C. Johan Bakkes

Oepse Daisy


Скачать книгу

Hunsberge in twee. Dan beur die pad dieper die woeste voorberge van die Chumgebergtes in – en jy weet hiér wil jy nie dood nie.

      Ons draai uit nostalgie in die Gamkabskeurvallei in, net omdat dit so besonders is. Ons was al hier. Dis ook hier waar ons vir Kleintjie Nortjé op sy alleenreis raakgeloop het, maar dis ’n ander storie. Die Gamkab is een van die mooiste plekke in ganse suidelike Afrika en gelukkig is daar geen aanduiding van waar sy bek presies is nie – ek sal ook nie sê nie, want ek’s bang hulle sit ’n lodge daar op.

      Ons ry rustig en voëls kyk, maar eintlik soek ons die skaars halfmensboom wat net hiér voorkom. Dis soos luiperd soek in die Kalahari. En dan, wragtag, bo teen ’n suidelike hang “ruk” Nanna vir ons een uit! Dis ’n heerlikheid en ons gooi terstond ’n skerpskoot.

      Die pont by Sendelingsdrif, terug Suid-Afrika toe, is vir my en vroulief ’n kinderlike lekkerkry en vreugde. Die Oranje is hier nie baie breed nie en die vaart is te vinnig oor.

      Nou wil ek vir Nanna so ’n stukkie Richtersveld gaan wys, maar gee egter die park ’n mis en beur Khuboes toe, wetende ek het ’n ander afspraak.

      By Cornellskop is daar deesdae ’n bordjie wat sê Wondergat. In die ou dae het dit erge verduideliking van dokter Alexander geverg vir my om dié plek te kry. Die Namas glo die diepe sinkgat is die skuilplek van die waterslang Heitsi Eibib. Heitsi Eibib is die watergod van die Gariep. Volgens oorlewering is dit ’n helse slang met ’n groot robyn op sy voorkop. Hy en Njami-Njami van die Zambesi is skynbaar neefs. Hoe dit ook al sy, elke keer as ek so in dié gat af loer, dan loop die koue rillings teen my ruggraat af.

      “Kom weg daar!” beskrou Nanna my as ek te naby die oop gat staan en ’n klip die dieptes in gooi. Duidelik voel sy ook die Lorelei-trek van Heitsi Eibib.

      Khuboes is maklik die plekkie aan die gatste kant van Suid-Afrika. Dis nie sommer ’n plek waarheen ’n mens ry nie. Of jy nou van Eksteensfontein, Lekkersing, Alexanderbaai of Sendelingsdrif af kom, die toegangspad is horing. Maar vir dié wat op soek is na iets anders, is dit ’n móét. Die pragtige Rynse Sendingkerk, die skooltjie waar daar nog ’n Nama-leermeester is, die tradisionele matjieshuisies, die ongekunstelde kinders wat sê: “Meneer hierdie is ’n veilige plek”. En die dorp se leuse: Vir dié wat waag om dieper te droom.

      ’n Spookagtige mis omhul Port Nolloth as ons die wit hitte van die diamantgebied afskud en die dorp in ry. Ons ry verby die Katolieke kerk waarop staan Immaculate Heart of Mary, en uit die mis tree Moeder Maria vir ons en alle reisigers en seevaarders in, dankbaar dat ons veilig aangeland het.

      ’n Leë gebou val op: Welcome to Wealth 4 U Country: Production Office & Shareholders Lounge. Die plek is te huur. Die diamantdelwers het onttrek. De Beers is weg. Alexander Hayward se spreekkamers is nou ’n gastehuis. Ons teken in. Mama’s Tratoria is nou Vespetti se restaurant.

      “Vertel ons van Grazia de Beer,” begin ons rondvra.

      Maria Grazia Elvira Pugliese is op 12 Mei 1954 in Milaan gebore. Die vroedhuis het gegrens aan die Santa Maria del Grazie-katedraal, wat tans Da Vinci se Laaste Avondmaal huisves. Vandaar haar naam. Haar hoërskoolloopbaan voltooi sy in Kaapstad, waarna sy ’n BA in Engels, Frans en Italiaans aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Haar studies word afgesluit met ’n jaar aan die Universiteit van Padua in Italië. Sy is ’n gerekende kitaarspeler en speel in ’n jazzorkes, terwyl sy werk as ’n vertaler en tolk by die Italiaanse konsulaat in Kaapstad. Ook het sy ’n swart gordel in karate.

