Fanie Viljoen

Leeus met letsels


Скачать книгу

later, toe die vliegtuig opstyg, is sy ma al waaraan hy kan dink. Hoe sy teruggaan na ’n leë woonstel. Huilend en hartseer.

      4

      NÁ ’N LANG vlug van elf ure kondig die vlugkelner aan: “Ladies and gentlemen, we are getting ready to land at O. R. Tambo International Airport. Please make sure that your tray tables are stowed, that all laptops and electronic devices are switched off and that your seatbelts are fastened.”

      Hier is dit nou. Die oomblik wat Buyi gevrees het. Daar is geen omdraaikans meer nie. Die vlugkelners loop verby, help passasiers, verwyder kussings en komberse, koppies en glase. Glimlag. Hierdie mense glimlag regtig baie, dink Buyi. Natuurlik weet hulle wat om van hulle eie land te verwag. Maar nie hy nie. En hy het ook nie lús om te glimlag nie.

      Senuweeagtig kyk hy deur die klein venstertjie. Die vliegtuig is nou al onder die wolke. Uitgestrek onder hulle lê die stad Johannesburg. Grys met spatsels groen kolle. Daar is geboue so ver as wat ’n mens kan sien.

      Soos hulle laer sak, kan Buyi alles duideliker sien: bome, huise, motors – duisende van hulle tou oor die hoofweë. Binne ’n oogwenk verander die toneel onder hulle. Die groot huise word kleiner huise. Grys, met silwer dakke. Dan verander dit weer na ’n groot gebied volgepak met klein, hurkende gehuggies. Rofgeboude, boksagtige strukture wat vertel van armoede.

      Buyi hou sy asem op. Hulle nader die grond nou vinnig. Lughawegeboue, vliegtuie en landingstroke flits verby. Hy sug verlig toe die aanloopbaan met die honderde klein liggies verbysnel. Die vlerkklappe trek op en breek hulle geweldige spoed. Enjins brul. Die vliegtuig verloor spoed en uiteindelik land dit met knersende wiele en slaan dan rigting in na die lughawegeboue.

      Die mense om Buyi begin opgewek praat. Almal wag vir die vliegtuig om heeltemal tot stilstand te kom.

      Minute later bondel die passasiers uit. Buyi volg die stroom van mense.

      En toe sy voete Afrika se grond raak, verwag hy ’n plotselinge skok. ’n Bekende verbintenis met hierdie stuk aarde, dalk ’n gevoel dat hy tuisgekom het in die land van sy vaders.

      Maar daar is niks.

      Hy weet in ’n oogwenk dat hy ook nie hier hoort nie.

      Die passasiers staan in rye om hulle paspoorte te laat nagaan. Die man agter die toonbank lyk strak. Hy kyk na Buyi se paspoort en stempel dit sonder aarseling.

      Buyi het ’n rugsak oor sy skouer, maar moet nog die res van sy bagasie kry. Dit lyk of die meeste mense die lughawe ken. Hy moet maar op sy gevoel staatmaak, sy oë oophou vir kennisgewings of die ander passasiers volg.

      Toe die tasse aanrol op die vervoerband, raak hy effens paniekerig. Hy sien eers net die een tas, maar ná ’n paar oomblikke verskyn die ander een ook. Twee tasse vol van al sy goed. Of altans sommige van sy goed, hy kon nie alles pak nie. Sy ma het belowe om die res veilig te hou. Sy het gesê dit sou haar help om iets van hom in die huis te hê as die verlange te groot word.

      Hy gaan ’n trollie nodig kry, besef Buyi toe hy die tasse probeer optel. Hy los hulle net daar en loop om een te gaan soek. Toe hy terugkom, is daar ’n man by sy bagasie. Hy kyk af daarna, en toe na Buyi.

      “Is hierdie joune?” vra hy in Engels.

      Buyi sukkel eers om die woorde agter die aksent te verstaan – iets waaraan hy gewoond sal moet raak. “Ja, dis myne,” antwoord hy. Hy kyk na die man se gesig en daarna na sy uniform. Hy werk by lughawesekuriteit.

      “Jy moet dit nie so laat rondstaan nie,” sê die sekuriteitsbeampte. “Iemand kan dit vat. Of dit kan gekonfiskeer word – lughawebeleid om passasiers se veiligheid te verseker.”

      “Ek was net vir ’n rukkie weg.”

      “Nogtans, jy moet ten alle tye by jou bagasie bly.”

