Maar die personeel was besig – seker meestal met tee drink en kaart speel – en dit het nog ’n goeie twee uur geduur voordat daar aan Johnny aandag gegee kon word. Die hele tyd het die messelaar en sy seun geduldig gesit en wag om die uitslag te hoor, en toe ’n beampte gehelp om die polisie te skakel en ’n verklaring af te lê.
Johnny MacFarlane het verstommend vinnig herstel en skaars drie weke later het ek hom weer by nommer 23 se voordeur ingehelp. Sy nek was nog swaar verbind, en hy was in ’n rystoel, maar origens het hy gesond gelyk. Oor wat gebeur het, wou hy glad nie meer praat nie, maar in die omstandighede was dit seker nie so vreemd nie. Wat dit ook vir my makliker gemaak het om nie te verwys na my amperse onderonsie met die bergie in Newlands Avenue daardie aand nie.
Daar was ’n paar lelike stories nadat die koerante, in wat oudergewoonte as ’n “deurbraak” bestempel is, berig het dat die polisie die jeugdige tuinier aangekeer het en dat Johnny na bewering in die huis met hom sou “gelol” het. Maar dit was skaars ter sake. Wat mens wel op die krop van die maag getref het, was die nuus dat die jong werksoeker die volgende dag op borgtog vrygelaat is en pylreguit terug is na Papenboomweg om klaar te maak wat hy die vorige keer verbrou het. Mevrou Lategan van nommer 20, skuins oorkant Johnny MacFarlane, het ’n verdagte persoon by die huis sien uitkom, besig om uit ’n bottel brandewyn te drink, met bloed aan sy klere en ’n groot boks op die skouer. As ’n waaksame landsburger het sy die polisie gebel en hulle het verbasend gou opgedaag en Vuyisile Mthembu vir die tweede keer opgetel.
Drie dae later was hy opnuut vry op borgtog, hoewel die bedrag darem van R100 tot R500 verhoog is. En aangesien Johnny MacFarlane nou veilig dood is, kan mens maar net hoop dat Papenboomweg sy aantrekkingskrag vir die moeilike jong man verloor het. ’n Maand lank het almal hulle deure bedags toegehou, maar nou gaan dit weer rustig.
Daar is nou iemand by die deur. Dit moet sy wees. In dié weer!
3
Was dit regtig maar eergisteraand, Saterdag, dat sy hier opgedaag het? Met vuil voete, ’n smeersel ghries oor die wang, en kortgeknipte swart hare nat vasgepleister teen haar klein, netjiese skedel. Haar groot vormlose trui tot op haar kaal knieë afgerem. Sy moet die frons gesien het waarmee ek haar modderspore oor die drumpel bekyk het, want sy’t vinnig vasgesteek, ekskuus gevra, en met heelwat inspanning, wip-wip op een been op ’n slag, haar twee logge stewels uitgetrek. Fraai voete.
Toe eers sê sy: “Jy’s seker Ruben Olivier? Dis jy wat die kamers geadverteer het?”
“Dis reg. Ek neem aan jy’s juffrou Butler?”
“Ja, ek is Tessa.” ’n Koue smal hand rakelings in myne. “Sorry ek is laat, maar die bleddie Volksie het gebreek, toe moes ek my tights vir ’n fanbelt gebruik.” ’n Skielike skuins glimlag terwyl sy na haar knieë beduie: “Dis nie juis ’n goeie entrance nie, is dit?” Sy kry ’n keep tussen die oë. “Ek belowe jou ek was van plan om my behoorlik op te dress. Alles was al reggesit en ek was op die punt om te begin aantrek, toe kry ek ’n pyn-in-die-gat besoeker. Anyway, nou’s dit seker daarnatoe. Ek neem aan ek het gedop?” Haar oë vernou effens. “By the way, is jy ’n filosoof of iets?”
Ek kon nie help om te lag nie. “Wat op aarde laat jou so dink?”
Sy het haar skouers opgehaal. “Jy lyk soort van beroemd. Seker al die hare. Jy lyk …”
Wat wou sy sê? Gedistingeerd? Wys? Of sommer net verwaarloos, deurmekaar, verwilderd? (“My Rubinstein,” het Riana my graag geterg. En toe was ek nog nie eens so spierwitgrys nie.)
“Ekskuus. Ek moes dit seker gekam het vir die okkasie.” Onwillekeurig het ek my hande deur my boskasie getrek, wat sake waarskynlik vererger het.
Stroompies reënwater loop oor haar gesig. “Wel, wat is jy dan?”
“’n Doodgewone bibliotekaris. Was.”
