sou dit wees?” wonder oom Frederik, maar die ander twee skud albei hul koppe. Nie een van hulle ken die motortjie nie.
Maryn het wel ’n vermoede, en een wat haar dadelik ontstem. “Sien julle een van die dae op Damplaas,” het Lilette nou die dag gesê, en sy het dit sweerlik bedoel. Dit is baie moontlik dat dit haar motor is wat nou so eiegeregtig hier voor die Ou Huis geparkeer staan, so asof dit hier is vir meer as die tydsduur van ’n middagbesoekie. En Marcel is nie eens tuis nie; hy is besig by die drukgang.
Peet laai vir Maryn en haar pa by die huis af en gaan bêre die motor. Toe kom hy self om net gou ’n oorpak aan te trek en laat vat skure toe. Sagrys het hom by die motorhuise al kom meedeel dat Eugene ’n stroper van die lande af teruggestuur het met die boodskap dat dit so gou moontlik herstel moet word, want een van die ander stropers is ook besig om nukke uit te haal.
Peet gaan dadelik die stukkende stroper na en vind dat die voorste skopper-as gebreek het. ’n Groot moedeloosheid stoot soos sooibrand in hom op. Dis nou ’n moles. Hy sal binne-in die stroper se masjinerie moet klim en bo-op die vlymskerp bokant van die skopper self moet lê en werk. Sagrys bekyk die sakie met ’n kennersoog en draf gou om ’n paar dik sakke te kry om bo-op te gooi sodat Peet darem op ’n manier gemaklik kan lê. Peet bedank hom met ’n glimlag.
“Swaar werk,” sê Sagrys simpatiek en klik met die tong.
“Hm. Twee dae op die minste, en ek gaan my mal sukkel. Wonder hoe dit nou weer gebeur het!” brom hy. Vreemd dat hy so teen alles opsien dié vakansie. Ander tye het hy tog altyd sulke werk verwelkom om besig te bly. Lekker fisieke arbeid wat hom uitgeput en ’n nagrus van soete vergetelheid verseker het. Maar deesdae is sy gemoed so beswaard dat hy beswaarlik sy gewone werk kan doen. En snags worstel hy ure lank met ’n bitter nugterheid, ’n uitvloeisel van gestremde begeertes en ou-ou kwellinge.
Dis met ’n diep sug wat hom laat voel dat hy nooit weer genoeg asem sal hê nie, dat hy homself ophys en versigtig agter in die stroper kruip om aan die as te begin werk.
Maryn het net gesorg dat haar pa rustig met ’n koppie tee in die sykantste sonkamer sit en ontspan, en haarself toe skaars gemaak. Sy het met groot doelgerigtheid na die Ou Huis toe gestap, en met ’n baie effense kloppie die voordeur oopgestoot. Opgekrul in ’n stoel sien sy nou die vergestalting van haar suur vermoedens.
“O, hallo,” groet Lilette haar vriendelik, en laat die tydskrif waarin sy besig was om te lees net ’n fraksie sak, asof sy verwag dat Maryn aanstons weer sal loop.
“Middag,” groet Maryn bedaard, en vervolg toe sonder omhaal: “Jy sal Marcel nie dié tyd van die dag hier kry nie, jong. Hy is by die Simmentalers …”
“Ek weet,” sê die klein meisie en skud haar rooi kop, laat sak die tydskrif heeltemal om Maryn met ’n soort geamuseerde afwagting aan te hoor.
Maryn is uit die veld geslaan, maar nie vir lank nie.
“Wat maak jy hier?” vra sy reguit, breek daarmee alle spel tussen hulle af. Lilette kyk haar koel aan, haar ken uitdagend na vore.
“Ek kom die vakansie hier by Marcel deurbring. Hy is werklik ál familie wat ek het … Christine was al niggie wat ek ooit gehad het.”
Maryn se oë dwaal na die pragtige foto van Marcel se vrou en seuntjie. Hulle lyk so sielsgelukkig daarop dat sy skaars kan glo dat wat Lilette haar vertel het, waar is. ’n Mens lees niks van die oorlede vrou se ongebalanseerdheid op die foto nie. Sy loop stadig na die ronde tafel, kyk af op die foto, tel dit stadig op en plaas dit, gesig na onder, op die blad neer. Haar mond voel stram toe sy sê: “Christine is dood, Lilette. Daar is geen band meer tussen jou en Marcel nie. Jy kan buitendien nie alleen hier by hom bly nie!”
Lilette gooi in een beweging die tydskrif neer en staan uit die stoel uit op, loop tot reg voor Maryn, lig haar klein gesiggie na die ander meisie.
