André P. Brink

Donkermaan


Скачать книгу

ambulans, polisie – en dan weer uitgesluit met die toemaak van die swaar kiaathoutdeur. Net die bedliggie aan, 60 watt en gedemp, eerder stowwerig-dof as romanties. Die eerste opsommende deurkyk, die gemeenplase en kamma-vertoon van wêreldsheid, ’n glasie sjerrie miskien, dan die vinnige uittrek, met af en toe ’n meer bekoorlike, meer persoonlike afwyking van die roetine – ’n broekie wat vashaak aan ’n hoëhakskoen, ’n haarknippie wat losglip – en dan die immer-onoortuigende vertoon van begeerte. Goddank die ou staatmaker weer op aandag (maar eendag gaan hy my in die steek laat, haha); tegelyk die renons in dié koppige selfstandigheid van die vlees. Daarna die afstroop van die kondoom, ’n vinnige draai in die badkamer, die toilet wat spoel, ’n handsak wat toeknip soos ’n vagina dentata. En wat nou? Nog ’n glasie? – Moenie my alleen laat nie, ek sien nie daarvoor kans nie. Loop in godsnaam net, maak dat jy wegkom. – Die enkele toet in die donker straat. Pete is terug. Of Joe, of Stan, een van die monosillabiese broederskap. Die deur wat toeslaan, die motor wat om die hoek ry. Donkerte wat oor my toesak, laag op laag. Die huis roer beskuldigend in sy slaap. Antje van Bengale sluip onsigbaar deur die leë kamers, altyd net-net buite bereik. My bleek gesig in die badkamerspieël, onthutsend oud en naby, maar afstandelik deur die gevlekte glas. Ek doen my Lady Macbeth-ding in die donker. Die spookagtige skynsel van my wit hare, maag wat begin hang, benerige kniekoppe, Don Quixote op pad na die een of ander hertogin wat op die kritieke oomblik in ’n kru boermeisie gaan verander. Teen dié tyd is sy klaar weer by ’n volgende afspraak, waar alles van voor af begin. En ek hier van aangesig tot aangesig met wat ekself behoort te wees maar nooit is nie. Terug bed toe. En eers nou, by die terugdink, sypel daar ’n bietjie hartstog uit die herinnering, meer genadig as die professionele vertoning deur ’n liggaam wat so kortstondig voorgegee het om hier te wees. Veronderstel om mens vaak te maak; maar al wat dit bring is wakkerlê, met die akute besef van wat alles verkeerd geloop het, wat nooit gebeur het nie. Hierdie vlees wat mens so teen die mure uitja, so veeleisend, so vol hartstog en teleurstelling. Probeer weer, oë toegeknyp om te onthou, om te hou, ja, ja, klou aan die vervlugtige herinnering, die rose-naakte lieflikheid soos die digter gesê het, nee, nee. Inderdaad, ja: wat doen jy vir seks?

      Of anders sou ek kon gesê het: Ek lees boeke. Dalk sou dit nader aan die waarheid gewees het. Die bevrediging wat lê in die sublimasie van ’n reisondervinding. Want ’n boek stel jou nooit teleur nie, sê nooit nee nie, laat jou nooit in die steek nie. Wat nie wil sê dat boeke “maklik” is nie. Hulle kan meer veeleisend wees as enige minnares, hulle kan verseg om saam te speel tensy jy bereid is om jou hele self op die spel te plaas. Maar as jy die uitdaging aanvaar, dan kan niks anders daarmee vergelyk nie. En dan het jy die vermetelheid om my te vra wat ek doen vir seks?

      “Dis ’n baie persoonlike vraag, dink jy nie?” Ek was nog half oorbluf deur die buitensporigheid daarvan. Ek behoort haar net daar te gesê het om te trap. Maar waarom het ek nie? Ek het dit al soveel keer oordink, maar sonder om regtig ’n oortuigende verskoning te kry. Wou ek dalk op ’n perverse manier beledig word, gekrenk word, uitgedaag word? Maar wat was daar dan in my wat so iets sou wou hê? Of was dit eenvoudig die soort nag waarin al die opgehoopte eensaamheid van maande en jare ’n punt bereik het waar ek op naasteby énige oproep van buite sou reageer? Dit was die eerste keer sedert Johnny MacFarlane se dood dat ek kans gesien het om my vir enigiemand oop te maak. Teenoor Cathy, moet ek toegee, was ek getempteer, maar toe het my agterdog oor verborge agendas my teëgehou. En vir ten minste ’n week voor dié aand het ek met geen lewende mens behalwe Magrieta (en die kafeebaas in Newlands Avenue) ’n woord gewissel nie. Nie dat mens dit altyd mis nie: jy raak gewoon daaraan om hardop met jouself te praat, soos jy begin om te dirigeer op maat van die musiek op ’n plaat. Maar dié aand was ek bewus van ’n soort honger in my om te praat met enigiemand wat bereid was om te luister; en te luister na enigiemand wat met my wou praat. Maar selfs dit is nog nie genoeg van ’n rede nie. Dit was die meisie self, dié onwaarskynlike meisie, ingewaai deur die storm, gewetenloos, verregaande, vermetel, pragtig. (Dit gee my minstens kans om die toonlere van my adjektiewe te oefen.) Daardie manier waarop sy die mees onhebbelike dinge kon sê sonder om my werklik te kwets; asof sy regtig gretig was om antwoorde op haar vrae te kry; asof my antwoorde vir haar saak gemaak het. (Maar wanneer ek dan, soos dié keer, geweier het om te antwoord, het sy dit tog net so laat links lê en met iets anders begin.)

