Eugene skik hom daarna omdat hy ook nie veel anders in gedagte gehad het nie. Die werksoekery kan ook maar wag vir volgende week. Die toer word vir Eugene suiwer plesier. Dit voel vir hom asof die bladsye van ’n storieboek vir hom een vir een omgeblaai word, want om elke draai is daar vir hom ’n nuwe verrassing – ’n versteekte klein binnehof, die vierkantjie gras van ’n parkie, ’n ou kerk, ’n glimp van ’n verweerde stadspoort. En reg deur Leiden vloei die Rynrivier, omlyn deur kades met huise en winkels wat in die stadig vloeiende water weerkaats. En tussen hierdie blaaie leer hy ook ’n ander Mieke ken.
In haar kokette amandel oë is daar ’n lig wat deur suiwer entoesiasme aangesteek word, en sy borrel oor van die interessantste insidente uit die geskiedenis, legendariese staaltjies en sommer net stories, soos ’n fonteintjie wat skielik uit ’n rots stroom. Sy weet skynbaar alles van alles af hier in Leiden, en praat daaroor met ’n sensitiwiteit wat getuig van haar liefde vir die plek en dit wat Hollands is. Iemand wat so kan liefhê, moet tog sekerlik kan seerkry ook, dink Eugene onwillekeurig.
Leiden, vertel Mieke hom, besit ’n groot aantal skilderagtige hoffies, maar dit vra ’n hele dag se besigtiging en moet wag tot later. Nou wil sy hom na De Nieuwe Minerva neem vir ete. Dit is in die Vrouwensteeg op die hoek van Breestraat, en dit lyk presies nog soos die ou Hollandse herberg wat dit eens op ’n tyd was.
Een van die restaurante in De Nieuwe Minerva word ’t Wynstraatje genoem, en toe hulle gaan sit, sê Mieke Eugene aan om vir hulle ’n bottel wyn uit te soek uit die eenhonderd vyf en vyftig soorte wat hier gehou word. Eugene soek ’n droë rooi wyn uit wat Mieke goedkeurend laat knik, en hulle gaan sit by die tafel gedek met spierwit linne en Hollandse erdewerk.
Toe hulle elkeen met hul glasie sit, neem Mieke een klein slukkie van hare en sê byna gebiedend: “Vertel my nou van jou wagmeisie.”
Eugene is so midde-in die werklikheid van hierdie eetplekkie met sy keurige tafels en Persiese tapyte dat dit hom ’n oomblik kos om te weet van wie sy praat.
“Waarom het jy haar nie saamgebring nie?” vervat sy voordat hy nog kan praat.
“Ek wou alleen wees,” sê hy stadig, “en Lilette verstaan dit. Sy is baie lief, die soort meisie met wie ’n man trou as hy werklik verstandig wil wees.” Hoeveel hy dáármee sê, besef hy nie, ook nie dat hy Mieke dalk op ’n rou plek raak nie.
Tog sit sy hom heel kalm en beskou asof sy so ’n onregstreekse skimp op haar wel verwag het, en dit haar nie skeel nie.
“jy wil alleen wees,” mymer sy, haar oë op die rooi vloeistof in haar glas, “en ék wil glad nooit alleen wees nie. Jy praat ook van trou en werklik verstandig wees. Maar ek sê jou nou dat George Bosman werklik verstandig was toe hy met sy Sylvie getrou het – en tog was dit verkeerd …”
“Wat bedoel jy?” vra hy vinnig, sy oë deurborend op die mooi oud-ryp gesig van die meisie oorkant hom.
“Sylvie is fyn en byna maagdelik mooi. En George … wel, hy is ’n sjarmante onderkruiper …”
“Ek dag jy vind hom prettig!” antwoord hy doodverbaas.
“Maar ek vind hom heel, heel prettig. Jy verstaan nie. By my sal hy altyd prettig wees, want iemand soos hy weet goed ek sal die klappe wat hy uitdeel net so goed teruggee. Maar Sylvie, nee. Sy’s te bang vir die lewe. Dit staan op haar gesig geskryf, of anders misgis ek my lelik.”
Dis asof daar ’n siddering in Eugene se borskas kom, ’n vibrasie wat sy woorde meteens laat losspring.
“Los Sylvie uit, Mieke! Ek waarsku jou, los haar uit!”
Die vinnige flits van begrip in Mieke se liggroen oë bring hom tot besinning.
“Luister,” sê hy lamlendig, “sy is nie teen jou bestand nie, en … dis waar … ook nie teen George nie.”
Daar sak ’n stilte oor die wit tafeltjie tussen hulle, dig soos ’n damaskdoek.
