Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 6


Скачать книгу

cover.jpg

      Sarah du Pisanie

      Omnibus 6

      Liefste Koos • Jakkalswater • Die winskopie

      JASMYN

      Liefste Koos

      1

      Elsa Fourie staan stil op die klein, primitiewe kaaitjie. Die see lê kalm onder haar en klein brandertjies klots rustig teen die houtpilare. Die seebriesie lig-lig die soom van haar lang tabberd sodat ’n paar elegante enkeltjies wys, maar daaraan steur sy haar min.

      Haar oë soek angstig oor die paar ander mense op die houtkaai wat haar nuuskierig aanstaar. Sy sit haar hand bo haar oë en tuur na die klein dorpie wat eensaam en verlate lê, vasgedruk tussen die barre woestyn en die groot blou oseaan.

      Met paniek wat stadig in haar opstoot, besef sy dat Kurt se lang, skraal gestalte met die vlasblonde hare definitief nie tussen die paar aanwesiges is nie.

      Sy maan haarself tot kalmte. Hy sal nou-nou hier wees. Die minute tik egter traag verby, maar nog steeds bly sy bekende figuur afwesig.

      Woordeloos praat sy haarself moed in. Suidwes is ’n groot en uitgestrekte land, dalk is hy net iewers vertraag in die binneland en sal hy binne die volgende paar uur of miskien môre hier opdaag.

      ’n Kort, gesette Duitser kom vinnig na haar toe aangestap. Sy hand, wat vriendelik voor hom uitgestrek is, beklemtoon die goedgesindheid wat op sy gesig gloei.

      “Goeiemôre, dame. Hoe lyk dit dan vir my of iemand u vergeet het? Kan ek u nie tot hulp wees nie?”

      “Goeiemôre, meneer. Ek is Elsa Fourie. My verloofde sou my vandag hier ontmoet het ... en nou is hy nie hier nie.”

      Die Duitser druk haar hand hard terwyl hy haar arm joviaal op en af pomp.

      “Ek is Hein Schultz, die hawemeester. Hoe het u gesê, wie sou u hier kom ontmoet?”

      “Kurt Strassen, my verloofde.” Die angstigheid in haar stem kom lê vlak in die bruin oë. “U ken hom nie dalk nie?”

      “Kurt Strassen! Strassen? Ek wil my al verbeel dat ek die naam al iewers gehoor het.” Hy skud sy kop stadig terwyl hy diep delf in sy geheue. “Hy woon seker in die binneland? Hier op Swakopmund of Walvisbaai is niemand met dié naam nie. Ek ken al die mense in die omgewing.”

      “Hy is ’n lid van die Schutztruppe, ’n luitenant.”

      “O!” Hy vat haar aan die arm en stap met haar na die punt van die kaai. “Dan het ons nie probleme nie. Ons kan gou-gou uitvind wat van hom geword het. Ons neem jou net na kaptein Göring toe. Hy sal ons onmiddellik kan help.”

      Dankbaar draf Elsa agter die hawemeester aan. Hy stap flink vir iemand met so ’n ronde lyfie en sy moet haar treë rek om by te bly.

      Al geselsend met die sandstraatjies langs lei hy haar. Die dorpie is baie klein, net ’n paar huisies en een of twee winkeltjies. Al die geboue het ’n sterk Duitse aksent, wat die ou dorpie omtower in ’n klein stukkie Duitsland, duisende myl daarvandaan.

      Groen palmbome met slap takke wat liggies in die seebriesie swaai, gee ’n bietjie kleur aan die andersins vaal woestyndorpie.

      By ’n groterige gebou waar ’n paar vlae in die ligte windjie wapper, bestyg die hawemeester al hygend die lang ry trappies.

      “Juffrou Fourie, ek dink u moet hier voor in die ontvangslokaal wag, dan gaan spreek ek net gou die kaptein en verduidelik die omstandighede aan hom.”

      Elsa besef dat hy ’n vriend en vertroueling moet wees van die persoon wat in die kantoor werk. Hy tik net liggies en vol selfvertroue aan die deur wat uit die portaal lei en stap dan sonder uitnodiging binne.

      Die spanning trek ’n knop op haar maag. Wat gaan sy doen as sy dalk weke hier vir Kurt moet wag? Sê nou maar net hulle is onverwags op die een of ander sending uitgestuur? Hulle het nie daarmee rekening gehou toe hulle hul planne uitgewerk het nie.