“Moenie dink dat jy alles weet nie, Maryn Basson. Marcel Hoffman is ’n man met ’n donker verlede, een wat hy nie maklik van hom sal afskud nie, en net ek weet presies wat hy deurgemaak het en nog deurmaak. Ek verstaan hom. En noudat hy weer terug is in die land, gaan ek sorg dat ek naby is. Los hom maar vir my, Maryn. Na ek verneem, het jy ook mos nie behoefte aan iemand nie, of hoe?”
“Jy … kan nie alleen hier bly nie,” sê Maryn net weer, en besef in hierdie verwarrende oomblik dat dit waarlik die enigste argument is wat sy kán voorhou. Lilette is veels te ervare vir haar.
“Nee, sy kan nie,” sê Marcel in die deur, en albei meisies vlieg om asof ’n skoot hulle getref het. Hoe lank staan hy al daar? staan geskryf op hul verleë gesigte. Maar dis Lilette wat eerste herstel.
“Ek het my solank tuisgemaak,” sê sy, loop soos ’n katjie tot teenaan hom en lig haar lippe vir ’n soengroet. Hy beantwoord daaraan, maar op so ’n koel, afwesige manier dat Maryn namens Lilette ys. Maar sy vertoon onverstoord, loer met ’n wyse laggie na Maryn se wit gesig.
Marcel loop tot by die tafel, tel die foto op en plaas dit weer regop terug.
“Ek kan nie dink waarom jy jou tuisgemaak het nie,” sê hy sonder om na Lilette te kyk. En sy, sonder om enigsins te toon dat sy van Maryn se teenwoordigheid bewus is, begin dadelik haar saak bepleit.
“Ek het nêrens om hierdie vakansie heen te gaan nie. Ek wil hier by jou bly.”
“Nee!” Die woord het ’n finaliteit wat geen teëspraak duld nie. Vir die eerste maal sedert hy ingekom het, toon Marcel dat hy van Maryn se teenwoordigheid bewus is. Hy draai na haar.
“Is dit moontlik dat ek jou kan vra om vannag aan Lilette huisvesting te bied? Ek weet dis veel gevra, maar …”
“Natuurlik. Sy kan langer ook bly.” Waarom sy dit sê, weet sy nie, maar toe die woorde uit is, besef sy dat sy dit tog sou aangebied het as sy tyd gehad het om daaroor te dink ook. Dit sal veel, veel beter wees met Lilette by die opstal as met Lilette by die Ou Huis. Haar pa sal dit ook buitendien nie toelaat nie. Hy sal onmiddellik kapsie maak as daar ’n jong meisie by dié dr. Hoffman woon, wat hy so aanprys as verantwoordelik en ernstig.
Lilette lyk ’n oomblik lank asof sy heftig beswaar wil maak, maar ook sy kom skynbaar tot dieselfde slotsom as Maryn, want sy knik ewe instemmend, glimlag selfs vredeliewend met haar asof hulle ou vriendinne is.
“Nou dan moet ek sommer dadelik jou goedjies oorvat soontoe,” bied Marcel aan in so ’n gewone stemtoon dat Maryn lus voel om haar oë te knip. Netnou nog het hy Lilette met strenge woede gemaan tot swye, en nou giet hy suutjies olie. “Ons sal ook maar moet spring,” gaan hy aan, “ek het net gou huis toe gekom om iets te kom kry wat ek vanmiddag vergeet het, en hulle wag vir my daar by die Simmentalers …”
“Jy kan maar gaan,” sê Maryn, “ons sal regkom.”
“Nee, ons sal nie,” antwoord Lilette met die allerliefste glimlaggie, “want ek het duisende goeters. ’n Mens kan sommer sien jy ken my nog nie!”
Maryn sug innerlik. Weg is die vrou en terug is die ou meisietjie, dink sy wrewelrig.
“Ek léér jou ken,” sê sy toonloos, en voel terstond stukke beter toe sy sien hoe haar woorde ’n vlugtige lekkerkrylaggie oor Marcel se gesig laat trek.
Haar oë rek egter toe sy sien dat Lilette letterlik bedoel het wat sy gesê het. Sy en Marcel kom met vragte sakke en kardoese uit die slaapkamer wat sy vir haar in Marcel se afwesigheid toegeëien het – ’n dolleë kamer langs die hoofslaapkamer.
“Waarop het jy nogal gedink gaan jy slaap?” vra Maryn haar so sydelings toe Marcel die laaste paar goedjies op die bakkie laai.
“’n Slaapsak, my suster,” sê Lilette en skuur by haar verby met ’n yslike sak goed wat sy nog iewers vandaan gehaal het. Maryn gooi tou op en volg haar na buite, klim sonder ’n woord langs haar voor in die geel motortjie. Toe ry hulle agter die bakkie met die ongelooflike vrag bagasie aan.
Marcel besorg hulle by die opstal en vertrek dadelik weer nadat hy oom Frederik persoonlik gaan vra het of Lilette daar mag slaap. Die