      Buyi knik, maar sê niks.

      “Is jy ’n Suid-Afrikaner?”

      “Nee.”

      “Ek het so gedink,” sê die sekuriteitsbeampte en knik. ’n Glimlag verskyn op sy gesig. “As jy enigiets het om te verklaar, moet jy na Doeane toe gaan. Kom ek help jou met die tasse.”

      “Ek sal regkom,” sê Buyi, maar die beampte het reeds een van sy tasse beetgekry en lig dit op die trollie. Buyi sit die ander een ook op. Sy rugsak ook.

      “Wat is jou naam?”

      Hoekom wil hierdie man sy naam weet? wonder Buyi. Hy antwoord maar in elk geval. “Buyisiwe.”

      “Teruggekom . . .” sê die beampte met ’n frons. “Ek dog jy sê jy is nie van hier nie.”

      “Ek is nie,” sê Buyi toe hy wegloop.

      “Sterkte dan!” roep die man uit. “Ek het ’n gevoel jy gaan dit nodig kry, Buyisiwe.”

      Buyi hoop hy is verkeerd. Die beampte se woorde help nie juis om hom gerus te stel nie. Hy is skielik baie bewus van alles wat om hom aangaan. Die afkondigings in die lughawegebou, die uitdrukkings op mense se gesigte soos hulle heen en weer skarrel en die effense muwwerige reuk van tasse gemeng met vloerpolitoer.

      Toe hy die aankomssaal binnestap, is daar ’n see van gesigte voor hom. Familie of vriende wat op hulle geliefdes wag, toeroperateurs op hulle kliënte, chauffeurdienste op besigheidsmanne.

      Wie gaan vir hom wag?

      “Jou pa sal jou kom haal.” Dis wat sy ma gesê het.

      Buyi weet nie hoe hy lyk nie. Hy het hom nog net een keer op ’n dowwe foto gesien. Die beeld in Buyi se kop is nou selfs dowwer.

      Sy oë dwaal oor al die mense terwyl sy hart onrustig begin klop. Sy mond is droog.

      Wat as sy pa nie gekom het nie? Dis ’n angswekkende gedagte. Dit sal beteken hy is alleen. Meer alleen as ooit tevore in sy lewe.

      Meteens vang ’n bordjie sy oog. Dit het sy naam op. Buyisiwe.

      Die man met die bordjie in sy hand kyk onrustig rond. Hy het ’n netjiese uniform en leerskoene aan. En toe sy oë Buyi s’n ontmoet, glimlag hy. Glimwit tande wys af teen sy vriendelike swart gesig.

      Sy pa het hom kom haal. Die verligting spoel deur Buyi.

      So, dan is dit nou hy. Dit is Themba.

      5

      “SAWUBONA!” roep die man en hou sy hand uit na Buyi. “Ngiyakwemukela!”

      Buyi frons. Hy het geen idee wat die man sê nie. “Sorry?”

      “I said: ‘Hello, and welcome!’”

      Die man lag en ’n glimlag sprei weer oor sy gesig.

      “Uh . . . hi, thanks,” antwoord Buyi versigtig. Sy hart jaag steeds. Om jou pa vir die eerste keer te ontmoet is ’n verskriklike ding. Nie verskriklik lekker nie, verskriklik angswekkend.

      Die man se hand is steeds na Buyi uitgestrek. Buyi vat dit. Die greep is sag. Toe doen die man ’n vreemde ding. Sy greep wissel van ’n normale handdruk na ’n duimgreep, weer sagkens, en terug na ’n normale handdruk.

      “Oh,” sê Buyi, onkant gevang.

      “Sawubona!” sê die man weer.

      Buyi knik skaapagtig. “Jy is Themba? My pa?” Hy weet nie hoekom hy dit vra nie. Die woorde borrel net uit. Natuurlik is dit sy pa.

      “Nee, ek is Lwazi. Ek werk saam met jou pa.”

      Wat? Die onseker gevoel binne Buyi word erger. “Maar waar is my pa dan?”

      “Hy het nog werk gehad om te doen, toe vra hy ek moet jou kom haal.”

      “Maar my ma het gesê Themba gaan . . .”

      “Moenie bekommerd wees nie. Ek sal na jou kyk.” Lwazi glimlag weer en klop Buyi op die skouer.

      Buyi hou niks hiervan nie. Kan hy hierdie ou – Lwazi – ooit vertrou? Hy lyk nogal vriendelik,