Gerrit Rautenbach

Kopreis


Скачать книгу

so graag so gereeld gespeel.

      Iewers tussenin is ek eenkeer terug Suid-Afrika toe en een aand het ek ’n regte braai by vrind Len gehou. En my lot bekla oor ’n bottel Tassies.

      “Maar hoe dink jy enigsins dit kan werk?” vra hy my.

      “Wat bedoel jy?”

      “Sy bly in die Noordelike Halfrond. Jy kom uit die suide uit. Alles is omgekeerd. As sy koud kry, kry jy warm. Selfs haar badwater loop andersom uit.” Ek het vir hom probeer verduidelik dat ek saam met haar probeer koud kry, warm kry en lekkerkry. Maar daar was toe later net swaarkry wat nie wou klaarkry nie. Hoe meer hy verduidelik het, hoe meer het ek begin verlang. Ek is terug Brussel toe om weer te probeer. Ek het blykbaar effe te vroeg en effe te onverwags daar opgedaag, want daar was duidelike tekens in haar apartement. Tekens dat sy nie alleen was terwyl ek weg was nie. Godverdomme, jonge …

      En nou sit ek alleen in ’n katedraal en voel so beswaard soos oubaas Genis. Ek sug, staan op en loop uit in die grysheid van die stad in. Ek kom agter ek loop krom en wonder hoeveel daarvan is my gemoed en hoeveel word veroorsaak deur die wolke wat letterlik hier op my kop kom lê. Straat op en straat af stap ek deur Brussel. Die stad sonder kleur het sy glans vir my verloor. Ek stap verby al die plekke waar ons gekuier het, maar sien hulle nie meer raak nie.

      Hande diep in my sakke loop ek om die soveelste straathoek en steek vierspoor vas. Die fyn reën drup-drup in my nek af terwyl ek die swart bord onder die uithangbord van ’n Ierse pub lees. Live rugby today: South Africa vs. Australia.

      Soos ’n wafferse Bismarck du Plessis bestorm ek daai pub se swaaideure soos twee duikkussings. Die volgende oomblik skuif-ski my nat skoene tot stilstand in die warm holte van die pub. Ek kyk links. Ek kyk regs. Dan sien ek hulle. Reg voor die groot skerm sit ’n tafel vol van hulle. Die helfte het groen truie aan. Groen truie met ’n springbok op. Heel waarskynlik sou ek hulle onder ander omstandighede nie tien minute van my lewe gegee het nie, maar nou is hulle my broers en susters. My mense. My dam se ganse. Ek is daar tussen hulle in soos die verlore seun wat huis toe gekom het.

      Ons lag. Gesels. Vertel ou Vannermerwe-grappies. Lag weer. Die Springbokke draf op. Hand op die bors “Nkosi sikelel’ iAfrika” ons saam dat die kranse antwoord gee. Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika. Die Springbokke speel ons in ’n trots in.

      Iewers rondom halftyd kom die Duvel-bier in my hand se etiket af. Dan kry ek ’n plan, draai die ding om en plak hom witkant buitentoe weer op die bottel. Langs my is die veerpyltjiebord se tellingbord. Op die lysie lê ’n rooi viltpen. Ek begin my kunswerk. Met my meesterstuk klaar, wys ek dit vir my makkers. Hulle skree so hard, almal dink die Springbokke het weer ’n drie gedruk.

      Die een na die ander ruk hulle hul biere se etikette af, draai dit om, plak terug en begin elk met ’n eie kunswerk. Intussen speel die Bokke dat die biesies bewe. Hulle wen daai dag met 27-16. Tot hier binne in België in. Almal is klaar met hul kunswerke en ons kry die Ierse kroegman om ’n foto te neem. Hy verstaan nie mooi nie, maar hoe ook al, daar sit twaalf Suid-Afrikaners, elk met ’n handgemaakte Castle Lager in die hand. Dis net daar wat die ding my heeltemal vat.

      Drie dae later is ek terug in my land. Ek ry by die lughawe uit in ’n huurkarretjie en kan nie genoeg van Tafelberg sien nie. Dit het alles in die skadu van Tafelberg begin.

      Op die ingewing van die oomblik ry ek reguit berg toe, stop, klim uit en stap terstond Platteklip uit. Sonder stop sweet ek hom in die son tot bo uit. Bo gekom sug ek weer. Dié keer van lekkerte. Ek kyk wyd oor my plek uit. Rondom my krioel toeriste. Ek is skaars bewus van hulle. Dan praat die paartjie agter my.

      “Jonge, jonge, jonge,” sê die man.

      “Dat ben een mooie uitzicht. Heel speciaal,” antwoord sy vrou.

      Ek kyk om.

      “Bent u van België?” vra ek.

      “Jawel, Antwerpen. En u?”

      “Van hier, maar ik heb wel in de Vlakke Land gewoon.”

