André P. Brink

Donkermaan


Скачать книгу

om oor te praat nie.”

      “Ek wil net hê jy moet verstaan.”

      “Meneer moet met die Here loop praat as daar te praat is. Ek ken my plek.”

      “Jy’s soos een van die familie, Magrieta.”

      “Ek het my eie familie.”

      “Maar in godsnaam tog!” Ek was nou regtig aan die soebat, maar sy het met haar rug na my toe bly staan. Dáárdie rug.

      “Meneer vat nou die Here se naam ydellik.”

      “Nou sê my dan net wat jy gister hier kom doen het,” het ek naderhand uitgevaar. “Jy kom nooit naweke in nie.”

      “Is Antje wat my gelaat kom het.”

      “Nou raak jy belaglik …”

      Sy het haar skouers op haar malmakende manier opgehaal. En toe die huis met indrukwekkende deeglikheid getakel, van hoek tot kant. Veral my studeerkamer, waar sy elke boek, elke stuk papier aangepak het asof sy hulle wou reinig van die geringste stippeltjie smet of stof wat oor die jare aan hulle kom kleef het.

      Ek het dit nooit weer gewaag om Antje van Bengale uit te tart nie. Op ’n manier, het ek gedink, was my eie toekoms op die spel.

      “Antjie van Bengale wys haar nie sommer vir enigiemand nie,” herinner ek Magrieta. “Dit moet iets beteken dat sy aan ons gas verskyn het.”

      “Het sy met haar kop in haar hande geloop?”

      “Nee, ek dink nie sy wou vir Tessa bang maak nie.”

      “So dié se naam is Tessa.”

      “Juffrou Tessa Butler. Die vriendin saam met wie sy gebly het, het gaan trou. Dis dié dat sy ’n ander heenkome soek.”

      “Wanneer kom sy?”

      “Ons het nog niks afgespreek nie. Toe ek gisteroggend uitkom, was sy al weg.”

      “Waar’t Meneer dan toe uitgekom?”

      “Uit my kamer, Magrieta. Sy’t in die studeerkamer geslaap.”

      “Ons kan nie sommer enige jentoe van die straat af invat nie. Dis ’n ordentlike plek dié.”

      “Dis hoekom ek in my kamer geslaap het.”

      Sy maak ’n geluid wat dalk goedkeuring beteken. “Waar’s haar mense dat sy nie by hulle bly nie?”

      “Sy’t ’n ma en ’n broer in P.E.”

      “Hoe oud is sy?”

      “Nege-en-twintig.”

      “Vir wat is sy nog nie getroud nie?”

      “Sy was verloof, maar die man het dit afgebreek.” Na my berekening behoort dit ’n bietjie moederlike simpatie aan te wakker.

      “Die rotter,” sê sy. “Mansmense. Mens moet hulle se goete klein-klein afknip soos met katte en honde. Dit sal latertyd baie sonde spaar. Hoeveel keer het ek dit vir Antje gesê?”

      “Ek vrees jy was te laat vir haar.”

      “Maar nou’s ek en sy same. Tussen die twee van ons sal ons die huis skoon hou.”

      “Dis nou nie asof jy al wat man is uit jou lewe gehou het nie, Magrieta. Jy was tog drie maal getroud, dan nie?”

      “Voor die Here, ja. Maar dis anders as man en vrou gekerk is.” Sy skud haar kop. “Ek sê niks teen Meneer nie, ma’ ’n man se ding ja hom ammelie rond en dan’s dit beterder om dit maar in die familie te hou.”

      “As juffrou Butler terugkom, kan jy haar op jou tyd deurkyk,” doen ek aan die hand. En sedig voeg ek by: “Vra sommer vir Antje ook wat sy dink.”

      Ek kan sien dat Magrieta begin inskiklik raak. Sy neem selfs my koue koffiebeker uit my hande en stoot my sagkens uit die pad. “Gee lat ek vir Meneer behoorlike moerkoffie maak, nie dié ou modderwatertjie nie.”

