Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 6


Скачать книгу

klompie gewapende Herero’s het oom Gert vergesel. Hulle sê dit is baie onveilig om met so baie beeste te trek en dat die Duitse soldate saamkom as begeleiding om ’n mens se veiligheid te verseker. Maar ... maar u behoort tog daarvan te weet.”

      “Ja, ons doen dit baiekeer as ons die manne kan spaar.”

      “Ek het hom toe daar ontmoet. Hulle het amper twee maande by ons gebly en ... en ek en Kurt ...” Elsa bloos en kyk verleë na haar saamgeklemde hande.

      “Juffrou Fourie, dit ís gereël dat u vir Strassen hier op Swakopmund ontmoet? Daar het nie dalk die een of ander misverstand ingesluip nie?”

      “Ja, kaptein. Ons het alles tot in die fynste besonderheid gereël. Kurt het taamlik gereeld geskryf en hy het selfs vir my die reisgeld gestuur. Hy het persoonlik vir my al die besonderhede van die boot se vertrek en aankoms gestuur. U sien, dit is hoekom ek nie kan verstaan dat hy nie hier is nie.”

      Die kaptein speel ingedagte met sy pen en byt aan die punt van sy snor wat by sy mond se hoek hang.

      “Al wat ek van u wil weet, kaptein, is of hy nie iewers heen gestuur is nie, anders sal hy beslis binnekort hier wees. Ek gee nie om om ’n dag of twee te wag nie.”

      “Juffrou Fourie, dit is vir my baie eienaardig dat u ouers u alleen na hierdie wilde, woeste wêreld laat kom het. As u my dogter was, sou ek daarop aangedring het dat Kurt Strassen u in Kaapstad kom haal.”

      “Ek het nie meer ouers nie, kaptein. My moeder is al vyf jaar gelede oorlede en my pa het drie maande gelede aan ’n hartaanval beswyk.”

      “Juffrou Fourie, dié oom van u wat hier in Suidwes is – u sê sy naam is Gert Fourie ... Waar woon hy?”

      “Hy is ’n handelaar op Tsumeb. Hy het glo ’n florerende onderneming daar by die myn en dan het hy nog ’n handelspos by een van die Herero-krale.”

      Elsa bly stil en kyk die kaptein afwagtend aan. Dit ontstel haar dat hy haar vraag so ontwyk. Hy kan mos maar net vir haar sê waar Kurt tans is.

      “Wel, kaptein, moet ek hier wag of ...”

      “Juffrou, ek weet nie. Om te wag sal seker al wees wat u nou kan doen, want die eerste boot terug Kaapstad toe kom eers oor drie maande weer hier aan.”

      “Maar ek wil nie teruggaan Kaap toe nie! Ek wil hier bly, hier by Kurt. Buitendien, ek het ook nie geld om terug te gaan nie. Kurt het vir my kaartjie hierheen betaal.”

      “Juffrou ... ja! Dit is vir my baie moeilik om dit vir u te sê ...”

      Elsa sluk die speeksel in haar mond weg. Haar oë is groot en bekommerd op die kaptein gerig.

      “Kurt Strassen ... wel ... hy word vermis, die afgelope paar maande al!”

      “Maar ... ek verstaan nie! Hy ... is nie dalk ... dood nie?”

      “Dit weet ons nie, juffrou. Ons het nog geen bewyse gekry dat hy dood is nie. Soos u weet, is hier verskillende stamme wat gedurig oorlog maak en hulle is die Duitsers ook nie baie goedgesind nie ...”

      Sy woorde hang swanger in die stil kantoor. Elsa sluk swaar aan die droogheid in haar keel. Haar oë is groot en verskrik. Sy staan verwese op en staar die kaptein bang aan.

      Die kaptein staan vinnig op en vat haar aan die arm. “Kom, juffrou, hier is ’n hotelletjie hier naby. Ek gaan u daarheen neem, dan rus u eers goed uit. Intussen sal ek op die saak ingaan en dan sal ek weer vanaand met u in verbinding tree.”

      Elsa stap gelate saam met hom. Die skok en teleurstelling, die bekommernis en angs het alles in ’n warboel van stomende emosies verander.

      Elsa is van niks om haar bewus nie. Die pragtige, skoon dubbelverdiepinghotel wat soos ’n prentjie uit ’n sprokie lyk, met sy Duitse voorkoms, die spierwit beddegoed en vrolike, geruite gordyntjies gaan alles ongesiens by haar verby.

      Die hotelbaas se vrou, ’n mollige Duitse vroutjie, bring al geselsend en knikkend vir haar ’n skinkbordjie met koffie en heerlike varsgebakte koekies.