      En dan gaan hou sy saam met ’n vriendin vakansie in Port Nolloth en raak verlief op die plek en ’n diamantduiker genaamd Coenraad de Beer, en keer nooit weer terug nie …

      Seker om die eensaamheid, godverlatenheid en wildheid van die plek (die Namas noem dit Aukwatowa, wat beteken “waar die water die ou man weggevat het”) te besweer, begin sy:

      – ’n restaurant

      – ’n gastehuis

      – ’n tuisnywerheid

      – ’n handwerksentrum

      – ’n snuisterywinkeltjie

      – ’n museum

      – ’n mariene navorsingsentrum

      – ’n karate-dojo

      – ’n orkessie

      En sy begin Port Nolloth op die kaart plaas. Sy veg vir die behoud van die natuur en kuslewe en vir die mense van die Richtersveld. Soos sy eendag gesê het: “Positivity keeps us going and keeps us creating something out of the nothingness, and quite ready to deal with the ups and downs and highs and lows of this Coast of Dreams.”

      Toe raak die diamante op en Grazia gaan dood. En Port Nolloth, wat sy bestaan eerstens aan koper, toe vis en toe diamante te danke het? Dis nie meer daar nie, maar Grazia se bord staan nog daar – gaan kyk ’n bietjie wat een Italiaanse vrou vermag het.

      En die jong man uit Armento?

      Rocco Catoggio is in 1790 gebore. Êrens tussen 1806 en 1808 sluit hy hom aan by Napoleon se magte in Spanje, word gevange geneem en sluit aan by ’n Britse vreemdelingelegioen. In 1811 bevind hy hom aan die Kaap as deel van die 60ste Regiment van die King’s Royal Rifle Corps.

      In 1815, op vyf-en-twintigjarige ouderdom, word hy vrygestel en vestig hy hom in die Paarl as leerlooier en skoenmaker en verkry die plase Eendracht en Bellevue waar hy wyn maak. Sy enigste dogter trou met Abraham Mathys Johannes de Villiers. Die familienaam Catoggio sterf uit, maar uit die “Cators” de Villierse kom daar onder andere orrelbouers van die Paarl, M.L. de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika toonset, koor- en musiekman Dirkie de Villiers, die pianis Rocco de Villiers, aktrise Lizz Meiring, die musiekghoeroe Joubero Malherbe en skrywer Margaret Bakkes, my ma.

      Duidelik, soos Port Nolloth, het ek ook my “bestaan” aan ’n Italjaner te danke.

      Hansie slim, berg wil klim

pic26.jpg

      Hansie slim, berg wil klim,

      gaan die wye wêreld in.

      Stok en hoed pas hom goed,

      hy is vol van moed …

      “Klim onmiddellik van die verhoog af! Jy roep jou naam gat!” beskrou Nanna my net ná ek op die verhoog gestorm en in die openbaar ’n hartroerende bekentenis aan die optredende sangeres gemaak het.

      Wat het my besiel? wonder ek skaam-skaam iewers in ’n klein restaurantjie vlak teen die Dourorivier in Oporto, Portugal. Dan gryp die sangeres weer die mikrofoon en die melankolie, verlange en hartseer van die fado oorspoel my en ek weet …

      Dis musiek. Musiek gee vir my dimensie aan ’n oomblik. Musiek gee uitdrukking aan ’n mens se gevoelentes. Musiek maak onthou. Musiek maak verlang. Musiek maak reis.

      “Hansie slim, berg wil klim, gaan die wye wêreld in”. Ek dink dis die eerste liedjie wat my onderbewussyn herken.

      Grootword in ’n tyd sonder televisie en rekenaartoegang tot die globale het die sintuie geslyp op dit wat wél toe reeds beskikbaar was. Dit wat oorvertel is, dit wat gelees is, die musiek wat geluister is en die kos wat geproe is. Dit was dít wat die groter wêreld aan jou verduidelik het.

      As klein seuntjie op Saldanhabaai het ek in die sitkamer op die bank gelê en lees oor die seevaarder Antonia de Saldanha, terwyl Amalia Rodriquez op die draaitafel droef haar hart in ’n vreemde taal uitgestort en my ma het geroep het dat ons moet kom aansit vir caldeirada. En daarom het ek geweet – iewers anderkant Saldanhabaai is daar ’n plek genaamd Portugal en ek móét eendag daar uitkom …

      Terug na musiek. Dis tog interessant watter invloed musiek op ’n mens kan hê. Hoe die hoor van ’n stuk musiek selfs ’n reuk en ’n proe kan oproep. ’n Oomblik van vreugde of ’n oomblik van hartseer. Hoeveel mense onthou nie jare later nog daai liedjie wat hy of sy en die geliefde die eerste keer saam gehoor het nie?

      Die