Geen teken van haar gister, Sondag, nie. Die hele triestige dag – effense reënvlae, wind, kort tussenposes van halfhartige son – het ek bly wag dat die telefoon moet lui. Wat sy ook al besluit, sy sou tog darem seker laat weet? Maar met elke uur wat verbygaan, het die herinnering minder betroubaar geraak. Selfs toe ek die oggend voor die rusbank gaan staan, het haar hele besoek klaar onwerklik gevoel, onwerkliker as die skim van Antje van Bengale in gange of kamers. Die ligte kombers waarmee ek haar toegegooi het, het op die vloer gelê; in die leerkussings van die rusbank was daar nog die duik van haar lyf. Die skinkbord met koffiegoed op die hoek van die lessenaar. Leë glase en die twee wynbottels op die vloer voor die uitgebrande kaggel. Maar watse bewysstukke was dit? Ek kon my alles verbeel het.
Ek het die kombers onder my ken vasgedruk om dit op te vou. Was daar êrens nog ’n vae geur van haar in die wol? Die nat van haar kortgeknipte hare, die klamte van haar trui? Niks. Op ’n ingewing het ek in die gang gaan kyk. Modderspore by die voordeur. Iets van ’n gerusstelling, maar skaars deurslaggewend. ’n Vae gevoel van verlies het deur my gesprei. Watter kans het ek verspeel? Tog was dit skaars ’n teleurstelling; ek het eintlik al so gewoond geraak aan hoop wat nie uitwerk nie, moontlikhede wat onverwesenlik bly, dat ek my by voorbaat al daarmee versoen. Die beste verweer teen seerkry. En tog was ek die vorige nag wondbaar. Miskien selfs sonder om dit te besef.
Die meisie ook. Tessa. Ek het die naam met my tong probeer proe.
Miskien Maandag, het ek gedink. Miskien môre.
Maar vanmôre was daar nog steeds geen teken van haar nie – net die oorblyfsels van Saterdagnag; en hoewel ek my bes gedoen het om op te ruim, laat Magrieta haar nie so maklik om die bos lei nie. Oudergewoonte het sy teen agtuur opgedaag en dadelik in die kombuis begin werskaf met ’n gekletter wat dit duidelik gemaak het sy wil gehoor word.
Dit was nog nooit moontlik om vooruit te weet of sy my môrekoffie bed toe gaan bring of nie. (Dis die enigste keer bedags dat ek nog koffie drink.) Teoreties is dit deel van haar huishoudelike verpligtinge, maar Magrieta besluit gewoonlik self wat sy gaan doen of nalaat. Vanmôre het ek tot kwart voor nege gelê en wag. Toe daar nog steeds geen klop aan my deur kom nie terwyl die rumoer in die huis net erger raak, het ek maar my kamerjas aangetrek om self in die kombuis te gaan koffie maak. Magrieta was besig om met groot gebaar die tafel te skrop (heeltemal onnodig, want ek het dit gister al gedoen, juis om moeilikheid te vermy). Soos ’n donderwolk het sy oor die gladde blad gehang, met haar uitgewaste groen oorrok aan, bo-oor een van haar gewone veelkleurige monderings: blommetjiesrok soos ’n josefskleed, pienk trui, gestreepte rooi kopdoek.
“Plek lyk weer soos ’n nes vemôre,” het sy gesê, terwyl sy hyg van die inspanning. Ek kon nog nooit agterkom of sy aan asma ly en of dit van oorgewig is dat sy so kortasem is nie (Magrieta moet die skaal op ver oor die honderd kilo trek). Om te vra, sou haar net aanspoor om ’n eindelose katalogus van kwale deur te werk.
“Ek het my bes gedoen om op te ruim.”
Sy’t gesnork. “Meneer is ’n mansmens.” Hoeveel keer oor die jare het ek haar al gevra om my op my naam te noem? Maar dit was moeite tevergeefs. Met ’n swaar steun het Magrieta orent gekom en oor haar rug se smaldeel gestryk (as enigiets aan haar “smal” genoem kan word). “As ’n mansmens probeer skoonmaak, maak hy dit net erger.” Met geveinsde ongeërgdheid verneem sy: “Meneer weer gaste gehad?” Asof ek my gereeld vergryp. Ik ga mijn leven in orgieën door.
“Net iemand wat kom verneem het na die kamers.”
“’n Vrou.”
“Wat laat jou so dink?”
“Tensy mansmense deesdae ok lipstiek aansit. Op die glas daar op die sink.” Sy het die corpus delicti oop en bloot daar uitgestal. “Agter die sofa opgetel.”
“Jammer, ek het dié een misgekyk.”
“Jong vrou boonop.”
