later teen haar man ingestel maar kort daarna weer laat vaar het (vgl. Vermeulen pp. 109-111), blyk dit dat Willem Mostert oor die jare, selfs nog voordat Antje op die toneel verskyn het, gereeld seksuele omgang met sy vrou se slavinne gehad het; toe Susara hom by geleentheid daaroor aangespreek het, het hy die vermetelheid gehad om te antwoord: “Weet jij nog het Caabse gebruijk niet, dat eens hier na ’t oude Testament leeft?” Haar antwoord is nie opgeteken nie.
Wat ons wel weet, is dat die verhouding tussen Willem en Susara vinnig agteruitgegaan het. ’n Barometer van die spanninge in die huis, soos dit blyk uit getuienis deur die Gereformeerde predikant by die ondersoek vier jaar na Antje se aankoms in Papenboom, was Willem se toenemend uitdagende houding teenoor sy vrou. Haar enigste verweer was om meer en meer gewig aan te sit. Taamlik gou al was Willem nie meer tevrede om in die buitegebou se solder met Antje te verkeer nie en het hy begin om haar in die voorste gedeelte van die huis, ingerig as taverne, te ontmoet; naderhand is dit verskuif na die solder direk bokant die hoofslaapkamer. En elke keer as Susara gekla het oor die onheilspellende geluide wat sy in die nag gehoor het, het hy ’n verklaring gehad. Partykeer was dit realisties (rotte, vlermuise), ander kere vergesog en bonatuurlik (heksesabbatte waar die duiwel met jong maagde verkeer het). Wat bowenal uit dit alles blyk, is Susara se obsessie met die godsdiens se makabere onderkant: haar allesoorheersende vrees vir die donker en die bonatuurlike, die duiwel, die hel. En Willem het baie gou agtergekom hoe om haar vrese soos ’n gruwelike musiekinstrument te bespeel en daardeur sy arme vrou – teen dié tyd ’n magtige bolling van uitpuilende spek – in ’n blywende toestand van paniek te hou.
Na ’n paar maande was selfs die heksesabbatte op die solder nie meer genoeg om die uitspattige behoeftes van sy wellus te bevredig nie. Die volgende stap was om by die aandete ’n slaapmiddel in sy vrou se kruietee te gooi, te wag dat sy aan die slaap raak, en Antje dan aan die hand na sy slaapkamer te neem om op die sebravel voor die bed met haar omgang te hê. Susara het dwarsdeur dit alles geslaap. En toe dit nie meer genoeg was vir die gevoel van gevaar wat blykbaar onontbeerlik geword het vir sy paringsnood nie, het hy opgehou om sy vrou die slaapmiddel in te gee. Van toe af, lyk dit, het dit hom op ’n perverse manier bevredig om sy wawydwakker vrou te treiter met die geluide van sy geilheid skaars ’n paar tree van haar af. En ’n verduideliking het hy altyd gehad. Die verstommendste was dat sy vrou dit alles vir soetkoek opgeëet het – vermoedelik omdat sy om die een of ander rede doodbang was dat hy haar sou laat staan. Maar een nag het Willem so ver gegaan om Antje binne-in die bed by hom te neem; en selfs vir die liggelowige Susara was dit eens te veel. Toe sy uiteindelik haar vrees vir die donker te bowe kom en ’n kers aansteek, het sy die twee op heterdaad betrap. Willem se enigste bedekking was ’n jurk en ’n slaapmus, Antje was poedelnakend. Susara het haar man toegetakel met ’n koper kolepan wat sy gebruik het om die bed warm te hou. Maar hy het die houe afgeweer en opnuut met ’n verbluffende orasie vorendag gekom om te verduidelik wat gebeur het. Of dit aan sy welsprekendheid te danke was of aan Susara se patologiese vrees om die waarheid in die oë te kyk, feit is dat hy haar oortuig het dat dit die slavin was wat hom uit ’n nagmerrie kom wakker maak het deur by hom in die bed te kruip om te sê hy moet kom kyk, daar word by die kelder ingebreek.
Vir die soveelste keer het sy vrou voor die aanslag van sy versinsels geswig; maar dié keer het sy in ’n patetiese bevestiging van onafhanklikheid uitgeskuif na ’n spaarkamer aan die agterkant van die huis, en Antje met haar saamgeneem. Saans is die deur gesluit en die sleutel onder haar kopkussing gebêre. ’n Paar dae lank het Willem die kat uit die boom gekyk terwyl hy sy nood verlig het deur Antje dan en wan gedurende die dag na verborge hoekies van die huis, die buitegeboue of die kelder te lok. Daarna het hy ’n vanselfsprekende maar gewaagde oplossing bedink: Antje is aangesê om die knip van die venster oop te skuif wanneer sy in die aand gaan slaap, en daarna sou die twee slawemans, Adonis en Cupido, ’n leer buite onder die venster staanmaak. Net om die situasie ’n bietjie te kruie, het Willem hulle beveel om die leer weg te vat nadat hy ingeklim het en eers weer teen hanekraai terug te kom.
