Helene de Kock

Helene de Kock Omnibus 9


Скачать книгу

lang rukke, verkyk hulle aan ou skoolmaats wat reeds met krosies rondstap.

      “Wanneer,” vra ’n klasmaat van Peet wat hulle by die dorpskafee raakloop, “is júlle groot dag dan?” En die man kyk trots en betekenisvol af op die blonde bolwangseuntjie wat hy op sy arm dra.

      “Een van die dae,” antwoord Peet gemaklik, toe Maryn met ’n mond vol tande staan, en voeg by toe hy sien sy wil-wil ergerlik lyk: “Nes my prof laat weet presies wanneer ek in Leiden moet wees.”

      Hulle gesels nog ’n bietjie, groet en loop verder. Nie een van hulle twee verwys met ’n enkele woord na dié gesprek nie. Hulle praat glad nie. Tog is hulle skerp van mekaar bewus, elkeen soos van ’n vreemdeling wat in die poort sy ongeleë verskyning gemaak het. Maar dis Maryn wat, toe sy tersluiks na Peet opkyk en die bedruktheid om die mooi gevormde mond sien, eerste jammer kry en haar hand deur sy arm steek. Dit vang hom onkant, maar dis met blydskap dat sy voel hoe hy haar hand teen sy lyf aandruk. ’n Geweldige gevoel van teerheid teenoor hom wel in haar op. Ag, sy is tog regtig lief vir Peet. Sy sal altyd vir hom lief wees, net soos wat sy nog altyd was. En sy wil nie, mag hom nie seermaak nie. As sy haarself net kan genees van hierdie ander emosie wat soos ’n roos in haar hart oopgegaan het. Miskien probeer sy nie hard genoeg nie, miskien wil sy nie dink aan wat die gevolge gaan wees as …

      “Peet,” sê sy skielik dringend, “waarom is jy nou skielik haastig Leiden toe?”

      Hy gaan staan net daar in die straat, kyk af op haar, en sy gesig is heeltemal onleesbaar. Toe buk hy en tel ’n klein klippie op, weeg dit gedagteloos in sy hand, gooi dit speels na ’n piepklein hondjie wat hulle gewaar het en nou al keffend om hulle kring. Dis eers toe die diertjie tjankend die wyk neem dat Peet haar antwoord: “Ek is nie soseer haastig nie, Maryn. Dis net ’n kwessie van dat ek ons vertrek daarheen wil vervroeg. Dit sal goed wees as ons eerder as wat beplan is, kan gaan en ons voete vind in ’n heeltemal vreemde plek.” Sonder om haar direk aan te kyk, slaan hy ’n arm om haar middel, en sê met ’n soort laggie om sy mond: “Jy weet, twee Damplasers soos ons sal maar swaarkry op so ’n aartsvreemde plek! Gelukkig sal ons mekaar hê.”

      Maryn staan met haar kop agteroorgegooi en opkyk na hom, haar oë droog en brandend. En sonder ’n woord laat sy toe dat hy haar net daar in die straat nader trek en voor die oë van verskeie dorpenaars met verbete erns soen. Toe hy eindelik weer sy lippe van hare wegneem, merk hulle dat hulle ’n halwe kringetjie belangstellende toeskouertjies het, terwyl van die grootmense luid kuggend straataf loop. Maryn proes van die lag en Peet moet noodwendig saamlag, en wat ’n bepalende oomblik kon gewees het, vervliet as ’n halwe grap.

      Peet self is half verbaas dat hy so iets kon gedoen het. Maar hy was op daardie oomblik so bereid, so jammerlik gretig om die flarde van sy gemoed bymekaar te kry, dat tyd en plek vervaag het. Hy stap ietwat bekaf saam met Maryn verder. En hy bly skerp bewus van die skrynende gebrek aan erotiek in hul aanraking. Hoe is dit dan tog moontlik? wonder hy. Ek hét haar mos lief. As iemand ’n haar van haar hoof sou wil skaad, sal ek moor ter wille van haar. Ek wil dan nie eens hê Marcel Hoffman moet na haar kyk nie, uit vrees dat hy met sy lewenservaring haar sensitiewe gees mag kneus. Sy was nog altyd myne, wat is dit dan nou? ’n Mens staan tog nie iemand so maklik af nie?

      Toe hulle al naby die kliniek is, hou Maryn hom liggies aan die arm terug.

      “Wat is dit met Eugene en Elsje?” vra sy.

      “Ag wat,” sê Peet haastig, “maar dieselfde as met ons. Hulle staan ook op die drumpel van iets, en weet ook skielik nie waarheen nie!”

      “Peet,” sug Maryn, “laat staan jou slimstories en sê vir my!”

      “My hemel, Maryn, hoe moet ék weet? Ek … ek vermóéd Eugene raak haastig om te trou en Elsje is dalk minder haastig. Kom, hier’s ons, laat ons gaan kyk hoe gaan dit met die hond!”