      Terwyl sy die filterkan opstel, gaan ek by die kombuistafel sit om die oggendkoerant se spyskaart van moord, doodslag, korrupsie en skandale deur te kyk. Ek hou haar tersluiks in die oog – dié vrou wat nou al byna veertig jaar my lewe in haar hande hou, wat my en Riana deur voorspoed en teëspoed gehelp het en die huis soos ’n skip deur stormbranders op koers gehou het. Dit moet vir haar swaarder gewees het as wat sy ooit laat blyk het. Want dit was nie net óns lewens wat sy moes hanteer nie, maar ook die sinkplaatpad in haar eie: die sterftes van mans en kinders, die gedwonge verskuiwing uit Distrik Ses in die jare sestig, politieke oproer en familietwiste. Vir haar was óns welsyn altyd hoofsaak, nie haar eie nie. Maar af en toe, soos hierdie Maandagmôre, wanneer sy nie daarvan bewus was dat ek haar dophou nie, was ’n glimp van wat dit alles haar gekos het, vlugtig op haar gesig te sien: die onderdrukte hartseer en woede, al die teleurstellings, die moegheid waaroor sy nooit ’n woord sal kla nie. Sy sou my geen kans gee om dit selfs maar aan te raak nie. Al wat daar was, is die wete dat, hoe onsigbaar of ver ook al, dit daar is, en dat dit af en toe met die gewig van soveel jare tot lê kom in ’n gedeelde oomblik.

      Sy het die vars koffie geskink en weer aan die werk gegaan. Ek het my beker leeg gedrink, haar ’n kompliment gemaak, en gaan bad en aantrek. Daarna het ek ’n ruk in die studeerkamer bly werk. Maar ek was ongedurig. Die reën was verby, die son was weer uit, een van die loublou dae van die Kaapse winter. Maar dit was nie die weer wat my al om die tien minute uitgelok het buitentoe om ’n draai deur die tuin te loop, by die posbus te gaan inloer, selfs entjies op en af in die glinsterende straat te drentel nie. Dit was sy. Dié jong vrou. Tessa.

      Kyk, het ek myself probeer kortvat, dit raak nou belaglik. Selfs as haar voetspore oor my gewete lê, dan was dit verspot maklik verklaarbaar in die niemandsland waarin ek beland het. Ek was gewoon so vatbaar vir indrukke, so wondbaar, dat ek waarskynlik presies net so sou gereageer het op énige ander moderne jong vrou wat Saterdagaand uit die reën hier in my afsondering ingedring het. Was daar hoegenaamd enigiets wat haar van die ander kon onderskei? Al wat sy eintlik was, was astrant, verregaande vermetel. Sy het geen sin vir grenslyne nie – in die manier waarop sy my oor my lewe uitgevra het (maar hoekom was ek dan bereid om te antwoord?), in wat sy van haarself vertel het. G’n vrou by haar volle positiewe sou so ongeïnhibeer uitpraat teenoor iemand wat sy maar so pas ontmoet het nie. Of anders het sy my skaamteloos en gewetenloos probeer manipuleer, die oudste slenter in die boek. Kon ek regtig nie daar en dan dwarsdeur haar sien nie?

      Die kort antwoord was nee.

      In my derms het ek geweet sy’s nie maar net ’n tipiese voorbeeld van haar generasie nie. Maar wat wás dit dan? As ek by haar verwaarloosde skoonheid kon verbykyk (maar hoe kon ek?), haar bevlekte onskuld, haar oë, die klank van haar stem, daardie lag – wat bly oor? Ja, maar die blatante seksualiteit was vermeng met onselfbewuste grasie, met ’n verbasende skerpsinnigheid; as sy verlore en verwilderd gelyk het, dan het die manier waarop sy my rekenaar aangepak het, bewys dat sy ook koel en bekwaam en professioneel kan wees. Nou goed, sy was vermetel, astrant, arrogant. Maar ek kon my kop op ’n blok sit dat sy ook saggeaard, gul, ernstig, opreg begaan kon wees. Ek het glimpe van albei kante gesien. Dit was soos om op ’n afstand frases uit ’n onbekende, opwindende nuwe stuk musiek te hoor – net genoeg om te weet jy wil méér hoor, navraag doen oor titel en komponis, uitgaan en die plaat gaan koop. Die aantrekkingskrag van die onbekende? Nie “die misterieuse” nie, want eintlik was daar niks geheimsinnigs omtrent haar nie, maar eerder ’n donkerte, ’n soort droewigheid agter die opgewektheid? Die teenstrydige grepe wat sy so ongevraag van haar jeug aangebied het? As mens ’n snars daarvan kon glo! Maar miskien kom dit tog nader: die gevoel dat sy ligvoets op die kantjie van ’n afgrond dans. Wetend dat dit daar is, maar vol uitdaging – bowenal ’n uitdaging aan die feit dat ék daarvan bewus is. Wat was waarheid, wat leuen? Maar maak dit hoegenaamd saak? Daar was net iets in haar wat begrip uittart, iets wat per definisie nie verklaar kan word nie.

      En waar was sy nou? Waar bly sy? Of was sy regtig vir goed weg? Ek kon dit nie glo nie. Maar namate die dag begin verbysleep het, het dit na ’n voldonge feit begin lyk.

      Na