Een nag, vermoedelik na ’n besonder luidrugtige uitvoering, het Susara dit weer gewaag om ondersoek in te stel. Toe sy die gordyne oopskuif en in die maanlig die onbehoorlike spektakel op haar kamervloer gewaar, het sy ’n stoel gegryp en die stoeiende paar daarmee begin toetakel. Willem het by die oop venster uitgespring en hom byna disnis geval, maar net ’n verstuite enkel opgedoen; maar Antje is onhebbelik deurgeloop. Susara het die swaar stoel op haar flenters geslaan. Die gevolg was ’n miskraam – die heel eerste aanduiding dat die slavin swanger was aan haar baas se kind.
Selfs ’n lankmoedige en lydsame mens bereik vroeër of later breekpunt, en vir Susara was dit nou tot sover en nie verder nie. By die eerste daglumier het sy ’n perdekar laat inspan en saam met twee van haar slavinne Kaap toe laat vat, waar sy by verlangse familie van haar eerste man onderdak gaan vra het. Binne ’n uur na haar aankoms het sy haar opwagting gemaak by die pastorij van dominee Le Boucq, en kort daarna is die godsman saam met haar na die kamers van die Raad van Justisie in die Kasteel om ’n egskeidingsaak teen haar man aanhangig te maak. Hiermee het die saak ’n ernstige wending geneem, want soos Penn dit stel (op. cit., p. 37): “Divorce was regarded as a very extreme step indeed.”
Dit was nie net die skande wat Willem sou verontrus het nie (en mens moet in gedagte hou dat hy, hoe verregaande dit ook al mag klink, ’n ouderling en staatmaker in die kerk was): daar was ook die gevaar dat hy alles kon verloor wat hy ooit besit het, Antje inkluis, omdat dit alles op Susara se naam was. Sodra hy ’n snuf in die neus gekry het van wat aan die gang was, het hy Antje – nog steeds ernstig krank van die slae – aan die ander slawe se sorg oorgelaat en te perd die pad Kaap toe gevat. Nes Susara is hy eers by die pastorij aan, waar hy duidelik ’n gans ander storie vertel het, gerugsteun deur ’n flinke bydrae tot die kerk se tesourie (ongetwyfeld buitgemaak uit Susara se geldtrommel, wat al vroeg in hul huwelik nie meer teen sy aanslae bestand was nie). So geslaag was die besoek dat dominee Le Boucq hom persoonlik na Susara se tydelike verblyf vergesel het om sy saak te gaan stel. Daar word vertel dat Willem letterlik op die vloer voor die formidabele vrou se voete gaan kruip het en haar skoene natgehuil het terwyl hy voor God en sy ganse heirskare belowe om haar nooit weer seer te maak nie. ’n Hele paar kiste vol geskenke het gewig aan sy woorde verleen. Dit was die duiwel wat in hom gevaar het, het hy snikkend verduidelik; maar danksy die dominee se belofte om vir hom by God Almagtig voorspraak te doen, was hy nou gesterk in sy hoop en geloof dat hy vir goed uit daardie kloue van vuur en swael verlos sou word, om tot in lengte van dae getrou te bly aan die enigste vrou wat hy nog ooit opreg liefgehad het, Susara Uytenbogaert. Dit spreek vanself dat sy dit so aanvaar het, en mits dese is die egskeidingsgeding laat vaar.
Die gebeurtenis was nietemin ’n waterskeiding in Willem Mostert se kleurryke bestaan. Één gedagte het nou soos ’n paal bo water in sy kop gestaan: sy vrou moes dood. Selfs afgesien van die drang om Antje vir goed by hom te hou, was daar die vrees dat hy alles kon kwytraak wat hy nooit gehad het nie. Die besluit om Susara te vermoor, was op sigself nie so erg as die maniere wat hy daarvoor beplan het nie. Met nog meer vermetelheid as tevore het hy sy vrou se toestemming gaan vra om ’n rit Kaap toe te onderneem, vergesel van niemand anders as Antje nie. Dit was natuurlik nie hoe hy die saak verduidelik het nie. Wat hy gesê het, was dat Antje se teenwoordigheid ’n oorlas vir hul huwelik geword het en dat hy haar so gou moontlik in die dorp aan die eerste die beste aanvaarbare bieër wou gaan verkoop. Hierdie daad van opoffering het die goedgelowige vrou so ontroer dat sy waarskynlik sou toegestem het selfs sonder sy aanbod om Fatima, een van die ouer slavinne, as chaperone saam te neem.
Met dié is die paartjie daar weg op ’n wittebroodsreis van twee weke. Fatima se samewerking is verseker met ’n belofte van vrystelling. Onder skuilname het hulle hul intrek geneem in ’n herberg wat hoofsaaklik huisvesting aan matrose van verbygaande skepe gebied het; en wanneer hulle nie in die greep van hartstog rondgewriemel het nie, was Willem op besoek by dominee Le Boucq en ander invloedryke kennisse aan wie hy met ’n groot vertoon van diepe kommer uitgewei het oor sy vrou se swak gesondheid (wat glo al meer tekens van dementia begin vertoon het), terwyl die twee vroue ure lank rondgedwaal het tussen die mankolieke kraampies en skermpies teen die laer hellings van die Galgeheuwel op soek na ’n vreesaanjaende versameling doepa. Onder die items wat later by die moordverhoor vermeld is, was daar lekkernye soos “een mixtuur van poeder en haeren”, “verpoederde gebeente van gestorvenen”, “huid geschoren van de ledematen