Mieke sit ongeërg haar wyn en proe-proe, haar oë afgeslaan.
“Wil jy my sê,” fluister Eugene ongelowig, “dat jy al klaar jou oog op George Bosman het?”
Sy glimlag stadig, haal haar skouers effens op.
“Is jy werklik so … so …?” poog hy verslae.
“So gemaak en so laat staan,” antwoord sy, en lag nou openlik. Eugene voel hoe woede – die woede van ’n regverdige, of so dink hy nou – soos ’n kool in hom gloei.
“Ek verbied jou,” sê hy sag maar baie duidelik, “ek verbied jou, hoor jy, om te kom moeilikheid maak op ’n plek waar ek jou uit jammerte ingelaat het.”
Sy kyk hom vierkant aan. “Ek sou sê dat dit van jou afhang, Eugene Basson.”
Dit kos Eugene etlike koue tellings om te besef dat hierdie meisie ’n spel van die allerfynste afpersing speel. Sy is ’n baie skerp waarnemer, en sy het ’n sterk vermoede dat hy vir Sylvie omgee. Dalk te veel omgee. En voordat hy sy mond kan oopmaak om haar die kop te was, skiet ’n wete hom soos ’n skroeiende vlam te binne: hy gee beslis en onherroeplik te veel om vir Sylvie Bosman. Ook dié besef kom soos ’n brandyster op sy hart neer: watter verskil is daar nou eintlik tussen Mieke de Kuiper wat rondslaap en Eugene Basson wat sy naaste se vrou begeer? hy durf nie ’n enkele klip gooi nie.
Daarom sê hy net verwese: “Ek is nie te vinde vir jou speletjies nie, Mieke.”
En sy antwoord: “Ons sal sien.”
6
Die dag na hul besigtigingstoer deur Leiden ontglip Eugene vir Mieke deur heel vroeg op te staan en sommer self stegie op en stegie af te stap. Deels is dit ’n poging om Mieke se volgehoue teenwoordigheid vry te spring, en andersyds om heeltemal alleen te kan dink oor die afgelope week. Daar het meer met hom in hierdie week gebeur as in die hele res van sy lewe, so voel dit vir hom. Hy het betrokke geraak, diep betrokke by mense van wie se bestaan hy nie eens gedroom het nie.
Dis hierdie besef wat hom vroegdag al uit die vere het. Hy moet hier en nou uitsluitsel kry oor sy gevoel vir Sylvie. Maar dis asof daar ’n sluier skuif oor daardie deel van sy gemoed wanneer hy dit wil ontleed. Dis asof hy nie die hart het om werklik met oop oë daarna te kyk nie. Veral die wete dat hy net so laag as die Miekes en die George Bosmans sal daal as hy een beweging na Sylvie toe maak, weerhou hom daarvan om heeltemal eerlik te wees met homself. Ook dit is pynlik vir Eugene, om nie eens teenoor homself te durf erken wat hy voel nie. Daarom besluit hy oplaas: ek mag Sylvie Bosman bejammer, want sy ís te bejammer.
Toe stap hy Rapenburg toe, gaan staan ’n wyle op die voetbrug om ’n lang kano vol opgeskote seuns dop te hou terwyl dit stadig verbyvaar op die grag. Op die kade reg voor Rapenburg 49 sit twee ouerige mans rustig en visvang in die vroeë oggend.
“Vang julle ooit iets?” wil Eugene geamuseerd weet.
Hulle kyk op na die forse jong man met sy helderblou oë en songebruinde gesig, en hulle glimlag.
“Soms wel,” sê die een, “maar dit is maar net die bonus.”
“Ons sit soggens en smiddae hier ter wille van ons siele,” sê die ander.
Eugene loop tot by hulle, waar hulle reg teenoor die groot voordeur van nommer 49 sit.
“Dankie dat julle my daaraan herinner,” sê hy met ’n glimlag, maar met soveel erns in sy stem dat die twee oues hul verweerde pette soos een man lig.
Daarop verander Eugene sy plan om by Rapenburg 49 in te gaan, en stap straataf om Peet op sy pad na die Gravesteen-biblioteek in te wag. Hy wil met Peet praat; hy het mos nie verniet gekom om te put uit sy broer-vriend se meerdere ervaring en insig nie.
Hy wag dan ook skaars tien minute of hy gewaar Peet se lang gestalte. Toe hy feitlik reg teenoor hom is, tree hy uit van onder die groot eik waar hy gestaan het, en Peet steek verbaas in sy spore vas.
“Gene!” roep hy verras uit, en toe in een asem: