André P. Brink

Donkermaan


Скачать книгу

was: ’n honderd poppe, ’n honderd pond, ’n honderd vinke in ’n hok. Sy’t net haar kop bly skud, haar rug vasgedruk teen die klippers van die kraalmuur wat my legendariese oupa Goliath nog met sy eie hande gestawel het, lank voor die geboorte van God. Lenie het nie juis bang gelyk nie, eerder ’n bietjie verbaas dat so ’n stukkie lap nou vir enigiemand soveel werd kon wees. Algaande het hulle luim begin verander. Hulle het kwaai geraak, haar begin skel, nog later begin dreig. Hulle sou haar in die sementdam versuip, of haar ophang aan ’n hanebalk in die waenhuis. Ek was doodverskrik. Een oomblik, toe hulle naderkom en haar aan die arms probeer gryp, het dit gelyk of sy tog maar gaan toegee. In ’n stem wat ek skaars as my eie kon herken, het ek skielik gekrys: “Jy hoef nie as jy nie wil nie, hoor.” Hulle het omgeswaai na my toe. Sy’t die rieme neergelê. Hulle het my amper vrekgemaak: terwyl die een my hande agter my rug vashou, het die ander my begin slaan en skop, my met ’n knie in die maag en die lies gekarnuffel, tot ek begin opgooi het en flou geword het.

      So ’n paar weke later, toe Lenie weer op die plaas kom kuier het en my broers nie daar was nie, het ons soos gewoonlik deur die veld gedwaal op soek na die goetertjies wat ons bymekaar gemaak het; en toe het sy onverwags ’n nattigheid in my oor gefluister en my aan die hand gevat en my waenhuis toe geneem waar sy my giggelend gewys het wat sy nie my broers wou laat sien nie.

      En dit was asof ek in my eie kop die gedagtes kon sien woel: Is dit nou al? Waaroor was die bohaai? Miskien was dit die afstandelikheid in my wat dit so ónwatwonders laat lyk het. ’n Lyf, selfs daardie eerste meisieslyfie van my lewe, was net ’n lyf en niks meer nie.

      Eers maande later, toe sy nie meer daar was nie, het ek partykeer op my eentjie teruggegaan na die waenhuis; en toe het daardie ontdekking met die onthou in iets besonders begin verander. Van toe af was die waenhuis ’n plek van wondere. Ek het dit in my binneste weggebêre, saam met al my kosbaarste herinneringe: die dag toe dit begin reën het, swaeltjies wat by die eerste rilling van herfs in die lug aanstalte maak om weg te vlieg na die verste noorde, ’n sononder mooier as alle ander, die tekeninge wat daar teen die bakkrans gemaak is deur klein mannetjies wat al lankal van die aangesig van die aarde af verdwyn het.

      Dít was die soort wonder wat ek later met boeke begin verbind het. Miskien het dit gebeur omdat dit juis reën was wat my die eerste keer die binnekant van ons stowwerige dorpsbiblioteek laat sien het. Ek moet toe so ’n elf, twaalf gewees het, my broers was al uit die skool; en ek reken dit was in ’n skoolvakansie, want ek onthou nog die lang rit in dorp toe. Pa was haastig – hy was altyd haastig as ons in die muilkar of die bakkie moes dorp toe, want hy was half verwilderd tussen ander mense – en êrens tussen die kopperasie en die stasie het dit begin reën; en omdat hy my nie wou saamsleep na waar hy ook al moes gaan besigheid doen nie (onder meer die Queen’s Hotel, soos ek maar alte goed geweet het), het hy my in die biblioteek ingejaag. En my toe daar vergeet; en eers weer onthou toe hy op die plaas terugkom, te laat om weer die hele ent terug te ry.

      Toe hy die volgende môre weer opdaag, so kwaad oor sy vergeetagtigheid dat hy dit kwansuis alles op my moes uithaal, was ek nog altyd daar tussen die rakke. Die vorige agtermiddag het die halfblinde ou bibliotekaresse (ek onthou haar ruik van ou stof en suur kwepers) nooit eens agtergekom dat ek daar was nie, en gewoonweg toegesluit en geloop; ek self het eers daarvan bewus geword toe dit te donker raak om verder te lees. Selfs toe het dit my skaars gepla. Ek het my op ’n breë vensterbank tuisgemaak in die dowwe ligkol van ’n straatlig so ’n twintig tree daarvandaan, en eenvoudig bly lees en lees tot ek aan die slaap geraak het; en toe ek in die môreskemer wakker word, het ek net verder gegaan van waar ek opgehou het.