“Ag toe nou, Magrieta.”
“Ek het haar ruik op die sofa gekry. Is net jong meisiekinders wat sulke sent aansit.” Sy’t haar tong geklik en weer oorywerig aan die skrop gegaan. Sonder om op te kyk, het sy gevra: “En kom trek sy nou hier by ons in?”
“Ek weet nie. Ons moet nog sien. Ek het jou raad nodig.”
“Ek dag ons gat ’n couple kry.”
“Jy weet goed ons kon nog niemand kry wat hier pas nie.” Die ketel het begin kook. Ek het ’n teelepel kitskoffie in die beker uitgemeet en water bygegooi.
“Ek het gelyk van daai bruin couple.”
“Maar hulle wou dit net vir ses maande hê, Magrieta. Dit sou darem regtig te ongerieflik gewees het.”
“Meisiekinders bring net sônne,” sê sy en knik haar kop ’n paar keer beterwetend.
Met dié het ek my enigste troefkaart gespeel: “Sy’t Antje van Bengale gesien.” Ek het teruggeleun teen die kombuiskas om haar reaksie dop te hou.
“Gwaan!” Sy’t opgehou skrop om my aan te staar.
“Dis die reine waarheid. Sy was badkamer toe en toe sy terugkom, het sy Antje in die gang gekry.”
“En het sy geskrik?” Sy vee haar hande aan die oorrok af. “Ek sweer sy’t haar net daar natgepie.”
“Sy was niks bang nie.”
“Het Meneer haar die storie vertel?”
“Ek het haar vertel wat ek weet, ja. Maar ek het haar gesê die een om te vra, is jy. Dis jy wat met Antje praat.”
’n Tevrede laggie. “Ja, ons het mos al lang prate gepraat. Die arme Antje, sy’s ’n goeie spook. Hoe lank pas sy nie al die huis op nie? Ek was nog nooit bang gewees vir haar nie. Behalwe heel in die begin.”
Ek het geweet wat kom en my staan gekry om te luister; enigiets om weer in Magrieta se goeie boekies te kom.
Magrieta Daniels was nog ’n jong vrou toe sy Antje van Bengale die eerste keer ontmoet het. Dit was skaars ses maande nadat sy by die Benades begin werk het, die mense wat voor ons hier gewoon het. Met die intrap al het sy gevoel daar is fout met die huis. Van kindsbeen af was sy vatbaar vir sulke dinge. Met die helm gebore, het haar ma gesê. Maar toe sy met mevrou Benade daaroor praat, is sy op die plek geroskam. Daarna het sy maar die gevoel probeer onderdruk en ’n Nuwe Testamentjie in haar voorskootsak gehou as sy werk toe kom. Maar by die bure se bediendes het sy gou gehoor dat dit regtig daar spook. Sy’t begin moed bymekaarskraap om kennis te gee – al was dit ongeleë, want sy’t net begin regmaak vir trou met ’n man wat haar ma-hulle vir haar uitgesoek het, en sy’t elke pennie nodig gehad vir die gazat.
Haar ma het haar probeer ompraat: hulle was tog goeie Christenmense en selfs al het dit dan in die huis gespook, het hulle tog niks te vrees gehad nie, die Here was aan hulle kant. Haar ma het so ver gegaan om met ’n Slams in Distrik Ses te gaan praat, dit was waar hulle destyds nog gewoon het; en nadat sy hom iets betaal het, het hy haar ’n toegenaaide velsakkie vol geheime goetertjies gegee met die opdrag dat Magrieta dit vlak duskant die voorhekkie moet begrawe. Ongelukkig het dit net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad: op die heel eerste dag nadat sy die doepa begrawe het, het sy in die dwarsgang op die spook afgekom. Die figuur van ’n jong vrou in ’n lang rok, wat haar kop in haar hande dra.
Magrieta het daar en dan die skinkbord met teegoed laat val waarmee sy op pad kombuis toe was. G’n mooipraat kon haar daarna weer so ver kry om ’n voet in die agterste gedeelte van die huis te sit nie. Sy wou op die plek padgee, al was sy dan ’n maand se loon kwyt. Maar toe gee die huisvrou kop, waarskynlik omdat sy bang was oor die reperkussies wat dit kon afgee as daar gerugte oor die spook begin rondgaan. Dit was klaar moeilik genoeg om goeie bediendes in die hande te kry. Magrieta is ’n verhoging aangebied, en makliker werksure, en ’n belofte dat sy nie weer in die agterste slaapkamers hoef skoon te maak nie. Met dié is sy huis toe gestuur om van die skrik te herstel.
Sy was net op pad uit deur die agterhek toe iemand skuins agter haar sê: “Moet asseblief