      Elsa drink die koffie gulsig. Sy is dood van die honger, want vanoggend het sy van pure opgewondenheid niks geëet nie.

      Sy trek haar skoene uit en gaan lê op die bed. Haar gedagtes spook en verdring mekaar. Sy weet nie watter probleem om eerste te probeer oplos nie.

      Wat gaan sy nou doen? Teruggaan kan sy nie. Sy het geen geld nie, of altans nie genoeg vir ’n kaartjie terug nie. Aan die ander kant is daar ook niemand na wie toe sy kan teruggaan nie. Haar pa was ’n predikant en hulle het absoluut van die hand in die tand gelewe. Hy het altyd so ’n oop hand vir die armes gehad en het maar net altyd geglo: Gee en vir julle sal gegee word.

      En Kurt, dierbare blonde Kurt. Hulle kon so lekker gesels. Hy was Afrikaans heeltemal magtig en net soms moes hulle oorslaan na Engels as hy vashaak. Sy was so gelukkig toe hy haar vra om met hom te trou. Sy onthou nog haar pa se ontstelde frons toe Kurt die aand kom ouers vra het.

      Hy het lank na haar gekyk en ingedagte met sy hande deur sy hare gevryf.

      “Elsatjie, maar kan julle seker wees? Julle ken mekaar dan maar skaars ses weke.”

      Sy het opgestaan en by hom gaan kniel. “Ja, Pappa, ons kan seker wees. Die liefde het nie tyd nodig nie, dit kom sommerso skielik.”

      “Nogtans, ek sien darem nie kans dat jy so ver moet weggaan nie.”

      Hulle het hom tog oorreed, maar hy het nooit vreeslik baie van die idee gehou nie.

      Die dag kruip op loodvoete verby. Sy is koorsig van senuweeagtigheid en bekommernis toe kaptein Göring omtrent vyfuur by die hotel aankom.

      Sy kam vinnig haar hare en was haar gesig voordat sy hom in die sitkamertjie gaan ontmoet.

      Hy staan militêr regop en wag galant totdat sy sit voordat hy sy broekspype effens lig toe hy gaan sit, sodat dit nie kreukel nie.

      Elsa staar hom stil aan. Sy kan nie dink wat die kaptein vir haar wil kom sê nie. As Kurt al die afgelope paar maande vermis is, kan daar mos nie nou skielik nuus van hom wees nie.

      Die kaptein val met die deur in die huis. “Juffrou Fourie, daar is twee dinge wat ek kan voorstel.”

      Elsa antwoord hom nie, staar hom net gespanne aan.

      “Eerstens, dat u hier bly. Meneer Brock, die winkelier, kan vir u ’n kamer aanbied, asook ’n werkie in sy winkel, indien u belangstel. Die salaris sal maar klein wees, maar dit sal u in staat stel om hier te bly tot die volgende boot oor drie maande teruggaan Kaapstad toe.”

      “Maar, kaptein, ek het nie geld om weer ’n reiskaartjie Kaapstad toe te koop nie. Buitendien, daar het ek ook geen heenkome nie. Ek kan dit net nie doen nie. Ek het alles wat ek besit, saamgebring. Ek sal minstens ’n jaar lank moet werk om genoeg geld te hê om te kan teruggaan.”

      “Wel, juffrou, die ander voorstel mag dalk nie so aanloklik klink nie, maar aangesien dit is waarvoor u gekom het, kan u dit net sowel oorweeg.”

      Elsa staar hom bang aan. Sy kan aan die krieweling op haar kopvel voel dat hierdie voorstel haar glad nie gaan aanstaan nie.

      “Juffrou, u besef dit seker nie, maar Suidwes is nog ’n baie ylbevolkte land. Afgesien van die inheemse bevolking, is daar in hierdie stadium hoofsaaklik net die paar honderd Schutztruppe – die Duitse soldate wat wet en orde hier handhaaf. Wel, dié manne is feitlik almal ongetroud. Party van hulle verkies om te bly en hulle hier te vestig, maar ... die probleem is vrouens.”

      Elsa staar hom aan. Kaptein Göring sien die onbegrip in die bruin oë. Hy kyk vinnig weg en gaan toonloos voort.

      “As u belangstel, kan u met een van die Duitse soldate trou en hier bly.”

      “Maar, kaptein!” Elsa lag ongelowig. “’n Mens trou mos nie met iemand net omdat jy nie ander raad het nie! ’n Mens trou tog vir liefde! En ... die ... die soldate, ek ken hulle nie eens nie.”

      “Juffrou, dit mag vir jou ongelooflik klink,