      Ek het gewag dat sy ekskuus moet vra, maar sy het niks gesê nie. Waarskynlik het dit nie eens by haar opgekom dat ek dalk beledig kon gevoel het nie. En toe het daar bowendien ’n kleinigheid gebeur wat die atmosfeer effens, maar beduidend, verander het. Een van die katte, my gunsteling, die rooie met die trotse naam van Amadeus, het binnegekom, op die drumpel getalm om uit die hoogte die toneel te verken, en toe sonder aarseling na Tessa toe geloop – iets wat hy nog nooit met ’n vreemdeling gedoen het nie, nie eens met Johnny nie – en hom op die jong vrou se skoot tuisgemaak. Dit was ’n erkenning, ’n teken van aanvaarding, ’n gebaar wat heeltemal vreemd was aan dié geliefde, hovaardige skepsel. En toe Tessa oorleun om haar gesig in die sagte penspels te druk voordat sy weer terugskuif en die spinnende kat begin te streel, was die verhouding tussen hulle beklink.

      Nog ’n minuut of twee lank het Tessa nie op my opmerking gereageer nie. Eers na ’n lang, tydsame teug aan die wyn, so donker soos Homeros se see, het sy in die vuur in gesê: “Dit sou nogal great gewees het as mens daarsonder kon klaarkom, nè?” Toe haar oë na my gedraai, skitterend in die skemer. “Sê my, word dit darem makliker as mens ouer word?”

      Ek het van voor af verontwaardig gevoel. “Ek weet nie,” het ek kortaf geantwoord. “Ek is nog nie oud genoeg om te sê nie.”

      Sy het liggies gelag, en sonder waarskuwing van onderwerp verander. “Hoekom chicken jou kinders uit?”

      Vanwaar die onredelike drang in my om hulle te probeer beskerm? “Hier is hulle in ’n doodloopstraat.”

      “Ek het nog nooit gedink aan padgee nie.”

      “Johann, die een in Australië, is ’n dokter. Hy kon dit nie meer vat nie. Die manier waarop die hospitale agteruitgaan, medisyne wat gesteel word, personeel wat staak en die plek verwoes en pasiënte aan hulle lot oorlaat, dié klas van ding.”

      “En die ander een?”

      “Louis. Hy’s ’n siviele ingenieur. Hy’t kontrakte begin verloor oor hy weier om omkoopgeld te betaal.”

      “En daar’s anyway meer geld in Kanada, nè?”

      Ek vererg my. “Sy hoofrede is dat sy vrou se beste vriendin ’n maand gelede in haar motor gekaap en verkrag is. Daarna het hulle haar uit die bewegende motor gegooi. Sy sal nooit weer loop nie.” Toe sy stilbly, probeer ek haar opsetlik uitlok: “Hulle sê een uit elke twee vroue in die land gaan in haar leeftyd verkrag word.”

      “Hoekom bly jy hier?” vra sy.

      “Ek het nog nooit eens probeer om dit te verduidelik nie. Mens raak gewoond aan ’n plek. Dalk raak jy selfs lief daarvoor. Al moet ek toegee dit klink ’n bietjie pervers, as jy dink hoe stief die land ons die laaste tyd behandel.” Ek het ’n vinnige sluk wyn geneem. “Of dalk het die land ons lief, op sy manier.”

      “Jy moet bleddie sentimenteel wees om so iets te sê. ’n Land kan mens miskien nodig hê, maar nie lief nie. Dis maar baie soos met mense ook.”

      Sy het haar glas leeg gedrink, toe half omgedraai en dit na my toe uitgehou. “Kan ek nog ’n bietjie wyn kry?”

      Ek het die bottel van die vloer af opgetel en haar glas aangevul sonder om op te staan. Dit was soos ’n klein, stil seremonie. Sonder dat ek dit kon verklaar, het my ergernis begin wegeb. Ek wou nie eens meer gekrenk of verwonderd voel nie. Voorlopig was dit genoeg om net te aanvaar dat sy daar is, met al haar koddighede en onverwagte wendings, al die skuiwe en prikkels en uitdagings van haar woorde, die verborge vloeibare vuur daaronder.

      “Het jy regtig nooit self gedink aan weggaan nie?” het sy na ’n ruk weer begin.

      “Jy kan nie ’n ou hond nuwe kunsies leer nie.”

      “Jy lyk nog nie so oud nie.”

      “Ek is vyf-en-sestig.” Teen wil en dank het ek bygevoeg: “Dit moet omtrent so oud wees soos jou pa.”

      “My