      Die minute voel soos ure voordat Herr Schultz weer te voorskyn kom. Sy vriendelike gesig is ernstig en geslote, en Elsa voel die lamheid op haar maag vasslaan.

      Met haar groot bruin oë kyk sy hom stil en vraend aan. Hy hou egter net vir haar die deur oop en beduie dat sy moet ingaan.

      Die Duitse kaptein is lank en fors gebou, en skrik Elsa af met sy militêre houding sodat sy soos ’n kind voel wat verbrou het. Senuweeagtig klou sy haar handsakkie vas. Sy stem is heeltemal emosieloos toe hy haar vra om binne te kom.

      Hy hou sy hand na haar uit. “U is juffrou Fourie, nie waar nie?” Hy praat Engels met ’n baie swaar Duitse aksent, maar heeltemal suiwer en verstaanbaar.

      Elsa glimlag verlig. Sy kan nie Duits praat nie en was doodbang dat hy haar in Duits sou aanspreek.

      “Ja, kaptein.” Sy reik hom op haar beurt die hand.

      Die kaptein neem haar hand en buig styf en korrek terwyl hy sy hakke flink teenmekaar kap.

      “Ek is kaptein Göring. Aangename kennis.”

      “Aangename kennis, kaptein. Ek is jammer om lastig te wees. U is egter die enigste persoon wat my moontlik kan help.”

      “As ek u tot hulp kan wees, juffrou, sal dit vir my ’n groot plesier wees.”

      “Meneer Schultz het seker vir u gesê dat my verloofde, Kurt Strassen, my hier moes ontmoet. Hy is egter nog nie hier nie. Ek wou net uitvind of u nie dalk iets van hom weet nie?”

      “Kurt Strassen?”

      “Ja.” Elsa sit angstig vorentoe, haar oë vasgenael op die gesig met die breë snor, wat nou liggies bewe. “Ja ... luitenant Strassen. Hy ... hy was nog laas toe ek van hom gehoor het, op Otjimbingwe gestasioneer.”

      “Juffrou, u besef natuurlik dat ek gebind is deur heelwat militêre reëls en regulasies en dat ek geen inligting aan u beskikbaar kan stel nie.”

      “Maar, kaptein, daar is tog niks geheimsinnigs aan nie ... Ek bedoel ... ek wil tog net graag weet waar hy tans is en of hy nog vandag of môre dalk ... hier sal wees.”

      Elsa voel baie na aan trane, maar moedig sluk sy dit weg. Sy het eerlikwaar gedink dat haar probleme nou op ’n end sal wees. Sy en Kurt sou sommer hier op Swakopmund trou. Kurt kan ’n skatlike huisie op Otjimbingwe kry waarin hulle tydelik kan gaan woon. Kurt het egter ’n boerderytjie wat vinnig uitbrei en daar is selfs sprake daarvan dat, teen die tyd dat hulle trou, die boerdery al so groot sal wees dat hy die militêre diens vaarwel sal kan roep en hulle sommer direk plaas toe sal kan gaan.

      “Ek sal eers graag meer van u verbintenis met Strasssen ... luitenant Strassen ... wil hoor, juffrou.”

      “Wel, ons is verloof.”

      Sy sien die kaptein se oë op haar ringlose hand en steek dit vinnig onder die tafel in.

      “Privaat verloof. Hy ... sou vir my die ring hier gee. Hy kon niks in Kaapstad kry wat na sy sin is nie en hy wou vir my een van Duitsland af bestel.”

      Haar oë is sag, vol verwagting en liefde wanneer sy aan die lang, blonde luitenant dink.

      Die kaptein skud sy kop asof hy verstaan, maar sy oë is koud en onpersoonlik op Elsa gerig. Sy voel die hoendervleis op haar arms uitslaan en sy bly ongemaklik stil.

      “Waar het u vir Kurt Strassen ontmoet, juffrou?” Sy stem klink heeltemal vriendelik en gewoon as ’n mens nie in die koue blou oë kyk nie.

      “Verlede jaar het Kurt saam met my pa se neef, Gert Fourie, daar by ons aangekom ...”

      “U is van Kaapstad?”

      “Eintlik van die Paarl, ja.”

      Die kaptein val haar nie weer in die rede nie, wag net geduldig dat sy haar storie moet klaar vertel.

      “Oom Gert en Kurt het ’n klomp beeste Kaapstad toe gebring om daar te verkoop. Dit was oom Gert se beeste. Kurt het saamgekom as gewapende beskerming. Hy en ’n klompie He- ... Herer-