      “Vlakke land!” lag sy. “België wel, ja, maar Zuid-Afrika … Nee jonge, dat ben geen vlakke land, hoor!”

      Nee, dis reg, niemand vat my land vlak nie. Moenie weggaan nie, sê Jacques Brel op Afrikaans. Ek moes weggaan.

      Want ek moes terugkom.

       Watertrek.jpg

      “Tjomma Twee, Tjomma Twee, Tjomma Twee, dis Tjomma Een, kom in …” kraak die radio skielik op die paneelbord van die Cruiser. Die klank spring op my waar ek in die donker vasgenael konsentreer op ’n stuk vernielde teerpad vol slaggate, boerbokke en vlietende voetgangers.

      Reisvriend Johan Bakkes langs my saag balke en hoor nie eers die roep nie. Dis goed, laat hy slaap, want die pad is nog lank en lelik. Hy gaan netnou moet stange vat.

      Ons is Tjomma Twee, en sonder om te kyk, vat ek die handstuk en druk die praatknoppie.

      “Tjomma Een, Tjomma Twee staan by …”

      “Tjomma Twee, mooi so, kyk net of jy wakker is, ek slaap nou al die laaste 10 kilometer,” maak Tjomma Een weer ’n grappie. Tjomma Een is Piet du Toit, en hy is nie verniet Tjomma Een nie.

      Saam met hom is Kennister Maziezi Chibeya, bestuurder van Kabula Lodge en een van die trotse Lozi’s van Barotseland. Langs Kennister sit hoofman Bradson Mabuku Mubilikautema, leier van die streek waarin Kabula val.

      Agter ons is Tjomma Drie, oftewel Willie Booysen senior, Willie Booysen junior saam met Basie Steenkamp en Thys van der Merwe. Ons is iewers tussen Livingstone en Lusaka, op pad na die Kuomboka in Barotseland. Elke jaar ná die somerreëns, as die Zambezi sy walle oorstroom en die vloedvlakte in Barotseland te hoog styg, verhuis die koning van die Lozi van sy somer- na sy winterpaleis. Die Kuomboka (“om uit die water te kom”) gebeur nou al honderde jare en het een van Afrika se grootste ware seremonies geword. Die waterverskuiwing is omtrent 34 kilometer lank, duur amper agt uur en dit verg meer as 120 roeiers om die nalikwanda – ’n reuseboot van meer as 11 ton in die vorm van ’n makolo – te verskuif. Niemand weet presies wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons is nietemin op pad. Net dalk beleef ons dit.

      ’n Paar jaar gelede was Kabula Lodge, 58 kilometer van Katima Mulilo op die M10, ’n taamlik verwaarloosde plek toe Piet en sy vrou, Leonie, daarop afgekom het tydens een van hul vele reise. Piet, wat in daardie stadium nog sterk betrokke was in die motorhandel, het besef die plek is ’n nuwe uitdaging wat wag. Vandag is hy die trotse eienaar van ’n lodge wat ’n perfekte basis is vir groot Afrika-ervarings en ekspedisies deur Barotseland in Wes-Zambië. Saam met Kabula het Piet vir Kennister geërf.

      Kennister met sy hoepel-poliobeen en sy vasbyt. Vandag is Kennister die bestuurder met ’n uniform, selfoon en ’n vierwielmotorfiets om hom vinniger te laat beweeg (ja, daar is positiewe gebruike vir dié goed). Buiten die opbou van Kabula en die bevordering van Kennister het Piet begin terugploeg in die gemeenskap. Vandag is daar byvoorbeeld ook ’n trotse Kabula-sokkerspan wat hul bene op die vliegveld sal breek om te wen. Vir Piet.

      Op ’n dag lank gelede het Piet my gekontak en ’n voorstel gemaak. Daar is nog nooit regtig breedvoerig oor die Kuomboka geskryf nie en volgens hom is ek die regte een om dit te doen. Net toe ek verskriklik opgewonde begin raak, het hy my gewaarsku dat die rede hoekom daar nog nie baie daaroor geskryf is nie, juis is omdat niemand, buiten die litunga, of koning, presies weet wanneer dit gaan gebeur nie.

      Litunga Lubosi Imwiko II laat bloot die maoma, oftewel die koninklike tromme, slaan die nag voor die gebeurtenis om die koninklike roeiers te roep om reg te maak om die volgende dag die groot roei te roei.

      Vanjaar was die eerste gerugte dat dit laat Februarie sou plaasvind. Toe besluit die litunga die water is nog nie reg nie, en verskuif dit na middel Maart. Inderhaas tref ons nuwe voorbereidings. Totdat die datum nog ’n slag verander. Dié keer het Piet gewys wat in hom steek en het hy vir mukwae (prinses) Monde Mubita aan sy kant gekry.

      Sy is