ou het ’n ma. Of hy haar nou ken of nie. Wil ken of nie wil ken nie. Sonder ’n ma is dit eintlik onmoontlik om hierdie ou aarde van ons te bewandel.
Elke ou het sy eie storie, maar ek glo daar is niks so permanent soos die naelstringverbintenis nie. Ek is al diep middeljarig, maar my ma glo ek’s nog in my puberjare (miskien is sy reg). Vir haar is ek nog daai klein seuntjie in die prêm op Stellenbosch.
Drie weke gelede bel sy my: “Johannes, ek wil vir jou iets sê.” My moed sak in my skoene. Wat het ek nóú weer verkeerd aangevang?
“Jy weet, ek is eintlik baie trots op jou.” Hier kom dit, dink ek. “Jy was jou lewe lank vir my eintlik net ’n vreugde. Ek is dankbaar dat jy, met die genade, eintlik redelik suksesvol uitgedraai het. Jy’t ’n vaste werk. Jy’t twee pragtige kinders help heel grootmaak. Jy’t mooi gesorg vir jou mense. En ek weet van vroeg af sou jy eintlik net wou gesit en suip het op Putsonderwater.”
Ek glo nie wat ek hoor nie. Wys jou net – die naelstring. Die ergste van alles is ek was nog nooit op Putsonderwater nie …
Daar en dan gooi ek my bed-rol agterin die bakkie, laai vir Pop beenloos voorin en vat die agterpaaie Putsonderwater toe.
Boesmanland is so wyd soos die Heer se genade en sluk ander streke in. So vat hy ’n hap uit Namakwaland en die Hardeveld. Ook stukke uit die Bo- en Groot-Karoo. Eintlik kan niemand vir jou sê waar Boesmanland se grense lê nie. Een aand in ’n kroeg op Springbok het ek die dorp in twee verdeel gehad – bloot omdat ek oor Boesmanland se grense verneem het.
Boesmanland se plekke en plase het moedelose name soos Platbakkies, Stofvlei, Houmoed, Rugseer en … Putsonderwater.
My afspraak met Putsonderwater vat my deur die Koue Bokkeveld, af deur die Sederberge, Pakhuispas oor, in die Biedouwvallei af. My kop bly maal oor my ma. Sy’s eintlik ’n ongelooflike vrou, al sit sy nou al drie-en-vyftig jaar op my “case”. Ek dink die eerste kennismaking met dié statige, mooi, half-hogige, lang rooikop vang ’n vreemdeling tog so half onkant. Sy’s ’n imposante vrou.
Net anderkant die Engelsman se graf en die afdraai na Wuppertal snel ’n bakkie skielik by my verby. In die stofwolk gewaar ek twee jong vrouens in die kajuit. Die bak is hoog gestapel met drade, pale en ander boergoete. Teen dié spoed kom hulle nooit by hulle mans se plase uit nie, dink ek grimmig. En ek wonder oor hulle storie.
Dis by die Soutpan-Nieuwoudtville-kruising, bo die Botterkloofpas, waar ek hulle weer langs die pad kry. Die meisies is jonger as die verbyflits-onthou. Nadia Matthews is nie ’n boervrou nie. Sy is ’n een-en-twintigjarige boer. Sy boer alleen op die plaas Vryheid, meer as tagtig kilometer van die naaste dorp. Dit met slegs ’n Listerenjin en skaaphonde as geselskap. Suné Bosman, ’n skoolvriendin, is hier vir ’n kuiertjie en lyndraadspan-vakansie. Magtag, kry mens nog vandag sulke jong mense? Ek dink aan my ma en haar grootword …
Margaret Magdel Aucamp kom uit die Oos-Kaapse Stormberge. Op Sterkstroom in die vroeë 1930’s sien sy die eerste lig. Die depressie van 1933 maak dat die familieplaas Klapkloof nie meer die Aucamp-gesinnetjie van vier kan onderhou nie. ’n Kleintyd van swerf van een plek na ’n ander volg. Hendrik Aucamp, haar pa, is ’n wydbelese, donker man. Matilda, haar ma, is ’n vroulike, kunssinnige sangeres. Die alleenwees van een koshuis ná die ander het Margaret besweer deur te lees en dié wete: eendag sal sy iémand wees. O ja, die Aucamps was Sappe.
Deur Nieuwoudtville Loeriesfontein toe. ’n Boesmanlandse dors laat my by die gepaste Boesmanland Pub & Grill stop.
Daar’s ’n klomp manne om die watergat versamel. Dis harde manne dié, dink ek so by myselwers voor ons, soos dit in enige kroeg hoort, familie begin uitlê. Ek vertel hulle nie van my ma nie, maar Metje sê my hy’s ’n spoorsnyer op die Saldanha-Sishen-spoorlyn en Fanie en Wolfie is “spoorsny-brandslaners”.
En ek verstaan glad nie. Watse wild het Transnet so spoorlangs en hoekom word daar brand geslaan?
“Hoe lank sit julle al hier?” vra ek.
“So pas uitgeval en môre vyfuur sny ons weer spoor,” laat val Wolfie.
