As die “ou man” op hierdie reis is my mensevrees sommerso op die vliegtuig Dar es Salaam toe die nek ingeslaan. Daai groep jong reisagente was ’n vrolike klomp. Ek het verstaan hoekom hulle “agente vir die reis” was, want vir hulle was die reis en die hier-en-nou belangrik. So ook hulle kliënte. Soos Lynde Opperman van Worcester opgemerk het: “We’re dream-makers, but by giving wrong advice we could well be dream-breakers.” Ek het behaaglik teruggesit en Afrika, my kontinent, het onder my verbygeflits. Ook het ek skielik besef dat die ouderdom gemaak het dat ek my selfoon by die huis vergeet het en dat ek, soos ou dae, kontakloos die wye woeste in is.
Hierdie storietjie kan ontwikkel in ’n reisartikel van formaat. Dis om te skryf van “ons was hier” (ruitverwysing) “en het dít gesien” (foto’tjie), “by dié hotel gebly” (adres en e-pos) “en het dié lugdiens beklim” (logo). Wat móét vertel word, is egter dat ek skielik op ’n vreemde reis was – totaal buite my verwysingsraamwerk. Gewoonlik reis ek met my eie pote of bakkie. Ek land aan by ’n vreemde plek en weet nie wat nóú nie. Dan soek ek goedkoop verblyf en ’n stamkafee, drink ’n bier en probeer vir môre beplan. Hier was alles uit my hande uit.
Die lugskip het op Dar es Salaam se lughawe neergestryk. Linda Willemse, die toeroperateur, het oorgeneem. Ek is foutloos deur doeane en aksyns, ongeag die flessie rum wat vir die wis en die onwis ingepak is. ’n Bussie het my na die luukse Sea Crest-hotel vervoer. Ek’s in ’n kamer (die ryk mense sê “suite”) in met twee televisies (ek het nie geweet hoe om die goed aan te skakel nie), ’n handdoekagtige wit japon en ’n telefoon in die gemaksarea vir noodgevalle, ’n bed wat wyd genoeg vir sewe aanvallige gesellinne is en ’n skryfblok vir kontak huis toe.
Vir aandete het die tafels gekreun onder vragte lekkernye, terwyl die Indiese Oseaan klotsend teen die rotskus hier onder aangerol het. Maar hotelle het nie stories nie en ek is saam met ’n span jonges Dar se naglewe in. Die Q-Bar het die donker en swaar van bestaan in ’n Afrika-hawestad oopgevlek. Daar was baie stories.
Ons, die agente-van-reis en ek, is Zanzibar toe. Geslenter deur Stone Town se nou straatjies. Sweet, speserye en die angs van slawehandel eerstehands ervaar. Ons is luuks af in die grootste natuurlike dieretuin, die Ngorogoro-krater. Hoër gespring as Masai-krygers, tradisioneel getooi. Het oor Afrika-snuisterye gekibbel en is heerlik op die hande gedra. Vir my, egter, het die Serengeti gelê en wink. Vir oulaas, het ek gedink …
Vir die gewone toeris lê die Serengeti se aantrekking in die migrasie van die blouwildebeeste en sebras. Daai oomblikke wat hy in flieks sien of in tydskrifartikels raaklees. Die bisarre oomblik as die hardlopende blouwildebeeste deur die Mararivier maal, verdrink en weggesleur of deur krokodille verskeur word. Hy verstaan nie. Die migrasie is nie nét dit nie, dis ’n heeljaarsiklus, met elke tyd sy eie ongelooflikheid. Vir my bly die bymekaarkom van derduisende blouwildebees en sebras, net voor hulle aan die hol gaan, miskien een van die mees asemrowende gesigte. Om oor daai vlaktes uit te kyk en so ver as wat die horisonne strek net wild te sien. Bankvas. Ook as die hardloop-bevlieging hulle onverklaarbaar beetkry. Hulle staan nog so en skielik kry ’n voorbok die wille weghol, met ’n trop van duisende wildebeeste in lyn agterna.
Uiteindelik stap ek weer soos veertien jaar gelede op die Serengeti-vlaktes uit, gooi my arms in die lug en gaan aan die grens …
Ons word soos adel by die Serengeti Serena Safari Lodge ontvang. My luukse chalet kyk oopbek uit oor die Serengeti en sy magdom wild. Voor in die onderbos wys ’n Kirk-dik-dik sku sy gevreetjie. Ek is eufories en maak my pyp brand. Kan een mens so bevoorreg wees? Ek sê stil dankie.
Die aand is soel. Ek is gekrawat en gebaadjie. Ons sit aan by ’n breë tafel. My bord is oorboordens toe vol – so ook my hart. Vir die lekker van sommer-net bestel ek ten duurste ’n ysig koue sauvignon blanc uit my land doer suid.