      Hy draai om en stap die stoeptreetjies op tot by die groot deure van die kliniek. Maryn volg hom. Toe sy by hom kom, sê hy: “Kwel jou nie oor my en Eugene se onderonsie nie. Ek dink hy besef darem dat ek groot geskrik het toe Elsje nie tot die punt kon kom oor julle ongeluk nie. ’n Oor en weer kwaaipratery op daardie oomblik was nie só onvergeeflik nie, weet jy!”

      “Hm … maar julle is nogtans nie op joviale voet nie, nie soos wat julle altyd is nie?”

      “Maryn, los dit nou. Dis ’n ding tussen manne hierdie. Eugene sal herstel van sy nukkerigheid, glo my.”

      “Goed dan. Kom ons gaan in.”

      Hy maak vir haar die deur oop en hulle gaan in. Hulle is gelukkig om Hennie Smit in die portaal raak te loop, en hy neem hulle dadelik na waar Pote bra mistroostig in ’n hok lê.

      “Hy’s ’n tawwe kalant,” meen Hennie, “en hy sal oor ’n paar dae kan huis toe gaan. Ek wil hom net nog ’n bietjie stil hou oor die been.”

      Toe Pote vir Maryn sien, maak hy dadelik ’n spektakel van homself uit skone hondevreugde. Hy blaf en tjank en waai sy lang stert geweldig. Maryn word in die hok toegelaat en sy stap tot by hom, hurk en streel sy kop. Tot haar ontroering kry hy haar roksoom beet in sy bek en kou dit sopnat as teken van sy opregte blydskap om haar te sien.

      “Jinne, maar hy is gaande oor jou,” merk Peet op, en hy kan om die dood nie verhelp om by te voeg nie: “’n Mens wonder nou net of dit die hond is wat sy baas beïnvloed, of andersom …”

      “Ja-nee, jy sal moet lig loop, Peetman!” lag Hennie, en lyk ietwat uit die veld geslaan toe Peet hom dadelik en met groot erns antwoord: “Ek loop klaar lig, en ek verseker jou dis nie om dowe neute nie. ’n Meisie soos Maryn …”

      “Ag, julle praat die grootste twak!” val Maryn hom kortaf in die rede, haar groot oë donker van die kwaad en haar wange vuurrooi.

      “Nou toe nou,” sê Hennie Smit saggies by homself toe die telefoon lui en hy geroep word. Buitendien het hy die idee dat Peet nie juis mét hom gepraat het nie, maar déúr hom.

      Toe hy uit is, staan Maryn op, praat ’n laaste trooswoordjie met Pote en loop ook uit, met Peet agterna. Buite in die straat gee Maryn uiting aan haar ergernis.

      “Jy weet, Peet Baumann, dis darem ook omdat jy dinge doen en sê wat ’n mens kwaad máák, dat ’n mens kwaad wórd!”

      Peet staan ’n oomblikkie doodstil. Hy weet in sy hart nie werklik waarom hy so met haar geskoor het nie, en hy kan ook nie verklaar waarom hy steeds lus het om dit te doen nie.

      “Praat jy nou namens jou broer ook?” vra hy onverstoord.

      Maryn vat ’n groot sluk lug en stik byna.

      “Nee wat, as jy eers in só ’n onmoontlike bui is, rig ’n mens tog met jou niks uit nie – jy praat verniet van Eugene se bui!”

      “Nee, Maryn,” antwoord Peet ook eensklaps warm, “die moeilikheid is dat jy niks met my wíl uitrig nie, al is ek ook in wátter bui!”

      Hy self staan verstom oor sy woorde, en wonder vaagweg geamuseerd of dit nou ’n uitnodiging aan haar was om hom te smeek om so gou as moontlik met haar te trou. Wel, dink hy met ’n soort nugterheid, dit sal dalk vir my ’n oplossing wees as sy wil vlam vat oor my. Die vet weet, sy is mooi genoeg soos sy daar staan met haar bloedrooi wange en blitsende blou oë – sy sal my maklik genoeg kan dwing om haar terstond te vra om môre te trou. Want haar eie bekoring, wat geen man kan miskyk nie, plus my enorme ereskuld en opregte gevoel vir oom Frederik, is dalk gewigtig genoeg om die skaal te laat sak …

      Maar sy staar net na hom asof dieselfde gedagte nou net by haar opgekom het, en sy dit nie werklik aanneemlik vind nie. Eindelik breek daar tog ’n soort laggie deur, en sy neem net sy arm om aan te stap.

      Terug by die motorhawe deel die werktuigkundige hulle mee dat hulle Peet se motor op die vroegste die volgende dag sal kan kry. Hulle besluit om saam met oom Frederik, wat ook ingekom het dorp toe en iewers in die omgewing van die koöperasie behoort te wees, terug Damplaas toe te ry. Hy is maar te bly vir geselskap op pad huis toe.

      Peet en Maryn merk albei hoe moeg hy weer daar uitsien, en Peet bied dadelik