil my foto kry van die koning wat voet aan wal sit.

      Die roeiers roei die nalikwanda tot teen die oewer. En stop. ’n Sug gaan op uit die skare. Die boot trek terug. Hulle roei weer vorentoe. Die energie word groter. Die stofwolk groei. Die massa wil ontplof. Aah … die litunga is hier. Lank lewe die koning.

      Dan jaag hulle die nalikwanda vas geanker in die wal in. ’n Stilte daal neer. In die hokkie toegevou en iewers weg van ons oë sit die litunga. Die son sak in ’n stofwolk. Die vroue sing. Barotseland hou asem op. Dan kom Litunga Lubiso Imwiko II statig in sy formidabele Britse uniform uit die hokkie te voorskyn. Barotseland sug. Stadig loop hy vorentoe.

      Ek sit reg met my kamera. Al wat ek kan doen, is om dit te probeer vasmaak op ’n foto. Hy sit sy voet aan wal. My kamera kliek.

      Die volgende oomblik bars alle hel los. Die massa skeur los en storm. Almal wil by die messias uitkom. Hulle hardloop bo-oor my. Gebruik my rug as ’n springplek om oor die kanaal te kom.

      Dan is alles verby. Saam met die Afrikason sak die stofwolk. Die geraas sloer weg in die rigting van die paleis. Buiten ’n magdom Lozi-voetspore op my rug is ek heel. My kamera is heel. Ek kyk op en sien vir Johan. Hy stap met ’n grinnik van tevredenheid na my toe. Hy skud sy kop dat die rooi Barotsestof staan. Hy maak sy arms oop.

      “Vyf jaar het ek gewag hiervoor. Dankie, boeta,” sê hy, gryp my in ’n rofstoei-omhelsing en breek amper nou my kamera wat ek teen die hele Lozi-mag beskerm het. Oor sy skouer sien ek vir Piet met ’n laggie om sy vrindelike bek.

      “Ons het die Kuomboka, tjommas,” merk hy droog op.

      “Dankie, Tjomma Een.”

      Agter hom kom Monde te voorskyn.