Glasie omhoog: “Vrinne, gun hierdie ou man ’n heildronk!” En toe onthou ek niks verder nie …
My tafelgenote en omstanders het later getuig dat ek reg vooroor geneuk het, met my gesig binne-in my bord kos. Die een of ander Spaanse vroulike lyfarts was op die toneel en het my aan my maanhare uit die sous uitgelig. Linda het skynbaar geskree: “Nat lappe, nat lappe!” en die Tanzaniese Askari’s het haar Afrikaans verstaan.
Twee minute later was ek by en het simpel genoeg gevra of iemand ’n foto geneem het. Want sien, ’n foto vat die oomblik van die nóú vas en as ek dan nie met ’n valskerm in die Serengeti in kan spring nie, dan val ek sommerso in my bord kos in die Serengeti in.
Maar ek het ook geweet hierdie laaste besoek was net betyds. ’n Ou moenie uitstel nie. Jy moet doen wat gedoen moet word, voor dit te laat is. Moenie dink of begeer nie – doen.
’n Italjaner in Afrika
Eendag lank, lank gelede was daar ’n jong Italjaner uit die antieke dorpie Armento, genestel in die berge van die provinsie Potenza in die Basillica-streek van Suid-Italië … Maar ek en vroulief Nanna is vandag op pad vir ’n “afspraak” met ’n ander Italianer.
My eerste besoek aan die Richtersveld was lank voor dit tot nasionale park geproklameer is. Dit was op een van daai verwilderde, in-die-nag-weglope van my. Klim sommer in die bakkie en neuk die horisonnne in sonder om te groet of vir die werk te laat weet. Ek het êrens gelees van “the land God made in anger” en dit word my horison totdat ’n verantwoordelikheidsaanval my miskien weer terugdwing na die normale toe.
Die “aanslag” die Richtersveld in laat my in ’n mistige Port Nolloth beland. Oom Jopie van Springbok het my aangeraai om met dokter Alexander Hayward te gaan gesels. Dis nou as ek wil weet van paaie en nog wat. Die dokter se huisbesoekpunte lê die ruwe berge in – hy sal weet.
Terwyl die mis van die see af inrol, nestel ek my in Mama’s Tratoria, Port Nolloth se enigste eetplekkie, in. Met ’n koue Gracá en oopgespreide staatsdrukkerkaarte probeer ek Alexander se verduidelikings plot – môre lê die woeste voor. Ek’s bang, want dáár, as jy nie weet nie, gaan jy dood. Daar’s ’n mooi blonde vrou voor die pizzaoond. So links in die leërige eetplek sit vier wilde manne – diamantduikers. Vir hulle is ek ook maar lugtig – volgens oorlewering vat hulle nou nie kak van kabouters nie.
“Coenraad, nooi die man vir ’n dop. Jy kan mos nie dat hy so alleen sit nie!” skreeu die blondine en ’n langhaar-bebaarde beduie so met sy glas. En daai aand ontmoet ek vir Coenraad en Maria Grazia Elvira de Beer.
In 1992 het ek weer met Grazia de Beer paaie gekruis. Ons was besig met ’n ekspedisie vir die bewusmaking van mariene bewaring. Grazia en die vrouens van die dorp het vir ons span en ’n klomp gaste ’n seekosete by McDougallsbaai voorgesit. Sy’t my vertel van haar pogings om die doodslaan van robbe, die uitwissing van Weskuskreef en die verniel van strandlewe deur onverantwoordelike 4x4-bestuurders te beveg. Sy het hart en siel in die opheffing van “haar” dorp en sy gemeenskap gestort. Ek’t gewonder oor die Italjaner wat met ’n Boerseun getrou het en nou op dié godverlate plek haar lewe slyt.
Dit was eers sewentien jaar later dat ek weer met Grazia deurmekaar geraak het. Ek en my pa het een nag in Port Nolloth oorgebly. ’n Kennisgewingbord by die hoofstrand het my oog gevang: Welcome to Grazia de Beer Beachfront, het daar gestaan. Wat het dié vrou gedoen dat die hoofstrand na haar vernoem is? Navrae by Anita’s Tavern het aan die lig gebring dat sy op Kersdag 2007 aan kanker dood is en ek het geweet ek sal moet terugkom oor haar.
Ek en Pa het bespiegel oor Italianers. Hy’t vertel hoe hy as jong seun in die Ossewabrandwag op Afrikaans Hoër Seunskool sigarette en pakkies kos vir die Italiaanse krygsgevangenes op die trein wat by die skool verbygesnel het, gegooi het. Ek het gedink aan die monument ter ere van die Italiaanse krygsgevangenes wat die Dutoitskloofpas gebou het. In my binneste het ek geglimlag oor Johan Carosini wat Paternoster op die “map” geplaas het.
“Onthou jy die jong man van Armento …?” het my pa gevra.
My en Nanna se reispad vat ons al met die onderlope van die Oranjerivier aan die Namibiese kant af. Die Noordoewer,