“Ek moet sê, jy lyk boekerig.” (Tania het daardie vervloë dag gesê: “Jy’t die lyf van ’n skrywer.” Wat dit ook al mag beteken. Komende van haar, het ek dit tog as ’n kompliment beskou.)
Ek bekyk haar in die gang se dowwe geel lig. Die rondheid van haar klein harde kop, haar skerp neusie, die arrogansie van haar ken, die ontsenuende direktheid van haar oë. Kleur? Nugter weet. Soos Madame Bovary s’n, dink ek, kan dit swart, of groen, of blou wees.
“Kan ek die kamer sien?” Weer die vlugtige glimlag, dié keer effens meer senuweeagtig. “Dis te sê as dit nog nie gevat is nie?”
“Nee, nog nie, maar soos ek jou oor die foon gesê het …”
“Ek belowe jou ek sal nie ’n nuisance van my maak nie.”
“Dis nie waaroor ek bekommerd is nie. Maar ek wou regtig eintlik ’n getroude paar gehad het. Jy weet, middeljarig.”
“Ek is miskien ouer as wat jy dink.” Onhebbelikheid in haar oë; uitdaging miskien, maar tog iets onsekers ook.
“Jy kan kom kyk,” sê ek ongemaklik. “Maar ek kan nog niks belowe nie.”
Met dié dat ek omdraai om haar in die gang af te begelei – verby die studeerkamer regs, my slaapkamer links – bars sy skielik agter my uit van die lag. Dit is so uitbundig, uit die maag uit, soos ’n onderaardse stroom wat skielik in ’n fontein uitbreek, dat dit my oorrompel. “Wat op aarde is dít alles?” Sy beduie na die deurmekaarspul van houers op die vloer.
“Ek is bevrees die reën vang my altyd onkant. Magrieta hou aan karring daaroor, maar elke keer as die son uitkom, dan vergeet ek om ’n loodgieter te bel. Of wie mens ook al bel om ’n dak reg te maak.”
“Is Magrieta jou vrou?”
“My huishoudster.”
“O.” Sy kyk weer na die spul potte en bakke en emmers op die vloer. “Mens kan ’n hele simfoniekonsert hier hou.” Sy buk om die naaste kastrol met ’n vinger te toets. Die klank is nie baie indrukwekkend nie.
“Hou jy van musiek?” vra ek.
“Ek tokkel af en toe ’n kitaar. Maar ek verkies om te luister.” Sy skud haar kop ’n slag heftig, soos ’n hond wat uit die water kom.
“Enige voorkeure?” vra ek. Dalk kan dit die saak beslis.
“Ag, ek vat dit maar soos dit kom.”
Ek probeer haar por: “Klassiek?”
“As dit nie te heavy is nie,” sê sy op haar hoede. “Kan ek miskien nou die kamer sien?”
Ek bêre die inligting in my agterkop. “Kom saam.”
Voetjie vir voetjie trap ons tussen die hindernisse in die gang deur. Dis ’n nogal onkonvensionele opeenvolging van kamers: die klein badkamertjie vir gaste regs, daarna die spaarkamer en die tamaai sitkamer oorheers deur Riana se swart vleuelklavier wat soos ’n swaar, glimmende verwyt in die halfdonker opdoem; links die eetkamer met die lang tafel van geelhout en stinkhout – sitplek vir twaalf – ’n erfstuk van die Hugo’s; gevolg deur die kombuis, opwaskamer en outydse spens. Daar’s iets onvoorspelbaars omtrent die uitleg van die huis, soos wat dit agterna na willekeur op die oorspronklike Hollandse fondamente oorgebou is. ’n Smaller dwarsgang skei die voorste gedeelte van die huis van die agterkant, wat hoofsaaklik bestaan uit ’n klompie kamers waar ons seuns vroeër kaatjie van die baan was, en wat nou meestal as pakkamers diens doen. Ek maak die deur oop na die voorste van die twee wat Magrieta vir ons moontlike loseerders reggemaak het.
“Dis fabulous!” sê die meisie. Sy bly vassteek op die drumpel van die eerste kamer, voorlopig ingeruim as ’n werk- of studeerkamer. Sy kom verby my na die middeldeur. “Dit lyk soos ’n honeymoon suite. En ’n kaggel boonop! Kyk net die ceiling!” Sy strek haar nek agteroor om boontoe te kyk en skreef haar oë asof sy bysiende is. Die strak gespanne lyn van haar keel. Na ’n rukkie beweeg sy na die ou koperkatel in die slaapkamer, kry haar sit op die rand en wip ’n paar keer op en af.
“Gebou om te hou,” sê ek sedig.
“No