      Halfpad deur die môre het Pa opgedaag om my te kom haal. Ewe onbegrypend het die ou tannie in die grys trui, met die breipenne in haar bolla – ’n bloue en ’n groene – haar flets ogies in ons rigting geknipper; en ek het so ’n bohaai opgeskop dat Pa teen wil en dank die boek wat ek aan die lees was, vir my moes uitneem. ’n Kinderuitgawe van die Don Quixote. Ek kon destyds beswaarlik Engels lees en het net hier en daar grond gevat: maar dit was juis die vreemdheid daarvan, die ritmes en golwinge van die taal, wat my betower het. In a certain village of La Mancha, which I do not wish to name, there lived not long ago a hidalgo. “La Mancha”. “Hidalgo”. Liewe Jesus, Josef, Maria en die donkie! Dít was louter towerkuns. Dit het selfs die Bybel laat waar klink. En God het gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. Saam met daardie maer ou hidalgo het ek uitgery oor die vlaktes van La Mancha, net so kaal en dor as die landskap van die Kalahari, net so uitgelewer aan die genade en die woede van God. Die soort leegte wat mens toelaat om jou verbeelding te laat losloop; ’n vryheid bepaal deur die woord, opgetower deur ’n boek. Om te lees en te lees en verder te droom. Dof en loom in my sonnedroom.

      Van toe af was dit my wêreld, en des te meer vandat Riana dood is; en selfs nóg meer in die volslae eensaamheid van hierdie afgelope paar jare vandat ek so onvoorbereid uitgewerp is deur die biblioteek wat al die jare my toevlugsoord teen die rumoer daarbuite was. My biblioteek – álle biblioteke – was ’n uiteindelik asiel, ’n laaste kuil van stilte tussen riet, waar betekenisse hanteerbaar word net omdat hulle jou tot niks verbind nie; en waar illusie die allure van die waarheid kry. Om te lees, te dink, en dan op die woordspore terug te loop tot by hul oorsprong, hetsy eg of verbeel; om jou enigiets te versin; om jou in die verbeelding in te waag. En dan van nuuts af aan te begin lees, ’n hergebore Columbus losgelaat oor eindelose nuwe wêrelde anderkant naamlose seë. Vandag nog, elke keer wanneer ek die Don Quixote oopmaak – elke keer as ek énige boek oopmaak – is dit asof ek soos Herakleitos in ’n nuwe rivier in waad, vol nuwe geheime, nuwe inwydingsrites, nuwe misteries en feeste. Gaan ek nou effens op hol? Maak nie saak nie. Dis hoekom boeke bestaan, my bestemming in hierdie wêreld-sonder-einde waar ek kan voortgaan met die noemspeletjie waarmee oorlede Adam begin het: Dit is ’n meerkat, dit ’n ystervark, dit ’n jong vrou, Tessa. Klein mnemoniese merkies op die papier waardeur ek agterna die sin kan snap wat my die eerste keer ontglip het. (En natuurlik is dit nie noodwendig betroubaar nie, dit is dalk waarom dit gaan. Eenkeer, ’n jaar na Alison, het ek afgekom op ’n stukkie papier – my enigste soewenier aan daardie vreemde middag – waarop ek die kriptiese frasetjie aangestip het: Alison se moesie. Ek sal nooit weet waarna dit verwys het nie; daar was nooit iemand wat my sou kon sê nie. Net die woorde bly oor. Daar is geheime, sê hulle, wat nie bedoel is om te verstaan nie; jy kan hulle net lewe. Maar ek sou so graag wou geweet het. Dalk sou dit die verlossing kon beteken van ’n dag wat nog na al die jare by my spook.)

      En daarom, selfs terwyl ek twee aande gelede nog daar in my vertroude ou leunstoel gesit het, my oë op Tessa wat in die vuur in staar, asof sy ’n boek is waardeur ek blaai, terwyl ek die geur insnuif van die klammigheid wat uit haar ou trui damp, en kyk hoe die ongereelde klein flikkervlammetjies in haar oë weerkaats, het ek in my kop gesit en notas maak om later neer te skryf: “liriese hande”, “donker druiwe-oë”, “trui wat ruik soos ’n nat hond”, “robynrooi afsaksel van die wyn”, “die gespin van onsigbare katte”. Sou dit alles ook eendag vergader word tot die stof van “Alison se moesie”? Onthou tog, onthou. Onthou om later terug te kyk. Onthou hoe dit dan sal lyk, hoe dit sal wees, hoe dit sou gewees het. Ek leef in ’n vloeiende voltooide toekomende tyd, waarin haar teenwoordigheid oplos soos ’n klein onvoltooide blokkie suiker.

      Nou, met die neerskryf, keer ek terug na die vraag: “Hoekom sou jy hier wou bly?”

      En sy sê, soos ek seker kon verwag het: “Omdat ek nêrens anders het nie.”

      “Waar het jy tot nou toe gewoon?”

      “Die laaste maand het ek ’n flat in Kenilworth gedeel. Maar nou’t die meisie by wie ek gebly het, besluit om te trou. Niemand het dit ooit verwag nie, hulle het soos kat en hond baklei, hy’s so mal soos ’n haas. Maar daar het jy dit nou. Margie het net Maandag huis toe gekom en gesê: ‘Ek en Pete is vanmiddag getroud. Hoor hier, ek is jammer, maar jy sal moet uitskuif om vir hom plek te maak.’”

      “Sy kan jou tog nie sommer uitgooi nie.”

      “Ons is vriende, ek kan nie die lewe vir haar nog meer complicated maak as wat dit klaar is nie. Bowendien, hy’t my agter haar rug begin chaff. Dit sal net shit afgee.”

      “Wanneer moet jy uit?”

      “Hy’t vanoggend sy goed oorgebring. As