verstaan nie wat jy sê nie,” brom hy koppig.
Sy keer haar meteens na hom, ongekende drif in die hand wat sy op sy arm plaas. “Eugene Basson, los my uit! Moenie iets tot elke prys wil doen terwyl jy goed weet watter geweldige gevolge dit gaan hê nie. Jy kan nie wil hê ek moet my beloftes, voor God gemaak, verbreek net omdat jy reken George behandel my verkeerd nie. Want as ek dit sou doen, is ek niks beter as hy nie. Jy vergeet ook dat dit nie aan hom is dat ek verantwoording verskuldig is nie.”
Hy vang haar hand voordat sy dit kan terugtrek, druk dit hartstogtelik teen sy bors vas.
“En ek dag nogal jy is weerloos! Jy maak my skaam, weet jy!”
“Maar ek is weerloos. Dis net dat ek weet aan Wie om my vas te klem.”
Dit voel vir Eugene asof hy homself nooit weer sal kan losmaak uit die diep blougroen van haar blik nie, maar hy laat haar hand los.
“Jy is reg,” sê hy swaar, asof hy lank laas gepraat het. “En dis verregaande van my om jou sulke vrae te vra. Die hemel weet, ek kan myself nie help nie. Vandat jy daardie voordeur vir my kom oopmaak het, het ek met jou te doene, dag en nag. Ek weet nie wat ek vir jou voel nie, maar ek kan jou nie net uitlos nie. Laat my dan toe om jou vriend te wees. Asseblief, net dit.”
Sy draai om, stap terug na die emmer met wasgoed en begin dit aan die wastou ophang. Hy kom haar help, gee dit woordeloos vir haar aan. Toe hulle alles opgehang het, vee sy haar klam hande aan haar broek af, kyk verleë op na hom.
“Vriendskap was seker nog nooit verbode nie. En ek kan nie ontken dat dit wonderlik sal wees om iemand te hê met wie ek soms werklik kan praat nie. Moet net nooit dink dat jou ongevraagde tussenkoms iets kan verander aan wat is nie.”
“Goed,” sê hy stadig, voel hoe ’n wonderlike warmte hom vul. “Ek sal jou vriend wees, wat daar is as jy hom nodig het. Niks meer nie. En dankie daarvoor!”
Maar sy skud haar kop heftig, haar oë toe.
“O Gene, jy moet goed dink. Jy is dalk nie die soort man wat ’n mak maatjie sal kan bly nie. Gaan liewer terug na … na Lilette toe.”
Dis te laat! wil hy uitroep. Veels te laat! Maar hy bly stil totdat sy weer bedaard aanstap met die leë emmer in haar hand en wil opklouter na die soldervenster. Toe kom neem hy die emmer by haar, hou haar lig aan die arm terug.
“Daar is soveel krag in jou,” sê hy, en sy oë sak na haar smal skouers, die brose lyn van haar heupe. “Ek het veel om by jou te leer.”
Maar sy maak haar arm los. “Ek is seker dat ek niks gesê het wat jy nie reeds weet nie.” Maar sy glimlag vriendelik met hom voordat sy vlugvoetig teen die skuins helling oploop en by die venster inklim. Eers toe sy al heeltemal deur die opening verdwyn het, kom hy tydsaam agterna.
Die Sondag van die uitstappie na Keukenhof daag wolkloos, en Eugene wil net bly raak oor so ’n vooruitsig in dié wolkeland toe Mieke, wat kort ná nege by Rapenburg 49 opdaag, hom vroeg ontnugter.
“Neem maar jou parka saam,” lag sy. “Vandag gaan ’n reëndag wees!”
Eugene murmureer, maar gaan haal tog maar die parka by De Witte Singel onder groot gelag van die ander, wat al Holland se nukkeweer aanvaar het. Eindelik is almal gereed vir die uitstappie. Mieke het met groot gedoe ’n kosmandjie gepak met allerlei kase, korentebolle, boterhamme en heerlike gekoopte gemmerpannekoeke. Elsje lyk heelwat beter ná die paar dae se rus waarin Mieke hoofsaaklik vir die etes gesorg het, en Sylvie soos altyd met die wasgoed gehelp het. Ook die mans, bleek om die kiewe van al die studeer, lyk op die oog af ingestem vir ’n uitstappie. Eugene het al aan almal vertel hoe ’n knap gids Mieke is, en dus sien hulle daarna uit om Keukenhof deur haar oë te sien. Ook sal sy hulle op pad daarheen veel meer van die landskap kan vertel as wat hulle voorheen daarin gesien het.
In die bus op pad na Lisse is dit vir Eugene, wat heel voor langs Mieke sit, ’n louter genot om meer van Suid-Holland te kan sien. Dit is ’n prenteboekland – die swart-en-wit koeie wat rustig wei op die drooggelegde polders in die raamwerk van blink kanale; die draaiende arms van windmeulens; seilbote en platboomskuite; huise wat laag in die weivelde staan en spierwit swane op vierkantjies silwer water.