“Ek wou nog altyd spoorlangs Kenhardt toe ry. Waar kry ek ’n permit?” vra ek, net om my nie-verstaan ander rigting toe te stuur.
“Jy kan nie, maar sê vir iemand wat jou voorkeer jy ken die spoorsnyers, dan wys ons jou môre. Onthou, vyfuur.” En toe drink ons maar verder.
My ma het getrou met ’n Nat wat haar Saldanhabaai toe gevat het. Daai tyd was dit maar ’n eensame plek. Die Zorro-reeks het een keer ’n maand in SAS Saldanha se Vlootsaal gedraai. Kaapstad was grondpad ver en Nico Malan was nog nie ’n teater nie. My ma, die kunstenaar, het om die nie-behoort te besweer die mooiste stories begin skryf en my gedwing om te lees.
Die son is al sag as ek die pad Granaatboskolk toe vat. By Loop 8 bereik ek die spoorlyn en met bordjies wat luidkeels Private Road – No entry without valid permit. Trespassers will be prosecuted uitbasuin,vat ek die spoor. Ek ken mos die spoorsnyers.
Skemer vang my net voor Dwaggas- en Kommissaris-soutpan. Ek trek die bossies in. Pak ’n vuurtjie, rol my bed-rol oop, knak ’n botteltjie wit en gooi ’n dikrib op die kole. En terwyl Boesmanland se wydheid in purper verkleur, gaan my gedagtes terug.
My ma het nog altyd ’n moerse invloed op my wel en wee en gemoedtoestand gehad. Ek het geglo as sy gelukkig is, dan’s ék ook (dis min of meer die gevoelente wat ek oor my eie persoonlike vrou het, en nou het my dogter ook bygekom … ). Dis die naelstring-ding, maar ook het sy ’n helse invloed op my menswees gehad. Dis sy wat my van die dieperdroom vertel het. Dis sy wat vir my ander wêrelde as die normale laat verstaan het. Haar swaar van die terminale kanker wat by haar gediagnoseer is, reg gebid soos Hiskia van ouds, het haar ’n lewenskerpte laat ontwikkel – of miskien was dit altyd daar.
Net voordat ek aan die wroeg kon gaan, het ek gelukkig só, sittende in my stoel in Boesmanland, aan die slaap geraak. Terwyl die dikrib verkool.
“Word wakker! Ons sny spoor.” Wolfie buig oor my. Dis vyfuur die oggend. Die daglumier wil-wil uit, en wragtag, hier kom ’n helse geel masjien op die spoor aangekruie. Hy’s seker ses lokomotiewe lank en hy ry dat die vonke spat. Die vonke skiet so erg dat die Boesmanland-skaapbossies aan die brand slaan en Wolfie en Fanie, in hulle Cruisers, slaan vuur dat die sop so spat.
O, is dít hoe jy Transnet se spore sny? Nou verstaan ek.
As kind was my ma langs die sportvelde wanneer ek gespeel het. Aristokraties het sy boggherol van rugby geweet, maar sy was daar. Sy’t stukkende ledemate gelap en emosioneel bekommerd geraak oor klein dinge wat vir haar nie verstaanbaar was nie. Ek weet ook dat toe ek as agtjarige in Wynberg se militêre hospitaal in ’n koma gelê het, sy maande lank byna permanent langs my bed was. Ek was haar eerste.
Spoorpad langs het ek vir Piet Scheepers, ’n soutraper van Verdorshoekpan, raakgeloop. So ook vir Boesman en Gert wat met hulle skaaptrok op ’n spoorkruising loop staan het. Gou-gou het ek hulle ge-“jump-start”. Dit net voor die drie kilometer lange ysterertstrein by ons verbygesnel het. Ek was eufories in my eie wees, op ’n pad wat niemand ry nie.
In Kenhardt se hotel het Suzette en Eaton Wickers gesorg vir ’n ordentlike bord kos. Een-en-sewentig kilometer weg het Put-sonderwater gelê.
Wat weet ek van Putsonderwater? Behalwe dat my ma geglo het ek wou eintlik net daar gesit en drink het vir ’n lewe. Putsonderwater is amper Suid-Afrika se Timboektoe. Maar in 1989 het dié stasiedorpie die Duncan-prys as mooiste stasie in Suid-Afrika gewen. Piet Titus van Marydale sê die plekkie was “woelig” in die tyd toe hy daar gewerk het. Die storie loop dat die plaas oorspronklik Klippan geheet het. Daar was ’n put. David Ockhuis, ’n Griekwa, het in 1880 die put sy staning gemaak. Ek elke keer as ’n trekboer daar verbygetrek en gevra het of daar ’n put is, was David se antwoord: “Ja, meneer, ek het ’n put, maar dis ’n put sonder water.” Só het hy sy water beskerm.
In 1962 het Bartho Smit ’n toneelstuk genaamd Putsonderwater geskryf wat verbied is deur die destydse regering omdat dit oor liefde oor die kleurskeidslyn gegaan het. In 1978 wen hy die Hertzogprys