By Lisse klim hulle van die bus af en stap na die meer as sestig akker blomtuin – Keukenhof, uitstalvenster vir die wêreld se bolle-industrie. Hier hoef Mieke niks te sê nie, want ook sy is weer opnuut stomgeslaan deur die glorie van die blomvelde. Saam met Eugene en die ander stap sy woordeloos deur die derduisende tulpe in volle blom. Dis ’n jubelende kariljon van kleure waarin die mooiste uiting van bewondering net verswelg word. Selfs die rustelose George loop rustig langs sy vrou, wys haar kort-kort op ’n tulp of ’n hiasint hier en daar wat besonder mooi is, sodat Eugene dit byna nie met sy gewone botheid teenoor haar kan vereenselwig nie. Die man is voorwaar ’n verkleurmannetjie. En die bedenkinge wat Eugene koester, is ook nie heeltemal ongegrond nie, want toe hulle gaan tee drink in ’n rooidakrestaurant vlak langs ’n meer waarop blomblare swewend drywe, bewimpel George dit so dat hy langs Mieke sit. En ’n hele kwartier lank gesels en lag hy net met haar, asof die ander hoegenaamd nie teenwoordig is nie. Maar Peet en Elsje en ook Sylvie ignoreer dit. Dis net Eugene wat lus kry en vlieg op en skud die man. Maar hy vang Sylvie se oog, en met ’n klein gebaar van haar hand wys sy aan hom om liewer te bedaar. Uit skone frustrasie knoop Eugene ’n hortende gesprek met Peet aan, totdat dié hom later vreemd aankyk en vra wat skort.
“Niks spesifieks nie,” sê Eugene met ’n geïrriteerde handgebaar sodat Peet skeef en nadenkend opkyk. “Maar ek begin dink dis miskien tyd om vir my ander verblyf te soek.”
Peet se oë vlieg na Mieke se blonde kop, wat vooroor gebuig is om mooi te hoor wat George sê, en sy wenkbroue lig veelseggend.
“Ek kan haar tog nie verbied om in dieselfde hotel as ek in te trek nie,” verweer Eugene, “maar dit gaan net onnodige kompli-kasies meebring.”
“Hm. Daar is natuurlik ’n leë kamer op die grondverdieping van nommer 49, maar daar is geen badgeriewe nie. Slegs ’n toilet en ’n kraantjie teen die plafon, wat as stortbad moet dien.”
“Sal goed wees,” antwoord Eugene. “En ek wil nou begin werk soek. Ek is nie gemaak vir so ’n leeglêery nie. Ek sal veel liewer naweke wil rondtoer.”
Peet beloof om ’n dag af te staan en hom met sy soektog te help. Toe deel Mieke die pannekoek en broodjies uit, en hulle eet eers klaar voordat hulle verder wandel deur die blomme wat soos kleurfonteine oor grasperke en deur klein woude vloei. Oplaas gaan kyk hulle ook na die magiese amarillisse in die glashuise. Dis toe hulle binne is en hulle verwonder aan die wasagtige perfeksie van die lelies, dat Eugene agterkom dat George en Mieke nie by is nie. Peet en Elsje loop al geselsend die skone blomme en bekyk, en ook Sylvie buig nader aan die kelk van ’n blom om daarna te kyk asof sy haar voorneem om die byna heilige skoonheid daarvan nooit weer te vergeet nie. Eugene kry lus om die glashuis met een magtige kreet aan skerwe te laat spat, maar hy bedwing hom. Hy bedwing hom vir die soveelste maal vandat hy met Sylvie Bosman kennis gemaak het. Hou jou blind, het sy gesê, en het Peet gewaarsku. Nou ja, dan sal hy hom blind hou.
Hy stap glimlaggend nader net toe Sylvie weer orent kom.
“Lieflik, nè?”
“Wonderlik,” sug sy. “So volmaak.”
Maar toe hy haar arm neem om agter Peet en Elsje aan te loop, voel hy die bewing wat deur haar hele lyf sidder, en hy vergeet sy voorneme.
“Hy verneder jou met opset,” sê hy deur sy tande, maar waag dit nie om na haar te kyk nie, hou sy oë op die goddelike skoonheid van die potte en potte amarillisse.
“Miskien,” sê sy, nietemin beheers, “maar dit sal verbygaan …”
“Daarvoor sal ek sorg,” antwoord hy verwoed, en voordat sy nog ’n woord kan kwytraak, stap hy vinnig by die glashuis uit.
Net buite die glashuis loop hy George en Mieke raak. Sy staan vertroulik na aan hom, glimlag op in sy gesig en lyk asof sy innig waarderend luister na elke woord wat hy sê.
“Nou